Marlene Dumas skenk portret van Elisabeth Eybers aan Wits-kunsmuseum

  • 0

Marlene Dumas het haar portret van Elisabeth Eybers (1915–2007) aan die Wits-kunsmuseum (WAM) se permanente versameling geskenk. Die oorhandiging van die skildery vind op Maandagaand 26 Februarie in Johannesburg plaas.1

Marlene Dumas (Jan Harm Bakhuys, CC BY-SA 4.0, via Wikimedia Commons)

Elisabeth Eybers was die eerste vrou wat ’n digbundel in Afrikaans gepubliseer het. Sy was ook die eerste vrou wat die Hertzogprys verower het en die enigste skrywer wat nie in Nederlands skryf nie wat met die PC Hooft-prys vir Nederlandse letterkunde bekroon is (1991).  

Elisabeth Eybers het in die 1930’s aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer en ’n eredoktorsgraad van Wits in 1972 ontvang.  

Ena Jansen het 16 jaar lank aan Wits se Departement van Afrikaans en Nederlands gedoseer (1984–2000) en daar in 1992 met ’n proefskrif oor Elisabeth Eybers gepromoveer. Dit is later as Afstand en verbintenis gepubliseer en het sowel by JL van Schaik in Afrikaans as in ’n Nederlandse vertaling by Amsterdam University Press verskyn. 

Sy en Marlene sal albei op 26 Februarie by WAM wees.

Menán van Heerden gesels met Ena oor Elisabeth Eybers en die skenking.

Elisabeth Eybers en Ena Jansen (Foto: verskaf)

Elisabeth Eybers (1956) (Foto: Leon Levson, openbare domein, via Wikimedia Commons)

Ena, jy en Eybers het altwee bande met Wits. Vertel meer oor die agtergrond van hierdie skenking.

Marlene Dumas wou graag haar skildery van Eybers aan ’n Suid-Afrikaanse instelling skenk en het met my daaroor gesels. Marlene en ek is al 45 jaar lank bevriend en sy weet uiteraard dat ek ook goed bevriend was met Elisabeth Eybers en dat ek sou kon help dink waar in Suid-Afrika die waardevolle skildery waardeer en goed bewaar sal word. Nadat ook ander moontlikhede oorweeg is, was Wits Arts Museum (WAM) ’n vanselfsprekende keuse.

Ek het toe reeds ’n aantal jaar gelede namens Marlene met kuratore Julia Charlton en Fiona Rankin-Smith in gesprek getree en die museum met die oog daarop besoek. Alle knope is uiteindelik deurgehaak en Studio Dumas het in Julie 2023 alles in verband met die vervoer en besorging van die skildery gereël. Ook dít maak deel uit van die skenking en dit is gepas dat so ’n groot skenking gevier word. WAM besit geen ander werk van die wêreldberoemde skilder Dumas nie en hulle reël ’n baie mooi oorhandigingsgeleentheid.

My voorstel was dat Eybers se verjaardag – sy is op 26 Februarie 1915 gebore – die geskikte datum is. Aanvanklik sou Marlene en ek nie aanwesig kon wees nie en daarom het Marlene voorgestel dat ons ’n film maak wat in ons afwesigheid vertoon sou kon word, maar nou is ons tog daar en sal dit tog gewys word. Toe ek in November laasjaar in Amsterdam was, het Marlene se assistent Rudolf Evenhuis opnames gemaak en hulle het verder saam daaraan gewerk. Gelukkig is Marlene nou tog in Suid-Afrika en ons sal albei by WAM wees op die 26ste. Die film waarin Marlene meer vertel oor die skildery en ek oor Eybers word vertoon voordat ons in lewende lywe verder met mekaar praat.

’n Mens moet onthou dat, in teenstelling tot ’n boek waarvan daar baie eksemplare is, ’n skildery ’n unieke objek is. Marlene het wel tekeninge, werk op papier, aan ’n Iziko-museum geskenk, onder meer haar beroemde ‘The Next Generation’ wat uit 45 afsonderlike tekeninge bestaan. Maar die Eybers-portret is haar enigste olieverf op doek skildery wat nou in besit van ’n Suid-Afrikaanse museum is. Dít is waarom hierdie skenking so betekenisvol en waardevol is.

Jy het die bloemlesing Immigrant: ’n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers (Human & Rousseau, 2021) saamgestel. Jy was ook betrokke by ander publikasies soos Uit en tuis: Afrikaanse verse uit Amsterdam (Human & Rousseau, 1995). “Immigrant” is die eerste gedig wat Elisabeth in Amsterdam geskryf het. Met betrekking tot haar emigrasie na Nederland in die 1960’s: Wat kan Suid-Afrikaners wat na Nederland emigreer, leer uit haar gedigte?

Ek stel voor mense koop hierdie bloemlesings, ook Eybers se Versamelde gedigte (sy het ongeveer 900 gedigte geskryf). Vra dat jou ouers of vriende dit vir jou aanstuur en hou Immigrant of Uit en tuis op jou bedkassie. Immigrante sal hulle eie gevoelens oor afskeid, verlange en verdriet, aanpassing aan die nuwe klimaat en taalomgewing op baie verskillende maniere by Eybers verwoord sien. Haar verwoording van dít waarvoor ons self nie taal het nie, is wat haar as digter onderskei van ons, haar lesers. Dink maar aan ’n gedig soos “Naturalisasie” waarin sy die proses beskryf wat so baie Suid-Afrikaanse migrante sal herken:

Waarskynlik word – maar vra nie wanneer – my
versoek om transmutasie toegestaan:
’n onnatuurlike proses, voltooi
deur naarstig langs ’n uitgestrekte ry
buro’s, instansies, ampsdraers te gaan,
by halfjaartussenpose uitgenooi,
gekeur, gekontroleer – indien geskik
uiteindelik met die Koninklike knik
begenadig en tot burger(es) gesalf.

En dan beskryf “Voetjie vir voetjie” so goed hoe dit is om in ’n vreemde land te probeer aard:

Voetjie vir voetjie word mens immigrant…
Toevallig uit, toevallig tuis, gestrand
op hierdie teennatuurlike terras
sonder om ooit onloënbaar aan te land.

Jy het, net soos Marlene Dumas en Elisabeth Eybers, bande met Amsterdam. Eybers is met Afrikaanse sowel as Nederlandse literêre pryse bekroon. Hoe kan Suid-Afrikaners, sowel as Nederlanders met haar werk identifiseer? Is daar ’n verskil in leserresepsie met betrekking tot SA en Nederland?

Ja, ons is almal Amsterdammers, sou jy kan sê. Elisabeth Eybers het vanaf einde Mei 1961 tot en met haar dood op 1 Desember 2007 in Amsterdam gewoon. Ek was vanaf 1974 tot 1984 in Nederland en toe weer permanent vanaf 2000; alles bymekaar ongeveer 30 jaar. Ek dink Marlene het in 1975 in Amsterdam gaan woon en is steeds daar. Ons het almal Nederlandse paspoorte; ek kon ook my Suid-Afrikaanse burgerskap behou.

Eybers het enduit in Afrikaans bly skryf, maar haar verwysingswêreld het tydens die laaste 46 van haar 92-jaarlange lewe steeds meer Nederlands geword. Dit sluit woorde in soos “kraakpand” en “suppoost”, stukkies Nederlandse dialoog, maar veral baie verwysings na die Nederlandse weer en gewoontes. Wat dít betref, moet Afrikaanstalige lesers aanpassings maak wanneer hulle haar gedigte lees; nadink oor wat sy bedoel met “hier” of “daar” en besef dat ’n gedig met die titel “Februarie” in die hartjie van die Nederlandse winter gesitueer is en dat “Vroeg-Maart” dui op die naderende lente en nié op iets herfserigs nie. Nederlandse lesers weer moet voortdurend aanpassings maak om haar Afrikaans te kan verstaan en alhoewel daar groot ooreenkomste is tussen Nederlands en Afrikaans, ken hulle nie plekke in haar “geweldige vaderland” soos “gramadoelas” nie. In my proefskrif en my boek Afstand en verbintenis: Elisabeth Eybers in Amsterdam maak ek ’n saak daarvoor uit dat hierdie soort “vervreemdingsaspekte”, die ekstra moeite wat albei stelle lesers moet doen, haar werk des te meer poëties maak. Suid-Afrikaanse immigrante in Nederland is eintlik “ideale” Eybers-lesers, omdat ook hulle albei haar verwysingswêrelde ken.

Het haar verblyf in Nederland haar taalgebruik in haar gedigte beïnvloed?

Ja, sekerlik, maar op ’n manier wat haar Afrikaans absoluut verryk het. Sy het ook enduit uitstekend Afrikaans gepraat.

Jy en Elisabeth het ’n lang pad saam gestap. Wat is jou gunsteling-herinnering(e) van Elisabeth Eybers?

Ek het haar in Januarie 1975 leer ken vlak voor haar 60ste verjaardag toe ek 23 jaar oud was. Ondanks die ouderdomsverskil het ons dadelik van mekaar gehou en ek was tot aan haar dood met haar bevriend. Tydens die laaste jare van haar lewe het sy dit belangrik gevind dat ek ’n sleutel vir haar woonstel het, maar ek het nooit onaangekondig sommer by haar opgedaag nie. Die sleutel is in so ’n klein bruin beursie wat nog aan haar ma behoort het. Dis steeds ’n kosbare besitting van my. Smiddae ná my klasse by die VU het ek baie gereeld op pad huis toe – ek het aan die Weteringschans in die middestad oorkant die Rijksmuseum gewoon – by haar woonstelgebou aan die Stadionkade my fiets geparkeer en die trappe opgeloop na haar voordeur. Die laatmiddag-besoeke met ’n glas wyn in wat sy haar “tweekamer-speelruim” genoem het, het ontsettend baie beteken en ek het lank gerou ná haar dood.


1 Let wel: bywoning is slegs op uitnodiging.

 

Lees ook op LitNet en Voertaal:

Immigrant: ’n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers, saamgestel deur Ena Jansen – ’n resensie

Elisabeth Eybers (1915–2007)

Uit NALN se argief: Ena Jansen se eerste onderhoud met Elisabeth Eybers

Ena Jansen oor Elisabeth Eybers, die literêre dubbelburger

Eybers-keur wys veral haar Amsterdamse gedigte het blywende seggingskrag

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top