Marita oor Dinge: Ouers durf nie die tiener in hulself vergeet

  • 1

Marita van der Vyver (Foto: verskaf)

Suid-Afrikaners kan eenvoudig nie genoeg kry van Cintaine Schutte se eenvrouvertoning in die verhoogweergawe van Die dinge van ’n kind nie. Dié produksie, gegrond op Marita van der Vyver se se trefferroman wat in 1994 verskyn het, is sedert die begin van die grendelstaat in 2020 al meer as 30 keer op die planke gebring. By kunstefeeste waar opvoerings moontlik was, het kaartjies blitsig uitverkoop, en die publiek bly vra na meer. Juis omdat dit ’n eenvrouvertoning is, kan dit veilig voor beperkte gehore aangebied word wanneer pandemieveiligheidsregulasies dit toelaat.

Die dinge van ’n kind is van 13 tot 17 Oktober 2021 by Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad te sien. Dié nuwe speelvak word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Suidoosterfees en Arena-produksies.

Melt Myburgh het vir Marita van der Vyver uitgevra oor die dinge wat kinders en volwassenes 27 jaar nadat die roman verskyn het, steeds gaande hou. Marita is deesdae op die pad tussen bestemmings, soos wat sy in ’n Swerfjaar vir seniors op LitNet beskryf, en sy het haar antwoorde op Melt se vrae per WhatsApp van ’n bergpas iewers tussen Frankryk en Switserland gestuur.

Robert Hamblin se produksiefoto van Cintaine Schutte in Die dinge van ’n kind.

Marita, het jy Cintaine Schutte se eenvrouvertoning in die verhoogproduksie van Die dinge van ’n kind darem al self gesien? Indien wel, wat was jou indrukke?

Ek was gelukkig om laasjaar die heel laaste opvoering by die Woordfees te sien, net voor die Covid-inperkings feeste verder doodgedruk het en verdere opvoerings vir ’n lang ruk onmoontlik was. Wat dit nog meer spesiaal gemaak het, is dat ek dit saam met my seun Daniël gesien het. Dit was vir ons ’n besonderse bonding exercise gewees. Hy het al baie gehoor hoe ek oor my jongdae lank gelede in Suid-Afrika praat. Maar hy het seker nooit rêrig geluister nie, soos ’n mens seker maar nie luister wanneer jou ouers oor hulle jongdae praat nie. Ek het ook nie geluister as mý ouers praat nie.

Die opvoering het hom geruk en ontroer, en ook laat lag. Dit het al die regte emosies ontlok. Gelukkig is Daniël nie die soort jongman wat bang is om emosies te wys of in die openbaar te huil nie. Ek en hy het saam daar gesit en ’n traan weggepink op ’n paar plekke, en so onderlangs na mekaar geloer. Dit was baie besonders.

“Die dinge van ’n kind is ’n onthutsende eerlike boek oor die begin van vrouwees, en die verlies van onskuld op seksuele, politieke en morele vlak.”
 – Stephan Bouwer, Rapport

Die boek het in 1994 reeds verskyn, en die gebeure speel af in Suid-Afrika tydens die sewentigerjare. Maar steeds is die temas relevant vir vandag se lesers, en die publiek kry skynbaar nie genoeg van die verhaal nie. Dit is natuurlik ’n enorme kompliment vir jou as skrywer. Wat sou jy sê is daardie ding wat mense, en veral ook jong lesers, vandag steeds aantrek tot die roman?

Dit is nogal verstommend dat die roman amper dertig jaar later voortleef; maar eintlik lankal ’n lewe van sy eie gekry het met die teaterstuk. Vantevore, jare gelede, het Harry Kalmer by die KKNK ook ’n verhoogstuk daarvan gemaak, met drie aktrises.

Ja, daar is ook allerhande nuwe, opwindende ontwikkelinge waaroor ek in hierdie stadium niks mag sê nie. Ek swyg soos die sfinks, maar wat ek wel kan sê, is: Watch this space! Daar kom nog interessante nuus oor Die dinge van ’n kind.

Mens skryf natuurlik ’n boek met die hoop dat dit nie net tot ’n klein groepie lesers van een geslag sal spreek nie. Ek dink daar is ’n soort tydloosheid in wat jongmense aanvoel. Met boeke was dit nog altyd so en dit sal altyd so wees. Modes verander, die tegnologie het heeltemal verander sedert my jongdae, die politiek en baie ander dinge het verander, maar daar is daardie absolute universele emosies van die eerste keer verlief raak, onseker wees oor die lewe, en die vrae en die rebelsheid – al daardie dinge sal altyd waar wees.

“Hier is nie speels-erotiese beskrywings vanuit ’n volwasse perspektief nie, maar realistiese beskrywings van tienerseks soos verwonderd waargeneem en vertel deur ’n skooldogter.”
– Ena Jansen, De Kat

Is dit nie wonderlik dat die produksie nou ’n verdere speelvak by HS Jan van Riebeeck gekry het nie? Al het dit ’n ouderdomsbeperking van 16. Wat gaan deur jou gedagtes oor die feit dat die produksie na leerders in ’n skool gebring word?

Die speelvak by Hoërskool Jan van Riebeeck is fantastiese nuus! Ons hou duim vas dat ander skole dieselfde sal doen.

Ek het van die begin af gedink dat dit ’n storie is wat eintlik vir álle ouderdomme bedoel is, maar ek het dit aspris nie as ’n jeugverhaal “bemark” nie, want dan het ek volwassenes uitgesluit, en soveel volwassenes lees ongelukkig nie jeugverhale nie. Daarom het ek die ouer Mart ingebring, want ek wou hê volwassenes moet dit ook lees en dat alle ouderdomme iets daarin sal vind. Lesers van verskillende ouderdomme vind hopelik iets verskillends daarin.

Destyds, in die jare negentig, was daar wel privaat skole waar die boek voorgeskryf was – Engelse skole wat ’n bietjie meer oopkop was. Daar was een of twee tonele waarby onderwysers van sommige skole sou vashaak … ons praat nou van dertig jaar gelede! Maar daar was wel skole wat toe al dapper genoeg was om dit voor te skryf en hulle het uitstekende reaksie gekry.

Nou, deesdae, is daar nie een enkele iets in hierdie toneelstuk wat tieners nie al op TV gesien het of in Engelse boeke gelees het of op die internet gesien het nie. So daar is nie meer skokwaarde daarin nie. Maar die troos, die versekering dat die wêreld altyd vreemd sal wees, is hopelik nog steeds daar.

Cintaine Schutte in die verhoogweergawe van Die dinge van ’n kind (Foto: Gys Loubser)

Wat sou jou boodskap of advies vandag aan tieners wees wat met uitdagings soortgelyk aan dié van Dalena en Mart sit?

Ek is versigtig om ’n boodskap of raad aan tieners te gee, want ek dink nie tieners luister eintlik na advies van ouer mense nie. Die raad van jou eie ouderdomsgroep is baie belangriker en almal moet maar hul eie koppe stamp, soos ek ook maar my kop moes stamp.

Maar dit is miskien tog ’n troos dat dinge nie regtig soveel verander het nie. Wat ek miskien wíl wys, en wat ek hoop tieners wíl sien, is dat hulle ouers, selfs hul oumas en oupas, ook gesukkel het met baie van die dinge waarmee tieners vandag sukkel. In Mart en Dalena se tyd was daar groot onsekerheid en baie vrae oor seksualiteit wat vandag baie makliker beantwoord kan word, want alles is beskikbaar – die visuele materiaal is beskikbaar in flieks en op die internet.

Maar tog, op ’n sekere manier, dink ek dit maak die onsekerheid eintlik nóg erger. Dis een ding om prentjies te sien van seksualiteit, maar dit is iets heeltemal anders om self te wéét, om self die ervaring te hê. En die ooraanbod van inligting oor seksualiteit skep juis ’n heeltemal onwerklike beeld van jongmense – van hoe fantasties jou lyf moet lyk, van wat presies seksualiteit behels, en dat dit altyd fantásties moet wees anders is dit jóú skuld. Dis allerhande sulke dinge wat, dink ek, vandag se tieners nog meer onseker maak van hul eie seksualiteit. Die ironie is dus dat, juis omdat daar soveel inligting beskikbaar is, die onsekerheid, en miskien die minderwaardigheidsgevoel, sterker ervaar word.

“As dit kom by behendige én intelligente komposisie, en by doodgewoon léésbare, genietbare skryfwerk, hou min by Marita van der Vyver kers vas.”
– Abraham H de Vries, Die Burger

Dink jy jou hedendaagse ouers het ’n beter begrip van die dinge waarmee kinders gekonfronteer word as in die dae toe jy ’n kind was? As iemand vandag met ’n gesin begin, wat sou jy vir hulle sê om hulle moed in te praat en voor te berei op die belangrike taak om daardie kinders groot en gereed vir die wêreld te kry?

Vandag se ouers – die oopkop ouers – het beslis baie meer van ’n idee van waaroor dit gaan en die dinge waarmee hulle kinders wroeg. Maar daar is hierdie vreemde verskynsel dat vreeslik baie ouers vergeet hoe dit was om ’n tiener te wees. Selfs mense wat die stoutste en die wildste tieners op hul dag was, het intussen baie streng ouers geword. Dalk omdat hulle hul kinders wil beskerm teen alles wat hulle self gedoen het, en omdat hulle besef in watter verskriklike moeilikheid hulle kon beland het, en dat dit maar net genade was dat hulle oukei anderkant uitgekom het. Dit kan ek verstaan.

Maar as ouer kan jy nooit – dúrf jy nooit – vergeet hoe dit voel om ’n tiener te wees nie. Ek het ’n voordeel op daardie gebied omdat ek nog altyd aangehou het om vir kinders en tieners te skryf, so ek moes noodgedwonge in kontak bly met die kind in myself. Enige skrywer behoort in elk geval die verwondering van ’n kind te behou, dit maak nie saak vir watter ouderdomsgroep jy skryf nie.

So, as ek dit mag waag om vir ouers raad te gee (en wie is ek nou om raad vir enigiemand te gee?), sou ek sê: Wanneer jy kinders grootmaak, moet net nooit, nooit, nóóit die kind in jouself vergeet nie. Dit sal jou help om jou kind te verstaan.

  • Die dinge van ’n kind word van 13 tot 17 Oktober 2021 by by Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad aangebied. Besprekings kan per e-pos gedoen word by karien.zulch@janvanriebeeck.co.za. ’n Ouderdomsbeperking van 16 geld.

 

Lees ook:

Marita van der Vyver se reisrubriek op LitNet: ’n Swerfjaar vir seniors

’n Onderhoud met Cintaine Schutte oor die Blou Sinjatuur-toekenning wat sy vanjaar by die kykNET Fiëstas ontvang het

Die dinge van ’n kind kry ekstra speelvak by Hoërskool Jan van Riebeeck

Naomi Meyer se oudio-onderhoud met Marita oor ’n Baie lang brief aan my dogter

Alles oor Marita se skrywersloopbaan in haar ATKV|LitNet-Skrywersalbum

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top