LitNet | STAND-teaterresensieslypskool: Cathy Hugo se resensie van Hoerkind (finale weergawe)

  • 0

Hierdie resensie vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna kry hulle kans om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors ontvang en dan hul resensies finaal afrond.
Hier is die finale weergawe van Cathy Hugo se resensie.

Memoires van ’n weggooikind

Die aangrypende boek Hoerkind: die memoires van ’n randeier ontbloot die hartverskeurende en soms wrede, ware lewensverhaal van die skrywer, Herman Lategan. Herman draai nie doekies om waar hy sy jeugherinneringe van verwerping, molestering en dwelmmisbruik op papier neergepen het nie. In 2022 word sy gebrokenheid nog verder ontbloot deur die verwerking van sy boek tot ’n dramatiese teaterstuk getiteld Hoerkind.

Die teateratmosfeer was melancholies, en die agtergrondmusiek van Coenrad Rall en die rooi beligting het dit beklemtoon. Die stelontwerp is eenvoudig, maar tog treffend en gelaai met simboliek. Soos die enkele tafel op die verhoog wat veeldoelig gebruik word. Eers het die tafel regop gestaan om ’n deur te simboliseer waaragter die karakter Herman kon wegkruip. Toe was die tafel weer op sy pote sodat hy daaronder kon skuil. Dit is ook later as ’n skryfbord gebruik waarop Herman vurig, amper met woede, ’n prent van hom en sy ma met bordkryt geteken het. Daar is ook ’n skooltas op die verhoog. Herman het die skooltas by tye opgetel om te simboliseer dat hy in sy karakter as klein seuntjie ingeklim het. Uit die dak het drie kettings gehang met klein ringe aan hul punte. ’n Lang rooi lint (dalk ’n simbool van bloed?) is deur die ringe geryg en Herman het tydens die vertoning met dramatiese spronge na die hangende rooi lint gegryp om aspekte van die storielyn uit te beeld.

Herman, die randeiermens, is buite die eg gebore en is as gevolg daarvan reeds vroeg in sy lewe met die naam Hoerkind gebrandmerk. Die indruk word subtiel geskep dat Herman ’n soort minagting vir die NG Kerk het. Dit skemer later deur dat die kerk vir hom die eng Afrikaner simboliseer wat geweier het om hom, die Hoerkind, te doop.

Herman vertel sy ma kon nie meer vir hom sorg nie en hy word as sesjarige kinderhuis toe gestuur, waar hy van die een hand na die ander aangegee is. Op die ouderdom van 13 het hy in die web van ’n pedofiel beland en op 18, toe hy volgens sy molesteerder te oud word vir hom, is Herman by sy vervreemde alkoholis-pa afgelaai. Die pyn in Herman se gesigsuitdrukkings, asook sy gebroke stemtoon, verklap ’n diepgewortelde seer en hy katrol die gehoor meesterlik daardeur in.

Vir my as gehoorlid het dit al hoe duideliker geword dat Herman in ’n tweegeveg is met die “swart hond” van sy verlede. Die lang swart jas wat hy op die verhoog gedra het, simboliseer hierdie “swart hond”. Wanneer dit met hom goed gegaan het, het hy die swart jas afgegooi. Maar wanneer sy jeugherinneringe weer kop uitgesteek het, trek hy met ’n swaar gemoed die lang swart jas weer oor sy skouers.

Teen die einde van die vertoning het Herman die swart jas binne na buite gedraai. Die jas is nou nie meer swart nie, maar blink rooi. Hy lag, amper triomfantelik, terwyl hy lipstiffie aansmeer en sy blink rooi jas aantrek. Was die rooi jas ’n teken van vergifnis, vryheid en oorwinning, of skuil daar agter die blink rooi jas, lipstiffie en triomfantleike lag die masker van die “world’s greatest showman”?

Margit Meyer-Rödenbeck en Francois Toerien het met groot sukses Herman se lewensverhaal op papier met deernis en eerlikheid tot ’n verhoogstuk te verwerk. Daar is ook raakpunte in die verwerkte teks wat emosies aanwakker en waarmee die gehoor sal kan vereenselwig. Geon Nel, wat die rol van Herman in die teaterproduksie vertolk, trek die gehoor uit die staanspoor aan met sy oortuigende spel. Dit is duidelik dat Nel diep gedelf het om in Herman se vel te klim om sy storie so eerlik en empaties moontlik van die verhoog af te kon oordra.

Hoerkind sal jou vasvang en meesleur met wipplankemosies. Jy sal oomblikke van lag beleef, maar ook oomblikke van skok wat jou hart sal ruk. Hierdie verhoogstuk het vir seker die gehoor aangeraak, en die staande toejuiging teen die einde van die vertoning het daarvan getuig.



Teaterresensie: Eerste weergawe

LitNet | STAND: Teaterresensie van Hoerkind (weergawe 1)

Mentorsterugvoer: Eerste weergawe

LitNet | STAND-teaterresensieslypskool 2023 | Eerste mentorsterugvoer: Hoerkind, geresenseer deur Cathy Hugo | LitNet STAND-teaterresensieslypskool 2023

Teaterresensie: Tweede weergawe

LitNet | STAND: Teaterresensie van Hoerkind (weergawe 2)

Mentorsterugvoer: Finale weergawe

LitNet | STAND-teaterresensieslypskool 2023 | Finale mentorsterugvoer: Hoerkind, geresenseer deur Cathy Hugo

Lees ook:

LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool 2023 | Theatre review workshop 2023

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top