Hierdie resensie vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna gaan hulle kans kry om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors te ontvang en dan hul resensies finaal af te rond.
Hier is die eerste weergawe van Cathy Hugo se resensie.
’n Randeier se swart jas
Herman Lategan het die moed bymekaar geskraap om sy seer neer te pen. Ek wil glo dit was vir hom terapeuties om sy hartverskeurende, en soms wrede, jeugherinneringe op papier te herleef. Die emosiebelaaide lewensverhaal van Herman het vir Margit Meyer-Rödenbeck en Francois Toerien tot so ’n mate ontroer dat hul besluit het om die storie op die planke te bring. Francois Toerien verwerk die teks, Geon Nel vertolk die rol van Herman, en so maak die teaterstuk Hoerkind sy buiging op die verhoog
Ek sit in afwagting in Hoërskool Stellenbosch se volgepakte sysaal by die Woordfees. Uiteindelik, al was dit toe reeds so 10 minute oor die bepaalde tyd, word die ligte verdof en begin Herman Lategan se storie voor my afspeel. ’n Ware storie van seer en ver ’n werping wat lesers van sy aangrypende boek Hoerkind: die memoires van ’n randeier diep geruk het.
Die verhoogatmosfeer is melancholies, en die agtergrondmusiek van Coenrad Rall beklemtoon dit. Die stelontwerp is eenvoudig, maar tog treffend en gelaai met simboliek. Daar is ’n tafel, ’n skooltas en twee mikrofoonstaanders op die verhoog. Uit die dak hang drie kettings met klein ringe aan hul punte. Die teaterligte is rooi en so ook die lang lint wat aan die punte van die kettings deur die ringe geryg hang. Gedurende die vertoning gryp Herman met dramatiese spronge na die hangende rooi lint om aspekte van die storielyn uit te beeld. Die tafel word ook deurentyd geskuif om verskeie elemente in die storie te beklemtoon. Bordkryttekeninge word vurig, amper met woede, deur Herman op die verhoogvloer en tafelblad gekrabbel.
Herman, die randeiermens, is buite die eg gebore. Dit het hom sy naam Hoerkind besorg. Selfs die NG Kerk, volgens Herman die eng Afrikaner, het geweier om hom as gevolg daarvan te doop. Herman word as sesjarige kinderhuis toe gestuur. Hy word van een hand na die ander aangegee. Op 13 beland hy in die web van ’n pedofiel – sy beste vriend se pa. Op 18, wanneer hy volgens sy molesteerder te oud is vir hom, word hy by sy vervreemde alkoholis-pa afgelaai.
Herman is as tiener gefassineerd met die Afrikaanse digter Sheila Cussons. Hy besluit om vir haar ’n brief te skryf, en tot sy verbasing reageer sy en hul vriendskap word heg.
Hy maak klaar met skool en sluit aan vir diensplig, maar hy word later oneervol ontslaan. Toe roep New York se liggies en hy betree ’n wilde wêreld van seks, drank en dwelms.
Terug in Suid-Afrika maak Herman opgang as joernalis. Maar die “swarthond” van sy verlede bly hom volg. Die lang swart jas wat sy karakter op die verhoog dra, verteenwoordig hierdie “swarthond”. As dit met hom goed gaan, gooi hy die swart jas af. Maar op die dae wanneer die wrede jeugherinneringe weer opduik, trek hy die lang swart jas weer aan.
Herman praat met deernis en dankbaarheid oor Graham – sy groot liefde, beste vriend en beskermengel.
Herman noem sy seer en verwerping wat hy as kind ervaar het sy “oerwond”. ’n Oerwond waarmee hy net nie vrede kan maak nie en wat oor sy skouers bly hang soos ’n swart jas.
Na aan die einde van die vertoning draai Herman die swart jas binne na buite. Die jas is nou nie meer swart nie maar blinkrooi. Hy lag, amper triomfantelik, terwyl hy lipstiffie aansmeer en sy blinkrooi jas aantrek. Is die rooi jas ’n teken van vergifnis, vryheid en oorwinning – of skuil daar agter die blinkrooi jas, lipstiffie en triomfantelike lag die masker van die “world’s greatest showman”?
Geon Nel trek die gehoor onmiddellik aan in sy eerlike vertolking van Herman. Hy het die storie oortuigend sy eie gemaak en daarin geslaag om die gehoor op ’n ontvlugtingsreis te neem. Selfs toe die teaterligte op ’n intense vertolkingsoomblik moes aangaan weens ’n gehoorlid wat flou val, het Geon daarna weer meesterlik in sy karakter teruggeklim.
Hoerkind sal jou meesleur met wipplankemosies. Daar sal oomblikke van lag wees, maar ook oomblikke van skok wat jou hart sal ruk. Hierdie teaterstuk het vir seker die gehoor aangeraak en die staande ovasie teen die einde van die vertoning getuig daarvan.
Mentorsterugvoer:
Mentorsterugvoer: Hoerkind, geresenseer deur Cathy Hugo | LitNet STAND-teaterresensieslypskool 2023
Lees ook:
LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool 2023 | Theatre review workshop 2023