Hierdie mentorsterugvoer vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna gaan hulle kans kry om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors te ontvang en dan hul resensies finaal af te rond.
Hier is die eerste terugvoer op weergawe 1 van Cathy Hugo se resensie.
Terugvoer: Wayne Muller
Die doel van resensering is om na kuns te kyk en aan jou leser ʼn evaluering en kontekstualisering daarvan te verskaf. Daarby, in die geval van ʼn teaterstuk, wil die leser ook ʼn oorsig hê van wat in die verhaal gebeur. Jy verskaf heelwat inligting oor die teaterstuk en die verband daarvan met die boek en die skrywer.
Tog is die grootste deel van jou teks ʼn vertelling van wat op die verhoog gebeur en nie ʼn resensering in die joernalistieke sin van die woord nie. Slegs die laaste twee paragrawe kom naby daaraan. Ja, dit is nodig om sintuiglik te skryf (dus beskrywend) oor wat jy op die verhoog sien en hoor, maar dit kan nie die oorgrote deel van jou resensie beslaan nie.
Die leser is geïnteresseerd in jou mening oor die gehalte van die stuk, of dit wat jy waarneem goed of slegs of middelmatig is. Hulle wil weet of dít wat jy sien en hoor, sin maak binne die konteks waarbinne ons/die leser leef. Wat maak hierdie verhoogstuk relevant – veral omdat dit ʼn verwerking van ‘n boek is? Die feit dat Margit Meyer-Rödenbeck en Francois Toerien dit goedgedink het om dit vir die verhoog te verwerk, beteken nie noodwendig dat dit werk nie.
Benewens die storie, moet jy bespreek hoe die stel (wat jy breedvoerig beskryf) die vertelling ondersteun en daartoe bydra. Hoekom werk die inkleding of werk dit nie?
Jou artikel kort – vir die doel van hierdie oefening – ʼn opskrif. En jy sal ʼn behoorlike inleiding moet skryf wat die leser se aandag trek. Die inleidende paragraaf van enige artikel is die belangrikste omdat dit die leser se aandag moet vang en hulle moet intrek om verder te lees. Jou eerste paragraaf verskaf bloot inligting; wat dit éintlik moet doen is om jou leser te prikkel om verder te lees en ʼn idee te gee van wat jou argument in hierdie resensie sal wees.
Soos met die meeste tipes joernalistiek, hou eerder jouself uit die storie. Jy kan jou mening lug sonder om die woorde “ek” of “my” te gebruik. Bly ook weg van irrelevante inligting wat slegs met jou te make het, soos met die eerste twee sinne van paragraaf twee. Daar is baie spesifieke maniere en situasies in joernalistieke skryfwerk waarin ek-vertellings wel werk.
Moenie in die teenwoordige tyd skryf nie – weer eens ʼn baie spesifieke tegniek in joernalistieke skryfwerk wat in hierdie geval nie sinvol is nie. Nog iets wat slegs in sekere gevalle werk, is kort afgestompte sinne, soos in jou vierde paragraaf – hier kortwiek jy die ritme van jou teks.
Wees ook versigtig vir groot veralgemenings wat jy nie kan staaf nie, soos dat alle lesers van Lategan se boeke diep geruk was deur die verhaal. Hoe weet jy dit?
My voorstel ter verbetering sou wees om die verhaalgegewe in twee paragrawe op te som, in die verlede tyd te skryf, en op een of twee aspekte te fokus waaroor jy jou mening wil lug – jy kan nie oor alles skryf in ʼn beperkte aantal woorde nie.
Terugvoer: Mercy Kannemeyer
Te veel taalgoggas hier. Die apostroof op die ’n is verkeerd om, en dit is totaal en al onaanvaarbaar. My voorstel aan die skrywer van die resensie is om na elke sin te kyk en hom of haar af te vra of die sin in die eerste plek sin maak, en in die tweede plek of die korrekte sinskonstruksie gebruik word. Die gebruik van “&” in “seks, drank & dwelms” is ’n groot nee.
Die inleiding is nie sterk genoeg nie – ek wil eintlik nie verder lees na so ’n inleiding nie. Dink aan ’n meer kreatiewe inleiding. Oorweeg dit om te skryf oor hoe die stuk jou laat voel het, en nie hoe die stuk tot stand gekom het nie.
Inligting rakende die vertoning wat laat begin het, is onnodig. Die stuk was by ’n fees, en baie van ons weet dat feeste soms talle logistieke uitdagings ervaar.
“Die verhoog atmosfeer is melancholies en die agtergrond musiek van Coenrad Rall beklemtoon dit. Die stelontwerp is eenvoudig, maar tog treffend en gelaai met simboliek.” Hier gebruik die skrywer twee sinne om kommentaar te lewer op die musiek en stel, maar dit word net gestel. Geen uitbreiding word verskaf nie. Ek wil weet wat die simboliek agter die stel is. Die skrywer gaan verder en maak melding van wat op die verhoog staan, maar indien dit dan nou so gelaai is met simboliek, vertel ons ’n bietjie meer, toe?
Die inligting oor die inhoud werk goed. Ek stel voor die skrywer gebruik hierdie inhoud en gaan meer krities daarmee om. Deur bloot te noem wat gebeur – die kinderhuis, die molestering, die verhouding met Sheila Cussons, en New York – bied nie genoeg van ’n kritiese blik nie. Waar die resensent wel daarin slaag om dieper te delf as die blote melding van inhoud, is die verduideliking van die “swarthond” en hoe die kostuum hierdie inhoud simbolies oorgedra het.
Heroorweeg asseblief die struktuur van die resensie. Neem die leser op ’n reis.
Lees ook:
LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool 2023 | Theatre review workshop 2023