LitNet | STAND-teaterresensieslypskool: Candice Jantjies se resensie van Boesak (finale weergawe)

  • 0
Hierdie resensie vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna kry hulle kans om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors ontvang en dan hul resensies finaal afrond.
Hier is die finale weergawe van Candice Jantjies se resensie.

Boesak kort perspektief, bouwerk en wat meer

Toneelstuk: Boesak met Marlo Minnaar
Teks en regie: Mercy Kannemeyer
Toyota US Woordfees, 13 Oktober

Die afwagting vir Mercy Kannemeyer se eenmanstuk Boesak oor die lewe van die teoloog, politikus en anti-apartheidstryder Allan Boesak, vertolk deur Marlo Minnaar, was tasbaar by die Hoërskool Stellenbosch-saal. En die koortjies wat die gehoor met die instap begroet het, het daartoe bygedra. Ek kon self nie my gejuig in my stoel keer nie. Tog voel ’n mens dat die produksie beter byeengebring kan word.

Die stuk vra vir genade vir Boesak, ’n omstrede figuur wat tronkstraf opgelê is vir bedrog en nie noodwendig ’n medialiefling was nie, nadat hy uit die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk bedank het weens ’n buitehuwelikse verhouding. Maar ook genade vir ’n invloedryke aktivis wat gay-huwelike ondersteun het ’n jaar voordat die Suid-Afrikaanse Grondwethof die ontkenning van gay-huwelike as ’n vooroordelende oortreding van sy Grondwet verklaar het. Genade vir ’n uitgesproke teenstander van die Nasionale Party se apartheidbeleide en die NG Kerk se goedkeuring daarvan. Die stuk bied beslis begrip vir waarom Boesak deur baie as ’n held beskou word. Wat die inhoud betref, is dit egter effe te eensydig. Minnaar neem ons deur Boesak se uitdagende grootwordjare onder apartheid in Noorder Paarl, sy verset teen die apartheidsregime en sy worsteling met die kerk se betrokkenheid daarby, asook met sy geloof as bruin man. Die karakter Boesak verwittig ons vlugtig van hoe hy die slagoffer in sy bedrogsaak van 1999 was, en ’n toespraak deur ’n ANC-kameraad oor sy kwytskelding van skuld volg oor die luidspreker. Die resensent het wel begrip vir die beperkings op die aard van ’n eenmanstuk, maar meer perspektief en uitdaging kan net die storie versterk, veral as dit genade wil ontsluit by die gehoor. Ek dink byvoorbeeld aan ander eenmanstukke soos Fietsry vir dommies (met Eldon van der Merwe) en Hallo, is Bettie wat praat (met Dean Smith) waar perspektief geslaagd geskep word deur self-refleksie en denkbeeldige gesprekke waar ’n ander party dalk van die verhoog af in ’n ander vertrek aangespreek word.

Minnaar trek op ’n haar na Boesak met sy ronde bril, pofferige hare en grys snyerspak – geskik vir die Sondagdiens én die parlementsbank. Hy slaag in Boesak se charismatiese toesprake, waarvoor hy veral bekend was. Maar selfs hy lyk onkant gevang deur die hoë-tempo reggae-musiek wat sonder waarskuwing, ’n fade-in of ’n verandering in die toonaard van die vertolking by ’n enkele luidspreker aan een kant van die teater uitblêr. Uit die gerondkyk in die gehoor is dit duidelik dat niemand seker is of dit ’n tegniese fout is en of dit deel van die klankbaan is nie. En dan spring Minnaar skielik op een van die kerkbank-rekwisiete om ’n begeesterde toespraak te lewer, soos een wat die saak probeer beredder. Totdat ’n struggle-lied begin en jy besef, nee, die liedjie was nie ’n tegniese fout nie.

Die beligting is ook nie na wense nie en dit dans in sekere tonele lukraak rond, selfs by tye waar Minnaar se vertolking nie verhef is nie. Daar behoort ook gewerk te word aan die wit beligting wat dit moeilik maak om enige emosie op Minnaar se gesig te lees.

Boesak was dus nie gereed vir die planke nie: Daar is aspekte van die teks en regie, asook die beligting-en klankontwerp wat by verdere aandag sal baat.

 



Teaterresensie: Eerste weergawe

LitNet | STAND: Teaterresensie van Boesak (weergawe 1)

Mentorsterugvoer: Eerste weergawe

LitNet | STAND-teaterresensieslypskool 2023 | Eerste mentorsterugvoer: Boesak, geresenseer deur Candice Jantjies

Teaterresensie: Tweede weergawe

LitNet | STAND: Teaterresensie van Boesak (weergawe 2)

Mentorsterugvoer: Finale weergawe

LitNet | STAND-teaterresensieslypskool 2023 | Finale mentorsterugvoer: Boesak, geresenseer deur Candice Jantjies

Lees ook:

LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool 2023 | Theatre review workshop 2023

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top