Hierdie mentorsterugvoer vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna gaan hulle kans kry om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors te ontvang en dan hul resensies finaal af te rond.
Hier is die finale terugvoer op weergawe 2 van Candice Jantjies se resensie.
Terugvoer: Wayne Muller
Jy het die voorstelle ter verbetering goed bygewerk en jou resensie het beslis nou beter fokus. Wat baie help, is dat jy elke observasie staaf met ’n verduideliking – die lesers verstaan dus waarom jy sekere aspekte uitlig en die verband tussen die vertelling en inkleding daarvan. Die leser het dus ’n beter verstaan van jou standpunte.
Ter verdere verbetering kan jy ’n sterker opsommende slot tot die resensie skryf – tans eindig jou resensie baie stomp, asof jy nog iets wou byvoeg.
Terugvoer: Jean Meiring
Hierdie tweede weergawe van Candice Jantjies se resensie van Boesak is beslis baie meer geslaag as die eerste ene. Daarvoor moet Jantjies gelukgewens word. Die resensie vlot nou heelwat beter en lees baie meer boeiend as ‘n stukkie skryfwerk op sigself.
Een van die aspekte wat verbeter is, is dat die leser nou veel beter in staat is om die kompleksiteit van die persoon van Boesak te snap. Dít is so weens die derde paragraaf, waarin die verskillende hoede wat Boesak gedra het, opgestapel word. Tog verbeeld daardie paragraaf ook iets wat aan Jantjies se prosa haper. Die sinne is te lank; die segging is nie beknop genoeg nie; te veel woorde word gebruik. Die punte wat Jantjies hier aanvoer, sou direkter en duideliker uitgedruk kon gewees het.
Die derde, vierde en vyfde paragrawe en die eerste sin van die sesde paragraaf gaan saam (ek weet nie waarom die eerste sin van die sesde paragraaf juis dáár is nie). Hulle slaan op die feit dat Boesak ‘n veelkantige man was, maar dat die stuk slegs sý stem hoorbaar maak en geeneen van sy teenstanders s’n nie. Dit klink na ‘n geldige punt van kritiek wat op die kern van die stuk se konsipiëring gerig is. Tog sou Jantjies haar argument veel netjieser kon struktureer en verwoord. Tans is dit te uitgesponne. Jantjies moet haar (beperkte) woorde gebruik om verdere analise te bied.
Ook hou Jantjies die oordeelsin “Boesak was ver van gereed vir die planke en dis ooglopend in byna elke opsig: teks, regie, vertolking, beligting-, stel- en klankontwerp” boaan die resensie (as die tweede paragraaf) ten spyte van die feit dat ek in my vorige verslag aan die hand gedoen het dat só ‘n verdoemende sin aan die begin van die resensie lesers hulle oë elders heen sou laat wend. My voorstel staan, dat dié sin later hoort. In hierdie tweede weergawe, wat merkbaar stomp afsluit, is dit des te duideliker. Hierdie sin is die slotsin wat hierdie resensie in sy huidige gedaante makeer. Maar dalk in ‘n effens minder neerhalende gedaante?
Dalk só? “Boesak was nog nie gereed vir die planke nie. Daar is aspekte van die teks en regie, asook die beligtings-, stel- en klankontwerp wat by verdere aandag sal baat.” Die formulering “nog nie gereed … nie” is positief; dit laat die deur vir verbetering oop. Regie en vertolking is stellig keersye van dieselfde munt; ek sou die twee met die woord “regie” saamvat. Die opbreek van die tweede sin in twee dele laat die kritiek ook minder soos ‘n ellelange lys van verdoemenis klink. Die leser wil glo dat die resensent, ten spyte van streng kritiek, die produksie tog goedgesind is.
In die sesde paragraaf kom Minnaar se vertolking, asook aspekte van die tegniese versorging van die stuk, aan bod. Eers word kritiek teen Minnaar se vertolking uitgespreek; daarna word meer positiewe dinge gesê. Ek meen die positiewe kommentaar behoort eerste te kom. En dan, iets soos: “Tog kom Minnaar senuagtig voor …” Ook sou ek die bespreking van die vertolking deur Minnaar en die kritiek op die tegniese versorging in twee aparte paragrawe hanteer.
Die kritiek op die stel lui tans só: “Die stelontwerp is ook nie na wense nie. Daar is ’n skoolbruin podium vir die toesprake, ’n paar kerkbanke wat onafgerond en soos uitknipsels lyk en ’n vaal platform wat nie die indruk skep dat dit deel van die estetika behoort te wees nie.” Daar is aspekte hiervan wat pla. Die uitdrukking “nie na wense nie” klink effe skoolmeesteragtig en is ook nie duidelik nie. Die besonderhede wat volg, verhelder dit ook nie. Ek kan nie visualiseer hoe kerkbanke lyk wat tegelyk “onafgerond” is en “soos uitknipsels lyk” nie. En hoe pas die “vaal platform” nie in die “estetika” [sic] in nie? Ek raai Jantjies aan om baie fyn te dink oor presies wat haar besware is en hulle baie eenvoudig en konsekwent te verwoord.
Jantjies het wel veel meer orde aan haar resensie verleen as in die eerste weergawe. Ek meen dis reg om by die stuk self te begin: om te pieker oor hoekom die stuk, volgens die resensent, nie werk nie. Hier is dit dat daar te min stemme gehoor word; dat die verhaal uit Boesak se oë vertel word. Eweneens maak dit sin om dán die regie en vertolking onder die loep te neem. Om laastens – en hulle is uitvloeisels van die regie – aan tegniese aspekte te dink.
Maar deur dit alles moet die resensent iets meer sê as net dat sy die produksie geniet het of nie: Sy moet iets oor die stand van die teater in ons land op hierdie tydstip sê. ‘n Bewustheid oor ander stukke oor soortgelyke onderwerpe sou nuttig wees. Hoe het ander skrywers en teatermakers die slaggat wat sy aan die skeppers van Boesak toeskryf, dit vermy? Eenpersoonstukke is immers deesdae legio.
En laastens, soos ek hier bo sê: Die resensie eindig stomp en onbevredigend. Dit het ‘n slotsom nodig. Daardie slotsom sit in paragraaf twee.
Resensies skryf is harde werk. Geluk aan Jantjies dat sy haarself aan hierdie vuurdoop onderwerp het. Geluk met die vordering wat reeds gemaak is – en wat nog gemaak sal word.
Mentorsterugvoer (weergawe 1)
Teaterresensie (weergawe 1)
Teaterresensie (weergawe 2)
Lees ook:
LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool 2023 | Theatre review workshop 2023