Hierdie resensie vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna gaan hulle kans kry om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors ontvang en dan hul resensies finaal afrond.
Hier is die tweede weergawe van Candice Jantjies se resensie.
Boesak: kort perspektief, bouwerk en wat meer
Toneelstuk: Boesak
Met Marlo Minnaar
Teks en regie: Mercy Kannemeyer
By die Toyota US Woordfees in Stellenbosch op 13 Oktober
Die afwagting vir Mercy Kannemeyer se eenmanstuk Boesak oor die lewe van die teoloog, politikus en anti-apartheidstryder Allan Boesak, vertolk deur Marlo Minnaar, was tasbaar in die Hoërskool Stellenbosch-saal. En die koortjies wat die gehoor met die instap begroet het, het daartoe bygedra. Ek kon self nie my gejuig in my stoel keer nie. Tog voel ’n mens dat deegliker voorbereiding ’n meer geslaagde produksie van hierdie toneelstuk sou maak.
Boesak was ver van gereed vir die planke en dis ooglopend in byna elke opsig: teks, regie, vertolking, beligting-, stel- en klankontwerp.
Die stuk vra vir genade vir Boesak, ’n omstrede figuur wat tronkstraf opgelê is vir bedrog en nie noodwendig ’n medialiefling was nie nadat hy uit die Nederduitse Gereformeerde Kerk bedank het weens ’n buitehuwelikse verhouding. Maar dit vra ook vir genade vir ’n invloedryke aktivis wat onder meer gay-huwelike ondersteun het ’n jaar voordat die Suid-Afrikaanse Grondwethof beslis het dat die ontkenning van gay-huwelike vooroordelend is en die land se Grondwet oortree. Genade vir ’n uitgesproke teenstander van die Nasionale Party se apartheidbeleide en die NG Kerk se teologiese goedkeuring daarvan.
Genade is dalk ’n bietjie te veel gevra, veral omdat ons slegs Boesak se kant van die saak hoor, maar dit gee jou beslis begrip vir waarom hy deur baie as ’n held beskou word.
Wat die inhoud betref, is dit ’n eensydige chronologiese vertelling van Boesak se uitdagende grootwordjare onder apartheid in Noorder Paarl, sy verset teen die apartheidregime, sy worsteling met die kerk se betrokkenheid daarby en sy geloof as bruin man. Boesak verwittig ons vlugtig van hoe hy die slagoffer in sy bedrogsaak van 1999 was en ’n toespraak deur ’n ANC-kameraad oor sy kwytskelding van skuld volg oor die luidspreker.
Die stuk kort meer perspektiewe as net Boesak s’n. Minnaar kom onseker voor in sy vertolking, senuweeagtig. Hy trek op ’n haar na Boesak met sy ronde bril, pofferige hare en grys snyerspak – geskik vir die Sondagdiens én die parlementsbank. Minnaar slaag ook in Boesak se evangeliese akkeltjies in sy charismatiese toesprake, waarvoor Boesak veral bekend was. Maar selfs hy lyk onkant gevang deur die hoë-tempo reggae-musiek wat sonder waarskuwing, ’n fade-in of ’n verandering in die toonaard van die vertolking by ’n enkele luidspreker aan een kant van die teater uitblêr. En uit die gerondkyk in die gehoor is dit duidelik dat niemand seker is of dit ’n tegniese fout is en of dit deel van die klankbaan is nie. En dan spring Minnaar skielik op een van die banale kerkbanke om ’n begeesterde toespraak te lewer, soos een wat die saak probeer beredder. Totdat ’n struggle-lied begin en jy besef, nee, die reggae-nommer is nie ’n tegniese fout nie.
Die stelontwerp is ook nie na wense nie. Daar is ’n skoolbruin podium vir die toesprake, ’n paar kerkbanke wat onafgerond en soos uitknipsels lyk en ’n vaal platform wat nie die indruk skep dat dit deel van die estetika behoort te wees nie. Die beligting dans in sekere tonele lukraak rond, selfs by tye waar Minnaar se vertolking nie verhef word nie. Dit sou eerder beter pas by die koortjies wat in die buiteteks vermaak bied. Daar behoort ook gewerk te word aan die spookwit beligting wat dit moeilik maak om enige emosie op Minnaar se gesig te lees.
Teaterresensie: Eerste weergawe
Mentorsterugvoer: Eerste weergawe
Mentorsterugvoer: Finale weergawe
Lees ook:
LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool 2023 | Theatre review workshop 2023