Hierdie mentorsterugvoer vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna gaan hulle kans kry om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors te ontvang en dan hul resensies finaal af te rond.
Hier is die eerste terugvoer op weergawe 1 van Candice Jantjies se resensie.
Terugvoer: Wayne Muller
Dit is duidelik dat jy verstaan waaroor resensering in die algemeen gaan en watter elemente daarby ingesluit word. Jy raak aan byna al die elemente wat ʼn mens sou wou sien in die resensering van ʼn toneelstuk, en jy evalueer die stuk origens regverdig met stawing van die meeste van jou menings. Daar is wel aspekte waarop jy kan verbeter en ander wat kort kom in jou resensie.
Jy begin jou resensie deur te verwys na die polemiek rondom die negatiewe resensies wat hierdie stuk gekry het, maar uiteindelik het dit min met jou evaluering van die werk te doen. Dit voel na ʼn bysaak en dra nie werklik by tot jou resensie nie, maar is eerder ʼn ander debat. Ook kan dit gelees word as ʼn verskoning vir jou negatiewe resepsie van die stuk.
Jy sê nie in jou resensie waar en wanneer jy die produksie gesien het nie.
Jy sal meer moet verduidelik waarom hierdie produksie nie vir jou werk nie; byvoorbeeld as dit by die teks kom, dink ek jy reken dat dit nie met gesag omgaan met wat jy sou verwag van ʼn toneelstuk oor iemand met die statuur van Boesak nie. Is dit so?
Daar moet beredenering en argumentering – of bloot redes – wees vir waarom jy meen dat daar “gebou, geskaaf en geslyp” moet word. Ek kan slegs aflei wat jy bedoel in sommige paragrawe, maar jy sal dit duideliker moet neerpen. Jy het dalk baie konteks oor Boesak en sy werk, maar dra dit nie oor vir ʼn leser wat minder konteks het nie.
Dit klink byvoorbeeld asof jy meen die verhoog is onvanpas vir ʼn storie oor ʼn VGK-predikant (eintlik die destydse NG Sendingkerk) en dit lyk vir jou eerder na ʼn meer charismatiese kerk – dis my afleiding, maar jy sê dit nie eksplisiet en eenvoudig nie.
Hierdie is ʼn eenpersoonstuk – dis ʼn gegewe. As jy dus sê daar kort ʼn ander perspektief op die verhaal of dit moet meer genuanseerd wees, hoe meen jy gaan ander perspektiewe daarin bygewerk word? Dink daaroor na. Daar is wel ander maniere om dit te doen, maar hoe stel jy dit sodat jou leser verstaan waarom jy so sê?
Jou resensie kort fokus – wat is jou primêre probleem met die stuk? Fokus daarop en moenie op alles probeer wys wat jou pla nie. My lees van jou resensie is dat jy reken die vertelling is te lig in die broek vir ʼn biografiese stuk oor Boesak en dat dit nie strook met die publieke persona wat mense ken nie; ook dat hy nie ʼn Pinkster-tipe agtergrond het nie, maar ʼn heel ander noncharismatiese kerkagtergrond. Maak dit dan die fokus van jou resensie dat daar ʼn diskrepansie is tussen die stuk se voorstelling van Boesak en die regte Boesak. Anders klink dit asof jy net ʼn hoop negatiewe aspekte noem sonder om ʼn argument daarrondom te formuleer.
Jy wys op probleme met die inkleding en regie, maar jy sal dit met die vertelling in verband moet bring, bedoelende dat jy sal moet argumenteer waarom die stel en beligting nie bydra tot die vertelling van die storie nie. As dit oor ʼn predikant gaan en daar is kerkbanke, is dit seker sinvol. Die klankbaan is ook vir jou onvanpas – hoekom? Dit verg ʼn argument waarom die verhoogaspekte nie werk binne die konteks van die storie nie – beligting, klank en rekwisiete kan nie objektief onvanpas wees nie; dit is relatief tot die verhaal wat vertel word en of dit die verhaal dryf en bevorder.
Jy moet wel deurgaans onthou dat dit nie die resensent se werk is om notas aan die skrywer/regisseur te gee nie. Dus, moenie sê wat gedoen behoort te word nie. Jy doen dit nie regtig nie, maar dit kom baie naby daaraan. Evalueer dit wat voor jou is, nie wat dit kon gewees het nie.
Terugvoer: Jean Meiring
Teaterresensies verskyn in dagblaaie en gaandeweg al hoe meer op webblaaie. Sommige lesers sou die verhoogstuk wat onder die loep is, gesien het – byvoorbeeld as ’n resensie op ’n fees in Krit of Ink verskyn. Dis waarskynlik egter meer dikwels die geval dat lesers nog nie die stuk ter sprake te siene gehad het nie, en dat hulle die resensie dus lees om te bepaal of dit die moeite werd sou wees om die stuk te sien, of gewoon om deur die bespreking vermaak en geprikkel te word.
Derhalwe moet ’n teaterresensie volledig as essay-in-die-kleine op sy eie voete kan staan. Die aanslag moet van so ’n aard wees dat dit nie saak maak of die leser wel reeds die stuk gesien het of nie.
Hierom is dit gerade om ’n resensie konkreet, met ’n vasvat van die essensie van die teaterervaring, van stapel te laat gaan. Som die stuk en die vergestalting daarvan op die verhoog uit die staanspoor sterk en duidelik op. Laat die leser – in betreklik afgemete en respekvolle taal – self iets van die ervaring beleef. Sodoende word lesers se aandag vasgevang; hulle wonder dan wat die resensent van die ervaring gedink het; hoe dit hom of haar geraak het.
Teen die agtergrond van daardie opsomming is die evaluering van die teks en opvoering – wat die essensie van ’n resensie is – dan sinvol en vir alle lesers toeganklik, al sien hulle nooit self die stuk op die verhoog nie.
In die lig van dié inleidende opmerkinge is die volgende my meer direkte kommentaar op die resensie van Boesak.
Ek is nie oortuig daarvan dat hierdie inval die mees gelukkige een is nie. Die eerste twee paragrawe word gewy aan ’n debat wat in die media ontstaan het rondom die einste produksie. Die resensent kom amper verdedigend oor – dit klink asof sy apologie maak vir haar eie negatiewe oordeel wat kom. Is hierdie wyer konteks nodig voordat die resensent haar eie mening lug en begrond? Ek meen van nee.
Meer nog: Soos hulle tans daar uitsien, loop die eerste twee paragrawe die gevaar om die algemene leser van die kunsblad te vervreem: “Ek wou lees wat die resensent van die produksie dink, maar nou moet ek deur hogere opinies oor resensering waad. Nee wat, ek gee eerder bes …”
In kort, in die wyse waarop die resensent haar resensie open, struikel sy oor die heining uit die genre van die resensie in ’n meer polemiese op-ed-genre in: Sy wy haar eerste waardevolle 100 of 200 woorde aan iets heel anders as resenseer (en resensente kla altyd dat hul teks gesny word!).
En dan begin die resensent die derde paragraaf met sterk evaluerende opmerkinge voordat sy werklik iets van die produksie vasgevat het – trouens sy kom nooit daarby uit om dit wat op die verhoog afspeel, konkreet en samehangend vas te vat nie. Dis boonop waarskynlik so dat baie lesers nie verby die verdoemende sin waarmee die derde paragraaf afskop, sal lees nie: “Boesak was ver van gereed … en klankontwerp.”
’n Beter aanslag sou gewees het om, soos ek hier bo aan die hand doen, ná ’n konkrete beskrywing van die essensie van die opvoering die vernaamste hoogte- of laagtepunte te noem en oor hulle uit te wei. Indien dit dan ’n oorwegend kritiese resensie is, is dit baie meer interessant om ’n argument te lees oor waarom die stuk nie werk nie. Dít vereis van die resensent om fyn te pieker, om versigtig te probeer uitkom by die kernprobleem of -probleme waarmee die produksie te kampe het.
Dis onbevredigend om te lees dat die teks, regie, vertolking, beligting, stel en klank te kort skiet en om dan ’n beknopte bespreking van enkele van daardie temas te kry: die teks (paragraaf 4); die vertolking (eerste drie sinne in paragraaf 5); en die klank en ligte (die res van paragraaf 5).
Wat daardie bespreking betref: In paragraaf 4 word iets weergegee van die teks. Dit word “eensydig” genoem, maar in dieselfde asem word aspekte van die verhaal as uitdagend getipeer en word daar van verset en ’n worsteling gepraat. Wanneer ek die einde van paragraaf 4 bereik en die resensent in baie sterk taal sê dat die vertelling haar “tot vervelens kil gelaat [het]”, moet ek erken ek verstaan nie presies waarom dit – teatermatig – die geval was nie. Wat sou teatermatig die oplossing gewees het, of ’n beter roete? ’n Resensent is nie daar om die teks te herskrywe nie, maar sou wel in haar bespreking iets kon laat deursyfer het van presies waarom sy so gevoel het.
Is dit, kru gestel, omdat die teks ’n tipe hagiografiese aanslag het? Word die karakter Boesak opgehemel? Is dit omdat net sy stem gehoor word? Hoe sou die skepper van ’n eenmanvertoning dit kon bewerkstellig het dat die teaterganger met ’n ander gewaarwording die stuk belewe?
Dan lyk dit my dat die resensent te veel woorde aan sekere aspekte van die klankinkleding wy: die besonderhede in paragraaf 5 is vir my betreklik konteksloos.
En die resensent spreek die regie – die konsepsuele en teatermatige aanslag van die regisseur – nooit direk aan nie. Ja, alle aspekte van die vertoning ressorteer sekerlik in ’n sin onder die hofie “regie”, maar wanneer ’n resensent so afwysend is soos hierdie een, dan verwag ek meer oortuigende en hegte oorhoofse evaluering, waar die opmerkinge oor besonderhede nie gewoon as effe beledigend aandoen nie, maar waar hulle die oorhoofse beoordeling van die produksie in sy geheel dien.
In dieselfde asem is meer getemperde taalgebruik waarskynlik aan te beveel. Daar is net te veel effe neerbuigende taal hier, wat ’n sterker betoog vereis. Ja, natuurlik mag die resensent à la Kenneth Tynan waar gepas skerp en bitsig wees, maar dan moet die ontleding van die stuk daardie beoordeling rugsteun.
Lees ook:
LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool 2023 | Theatre review workshop 2023