Hierdie resensie vorm deel van die LitNet | STAND-teaterresensieslypskool. Die tien deelnemers skryf elkeen ’n resensie waarop die mentors dan terugvoer gee. Daarna gaan hulle kans kry om weer aan hul resensies te werk, nog terugvoer van die mentors te ontvang en dan hul resensies finaal af te rond.
Hier is die eerste weergawe van Candice Jantjies se resensie.
Boesak: Kort perspektief, bouwerk en wat meer
“Resensente se plig lê by hul lesers, en nie die kunstenaar nie.” Dit was die kunsjoernalis Wayne Muller se antwoord op die sosiale-media-debakel oor negatiewe resensies van die einste eenmanstuk wat hier onder die loep kom – Boesak deur Mercy Kannemeyer met Marlo Minnaar in die rol van die omstrede kerkman, anti-apartheidsaktivis en politieke leier Allan Boesak.
Ek deel Muller se mening. Tog wil ek die geleentheid wat hierdie nodige debat bied, gebruik om te sê dat resensies, negatief of te not, niks minder as voordelig vir die kuns is nie, en dís tog waaroor dit hier gaan, of hoe? Dit staan kunstenaars vry om die kritiek te gebruik om hul werk te verbeter, maar om tweespraak te maak, wil ek sê dit is húl plig teenoor die teaterganger om sonder sentimentaliteit – soos die resensent ook maar moet doen – te gaan besin en juis dit te doen.
Boesak was ver van gereed vir die planke, en dis beduidend in elke liewe opsig: teks, regie, vertolking, beligting-, stel- en klankontwerp. Maar meer daaroor in ’n oomblik. En vir die geld wat die teaterganger betaal om dit te sien, sou mens verwag dat daar daaraan gebou, geskaaf én geslyp sal word vir die volgende vertoning of speelvak. Dat daar by wyse van spreke gelamineerde dennevloer op daardie asvaal verhoog gelê sal word, dat die skoolbruin kerkbanke en podium ’n vernislaag sal kry, en dat die “disco”-ligte wat uit die letterlike bloute begin jubel en juig het, dalk beter sou pas by die Pinkster-koortjies wat die gehoor in die buiteteks verwelkom het. Daar behoort ook gewerk te word aan die spookwit beligting wat dit moeilik maak om enige emosie op Minnaar se gesig te lees.
Wat die inhoud betref, is dit ’n eensydige chronologiese vertelling van Boesak se uitdagende grootwordjare onder apartheid in Noorder-Paarl, sy verset teen die apartheidsregime en sy worsteling met die kerk se betrokkenheid daarby en sy geloof as bruin man. Boesak (Minnaar) verwittig ons vlugtig oor hoe hy die slagoffer in sy bedrogsaak van 1999 was, en ’n toespraak deur ’n ANC-kameraad oor sy kwytskelding van skuld volg oor die luidspreker. Die vertelling het my tot vervelens kil gelaat, eerder as met ’n titseltjie meegevoel vir ’n veelvlakkige man met ’n ingewikkelde storie.
Die eenpersoon- of ek-vertelling werk eenvoudig nie vir ’n storie, vir ’n figuur van so ’n aard nie. Dit kort perspektief, uitdaging. Minnaar kom onseker voor in sy vertolking, senuweeagtig. Hy trek op ’n haar na Boesak, en slaag amper in sy charismatiese evangeliese akkeltjies. Maar selfs hy lyk onkant betrap deur die hoëtempo-reggaemusiek wat sonder waarskuwing, ’n fade-in of ’n verandering in die toonaard van die vertolking by ’n enkele luidspreker aan een kant van die teater uitblêr. En uit die gerondkyk in die gehoor is dit duidelik dat niemand seker is of dit ’n tegniese fout is en of dit deel van die klankbaan is nie. En dan spring Minnaar skielik op een van die banale kerkbanke om ’n begeesterde toespraak te lewer, soos een wat die saak probeer beredder. Totdat ’n strugglelied begin en jy besef nee, die reggaenommer was nie ’n tegniese fout nie.
Daar steek wel potensiaal in ’n storie soos Boesak, veral een wat so baie mense, gebeure en perspektiewe behels. Terwyl ek seker is dat die kunstenaars die nodige besinning sal doen, kan mens net hoop dat dit in die produksiegehalte neerslag sal vind.
Lees ook:
LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool 2023 | Theatre review workshop 2023
LitNet | STAND: Teaterresensieslypskool | Theatre review workshop
LitNet | STAND-teaterresensieslypskool: aankondiging | announcement