LitNet Akademies Weerdink: Moraliteit in jeugfiksie – pêrels tussen die reëls?

  • 0

Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met ander aktuele gesprekke.

"Omstrede kwessies kom wêreldwyd al hoe meer in jeugliteratuur voor," skryf Elize Vos in haar LitNet Akademies-artikel: Moraliteit en omstrede kwessies in jeugliteratuur: ’n beskouing oor Onderwêreld deur Fanie Viljoen. Sy skryf verder: "Na aanleiding van sensuurwette is vier kategorieë geïdentifiseer waarvolgens omstrede kwessies in literêre tekste ingedeel kan word, naamlik geweld, politiek, seksualiteit en religie."

Hier onder bespreek Gerda-Marié van Rooyen moraliteit in jeugfiksie.


Swemlesse vir ’n meermin, Gerook en Onderwêreld is jeugboeke wat nie net die verbeelding aangryp nie, maar ook implisiet, soos versteekte pêrels, ’n morele les of twee oordra.

In Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom deur Marita van der Vyver skryf die hoofkarakter, Hanna, wat byna 15 jaar oud is, vir haar babasussie lewenslesse neer om te lees wanneer sy 13 word. In  die opvolgboek, Swemlesse vir ’n meermin, wat ’n Sanlam-prys vir Jeuglektuur gewen het, verwys Hanna na haar eie lewenslesse as “swemlesse”, want sy weet in hierdie lewe sal haar sussie moet sink of swem. Hierdie wyshede  het ook nie ’n prekerige of neerhalende toon nie: “Laat ek jou liewer bietjie raad probeer gee oor dwelms en drank en al daardie dinge wat verbode is vir tieners. En natuurlik juis daarom so onweerstaanbaar, nè. […] Jy weet wat onwettig is en wat verbode is.” Daar word dus met die leser gekommunikeer op verstaanbare vlak waarby hy/sy kan aanklank vind.

Carol Jones Collins skryf in haar artikel “The moral of the story: Young adult authors speak on morality, obligation, and age appropriateness” dat literatuur vir jong volwassenes ’n rol in die morele kompas van adolessente kan speel. Sy verwys na akademici se bevindings dat literatuur nie alleenlik die krag het om adolessente se moreel te affekteer nie, maar ook gebruik kan word om hierdie ontwikkelingsaspek van adolessente se persoonlike groei in die klaskamer te bespreek.

Elize Vos, verbonde aan die Vakgroep Afrikaans vir Onderwys aan die Noordwes-Universiteit, skryf in haar LitNet Akademies-artikel “Moraliteit en omstrede kwessies in jeugliteratuur: ’n beskouing oor Onderwêreld deur Fanie Viljoen” dat omstrede kwessies wêreldwyd al hoe meer in jeugliteratuur voorkom. “Enkele voorbeelde van omstrede kwessies in jeugliteratuur waaroor ’n morele oordeel uitgespreek en in een van die vier genoemde kategorieë ingesluit kan word, is onder andere disrespek teenoor gesag, dwelm- en drankgebruik (of -misbruik), rook, asook seksuele promiskuïteit.”

Sy sê dit word toenemend moeilik vir ouers om te reguleer wat hul kinders lees, omdat literatuur gratis beskikbaar is en omstrede onderwerpe algemeen voorkom wanneer tekste ontleed word. Moraliteitvaandeldraers trek ten velde hierteen, terwyl ander rolspelers sulke inhoud verwelkom omdat dit glo die weg vir intelligente gesprekke met adolessente lesers baan. “Onderwysers wat van hierdie omstrede onderwerpe in jeugliteratuur wegskram en nie die kwessies in hul klaskamers met hul leerders wil aanspreek nie, verskaf nie ’n oplossing vir hierdie probleem nie. Die vraag moet eerder wees watter effektiewe metodes kan gebruik word om hierdie kontroversiële gesprekke in die klaskamer met leerder te hê.” 

.......

In teenstelling met vandag se jeug wat vra vir leesgenot wat nie doekies omdraai nie, is Jacob en Wilhelm Grimm se versameling, Kinder- en huishoudelike verhale, herskryf nadat mense gekla het omdat dit nie vir kinders geskik is nie. In die moderne era is sprokies wat op volkskundige navorsing in die vroeë 19de eeu gebaseer is en eenmaal onder meer seksuele verwysings bevat het, aangepas sodat dit kindervriendeliker is.

.........

In teenstelling met vandag se jeug wat vra vir leesgenot wat nie doekies omdraai nie, is Jacob en Wilhelm Grimm se versameling, Kinder- en huishoudelike verhale, herskryf nadat mense gekla het omdat dit nie vir kinders geskik is nie. In die moderne era is sprokies wat op volkskundige navorsing in die vroeë 19de eeu gebaseer is en eenmaal onder meer seksuele verwysings bevat het, aangepas sodat dit kindervriendeliker is. Só was Raponsie se klere in die eerste uitgawe styfpassend ná die besoeke van die prins sodat die heks kon aflei Raponsie is swanger. Marita van der Vyver, wat sowat 200 sprokies van die broers “afgestof, gepoets en vertaal het”, waarsku in haar Die mooiste sprokies van Grimm-voorwoord  dat die volksverhale vermaak was vir alle ouderdomme, “amper soos die gewildste TV-sepies deesdae. Die humor, die stuitigheid en veral die wreedaardigheid kan nogal ’n openbaring wees vir dié van ons wat met soetsappige oorvertelling en Walt Disney se silwerdoekweergawes van die sprokies grootgeword het.”

Selfs met die gebruik van skrywers se verbeeldingswêreld is die raakpunte met en verwysing na die realiteit onafwendbaar. Eldridge Jason, die skrywer van Gerook, sê in ’n LitNet-onderhoud dat baie van die tonele in sy boek gebaseer is op dinge wat hy self ervaar het. “Dit was nie eintlik so moeilik om oor ’n onderwerp te skryf waar ek persoonlik met die duiwel se drug buddy skouers geskuur het nie.” Dié roman waarsku oor die gevare van dwelms. ’n Resensent, Cassidy Alexander, skryf egter op dieselfde portaal dié boek fokus té veel in besonderhede op slegte gewoontes. “Daar word té veel voorbeelde gegee van die genot wat dwelms bied vir jongmense. Dit mag kinders aanhits om dwelms te wil gebruik. [...] Dit sou beter gewerk het as Cobie op die einde aan dwelms gesterf het. Dit sou kinders laat sien het dat dwelms gevaarlik is.”

........

Al bevat sprokies en fantasieverhale kontroversiële elemente soos dwelmmisbruik en geweld, het die oorlede skrywer van Katriena Katryn, Elsabe Steenberg, gesê kinders het hierdie verhale nodig en geweld word, net soos woede, in elke mens se onderbewuste, hanteer.

.........

Al bevat sprokies en fantasieverhale kontroversiële elemente soos dwelmmisbruik en geweld, het die oorlede skrywer van Katriena Katryn, Elsabe Steenberg, gesê kinders het hierdie verhale nodig en geweld word, net soos woede, in elke mens se onderbewuste, hanteer. “Kinders moet dit van kleins af leer. Fantasie bevat gewoonlik ’n dieper waarheid en dis nodig om ’n kind gebalanseerd groot te maak, want kinders wat daarsonder grootword, ontspoor heeltemal.” Sy het ook geglo ’n fantasielose lewe is eendimensioneel en skrywers moenie kinders onderskat nie. Vos bevestig kinders se fyn waarnemingsvermoë: “Volwasse rolspelers, wat ’n bydraende rol speel in die vestiging van ’n moraliteitsbewussyn by adolessente, openbaar soms teenstrydige waardes wat adolessente verwar. Skrywers en onderwysers bly steeds van die belangrikste rolspelers wat die vestiging van ’n moraliteitsbewussyn betref.”

........

Die gebruik van stories vir onderrig in moraliteit is oeroud. Die oudste, bekendste voorbeeld in die Westerse samelewing is Esopus, ’n voormalige slaaf uit Afrika, wie se fabels uit 2 500 vC dateer.

..........

Die gebruik van stories vir onderrig in moraliteit is oeroud. Die oudste, bekendste voorbeeld in die Westerse samelewing is Esopus, ’n voormalige slaaf uit Afrika, wie se fabels uit 2 500 vC dateer. Sy fabels is baie gewild danksy die eenvoud en maklike begrip daarvan onder kinders, die morele opvoeding wat daarmee gepaard gaan, die bydrae wat dit lewer tot kinders se kreatiwiteitsontwikkeling, en die prikkeling van kinders se leesbelangstelling. “Al word alle ouderdomsgroepe deur die vermaaklikheidsfaktor van hierdie verhale betrek, word dit op die onderbewuste van die kind gefokus en wil dit op universele, menslike wyse konflikte en krisisse blootlê en oplossing aandui,” verduidelik Steenberg. Die vertaler van Esopus se fabels in Afrikaans, Beverley Naidoo, skryf in die voorwoord “die meeste van Esopus se fabels het ’n moraal of sedelessie, en Afrika-volksverhale wys dikwels vir ons wat ’n spreekwoord beteken.  Esopus se fabels het nie soos baie van die Europese feëverhale ’n gelukkige einde nie. Hulle is baie meer soos die tradisionele Afrika-stories – die lewe is hard … en dinge kan lelik skeefloop as jy nie ligloop en jou verstand gebruik nie.”

In ’n wêreld waar vryheid van spraak met vlerke kan vlieg en stories sonder die vrees van sensuur geskryf kan word, is dit belangrik om die koring (of pêrels) van die kaf te onderskei. Literatuur verskaf die fiksionele materiaal om hierdie oordeelsvermoë te bevorder en lesers se eie vooroordele en waardes te bevraagteken, te skrap of te bevestig.

Lees ook:

Moraliteit en omstrede kwessies in jeugliteratuur: ’n beskouing oor Onderwêreld deur Fanie Viljoen

LAPA-onderhoud: Gerook deur Eldridge Jason

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top