LitNet Akademies (Opvoedkunde)-seminaar: Skoolhoofde en leierskap

  • 1

In hierdie LitNet Akademies (Opvoedkunde-artikel) het Branwen Challens, Leentjie van Jaarsveld, en Charl Wolhuter oor morele leierskap met die fokus op die skoolhoof as agent vir die vestiging van morele waardes ter bevordering van 'n skoolklimaat, ondersoek. Remona Voges het met 'n onderwyseres, Monet Nel, gesels om uit te vind wat effektiewe leierskap in Suid-Afrikaanse skole vir haar beteken. 

Monet, As jy terugdink na jou skooljare – hoe onthou jy jou skoolhoofde?

As laerskoolkind het ek gedink ons hoof was goed genoeg. Hy het telkemale op "Ou ryperd" op die verhoog gedans en dit het ons Afrikaanse, plattelandse kinders vermaak. Die skool het ook op verskeie vlakke goed gevaar en ek dink hy was grotendeels vir baie van die prestasies verantwoordelik. Hy was baie betrokke by die kinders en ouers. Later sou ek vinnig leer laerskoolhoofde (en –onderwysers) is baie spesifieke soorte mense.

My hoërkool-ervaring was anders: jy het die hoof net soggens met opening gesien, dalk meer as jy ’n moeilikheidmaker was, en langs die rugbyveld as die eerstespan rugby gespeel het. Ek onthou hom as ’n streng, konserwatiewe man wat ondebatteerbare reëls afgedwing het. As ek terugdink, wonder ek of sy lewe leeg voel sonder sy rugbyspan en die skoollied – ek is seker dit was vir lank die rede hoekom hy soggens opgestaan het.

Goeie leierskap gaan gepaard met sekere waardegedrewe beginsels soos respek, verantwoordelikheid en bedagsaamheid. Hoe belangrik dink jy is dit vir ’n skool se kultuur om ’n leier te hê wat hierdie beginsels aanhang en hoekom?

Dis van kardinale belang. Die personeel en vanselfsprekend die skool, is net so sterk soos hul skoolhoof. Personeel maak staat op die hoof vir leiding en ondersteuning; leerders se dissipline hang af van hul respek vir die hoof. Dit is daarom belangrik dat die hoof waardegedrewe beginsels uitleef en van ander betrokkenes verwag.

Dink jy dat skole wat meer tradisievas as ander is, oor die algemeen beter vaar in terme van die kweek van ’n sekere kultuur en gesindheid onder leerders?

Dit is moontlik; tradisies kan ’n eensgesindheid onder leerders kweek wat goeie verhoudinge en uiteindelik samehorigheid bring. Die soort tradisie is egter belangrik. Hoërskole sit met tieners wat maklik rebelleer, en waarteen beter om te rebelleer as ’n argaïese tradisie wat op jou afgedwing word? Tradisies moet aanpasbaar wees.

Watter rol speel effektiewe leierskap in die sukses van ’n skool?

Effektiewe leierskap bepaal die verloop van selfs ’n doodgewone, probleemvrye dag; dit is van uiterste belang. Dit hang egter nie af van ’n graad agt-leerder se leierskap nie – die leierskap moet van die skoolhoof kom, verder gevoer word deur die personeel en eers daarna kan dit sukses teweegbring. Dieselfde geld vir die afwesigheid van leierskap: die personeel verpersoonlik hierdie afwesigheid en uiteindelik raak dit die kinders en lei dit tot die afwesigheid van sukses.

Hoe belangrik is dit vir die onderwysers van ’n skool om in ’n omgewing te werk waar die hoof sekere waardes aanhang en wat sou jy sê is hierdie waardes?

Verhoudings tussen personeel en hul hoof is van uiterste belang. Personeel kort ’n leier om die toon aan te gee, maar dit geskied slegs wanneer die hoof deur die onderwysers gerespekteer word. Daarom moet ’n skoolhoof respekteerbare waardes uitleef en afdwing in die personeelkamer en op die skoolgrond. Stiptelikheid, opregte en eerlike kommunikasie en vertroubaarheid is waardes wat gerespekteer kan word in ’n skoolhoof en wat deur ’n personeel toegepas sal word indien die voorbeeld daarvan gestel word.

LitNet Akademies (Opvoedkunde)-seminaar: Skoolhoofde en leierskap

LitNet Akademies (Opvoedkunde)-seminaar: Skoolhoofde en leierskap

 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Henri Craemer

    Monet se ervaring van skoolhoofde is amper presies soos myne.
    My laerskool hoof was baie streng maar regverdig en ondersteunend.
    Teen die tyd wat in hoërskool gekom het was dit die era van rebellie (1968-72). My passiewe weerstand was teen die konserwatiewe Afrikaanse houdings van die tyd. Die hoof was maar net ń paar skakerings kort van ń Nazi. Meeste van die personnel het ingeval met sy ideas. Meeste van die tyd het ek dit reggekry in "plain sight" te verdwyn.
    Vir jare het ek so feel moontlik my Afrikanerskap verwerp en ontken. Selfs op RAU (tans UJ) het ek referate in Engels gedoen. Ek het vir die eerste keer weer in Afrikaans begin skryf in 2016.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top