LitNet Akademies (Opvoedkunde)-seminaar: Skoolhoofde en leierskap

  • 0

In hierdie LitNet Akademies (Opvoedkunde-artikel), het Branwen Challens, Leentjie van Jaarsveld, Charl Wolhuter morele leierskap met die fokus op die skoolhoof as agent vir die vestiging van morele waardes ter bevordering van skoolklimaat, ondersoek. Remona Voges het met ’n musiekonderwyser, Darius Erasmus, gesels om uit te vind wat effektiewe leierskap in Suid-Afrikaanse skole vir hom beteken. 

Darius, as jy terugdink na jou skooljare – hoe onthou jy jou skoolhoofde?

As ek terugdink aan my laerskooldae in ’n plattelandse plaasskool van vyf kinders in ’n graad, was my laerskoolloopbaan uniek ten opsigte van die absolute veilige gevoel wat daar vir ons geskep is. Ons skoolhoof was ’n klasmaat se pa. In hulle huis het ek vir die eerste keer op ’n klavier gespeel. Vandag is ek ’n musiekonderwyser. Hy het gesorg dat ek so veel moontlik blootstelling en lesse kry. Toe ek in graad sewe was, was ek al ’n gesoute begeleier. Alles aan hom te danke. Hoërskool was die hoof ’n mnr Koos Kruger. ’n Ware Durbanse legende. Hy het gereeld gereël dat die musiekleerders die simfonie gaan sien. Ek kyk vandag nog in dankbaarheid na hulle wat ’n mens laat glo het jy kán die beste wees.

Goeie leierskap gaan gepaard met sekere waardegedrewe beginsels soos respek, verantwoordelikheid en bedagsaamheid. Hoe belangrik dink jy is dit vir ’n skool se kultuur om ’n leier te hê wat hierdie beginsels aanhang en hoekom?

Ek glo ’n skool kan nie ’n sukses behaal as hierdie waardes nie ten sterkste geïmplementeer word nie. Dit is waardes wat ’n leier van ’n skool moet wys. Dit kan maklik op dowe ore val as ’n mens sien dit word nie opreg toegepas nie. Die son moet skyn by ’n skool. En dit begin bo.

Dink jy dat skole wat meer tradisievas as ander is oor die algemeen beter vaar in terme van die kweek van ’n sekere kultuur en gesindheid onder leerders?

Tradisie is iets wat by baie skole uitsterf. Ek sien dit met my eie oë. Dit is mos soos die gom wat ’n skool saambind en sterk hou. Ek meen, dan is daar mos ook ’n bietjie meer respek vir mekaar.

Watter rol speel effektiewe leierskap in die sukses van ’n skool?

Dis eenvoudig. ’n Skool kan nie bestaan sonder effektiewe leierskap en bestuur nie. ’n Kultuur van gedrewe en toegewyde onderwysers kan slegs gekweek word indien geleenthede geskep word vir die ontwikkeling en opvoeding van jong kinders en tieners. Veral in ’n buitemuurse sfeer.

Hoe belangrik is dit vir die onderwysers van ’n skool om in ’n omgewing te werk waar die hoof sekere waardes aanhang en wat sou jy sê is hierdie waardes?

As leerkragte nie sekere profesionele waardes behou nie, kan dit by ’n skool baie vinnig vrot raak. Bedagsaamheid kan ’n onderwyser ver bring in ’n dag. Netheid. As jy goed lyk, is jy sommer beter.

"Find the love" is iets wat baie by ons gesê word … Alles begin natuurlik met respek. Ons is almal professioneel. Regop loop in die gange. Doen af en toe moeite met klasse. Die genot lê in gelukkige kinders. "Only if they keep the teacher happy."

Morele leierskap: Die skoolhoof as agent vir die vestiging van morele waardes ter bevordering van skoolklimaat

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top