Linosnee: ’n persoonlike reis

  • 0

Protretfoto (regs) en linoafdrukke (middel en links) van Gaynor Downie (1972)

Die modelle van wie die linosnee-skeppings gemaak is, het toestemming gegee vir die publikasie daarvan op LitNet.

In my eerste jaar het ek onder andere Engels as vak geneem. (My kop het vir my gesê “Moenie Afrikaans neem by ’n Afrikaanse universiteit as jy jou kursus in die minimum tyd wil afhandel nie – die standaard gaan baie hoog wees en ek weet nie of ek die pyp sal rook nie.”) My ervarings gedurende die Engels-kursus was uiteenlopend van aard. Ek het baie mensekennis in dié tyd opgedoen, mooi klasmaats gehad, TS Eliot en Dylan Thomas ontdek, niks gehoor van Crosbie Garstin nie, kennis gemaak met die mooiste Amerikaanse kortverhale, en gesien Maslow se teorie is nie heeltemal waterdig nie. (Al het mens honger, sal jy jou kuns uitleef.)

Ek het my pa se ou buise olieverf van die huis af saamgebring en daarmee probeer werk. Ek kon nie iets ordentliks hiermee regkry nie en dit was nie die verf se skuld nie. Toe het ek ’n mooi foto van een van ons joolprinsesse gesien en ’n potloodskets daarvan gemaak. Potlood het vir my goed gewerk, maar die sagste wat ek kon kry was 3B, wat nie vir my intense donker skaduwees gegee het nie. Dít is wat my skets nodig gehad het, het ek besluit, en gedink die vlakdrukproses sou dit vir my kon gee.

Ek het nie die apparaat of kennis hiervoor gehad nie en het die skets na ’n drukker geneem wat groot (+-A3-) afdrukke kon maak.

Die eindproduk was vir my mooi, maar ek het my voorgeneem om eendag ’n medium te gebruik wat vir my skerp kontraste sou oplewer. Die jare het gekom en gegaan en ek het in potlood en olie gewerk:

Foto: Vliegveld

Nooit het ek weer gedink aan hoëkontraswerk nie, tot nou, 50 jaar later, toe my dogter vra of sy die enigste afdruk wat ek van die ’71-werk van die joolprinses oor het, eendag kon kry. Nou ja, ek het drie dogters, en wat jy vir die een belowe …

Dis toe die gedagte by my opkom om linosneë te maak van die vlakdrukwerk, want dan kan elke dogter ’n oorspronklik getekende kopie daarvan kry. So gesê, het ek die werk uit sy raam gehaal, gefotostateer, afgetrek, oorgedra na ’n stuk linotapyt linoleum vloertapyt en die beeld uitgesny (Figuur 4 hier onder).

Met die blok klaar en gereed, kon ek nou soveel afdrukke maak as wat ek wou!

Toe ek die eerste afdruk regkry, het ek onthou van ’n foto wat ek van Eugène Marais gehad het, dit afgetrek op linoleumvloertapyt sowat 3 mm dik en die stuk tapyt teen ʼn vloerteël geplak. Ek het die dele wat ek moes uitsny (dáárdie dele wat wit sou vertoon op die finale uitdruk), met dwars strepies gemerk en dié dele uitgesny.

Sou ek byvoorbeeld ʼn eenvoudige blom-en-stingel-afdruk maak, sou ek die stingel uitgraveer, die blare en die blomvorm. Rol ek ink oor die teël, sou die uitgegraveerde dele nie geïnk word nie en dan sou die afdruk die volgende toon: ʼn wit stingel met wit blare en ʼn blomvorm. Dit sou binne ʼn swart reghoek lê.

Ek het van die Marais-foto afdrukke gemaak en hierna besluit om ’n diptiek van my gunstelingdigters, NP Van Wyk Louw, Eugène Marais, Antjie Krog en Ingrid Jonker, te maak.

Die agtergrond van elke snit is simbolies van die inspirasie van een van elke digter se werke.

Ek het ʼn mooi foto van Antjie Krog in die hande gekry waar sy op ʼn koue dag haar baadjie teen haar toevou en haar oë effens op skrefies trek:

Ek het haar beeld afgetrek en op ʼn stuk A4 linoleum tapyt geplak. Dié dele wat uiteindelik wit moes vertoon, het ek uitgesny:

Die eindproduk lyk só:

*Materiaal gebruik met toestemming van Antjie Krog, 2023

Gaynor Rupert (née Downie)

Afskrif van oorspronklike litograaf:

Linoblok uit linoleumtapytmateriaal gesny:

Kleurinkafdrukke van oorspronklike linoleumblok):

Swartinkafdruk van oorspronklike linoleumblok (27 cm x 35 cm):

*Materiaal gebruik met toestemming van Gaynor Downie, 1972

Die agtergrond van die oorblywende drie digters aan wie se linosneë ek gewerk het, verteenwoordig die volgende uittreksels uit hul werk.

NP Van Wyk Louw: “Verstaan Raka die net?”

Eugène Marais: “O koud is die windjie en skraal”

Antjie Krog: “’n Ver-af trein”

Ingrid Jonker: “As jy weer skryf”

Linosnee as kunstegniek het sy voordele en nadele. Een voordeel is dat dit besonderse beelde en effekte kan gee. Om halftone te skep, is moeilik. Die skerp kontraste wat die medium bied, kan die eindproduk treffend maak en vereis ’n besondere soort oriëntering van die kunstenaar. Die beeldomkering in sigself vergemaklik nie aldag die kunstenaar se werk nie: Alles wat links is op die oorspronklike beeld word regs op die tapyt gesny. As die weerkaatsings van ’n iris by 3-uur en 25 oor drie val, moet dit op die tapytbeeld op 25 voor 9 en 9-uur val. Die skadu op ’n onderlip kan nie net swart wees nie; dit moet ’n bietjie wit op die regte plekke hê sodat die lippe nie te dik of te dun voorkom nie. En dergelike meer.

My reis met linosneekuns duur voort.

Lees ook:

Metafore vir bepaalde psigologiese verskynsels

Die toksiese werksplek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top