Metafore vir bepaalde psigologiese verskynsels

  • 1

Fotobron: https://pixabay.com/photos/rocks-cairn-balance-rock-balancing-15712/

Inleiding

Volgens die Collins English Dictionary is ’n metafoor “an imaginative way of describing something by referring to something else which is the same in a particular way”, oftewel ’n manier van praat oor ’n ding asof dit iets anders is.

Die gebruik van metafore is van besondere belang in die sielkundige onderhoud.

Die individuele menslike ervaring is nooit simplisties nie.

Die aard van die menslike subjektiewe ervaring word gewoonlik oorgedra as ’n verweefde entiteit van hoofsaaklik affektiewe (emosionele) en kognitiewe (Intellektuele) elemente binne ’n temporele agtergrond.

Die uitruil van inligting tussen individue is selde formeel gestruktureer of vooraf beplan. Laasgenoemde is nie natuurlik nie, aangesien menslike kommunikasie eerder die vorm aanneem van ’n stroom van bewussynsinhoude waartydens die sender daarvan ervarings of inhoude soos subjektiewe indrukke, gevoelens of persepsies beklemtoon en hierop uitbrei. Dit gee aan menslike kommunikasie sy ryk, besonderse en unieke karakter.

Die sielkundige se doelwit is dikwels om ’n holistiese beeld van die pasiënt se situasie te kry.

Sodra ’n metafoor teruggespieël word aan ’n pasiënt/kliënt en deur laasgenoemde bevestig word, word dit terapeuties betekenisvol.

Die waarde van metafore in die besonder; die psigologie

Omdat die beeld wat deel uitmaak van die metafoor ongekompliseerd is, kan dit maklik onthou en gebruik word as ’n voorstelling of verwysing wanneer ook al nodig. Hoe minder ingewikkeld ’n metafoor, hoe makliker kan dit bydra tot begrip van die kern van ’n gegewe situasie. Laasgenoemde maak dit baie makliker om

  • die presiese dinamika van die situasie akkuraat te peil
  • te help met die oplossing van ’n probleem buite die situasie waarin dit plaasgevind het (byvoorbeeld weerkaatsing van iets wat vroeër met die pasiënt gebeur het)
  • te help met soortgelyke situasies waarin die pasiënt/kliënt hom/haar later mag bevind (narsistiese misbruik, boeliegedrag, huweliksdisfunksie).

Hierdie punte kan geïllustreer word deur die werking van ’n eenvoudige elektriese stroombaan:

Wanneer ’n mens (i) die negatiewe pool van ’n battery aan ’n skakelaar (’n toestel wat ’n elektriese stroom breek of laat deurvloei) koppel, (ii) die positiewe pool van dieselfde battery aan ’n gloeilamp koppel, en (iii) die tweede punt van die gloeilamp aan die tweede punt van die skakelaar koppel, skep jy ’n eenvoudige elektriese stroombaan. Skakel jy die skakelaar aan, brand die gloeilamp. Skakel jy dit af, breek jy die vloei van energie wat uit die battery na die gloeilamp beweeg en doof dit uit.

Prent: verskaf

(Die duimspyker en papierknippie verteenwoordig eintlik ’n skakelaar en dit verbind die battery en die gloeilampie, wat sal brand.)

’n Begrip van die werking van so ’n stelsel help veral met foutspeuring. Die werking van ’n eenvoudige baan soos hierdie kan help om ’n mens ’n goeie insig te gee in die grondliggende funksionering van ’n elektriese stroom. Dit stel jou in staat om die werking daarvan beter te verstaan​, te ontleed, en die toestel te herstel of te gebruik.

So byvoorbeeld, wanneer ’n individu deel uitmaak van ’n groter sisteem (bv die werksituasie) en hy of sy by geleentheid voel dat hy of sy nie meer so gemotiveerd is as voorheen nie, kan dit toegeskryf word aan verskeie faktore, byvoorbeeld: Die individu se salaris is ontoereikend. (Allegorie: Die battery gee te min krag of die drade binne die isolering is verbrokkel.)

 Indien jy meer dikwels van die werk verlof neem, kan dit wees vanweë uitbranding. (Allegorie: Die kragtoevoer was in ’n stadium té hoog en het die lampie laat uitbrand.) Of jou salaris word nie gereeld of betyds inbetaal nie, of daar is moeilikheid met die inbetaling daarvan. (Allegorie: Die skakelaar is ondoeltreffend of stukkend.)

  • Metafore bied dus ’n sekere mate van beheer aan die individu. Op sy beurt kan beheer lei tot ’n vermindering van angs en hierbenewens selfvertroue verbeter of versterk.
  • Metafore kan ook gebruik word as ’n metode van realiteitstoetsing. Sou die individu skielik oorweldig of verswelg word deur ’n stortvloed probleme, kan hy/sy kennis neem van die belangrikheid daarvan om ’n hoofdoel in die lewe te hê.

(Allegorie: ’n Individu wat in ’n vreemde stad reis, identifiseer ’n radio-uitsaaitoring as ’n verwysingsbaken. Alhoewel hy/sy soms die verkeerde afdraaipad neem of deur die verkeer gedwing word om in die teenoorgestelde rigting van die beplande bestemming te beweeg, kan hy/sy die toring voortdurend in die oog hou (ook met behulp van die truspieël) en suksesvol sy/haar bestemming bereik.

Die toring help dus om die regte rigting te handhaaf. Daarom, al kry die reisiger teëspoed onderweg na sy/haar bestemming, bereik hy/sy haar doel veilig vanweë ’n standvastige en duidelike rigtingbaken.

  • Metafore kan dien as ’n universeel verstaanbare stawing van ’n individu se ellende of lyding.
  • Omdat metafore deur die meeste mense verstaan ​​en waardeer kan word, verhoog dit hul waarde as ’n terapeutiese hulpmiddel.
  • Metafore kan van waarde wees wanneer die pasiënt/kliënt se dilemma aan ’n geliefde/betrokkene oorgedra moet word.
  • Metafore kan die ontwikkeling van verskillende beskouinge oor ’n besondere inhoud in die hand werk. Dit is merendeels vanweë die holistiese beeld wat metafore bewerkstellig. (Allegorie: Die mens wat verstrengel of vasgevang is in die hindernisse van ’n situasie, sien soms moeilik die geleenthede om dit te oorkom.)

Hierdie proses kan vergelyk word met die waarde van ’n weersatelliet soos dit deur seevaarders gebruik word: Ten spyte daarvan dat sterk winde en reënstorms ’n seilskip heen en weer slinger, kan ’n weersatelliet ver bo die aarde help om windrigtings en storms per radiosein te gee. Dit kan die seevaarder help om te sien waar storms in sy omgewing ontstaan en woed en hoe om sy jag se seile te span om hieruit te beweeg.

Taferele

Die rol van die sielkundige in die pasiënt/kliënt-verhouding

Verskillende vorme van menslike problematiek vereis dikwels verskillende psigoterapeutiese benaderings. Daar bestaan baie verskillende psigologies-terapeutiese tegnieke. Die wye verskeidenheid tegnieke maak dit moeilik om ’n eenvoudige fundamentele beskrywing van psigologiese terapie aan die nieprofessionele persoon te bied.

Hoe teenstrydig dit ook al mag klink, kan psigoterapie nie beskryf word as ’n presiese/eksakte wetenskap nie, maar eerder as ’n abstrakte kunsvorm wat gegrond is op wetenskaplike beginsels, logika en empatie.

Dit is belangrik om te weet dat die meeste psigoterapeutiese verhoudings dieselfde fundamentele gemeenskaplikhede gemeen het, naamlik:

  • Die sielkundige kan nie altyd teenwoordig wees om ’n pasiënt/kliënt in elke moontlike situasie te help nie.
  • Die pasiënt moet gelei word om alle middele tot sy/haar beskikking optimaal te gebruik om by lewenseise aan te pas.
  • Die pasiënt moet dus so ver as moontlik onafhanklik funksioneer.

Om bostaande te illustreer, word die volgende metafoor aangebied: Die sielkundige kan gesien word as ’n seevaartingenieur en die pasiënt ’n seiljagvaarder. Wanneer die seiljagvaarder probleme op see ondervind, kan hy na die hawe terugkeer en die ingenieur raadpleeg. Met sy aankoms kan die ingenieur óf die vaarder se hele boot nagaan óf nét daardie deel waarmee die vaarder probleme ondervind. Dit kan byvoorbeeld die roermeganisme, die ankermeganisme, kompas, ’n kabel, of enige ander deel wees wat probleme gee. Die ingenieur is in staat om die probleem te ontleed in terme van oorsaak en gevolg en dit aan die vaarder verduidelik. Die ingenieur hou altyd in gedagte dat die vaarder in ’n stadium alleen op see kan wees wanneer probleme ontstaan. Hy hou ook in gedagte dat die vaarder slegs sekere gereedskap byderhand kan hou (dáárdie waarmee bote normaalweg toegerus is) en sal die vaarder leer hoe om dit met die beste moontlike resultate te gebruik. Die vaarder is dan toegerus met meer kennis en vertroue en kan sy/haar volgende reis begin.

ʼn Metafoor vir die funksionele dinamika van abreaksie (katarsis)

Die begrip katarsis (vrystelling) behels ’n kragtige emosionele komponent waarin sterk emosies ervaar en uitgedruk word, sowel as ’n kognitiewe komponent waarin die individu nuwe insigte kry. Die doel van katarsis is volgens dr Kendra Cherry “om ’n vorm van positiewe verandering in die individu se lewe teweeg te bring”. Sy meen katarsis “behels beide ’n kragtige emosionele komponent waarin sterk emosies gevoel en uitgedruk word, en ’n kognitiewe komponent waarin die individu nuwe insigte kry. Die doel van katarsis is om ’n vorm van positiewe verandering in die individu se lewe teweeg te bring” (https://www.verywellmind.com/what-is-catharsis-2794968).

As gevolg van die fundamentele dinamika van “abreaksie” kan aanvaar word dat dit oor "ontladingseienskappe” beskik. As gevolg van die intense aard van die proses gaan dit baie keer gepaard met onmiddellike sielkundige ongemak van ʼn redelik intense aard.

Die psigodinamika van ’n abreaksie kan vergelyk word met ’n "fisieke wond wat versorg en gedreineer word. Dreinering van ’n wond is nodig om ontslae te raak van kwaadaardige stowwe wat die genesing en die toegroei daarvan inhibeer, asook om pyn te verminder. Hierdie proses is dikwels ’n ongemaklike een, maar lei uiteindelik daartoe dat daardie besondere deel van die liggaam genees en weer gebruik kan word wanneer ook al dit nodig is – vrylik, konstruktief en sonder negatiewe afwagting of vrees."

’n Metafoor vir die instandhouding van ’n verhouding

Die sukses van ’n persoonlike verhouding hang grootliks af van die vermoë om elke probleem wat tussen die lede van ’n paartjie mag ontstaan, aan te spreek en deur te werk.

Indien sulke probleme geïgnoreer word, kan dit op die lange duur nadelige gevolge vir die verhouding inhou.

Konflikte wat nie dadelik aangespreek word nie, kan met verloop van tyd na die onbewuste beweeg waar dit geleidelik ophoop en tot gevoelens van vyandigheid by beide lede kan lei.

In tye van konflik kan spanning en emosies lei tot ’n blokkasie van die vermoë om materiaal uit die onbewuste op te roep. Die gevolg is dat kwessies wat nooit aangespreek is in die verlede nie, in die onbewuste bly en spanning hier laat opbou.

Belangrike oorsaaklike probleme bly op dié manier versluier en onduidelik en kan dikwels nie sonder die hulp van ’n professionele sielkundige geïdentifiseer, aangespreek of herstel word nie. Onderliggende probleme kan skielik en onverwags na die bewuste dring en as ’n uitbarsting manifesteer.

Dit gebeur maklik wanneer mense wat besige lewens lei, min tyd het om elke krisis aan te spreek en op te los, veral die kleineres. Die uiteindelike effek van sulke verwaarlosing kan skadelik wees en tot die verbrokkeling van ’n verhouding lei.

Hierdie verskynsel kan as volg geïllustreer word: ’n Lang staalbrug of -struktuur kan mettertyd soms roes op plekke ontwikkel. Dit mag plekke wees wat nie noodwendig baie gewig of baie beweging steun nie, maar wel tot ’n ineenstorting van die hele struktuur kan lei as dit geroes is.

Sodra ’n geroeste deel geïdentifiseer is, moet onmiddellik hieraan aandag gegee word. So ’n plek behoort dadelik deeglik skoongemaak (of selfs weggeslyp en vervang), of gelas en beskerm te word deur die toediening van ’n teenroesmiddel.

Hierdie soort deurlopende instandhouding verseker sterkte en weerstand teen vernietigende interne én eksterne kragte. Indien nodig kan die struktuur van die konstruksie gereeld en noukeurig ondersoek word vir moontlike verswakkings of skade.

ʼn Metafoor vir die herstellende effek van slaap op die geheue

.........
Slaap moet beskou word as ’n herstellende proses waartydens optimale sielkundige funksionering teweeggebring word.
..........

Slaap moet beskou word as ’n herstellende proses waartydens optimale sielkundige funksionering teweeggebring word. Slaap word algemeen beskou as ’n tyd waarin probleemoplossing plaasvind en beduidende Gestalten voltooi word. Die feit dat dit ’n invloed op konsentrasie het, impliseer dat dit kan help met die logiese rangskikking en berging van kognitiewe en affektiewe materiaal wat gedurende die wakende ure gebruik word, asook om nuwe materiaal te klassifiseer, te assimileer en te stoor. Die onderbewussyn moet dus nuwe sowel as bestaande materiaal verwerk en dit stoor vir vinnige herwinning en vir die volgende geleentheid se gebruik. Met ander woorde, slaap stel die individu in staat om sy/haar sielkundige potensiaal te optimaliseer.

Die stoorfunksie van slaap kan vergelyk word met die aktiwiteite van ’n besige kantoor gedurende die dag wanneer baie lêers uit die argiewe getrek word. Die inhoud van elke lêer word verwerk en nuwe materiaal kan bygevoeg word. Die inhoud van sommige kan afgehandel word en die inhoud van ander word weggegooi.

Om die volgende dag getrek en gebruik te word, moet die lêers op ’n logiese manier in die argiewe teruggeplaas word. As daar nie tyd is om die lêers wat elke dag gebruik word, te sorteer en te stoor nie, sal dit in die kantoor bly en oral rondlê, en dit sal meer moeite en energie verg om die volgende dag se sake te doen.

Nodeloos om te sê, so ʼn situasie sal waarskynlik druk, spanning en selfs konflik binne die stelsel tot gevolg hê. Sou daar nóg ’n dag verbygaan sonder dat die lêers afgehandel, gesorteer en gestoor is, kan probleme net eskaleer, en waarskynlik sal emosionaliteit toeneem en uiteindelik lei tot paniek. Indien die situasie voortduur, mag selfs nog meer energie nodig wees om die lêers onmiddellik te vind. Die gepaardgaande stres en konflik kan die stelsel se hulpbronne verder dreineer totdat dit nie meer kan funksioneer nie en die stelsel inmekaar stort.

’n Metafoor vir die dinamika van sommige aspekte van verbale interaksie

Menslike verhoudings word grootliks beïnvloed deur beide verbale en nieverbale interaksie. Kommunikasie is verreweg die belangrikste dimensie van die mens se bestaan. Gedurende jou lewe het jy veel meer verbale as fisiese kontak met ander. Op die oog af beleef mens fisiese interaksie as die mees prominente. Fisiese eienskappe en verbale vermoëns is dáárdie media wat jou in staat stel om as ʼn persoon tussen ander te bestaan. Dit is die fisiese dimensie van die mens. Verbale interaksie is onsigbaar, maar kan ’n blywende invloed hê op menslike gedrag, motiverings, intellektuele funksionering en die welsyn van mense met wie jy in aanraking kom. Dit kan dus aanvaar word dat verbale aktiwiteit ʼn vername en omvangryke dimensie van die menslike bestaan uitmaak.

Beide fisiese en verbale vermoëns is besondere talente wat aan die mens gegee is – die vermoë om begrip te hê vir die gevolge van sy/haar dade en woorde en die vryheid van keuse om oor die gebruik hiervan te besluit. In die reël is gereedskap gewoonlik baie doeltreffend. Dieselfde gereedskap kan vir verskillende doeleindes gebruik word. Dit kan gebruik word om iets te skep of te herstel, of dit kan ook gebruik word om iets te breek. ’n Mes kan byvoorbeeld gebruik word om voedsel voor te berei of te deel. Dit kan ook gebruik word om ’n roof te pleeg of om ’n lewe te beëindig. Die keuse behoort aan die persoon wat dit besit.

Die “gereedskap” (woorde) wat jy gebruik, kan veroorsaak dat mense óf weg van jou af beweeg, óf na jou toe. Verbale aggressie soos dit manifesteer in byvoorbeeld sarkasme, vyandigheid of venynige opmerkings, weerspieël dikwels ’n spesifieke houding, onderliggende woede of gemoedstemming en kan ʼn afstand tussen jou en ander tot gevolg hê.

Al is iemand byvoorbeeld lief vir ʼn kat, maar deur die kat gekrap word elke keer wanneer die persoon dit probeer streel, sal die individu se motivering om die aktiwiteit te herhaal, afneem, ten spyte daarvan dat die persoon baie lief is vir die dier.

Die aanvanklike reaksie van die meeste mense is dat sulke interaksie noodwendig vir hulle “sleg” is, en hul instinktiewe reaksie is om die verhouding te verlaat of dit te beëindig. Dit kan lei tot selfs ’n groter verlies as wins vir die betrokkenes. Alhoewel verbale konflik of wrywing ’n negatiewe invloed op persoonlike verhoudings kan hê, kan die toepassing van positiewe aanvaarding positiewe gedrag tot gevolg te hê, en kan dit geleentheid bied vir persoonlike groei en psigiese nabyheid.

’n Metafoor vir tuiskoms na ’n besige dag

..........
Die invloed van ’n mens se werk en eksterne stressors op die funksionering van ’n huishouding word dikwels onderskat.
Selfs onder normale omstandighede verg die handhawing van psigiese harmonie in ’n huishouding baie meer inspanning, dissipline en geduld as wat dit op die oog af mag lyk.
............

Die invloed van ’n mens se werk en eksterne stressors op die funksionering van ’n huishouding word dikwels onderskat.

Selfs onder normale omstandighede verg die handhawing van psigiese harmonie in ’n huishouding baie meer inspanning, dissipline en geduld as wat dit op die oog af mag lyk.

Afgesien van interne stressors in ’n huishouding, kan eksterne stressors ernstige ontwrigtende invloede op die vrede binne ’n gesinsopset hê. Gesinslede wat werk of skool bywoon, word daagliks gekonfronteer met frustrasies, druk, wrywing, stres, probleme en soms konflik in hul eie individuele interaksie met ander. Baie hiervan kan nie aangespreek of opgelos word sodra dit voorkom nie, wat lei tot voortgesette pogings om dit gedurende die dag en soms selfs aan die einde van die dag te verwerk. Sulke psigiese aktiwiteit kan ’n negatiewe invloed op jou gemoedstoestand hê, wat weer ’n negatiewe invloed op jou nabye gesinslede meebring.

Indien mens die negatiewe invloede van die werksomgewing volkome en altyd van dié van die huis sou kon skei, sou dit ’n aansienlike vermindering van spanning tot gevolg hê. Hierdie soort skeiding is egter nie altyd prakties moontlik nie. Al is mens met tuiskoms nog besig om werksprobleme te prosesseer, moet jy dikwels help met dié van die huishouding.

Dit beteken dat die tydperk ná tuiskoms ’n hoër strespotensiaal het vir die werkende of studerende gesinslid.

Sodra jy by die huis aankom, en skielik gekonfronteer word met probleme, beteken dit dat jy nog nie ’n kans gehad het om die dag se stres en probleme te verwerk, dit opsy te skuif of af te handel nie. Eers nadat jy hieraan (die “aflaai, uitpak en bêre” van jou werkbagasie) aandag gee, kan jy jou sielkundige ewewig vind en meer ontvanklik wees vir die hantering van daardie probleemoplossing/ondersteuning wat jou aandag vereis.

Hierdie situasie kan vergelyk word met dié van die vlieëniers van ’n passasiersvliegtuig wat pas hul vliegtuig geland het. Die feit dat die vliegtuig aan die einde van die aanloopbaan gestop het, beteken nie dat die vlug voltooi is nie. Die vliegtuig moet na die aangewese gebied geloods word. Dit in sigself is moeilik, aangesien daar baie aktiwiteite op die ruimte van die parkeerarea is.

Nadat die vliegtuig geparkeer is, moet allerlei nasienpligte uitgevoer word, passasiers moet afklim en bagasie moet afgelaai word. Die vlieëniers het dus nog prosedures om te volg en kontrolelyste om in te vul. Hulle moet byvoorbeeld die vliegtuig inspekteer om seker te maak dat dit geen skade gekry het tydens die vlug nie en of die vliegtuig gediens moet word en wanneer. Met ander woorde, wanneer die vliegtuig tot stilstand gekom het, is daar nog verskeie pligte wat die loodse moet nakom. Hulle kan nie summier hul baadjies aantrek en die vliegtuig verlaat nie.

So ook met die gesinshoofde en -lede wat pas tuisgekom het. Dit is raadsaam dat hulle gereeld die geleentheid kry vir “psigies take” wat afgehandel moet word voordat hulle by die gesinsinteraksie aansluit. 

’n Metafoor vir die gevolge van angs wat tot paniek lei

Die mediese nuusbrief van die webwerf MedicalNews Today beskryf “anticipatory anxiety” (afwagtingsangs) as volg: “Terwyl die meeste mense geneig is om in ’n mate te wonder of te stres oor gebeure of situasies in die toekoms, kan intense vlakke van afwagtingsangs ’n negatiewe invloed hê op ’n mens se alledaagse lewe en funksionering” https://www.medicalnewstoday.com/articles/anticipatory-anxiety

Antisiperende angs of afwagtingsangs is ’n term wat in die psigologie gebruik word om angs te beskryf wat gekoppel is aan obsessiewe gedagtes betreffende kommer oor dinge wat in die toekoms kan verkeerd loop en waaroor mens nie beheer kan behou nie. Dit kan baie ontstellend wees.

Antisiperende angs is nie ’n siekte nie, maar kan erge persoonlike ongemak tot gevolg hê. Dit sluit rampspoedige (katastrofiese) gedagtes in. In sy artikel getiteld “Catastrophic thinking” definieer dr Ron Breazeale katastrofiese denke as volg: “herhalende gedagtes wat voortdurend wentel rondom irrasionele en afgryslike gevolge” (https://www.psychologytoday.com/us/blog/in-the-face-adversity/201103/catastrophic-thinking).

Angs kan toeneem en soms opbruis tot paniek wat ’n mens emosioneel en kognitief kan inperk. Die individu is dan nie in staat om die vermoëns te gebruik wat hy/sy onder normale omstandighede sou kon toepas nie, wat tot nog meer wanhoop en uiterse ongemak lei. Die psigiese energie van obsessiwiteit vermeerder drasties en raak vernietigend.

Breazeale gaan as volg voort: “Nodeloos om te sê, dit kan angs laat toeneem en verhoed dat mense die regte stappe doen wanneer dit vereis word. Dit kan veral van toepassing wees in ’n krisissituasie” (https://www.psychologytoday.com/us/blog/in-the-face-adversity/201103/catastrophic-thinking).

Ordening van ’n mens se lewensituasie kan sekere voordele hê. Orde kan beskou word as ’n lamp wat lig verskaf vir die duisternis van die subiete toekoms. Orde kan dus help om angs te verminder. Dit bied ’n dimensie van eksistensiële voorspelbaarheid. Omdat dit oënskynlike voorspelbaarheid verskaf, kan dit help om angs te verminder.

Katastrofiese angs kan geïllustreer word deur ’n mens se psige te vergelyk met ’n groot reservoir wat water (psigiese energie) aan ’n tuin (jou lewensdoelwitte) voorsien: As jy aan die voet van die reservoir beddings voorberei en saailinge daarin geplant het, kan jy die plante en sade (jou lewensdoelwitte) op ’n beheerste en sistematiese wyse voed. Kry die plante (jou doelstellings) die regte hoeveelheid water, sal jy later die vrugte hiervan kon pluk. Indien jy egter toelaat dat ʼn gebeurtenis die water onbeheerst uit die reservoir laat vloei, kan dit jou beddings uitstroom en die saailinge wegspoel. Jy moet dus met al jou krag beheer oor die kraan/sluis uitoefen.

’n Metafoor vir dit wat die beste in ons na vore bring

Waar mense ook al in interaksie betrokke is, is daar dikwels wrywing en konflik. Die oorsake hiervan is veelvuldig en kan aan verskillende faktore toegeskryf word.

Mense is van mekaar afhanklik, maar ten spyte hiervan is herhaaldelike konflik besonder algemeen.

.........
Waar mense ook al in interaksie betrokke is, is daar dikwels wrywing en konflik. Die oorsake hiervan is veelvuldig en kan aan verskillende faktore toegeskryf word.
Mense is van mekaar afhanklik, maar ten spyte hiervan is herhaaldelike konflik besonder algemeen.
..........

Kontak tussen individue is merendeels verbaal. Hierdie funksionele sfeer is moontlik die mees opvallende asook die mees sensitiewe een van die menslike bestaan.

Wanneer verbale konfrontasie lei tot insig tussen mense en dit konstruktief eerder as skadelik is, kan dit van waarde wees. In die afwesigheid van liefde en aanvaarding kan verbale konflik en wrywing katastrofies vernietigend wees.

Die rol wat liefde en aanvaarding in menslike interaksie speel, kan deur die volgende metafoor geïllustreer word.

Ongeslypte edelgesteentes en halfedelstene se uiterlike voorkoms kan dikwels baie misleidend wees. Die ongeoefende versamelaar sou maklik gesteentes soos agate weggooi vanweë hul kleurlose voorkoms. Agate het gewoonlik ’n saai, aardse bruin of grys kleur. Hulle het soms kristalle in die middel en kan aan die een kant skurf lyk. Hierdie uiterlike voorkoms gee gewoonlik geen aanduiding van die unieke kleure en patrone van die klip nie.

Sodra dit egter geslyp en gepoets is, kan ’n agaat besondere konsentriese lyne van verskillende skakerings rondom saamgeperste, deursigtige en halfdeursigtige kristalle vorm. Wanneer dit gepoets is, skep dié kristalle die beeld van blommetjies wat teen ’n helder deurskynende glasblad gehou word.

Die prag van gekleurde stene soos ametis en rooskwarts en opaal kan deur voortgesette slyping en verglansing na vore gebring word.

Verglansing kan op verskillende maniere gedoen word, en ’n gewilde tegniek waarmee stene gepoleer word, word tuimel genoem. Dit behels dat klippe in ’n langwerpige ronde houer saam met ’n poleermiddel en water daarin verseël word. Die houer word op twee rollers geplaas wat stadig draai, sodat die klippe voortdurend teen mekaar skuur. Gedurende hierdie proses (wat in ongeveer drie sogenaamde lopies gedoen word), word ruwe kante en lae van elke steen verwyder. Gedurende die tweede en derde lopie word die klippe wéér saam met water en ’n fyner skuurmiddel in die houers gegooi. Na etlike dae vertoon die stene ’n diepe glans. Die voortdurende beweging en kontak met mekaar bring hul werklike kleurrykheid en diepe skakerings na vore.

Water is (soos liefde en aanvaarding in persoonlike verhoudings) absoluut noodsaaklik vir die doeltreffende werking van hierdie proses. As daar geen water in die houer is nie, kan die ware voorkoms van die klippe nooit openbaar word nie. Sonder water sou verwag kon word dat die vorm van die klippe wel verander, maar dat hulle onaantreklik sou bly en mekaar uiteindelik net verpoeier. Hulle ware skoonheid sou nooit blootgestel word in teenstelling met dié wat in ʼn watermengsel getuimel is nie. Water het tot gevolg dat hulle skitter as voorwerpe van skoonheid, versiering en prag.

’n Metafoor vir die werking van antidepressiewe medikasie

Die psigiatriese wetenskap het baie ontwikkel, veral met betrekking tot die ontwikkeling van psigotrope middels. Selfs tot redelik onlangs nog het sekere toestande onbehandeld by baie mense gebly. Die belangrikste hiervan is sekerlik depressie. Die gebruik van medikasie vir depressie is baie belangrik en werk uiters doeltreffend, wat mense se lewenskwaliteit ingrypend verbeter.

Die gebruik hiervan onder toesig is egter baie belangrik. Kennis oor die werking van die middels is ewe belangrik. So byvoorbeeld kan mens nie verwag dat jy net na die eerste dosis antidepressiewe medikasie al sal beter voel nie. Die middel moet eers die regte vlak in die bloedstroom bereik, wat soms tot ’n maand of langer kan neem. Wanneer die middel effektief werk, voel mense dikwels dat hulle nie meer nodig het om hul medikasie te neem nie en staak hulle gebruik daarvan. Die gevolg is dat hulle na skielike staking soms slegter voel.

’n Metafoor wat die werking van medikasie kan illustreer is dié van ’n motorbattery. Die binnekant van ’n battery bevat metaal plate, soutsuur en water. Die plate binne die battery raak glad nie aan mekaar nie, baie soos die sinapse (“geleidingsdrade”) binne-in die mens se brein. Die balans van suur en water in die battery moet altyd korrek wees vir die battery om reg te laai en te funksioneer. So is dit ook met die oordragstowwe in die brein. ʼn Optimale balans tussen die breinvloeistof se samestelling en dié van die antidepressant moet geskep word vir die middel om doeltreffend te funksioneer en verligting te onderhou.

Metafore vir sommige uitmergelende eienskappe van ernstige depressie

Ernstige depressiewe versteuring gaan oor meer as net om hartseer te voel. Om met MDV (major depressiewe versteuring) gediagnoseer te word, moet jy ’n depressiewe gemoedstoestand ervaar en belangstelling verloor in dinge wat vir minstens twee weke vir jou aangenaam was / plesier verskaf het. Hierbenewens moet onder meer vier van die volgende simptome byna elke dag gedurende dieselfde tydperk van twee weke teenwoordig wees:

  • te min of te veel eet
  • gevoelens van óf afmatting óf merkbare rusteloosheid
  • gevoelens van waardeloosheid of ontoepaslike skuld
  • afname in energie
  • herhalende gedagtes van dood of selfmoord
  • te veel of te min slaap
  • besluiteloosheid
  • probleme met redenering of konsentrasie.

Besluiteloosheid kan ʼn uiters ontwrigtende ervaring gedurende ʼn depressiewe episode wees. Volgens Natasha Tracy van die webwerf HealthyPlace “is dit vir baie mense nie moeilik om besluite te neem nie, en neem die meeste mense besluite sonder om selfs daaraan te dink, maar ’n persoon met depressie kan sukkel om selfs die kleinste besluite te neem. Besluite is soms vir mense met depressie só moeilik dat hulle dikwels op ’n punt kom waar hulle glad nie in staat is om ’n besluit te neem nie. Dit kan ’n persoon buite werking stel en mense vasvang in ’n toestand waar hulle nie eens uit die bed kom nie, uit vrees daarvoor om die verkeerde keuses te maak” (“Depression and indecision: trouble making decisions”,   https://www.healthyplace.com/depression/symptoms/depression-and-indecision-trouble-making-decisions).

Vir die depressielyer om ʼn begrip te vorm van die invloed van besluiteloosheid in sy/haar lewe kan die volgende metafoor deur die sielkundige praktisyn oorweeg word:

Obsessiewe twyfel kan vergelyk word met ’n motor met ’n foutiewe koppelaar. Ten spyte daarvan dat die enjin, die raamwerk, elektriese stelsel en bande (die res van die motor) in ’n uitstekende toestand is, kan die motor nie op sy eie beweeg nie, aangesien die koppelaar nie die enjin en dryfas aaneenskakel nie. Dit lei tot onbeweeglikheid. Die punt van die reis waar dit gebeur, bepaal grootliks die bestuurder se vlak van stres. Daar moet in gedagte gehou word dat dit net één deel van die motor is wat nie werk nie – iets wat normaalweg reggestel kan word deur ’n moontlik eenvoudige proses deur spesialiste met die regte kennis en gereedskap.

’n Metafoor vir slaapprobleme

Slaapprobleme is een van die vier kernsimptome van depressie. ’n Gesonde slaappatroon is om verskeie redes belangrik. In haar artikel getiteld “Depression and sleep disorder” skryf dr Debra Fulghum Bruce die volgende: “Normale slaap is ’n herstellende proses. Wanneer slaap egter ontwrig word of onvoldoende is, kan dit lei tot verhoogde spanning, waaksaamheid en prikkelbaarheid. Fisieke of emosionele trauma en metaboliese of ander mediese probleme kan slaapstoornisse veroorsaak. Swak slaap kan tot moegheid lei. Moegheid lei tot ’n afname in ’n mens se fiksheidsvlak. Uiteindelik kan jy jou bevind in ’n bose kringloop van onaktiwiteit en versteurde slaap, wat beide fisieke en gemoedsverwante simptome tot gevolg het ...” (https://www.webmd.com/depression/guide/depression-sleep-disorder).

Die dinamika van slegte slaap en die negatiewe effek hiervan kan vergelyk word met ’n reisiger wat snags langs die pad stop om te rus en nie die motorradio afskakel nie. Later, wanneer hy wakker word en sy reis wil voortsit, probeer hy die motor aansit, maar vind dan dat die battery pap is en nie die enjin nie kan aansit nie.

Herhalende gedagtes

Dit is belangrik om die begrip obsessief-kompulsiwiteit in oënskou te neem wanneer herhalende gedagtes ter sprake is.

Soos die term aandui, word twee begrippe geïmpliseer. Obsessies verwys na gedagtes en kompulsies verwys na gedrag. ʼn Obsessie is ’n gedagte of idee wat gereeld in die bewussyn herhaal word, gevolg deur ’n drang of ’n behoefte om sekere handelinge uit te voer.

Obsessief-kompulsiewe gedrag word dikwels verwar met perfeksionisme, hoofsaaklik vanweë die feit dat die perfeksionis ʼn sterk sin vir orde het en dikwels en herhaaldelik seker maak of iets reg gedoen is.

Volgens Etienne Benson van die APA Monitor is dit belangrik om te weet dat obsessiwiteit met depressie kan verband hou: “Obsessionele gedagtes kom meer algemeen voor by mense wat perfeksionistiese persoonlikheidseienskappe het, en by sommige kan dit sterker wees as by ander: In sommige soorte perfeksionisme is die skakel duidelik. Sosiaal voorgeskrewe perfeksionisme – die oortuiging dat ander jou net waardeer indien jy perfek is - word gekoppel aan depressie en ander probleme, insluitend selfmoord”

(https://www.apa.org/monitor/nov03/manyfaces, APA Monitor Staff, November 2003, 34(10)).

Dr Owen Kelly beskryf in sy artikel getiteld “The link between OCD and Major Depressive Disorder die skakel tussen OKA (Obsessief-kompulsiewe-afwyking) en Major depressiewe afwyking (MDA) as volg: “Trouens, navorsing dui daarop dat soveel as twee derdes van mense wat met OKA leef, iewers gedurende die loop van hul siekte ’n ernstige depressiewe episode sal ervaar. Die oorsake kan wissel, van reaktiewe stres tot obsessiewe of kompulsiewe gedrag tot biochemiese veranderinge in die brein wat gemoedstemming en gedrag kan verander” (https://www.verywellmind.com/ocd-and-depression-2510591unnoticed).

Dr Kelly meen verder: Wetenskaplikes glo ook dat daar biochemiese faktore kan wees wat tot depressie bydra. Ons weet byvoorbeeld dat OKV en MDA albei gekenmerk word aan veranderinge in die produksie en aktiwiteit van serotonien, ’n chemiese stof wat help om elektriese pulse tussen senuweeselle te verwissel (https://www.verywellmind.com/ocd-and-depression-2510591unnoticed).

Lees ook:

COVID-19 pluk stigma-angel uit geestesongesteldheid

 

  • 1

Kommentaar

  • Ek gebruik al ongeveer 10 jaar antidepresante.
    Ek funksioneer heel goed in my daaglikse lewe. Ek het egter angswekkende drome waar ek 'n taak nie kan voltooi nie, gewoonlik is daar nie die nodige materiaal of mense nie, meestal kinders nie wil saamwerk nie. Ek was 'n voorskoolse onderwyseres en is beskou as 'n goeie onderwyseres.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top