
Fotobron: https://pixabay.com/photos/cactus-plant-pot-cacti-plant-sting-2117109/
Mental illness is nothing to be ashamed of, but stigma and bias shame us all. – Bill Clinton
Pandemie en geestesongesteldheid
COVID-19 het ongetwyfeld aansienlike ontwrigting wêreldwyd veroorsaak. Dog die pandemie het ook positiewe elemente teweeg gebring, waarvan die nuwe verligte en simpatieke benadering ten opsigte van geestesongesteldheid, psigoterapie en berading ’n kragdadige voorbeeld is.
Nuwe baadjie en stigma
Volgens kundiges het Covid ’n groot deel van die stigma-angel uit geestesongesteldheid gepluk – ’n nalatenskap wat meebring dat dié onderwerp ’n nuwe baadjie kan aantrek. Die algemene gevoel is dat mense deurgaans nou gemakliker is om vir hulp en terapie by beraders en terapeute aan te klop.
Deon van Zyl aan die woord
Deon van Zyl, kliniese sielkundige en voormalige medeprofessor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria, sê met die pandemie is daar beslis groter fokus op geestesgesondheid soos angs, depressie en slaapversteurings – ongesteldhede wat voorheen dikwels in stilte verduur moes word.
.........
“Mense is nou gemakliker om by terapeute aan te klop vir professionele bystand. Die impak van Covid op mense se gesondheid in die breë het beslis ook ’n stap vorentoe beweeg. Dié skep ’n bewustheid van jou eie fisiese stand wat veral geestesgesondheid nou meer onder die kollig plaas waar dit hoort,” sê hy.
..........
“Mense is nou gemakliker om by terapeute aan te klop vir professionele bystand. Die impak van Covid op mense se gesondheid in die breë het beslis ook ’n stap vorentoe beweeg. Dié skep ’n bewustheid van jou eie fisiese stand wat veral geestesgesondheid nou meer onder die kollig plaas waar dit hoort,” sê hy.
Japanners en kiki
Volgens van Zyl gebruik die Japanners die word kiki vir krisis, wat ’n tweeledige betekenis het: “gevaar” en “geleentheid”. Hy self omarm die geleentheid-aspek en sê selfs die donkerste belewenisse het ’n silwer randjie.
Ilse Pauw vertel van nuwe benadering
Ilse Pauw, kliniese sielkundige in privaatpraktyk in Tuine, Kaapstad, sê haar indruk is dat daar nou meer openlik oor geestesongesteldheid gepraat word.
“Almal is deur die pandemie geraak, moes aanpassings maak en het ook abnormale, gemeenskaplike bedreigings in die gesig gestaar. Mense was nie hierop voorbereid nie en moes ook meer van sosiale media gebruik maak waar die gehoor meer openlik gedeel het,” sê Pauw.
“Of dit voorafgaande geestesongesteldhede was, of akute probleme weens inperking, dit het geblyk dat mense minder veroordeling en kritiek ervaar, want só baie mense het gesukkel.”
Fasiliteite gesluit tydens aanvanklike inperking
Pauw sê etlike psigiatriese fasiliteite en privaatpraktyke was gesluit tydens inperking en mense was dus genoop om by mekaar hulp te soek, eerder as in die privaatheid van ’n praktyk of kliniek.
“In my ervaring het die groot toestroming na geestesgesondheidswerkers ’n paar maande ná die aanvang van die pandemie begin. Mense was in die begin meer verstar, die kameraderie was groter, en natuurlik was baie dienste nie beskikbaar nie.”
Opvoedkundige sielkundige verduidelik
Jeannette Ceronio, ’n opvoedkundige sielkundige aan die Wesrand wat ook bystand aan leerders en onderwysers lewer, meen die rol van die berader, terapeut of sielkundige het nou met Covid groter en belangriker geword in die breë samelewing en kleiner gemeenskappe.
“Waar dit in die verlede bloot afgeskiet is, word dit weens Covid nou as belangrik geag en woon mense, veral mans wat nooit gedink het hul sal hulself in terapie bevind nie, beradingsessies by.”
Mense neem kennis van gees en psige
Sy sê Covid het mense genoop om weer aandag aan hul gees en psige te skenk. Burgers in die algemeen, maar veral skole en kerke, wend heldhaftige pogings aan om hulp aan skoliere en gemeentelede te bied.
“Wat kerke betref, merk ons dat berading op groter skaal beskikbaar gestel word. By skole sien ons dat beraders en sielkundiges voltyds aangestel word om hulp te verleen.”
Volgens Ceronio is die berading en terapie dan beslis nie net van toepassing op Covid en verbandhoudende sake nie, maar op geestesgesondheid van skoliere en gemeentelede in die algemeen.
..........
“Die mens het weer tot die besef gekom dat hy siel, liggaam en gees is en nie slegs liggaam nie – dat daar daadwerklik na die gees en siel omgesien moet word,” sê sy.
.........
“Die mens het weer tot die besef gekom dat hy siel, liggaam en gees is en nie slegs liggaam nie – dat daar daadwerklik na die gees en siel omgesien moet word,” sê sy.
Dawid J Pieterse aan die woord
Dawid Pieterse, teoloog, kenner op die gebied van organisasie- en besigheidsontwikkeling en hoof van gebedsbediening by The Bridge Church geaffilieer met die tradisionele Baptistekerk gesetel in Houston in die deelstaat Texas, sê die pandemie het ongetwyfeld die stigma rondom geestesongesteldheid versag, en mense in die breë is nou meer geneë om aan te klop vir emosionele bystand en berading.
“Ek ervaar dat mense nou makliker praat oor hul geestesongesteldheid en versoeke vir berading neem daagliks toe. Die situasie bied wel ’n uitdaging, aangesien dit groter druk op ons plaas,” sê hy.
“Met die aanmeldings het ons net nie meer die mannekrag, hulpbronne en finansies om na almal se nood om te sien nie. Dit is ’n baie groot voordeel dat mense nou meer oop is, maar dit plaas ook bykomende druk op predikante, maatskaplike werkers, sielkundiges, terapeute en beraders van die kerk.”
Situasie se sterk positiewe aangesig
Pieterse sê die situasie het ongetwyfeld ook ’n sterk positiewe aangesig aangeneem, aangesien almal nou baie meer bewus geword het van maatskaplike en sosio-ekonomiese uitdagings asook struikelblokke wat die breë samelewing ervaar.
“Ons kom nou agter wat die kernprobleme in ons gemeenskap is en dit bring mee dat dié tekorte en hindernisse sinvol en prakties aangespreek kan word, bo en behalwe om vir mense te bid.”
Optimisme oor finale nekslag
Daar heers optimisme dat COVID-19 se positiewe nalatenskap op geestesongesteldheid kan meehelp om die stigma rondom die onderwerp ’n finale nekslag toe te dien. Volgens Pauw is dit die mikpunt en is groot vordering reeds op die gebied gemaak.
“Mense is geneig om enigiets wat afwyk van die norm te stigmatiseer of kritiseer. Daar is reeds groot vordering gemaak tydens die afgelope paar dekades danksy meer inligting in die media, meer mense wat openlik hul stories deel en beter opleiding en behandeling,” sê sy.
Pauw sê daar is veral vooruitgang op die manier waarop mense hulp soek en die wyse waarop werkplekke en gesinne geestesongesteldheid hanteer.
“Die publiek en gesondheidswerkers kan vroeë simptome nou makliker identifiseer en behandeling is meer effektief – laasgenoemde wat ’n groot impak op die prognose en die persoon se funksie uitoefen.”
Oorsprong van stigma
Volgens Health 24 is die woord stigma afkomstig van die Griekse woord vir merk – laasgenoemde wat in vorige eeue op die liggaam van ’n slaaf, verraaier of krimineel gesny of gebrand is. Dié letsel het aangedui dat daar iets negatief was omtrent die morele status van só ’n persoon, wat dan te alle tye deur die samelewing vermy moes word - ’n lewenslange brandmerkvonnis.
Wanopvattings oor pasiënte
Pauw sê daar is ongelukkig nog steeds die wanopvatting dat pasiënte met geestesongesteldhede swakker is as dié met mediese probleme, of dat geestesongesteldhede nie werklike trauma is nie en net ’n vorm van aandagsoek of ’n gebrek aan verantwoordelikheid is.
........
Pauw sê daar is ongelukkig nog steeds die wanopvatting dat pasiënte met geestesongesteldhede swakker is as dié met mediese probleme, of dat geestesongesteldhede nie werklike trauma is nie en net ’n vorm van aandagsoek of ’n gebrek aan verantwoordelikheid is.
..........
“Dit is wonderlik dat dit deesdae meer aanvaarbaar raak vir mense om hulp te soek, maar daar is nog ’n lang pad om te stap. In die hospitaalomgewing vind ons steeds dat psigiatriepasiënte soms minder besoek ontvang vergeleke met hul mediese genote.”
Webinaar fokus op destigmatisering
Luidens Eyewitness News het die Departement van Kommunikasie en Inligtingstelsels en die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) onlangs saam ’n webinaar aangebied waartydens beklemtoon is dat geestesgesondheid dieselfde status moet geniet as HIV en kanker – ’n byeenkoms wat gefokus het op veral die destigmatisering van manlike geestesgesondeheid.
Wêreldgesondheidsorganisasie se verslag
Tydens die samekoms het gesprekke ook gewentel om die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se verslag oor die 25% globale toename in angstigheid en depressie sedert die aanvang van COVID-19.
........
Zamo Mbele, ’n kliniese sielkundige, het tydens die webinaar gesê dis verblydend dat veral mans nou meer openlike gesprekke voer rondom geestesongesteldheid en dat geestesgesondheid eintlik almal se probleem is.
..........
Foto van Zamo Mbele: YouTube
Zamo Mbele, ’n kliniese sielkundige, het tydens die webinaar gesê dis verblydend dat veral mans nou meer openlike gesprekke voer rondom geestesongesteldheid en dat geestesgesondheid eintlik almal se probleem is.
“Dis belangrik om manlike toksisiteit onder die loep te neem. Die onderwerp maak dit moeilik vir dié geslag om geestesongesteldheid te bespreek of selfs net te eien en veilige ruimtes te skep waar sulke gesprekke kan afskop,” het hy gesê.
Pauw sê mense oor die algemeen is dikwels ook onkundig met die hantering van geestesongesteldheid.
“Mense weet dikwels net nie hoe om geestesongesteldhede te hanteer of te verstaan nie. Berading met familielede is dus van die uiterste belang,” sê sy.
Veldtogte om stigma te versag
Daar was al etlike wêreldwye veldtogte om die stigma teen geestesversteurders te beveg. Plaaslik voorsien die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Psigiaters (Sasop) die media van akkurate besonderhede oor geestesafwykings. Die organisasie het mense reeds aan die begin van die pandemie daarop bedag gemaak dat hulle moontlike sielkundige stres kon beleef wat kon wissel van slegte slaappatrone, onttrekking en geïrriteerdheid tot ernstige psigiese steurnisse.
Bronne
- https://ewn.co.za/2022/03/16/mental-health-should-get-same-attention-as-cancer-and-hiv-sadag-gcis-told
- https://www.news24.com/health24/Mental-Health/Sielkunde/Die-stigma-van-geestesafwykings-20120721
- https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/aktueel/covid-19-dit-kan-ons-lewe-beter-maak-20210215
Lees ook:

