Lewenswetenskappe: Sure en basisse, miere en termiete – het hulle iets gemeen?

  • 0

Foto: Pixabay 

Eina! Die rooimier het my gebyt! Of het hy?

Rooimiere kan ook steek en die gif waarmee hulle jou spuit kan nogal lekker brand. Ek het een van die kenmerkende eienskappe van sure beleef: Dit is ’n bytstof en gevaarlik om aan te voel of proe. Sure proe natuurlik suur en voel grof op ’n mens se vel. Suurlemoensap en asyn is voorbeelde van sure. Aan die ander kant van die skaal is daar basisse, soos waspoeier, seep, tandepasta en seewater. Het jy al ooit aan ’n termiet geproe? Basisse proe bitter en voel glad op jou vel, maar is ook gevaarlik om aan te proe of te voel. Nie alle basisse is oplosbaar in water nie. Dié wat wel oplosbaar is, word alkali’s genoem. En dan is daar natuurlik ook neutrale, soos suiwer water, ’n sout- of suikeroplossing of kookolie en melk. ’n Neutrale stof kan ook gevorm word deur ’n suur en ’n basis te meng.

Ons meet hoe suur of alkalies ’n oplossing is met ’n pH-skaal. pH staan vir power of Hydrogen en verwys na die hoeveelheid waterstof- (H+) of hidroksied-ione (OH-) in die oplossing. Die pH-skaal strek van 1 tot 14. Sure het ’n pH van tussen 1 en 7, terwyl basisse ’n pH van tussen 7 en 14 het. Neutrale het ’n pH van 7. Wanneer ’n oplossing baie waterstof-ione (H+) bevat, is dit ’n suur. Wanneer dit egter baie hidroksied-ione (OH-) bevat, is dit ’n basis.

Sterk sure kan ander stowwe wegvreet of wegbrand. Dit is hoekom dit gevaarlik is om daaraan te vat. Sure in die kos wat ons eet, is nie gevaarlik nie. Sure los ook maklik op in water. Die temperatuur van suuroplossings raak warmer wanneer dit met water verdun word. Die temperatuurverandering kan so vinnig gebeur dat dit glasbekers laat bars! Dit is daarom beter om eerder die suur bietjie vir bietjie by water te voeg, as om die water direk by die suur te gooi.

Wanneer sure met water gemeng word, verloor die suur sy waterstof-ione. Die waterstof-ione is nog steeds in die mengsel, maar is nie meer aan die suur gebind nie. Hoe meer sulke “los” waterstof-ione in die oplossing is, hoe laer is die pH daarvan. Wanneer basisse met water gemeng word, breek die basis op en word hidroksied-ione vrygestel. Hoe meer hidroksied-ione in die oplossing is, hoe meer alkalies is dit. Wanneer sure en basisse gemeng word, kombineer die waterstof- en hidroksied-ione om water (H2O) te vorm. Die res van die suur en basis kombineer om ’n sout te vorm. Die suur en basis neutraliseer mekaar en die proses word neutralisasie genoem.

........
Het jy al ooit aan ’n termiet geproe? Termiete het alkaliese verteringstelsels, maar is ten spyte daarvan in baie lande ’n lekkerny.
........

Het jy al ooit aan ’n termiet geproe? Termiete het alkaliese verteringstelsels, maar is ten spyte daarvan in baie lande ’n lekkerny. Termiete leef van plantmateriaal, soos hout, blare en ook humus. Humus is plantmateriaal wat besig is om af te breek tot grond. Plantmateriaal bevat egter baie lignien. Lignien gee aan die plant sy stewige, houtagtige struktuur en stel die plant in staat om regop te kan staan. Lignien breek egter baie moeilik af en is daarom moeilik om te verteer. Humus bevat ook ingewikkelde verbindings wat self moeilik is om af te breek. Termiete se verteringstelsels het ’n besonderse hoë pH-waarde. Dit is die hoogste wat al ooit in ’n dier se liggaam gevind is en kan 12,5 haal. Hierdie alkaliese omgewing speel ’n belangrike rol in die termiet se vermoë om sy kos te verteer. Daar is verskillende maniere hoe:

  1. Lignien en humus raak oplosbaar in ’n alkaliese omgewing.
  2. Plantmateriaal reageer met suurstof en breek af in ’n alkaliese omgewing.
  3. Proteïenverbindings in plantmateriaal verdeel en breek af in ’n alkaliese omgewing.
  4. ’n Alkaliese omgewing help om die humus van gronddeeltjies te skei, sodat grond uitgeskei kan word en humus verteer kan word.
  5. Saam met die plantmateriaal word daar soms ook mikro-organismes ingeneem. Die alkaliese omgewing help die termiet om hierdie mikro-organismes te verteer.
  6. Daar is ook spesifieke alkalifiete wat in die termiet se verteringstelsel woon. Alkalifiete is bakterieë wat die vermoë het om in alkaliese omgewings te oorleef. Hierdie alkalifiete help ook met die verteringsproses deur organiese materiaal verder te gebruik en te verander.

Jy kan dus verstaan hoe belangrik hierdie alkaliese verteringstelsel vir die termiet is. Daarsonder sou hy nooit sy kos kon verteer nie!

So termiete is alkalies, maar wat van miere? Het ’n rooimier jou al gesteek?

Dit was vir baie jare bekend dat miershope suur ruik. Wetenskaplikes het uiteindelik in 1671 uitgevind hoekom, toe mieresuur ontdek is. Hulle kon die mieresuur isoleer deur ’n klomp dooie miere te distilleer (’n metode om mengsels te skei). Mieresuur word deur sommige mierspesies vervaardig en gebruik om hul vyande mee te spuit. Dit kom ook in pynappels en uie voor en is verantwoordelik vir die brandgevoel op jou bene nadat jy deur brandnetels geloop het. Mieresuur is ’n kleurlose vloeistof wat baie skerp ruik. Dit het ’n pH van tussen 2 en 3. Met so ’n lae pH, kan mens verstaan dat dit ’n mens se vel kan irriteer en brand en jou oë kan beskadig. Mieresuur is die rede waarom ’n mier se steek so seer is! Miere hou hierdie suur in ’n spesiale gifsakkie, sodat dit op een plek bymekaar bly. Die mieresuur sou die mier self kon doodmaak as dit deur sy liggaam sou versprei.

Miere gebruik die suur, mieresuur, vir selfverdediging.

........
Behalwe vir selfverdediging, gebruik miere ook mieresuur om hul neste mee te ontsmet. Mieresuur het anti-mikrobiese eienskappe.
........

Behalwe vir selfverdediging, gebruik miere ook mieresuur om hul neste mee te ontsmet. Mieresuur het anti-mikrobiese eienskappe. Dit beteken dat dit die groei van mikrobes wat siektes onder die miere kan veroorsaak, vertraag. Mieresuur is so effektief dat dit gebruik word om veevoer mee te preserveer. Dit voorkom dat mikrobes op die voer groei en dit word dus nie so vinnig sleg nie. Mieresuur is dus nie net van belang vir die mier nie, maar is ook nuttig vir die mens. Solank jy dit net nie op jou vel of in jou oë kry nie!

Sure en basisse is baie algemeen in ons alledaagse lewens. Ons besef dit nie altyd nie, maar dit kan ons eintlik baie help as ons die werking van sure en basisse verstaan. Die gif van ’n bysteek is byvoorbeeld ’n suur. Deur koeksoda (’n basis) op ’n bysteek te sit, word die suur geneutraliseer en verminder die pyn. Basisse, soos kalk, word ook gebruik om suur grond beter geskik te maak om groente op te kweek. Die alkaliese koeksoda wat jy in malvapoeding gooi, reageer met die suur asyn om borrels te vorm en jou poeding te laat rys. In ons menslike liggaam help sure in ons mae met die vertering van voedsel. Die suur in ons mae het ’n pH van tussen 1 en 2. In ons pankreas is daar weer ’n alkali wat verder help met voedselvertering. Sure en basisse en hul reaksies met mekaar en ander stowwe is noodsaaklik vir biologiese sisteme. Die beginsels word ook in die landboubedryf en industrieel gebruik.

Om die beginsels van die natuur na te volg kan vir ons van groot ekonomiese belang wees. Ons moet net leer om fyn op te let wat rondom ons aangaan sodat ons dit dan kan toepas op ons alledaagse lewe.

Lees ook:

Indeks: notas, toetse en vraestelle

Lewenswetenskappe: Predator of prooi? Die mierleeu se plek in die ekosisteem

Lewenswetenskappe: Chlorofil, fotosintese en blaarmyners – hoe om groen te bly

Lewenswetenskappe: Gee paddas vratte?

Lewenswetenskappe: Blou pajamas en muskiete

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top