Lewenswetenskappe: Chlorofil, fotosintese en blaarmyners – hoe om groen te bly

  • 0

 

Het jy al ooit kronkelende paadjies op ’n tamatieplant se blare opgelet? As jy na ’n tamatieboer se kommentaar daaroor geluister het, sal jy weet dat hierdie paadjies glad nie baie gewild is nie.

Die tamatie-blaarmyner is ’n klein swart en geel vliegie wat sy eiers in die blare van tamatieplante lê. Wanneer die eiers uitbroei, bly die larwes binne-in die blaar. Hulle eet die binnekant van die blaar en maak tonnels sover hulle gaan. Dit is amper soos wat mense tonnels onder die grond grawe wanneer hulle vir goud myn. Die tonnels raak al hoe wyer soos wat die larwe groei. As mens die paadjie volg soos wat dit breër raak, kan jy mooi sien waar die larwe begin eet het en hoe hy gegroei het.

Die tamatie-blaarmyner se tonnels in die blaar van ’n tamatieplant. Die gelerige larwe kan ook aan die eindpunt van die tonnel gesien word. (Foto: verskaf)

Die tamatie-blaarmyner se tonnels in die blaar van ’n tamatieplant. Die gelerige larwe kan ook aan die eindpunt van die tonnel gesien word.

Die tonnels van die tamatie-blaarmyner lyk grys. As jy die blaar teen die lig hou, sal jy deur die tonnels kan sien. Dit is omdat die blaarmyner alles binne-in die blaar, insluitend die groen kleur, eet. Net die buitenste vel van die blaar bly oor.

Chlorofil is die pigment wat aan die plant sy groen kleur gee. Binne-in die selle van die blaar is daar chloroplaste en binne-in die chloroplaste kom die groen chlorofil voor. Chlorofil is nie net verantwoordelik vir die groen kleur van die plant nie, maar is ook noodsaaklik vir fotosintese.

Fotosintese is die plant se manier om sy eie kos te maak deur sonlig te gebruik. Chlorofil absorbeer die energie van die sonlig sodat dit beskikbaar kan wees vir die plant vir fotosintese. ’n Mens kan vir homself kos maak as hy al die bestanddele het, maar hy het geld nodig om die bestanddele te koop. Chlorofil is soos die geld wat die plant nodig het om sonlig mee te koop. Sonder die chlorofil kan die plant nie sonlig vasvang om vir homself kos te maak nie.

As die blaarmyner te veel van die chlorofil in die tamatieplant se blare eet, sal die plant nie meer vir homself kan kos maak nie. Die plant sal dan nie meer kan groei nie. Dit sal ook nie meer die tamaties kan maak wat die boer wil verkoop nie.

Kom ons kyk in ’n bietjie meer besonderhede na die wonder van fotosintese.

Terwyl plante fotosinteer, skakel hulle koolstofdioksied, water en ligenergie om in suurstof, water en koolhidrate. Die chemiese vergelyking lyk soos volg:

6 CO2 + 12 H2O + ligenergie → C6H12O6 + 6 O2 + 6 H2O

Die koolstofdioksied (CO2) wat ons uitasem, word deur die plante se huidmondjies opgeneem. Water (H2O) word weer deur die plante se wortels opgeneem en die ligenergie van die son word deur die chlorofil vasgevang. Sonder enige een van hierdie drie produkte, kan die plant nie vir homself kos maak nie en kan dit dus nie groei nie. Die plant verwerk die drie produkte om koolhidrate of stysel (C6H12O6) te vervaardig om mee te groei. Die gemiddelde boom vervaardig ongeveer 10 kg stysel op ’n lang somersdag. Verder stel die proses van fotosintese ook water (H2O) en suurstof (O2) vry. Ons mense asem suurstof in en is afhanklik daarvan om te oorleef.

Plante is die enigste organismes wat koolhidrate uit lig kan vervaardig en chlorofil is die enigste pigment wat lig kan vasvang. Die invloed wat die blaarmyner kan hê, kan dus enorm wees.

Dus is die tamatie-blaarmyner ’n pes en ons wil ontslae raak van hom. Dit is wat die meeste tamatieboere se houding teenoor die vliegie is en dit is heeltemal verstaanbaar dat hulle so voel.

Alles in die natuur het egter ’n doel. Ons moet net uitvind wat dit is. So, voordat ons die arme vliegie sommer net verban en doodmaak, kom ons kyk eers na sy funksie.

In Suid-Afrika is daar twee soorte vliegies waarvan die larwes in tamatieplante leef. Albei hierdie vliegies is uitheems, maar ten spyte daarvan dien hulle tog ’n doel in Suid-Afrika ook. Die Amerikaanse tamatie-blaarmyner kom van Noord-Amerika af, terwyl die ertjie-blaarmyner van Suid-Amerika af kom. Behalwe vir tamatieplante, leef hierdie larwes ook op verskillende soorte onkruide. Hulle myn ook in die onkruid se blare. Die meeste van hierdie onkruide is ook uitheems. Sonder die teenwoordigheid van die uitheemse blaarmyners, sou hierdie onkruide geen natuurlike vyande gehad het nie. Die tamatie-blaarmyner help dus om die boer se onkruid te beheer.

Elke organisme vorm deel van die natuur se netwerk om ’n balans te hou. En so is daar ook ’n natuurlike vyand van die tamatie-blaarmyner. Klein vespe lê hulle eiers naby die larwes van die tamatie-blaarmyner. Wanneer die vespe-eiers uitbroei, eet hulle die blaarmyner-larwes. Die vespe-larwes vorm dan papies in die tonnel wat deur die blaarmyner gemaak is.

Die tamatie-blaarmyner lê sy eiers binne-in die blaar. Die eiers broei uit en larwes maak tonnels in die blaar tot hulle gereed is om papies te vorm. Die papies oorleef dan in die grond. Die vespe lê sy eiers naby die blaarmyner se larwe. Wanneer die vespe-eiers uitbroei, eet die vespe-larwes die blaarmyner-larwes en geen blaarmyner-papies kan vorm nie.

Hierdie vespe vat ongelukkig lank voordat hulle populasies groot genoeg is om werklik ’n verskil aan die tamatie-blaarmyner se populasie te maak. Die blaarmyner kry dan kans om nogal baie skade aan te rig, voordat hulle getalle minder gemaak word deur die vespe. Baie boere is nie bereid om te wag vir die vespe nie en spuit dan gifstowwe om die blaarmyner dood te maak. Hierdie gifstowwe maak egter ook die vespe dood. Die natuurlike balans van die ekosisteem word heeltemal vernietig. Alles in die natuur is aan mekaar verbind. As een organisme vernietig word, het dit ’n invloed op baie ander organismes. Deur die blaarmyner te vernietig, word nie net die vespe ook vernietig nie, maar die natuurlike onkruidbeheer wat die blaarmyner sou toepas, is ook daarmee heen. Nou moet die boer nog meer gifstowwe spuit om ook die onkruid onder beheer te bring. Uiteindelik is dit ’n bose kringloop.

Gelukkig is daar ook ander maniere om die tamatie-blaarmyner onder beheer te hou. As jy ander plante, waarvan die blaarmyner meer hou, naby die tamatieplante plant, sal die blaarmyner eerder op daardie plante bly en die tamatieplante uitlos. Sorg ook dat die habitat geskik is vir ander vyande van die blaarmyner. Grondkewers, oorkruipers en spinnekoppe eet die blaarmyner-larwes en -papies. Met ’n wye verskeidenheid plante wat genoeg skuilplek bied vir hierdie insekte, sal hulle jou ook help in die stryd teen die blaarmyner. Verder kan jy ook al die blare waarop daar gemyn is gaan afpluk en vernietig. So vernietig jy dus al die larwes en voorkom dat hulle kan voortplant.

’n Ander manier wat baie boere gebruik om die blaarmyners te beheer, is om net elke tweede jaar tamaties op die land te plant. Die papies van die tamatie-blaarmyners bly in die grond. Die vliegies kom dan in die lente uit en soek tamatieplante om op te leef. As daar vir ’n jaar lank geen tamatieplante is nie, sal die vliegies nêrens hulle eiers kan lê nie en sal daar nie nuwe blaarmyners kan uitbroei nie.

Tamatie-blaarmyners kan groot skade aanrig. Nie net bedreig hulle ons kosvoorraad nie, maar hulle verminder oor die plante se vermoë om vir ons suurstof te vervaardig. Gelukkig is daar baie verskillende natuurlike maniere waarop ons hulle kan beheer en is dit nie altyd nodig om dadelik chemiese gifstowwe te spuit nie. Die natuur handhaaf ’n balans solank ons dit nie versteur nie.

So, volgende keer as jy ’n paadjie op ’n tamatieblaar sien, kyk waar die vliegie sy eier gelê het en hoe die larwe gegroei het soos wat hy eet. Kyk ook uit vir klein swart en geel vliegies en probeer dan sien of jy ook vespe, spinnekoppe en oorkruipers kan sien. So ondersoek jy ’n hele voedselketting in die natuurlike ekosisteem.

Lees ook:

Indeks: notas, toetse en vraestelle

Lewenswetenskappe: Gee paddas vratte?

Lewenswetenskappe: Blou pajamas en muskiete

Die menslike dieretuin: ’n onderhoud met François Durand

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top