
Foto: Canva
- Rouxlyn Botha het ’n Meestersgraad in Omgewingswetenskap cum laude behaal. Sy is passievol oor die natuur. Sy skryf hierdie artikel spesiaal vir skoolkinders wat meer wil uitvind van die wêreld waarbinne ons leef.
Toe ek in die laerskool was, het ek en my boetie paddavissies in die plaasdam gevang en huis toe gebring. Ons het hulle dan in ’n groot bak met water gegooi en elke dag deur ’n strooitjie borrels in die water geblaas. Ons het ook stukke riete en plante uit die dam gehaal en saam met die paddavissies in die bak gegooi. Na ’n paar dae het ons moeg geword vir die storie en die hele spul weer terug gegooi in die dam. Ons het nooit die twee tot drie maande gewag vir die paddavisssies om in volwasse paddas te verander nie.
Ons het altyd gedink die paddavissies eet die plante. Eintlik eet hulle die alge wat op die nat plante groei. So help hulle om die dam skoon te hou.
’n Ander ding wat nooit vir my sin gemaak het nie, is hoekom ons borrels in die water blaas. As ons koolstofdioksied uitasem, en dus koolstofdioksied in die water in blaas, waar kom die suurstof vandaan, wat die paddavissies nodig het? Die borrels kom in elk geval ook weer op en bly nie in die water nie, so wat help dit dan?
Wat eintlik gebeur, is dat ons maar net die water beweeg met die borrels. Wanneer water so beweeg word, los suurstof uit die lug op in die water. Die opgelosde suurstof is dan beskikbaar vir die paddavissies. ’n Waterval in ’n visdam het dieselfde uitwerking. Die beweging laat suurstof in die water oplos.
Dit was groot pret om die paddavissies se manewales dop te hou, tot ’n oningeligde grootmens eendag vir ons vertel het dat paddas vratte gee.

Hierdie is ’n Lawaaiskurwepadda. As jy al ooit in die aand langs ’n plaasdam gestaan het, sal jy presies weet waar sy naam vandaan kom. Die geraas kan oorverdowend wees. Al die mannetjies sit rondom die dam en probeer so hard as moontlik roep om ’n wyfie te lok. (Foto: verskaf)
As jy na hierdie foto kyk, sal jy sien dat die padda se vel nogal hobbelrig lyk, so asof hy vratte het. Dit is natuurlik waar die storie dat jy gaan vratte kry as jy aan paddas vat, vandaan kom. Dit is egter nie die waarheid nie. Die hobbels op die padda se vel is vir kamoeflering. Dit laat hom lyk soos die klippe en plante waar hy gewoonlik voorkom. Party van die hobbels is ook kliere, wat help om die padda se vel klam te hou. Die twee groter kliere agter sy oë, skei ’n vloeistof af wat baie sleg smaak. Dit is hoekom honde se bekke begin skuim as hulle met ’n padda deurmekaar raak. Maar díe vloeistof sal jou ook nie vratte gee nie.
Daar is egter wel ’n rede hoekom dit beter is om nie aan paddas te vat nie. Paddas kan deur hulle velle asemhaal en hulle velle is dus baie sensitief. Hulle kan ook allerhande stowwe waaraan hulle lywe blootgestel word, deur hul velle opneem. As jy aan die hond gevat het, voordat jy aan die padda vat, kan die hond se kieme oorgedra word aan die padda. So dis veiliger vir die padda as jy nie aan hom vat nie.
Hierdie is ’n Lawaaiskurwepadda. As jy al ooit in die aand langs ’n plaasdam gestaan het, sal jy presies weet waar sy naam vandaan kom. Die geraas kan oorverdowend wees. Al die mannetjies sit rondom die dam en probeer so hard as moontlik roep om ’n wyfie te lok. Het jy geweet dat elke soort padda sy eie spesifieke roep het? Wetenskaplikes gebruik soms opnames van paddakore om verskillende soorte paddas te identifiseer.
Die Lawaaiskurwepadda is baie algemeen naby damme en in tuine in Suid-Afrika. As hulle nie gepla word nie, kan hulle nogal mak raak. Hulle eet graag allerhande goggas en hou jou tuin skoon van peste. Omdat paddas nogal sensitief is vir besoedeling, is hulle teenwoordigheid ’n aanduiding van ’n goeie, gesonde ekosisteem. Solank hulle toegang tot water en skuilplek het, en jy jou hond kan leer om hulle nie te probeer vang nie, kan hulle baie gawe tuinbewoners wees.
Lees ook:

