Lewenswetenskappe: Predator of prooi? Die mierleeu se plek in die ekosisteem

  • 0

Foto van rysmiere: Canva

Rouxlyn Botha het ’n meestersgraad in Omgewingswetenskap cum laude behaal. Sy is passievol oor die natuur. Sy het al vir LitNet ’n paar Lewenswetenskappe-artikels geskryf. Hierdie artikel is spesifiek toegespits op die werk wat graad 8’s wat die KABV volg in die skool behandel.

Ons kamp in die sand langs die rivier in die middel van die Karoo. Elke oggend as ons wakker word, is die sand oortrek met kronkelende lyne. So asof ’n driejarige ’n nuwe pen gekry het en nou probeer teken. Deur die loop van die dag verdwyn die lyne tussen ons voetspore, maar môreoggend is hulle maar weer daar. Wat gaan rondom ons aan in die nag?

Natuurlik is dit ’n insek en nie ’n eenbeenmonster nie. Maar hoe kan enigiets dan in sulke los sand wat die heeltyd versteur word, oorleef? Hierdie ekosisteem verdien om ondersoek te word. Ons kyk ’n bietjie verder en ontdek dan ronde gate. Jy sal die lokvalle van mierleeus herken! ’n Niksvermoedende mier kom verby en val in die gat. Oombliklik verskyn die mierleeu se sekelvormige kake en begin hy die mier met sand gooi. Hy kry die mier vasgeklem tussen sy kake en na ’n paar minute lê die mier bewegingloos onder in die gat. Ontbyt vir die mierleeu is gereed en ons het sopas ’n gedeelte van hierdie ekosisteem se voedselketting waargeneem.

Jy sal die lokvalle van mierleeus herken! (Foto: verskaf)

Mierleeus is wyd verspreid oor die hele aarde en daar is baie verskillende soorte. Hulle word soms “doodlebugs” genoem omdat hulle die kronkelende lyne agterlaat wanneer hulle in die nag onder die sand rondbeweeg, op soek na ’n geskikte plek om ’n nuwe lokval te grawe. Die ronde lokvalle is kenmerkend en tesame met die kronkelende lyne het dit al die verbeeldings van talle skrywers aangegryp. Mark Twain het in sy verhale oor Tom Sawyer na die mierleeu verwys en Charles Duke het, toe hy op die maan was, die kraters met mierleeulokvalle vergelyk. In byna elke land en taal is daar ’n rympie wat kinders opsê as hulle die mierleeu se lokval met ’n stokkie roer sodat die mierleeu moet uitkom. Die Afrikaanse weergawe gaan so:

Joerie, Joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood.

“Joerie” is natuurlik die ander Afrikaanse naam vir die mierleeu. Maar dit is ’n onderwerp vir ’n ander dag. Hier wil ek graag fokus op die mierleeu se plek in die ekosisteem.

Die mierleeu wat die lokval grawe, is net die larwe en die insek het nog ’n hele volledige lewensiklus, wat uit die eier, larwe, papie en volwasse mierleeu bestaan. Eiertjies word in los sand gelê en sodra die larwes uitbroei, is hulle gereed om lokvalle te begin grawe. Hulle beweeg agteruit deur die sand omdat hulle lang kake vooraan hulle lyfies het. Dit is amper soos om met paddavoete aan te probeer loop. Dalk is dit hoekom hulle nooit in ’n reguit lyn loop nie. Hulle kan nie sien waarheen hulle op pad is nie!

’n Ekosisteem is die omgewing waarbinne die mierleeu leef. Dit sluit al die lewende en nie-lewende komponente wat ’n invloed op die mierleeu het, in. Die ekosisteem waarbinne die mierleeus wat ons gesien het leef, is ’n sanderige rivieroewer in die middel van ’n semi-woestyn. Hierdie semi-woestyn word in Suid-Afrika die Karoo genoem. Hierdie ekosisteem het geen insette van buite nodig om volledig te kan funksioneer nie. Al die organismes beïnvloed mekaar en is op een of ander manier aan mekaar verbind.

Die mierleeu is afhanklik van sy ekosisteem vir kos en skuiling sodat hy kan groei, ontwikkel en uiteindelik voortplant. Mierleeus kan vir tot drie jaar lank larwes bly. Gedurende hierdie tyd het hulle toegang tot los sand nodig om hulle lokvalle te grawe en om in weg te kruip. Dit is ’n nie-lewende komponent van die ekosisteem. Daar moet ook genoeg miere of ander klein insekte wees vir die mierleeu om te vang en te eet. Dit is weer lewende komponente van die ekosisteem. Wanneer die mierleeu gereed is om in ’n papie te verander, bou hy ’n kokon van sand en sy. Vir ongeveer vier weke bly hy ’n papie voordat die volwasse mierleeu uit die kokon onder die sand klim. Die volwassene is ook afhanklik van die ekosisteem vir skuiling en kos. Sy leef vir nog vier weke voordat sy weer eiers lê en doodgaan.

Binne die ekosisteem op die rivieroewer kom daar verskeie voedselkettings voor. ’n Eenvoudige voedselketting wat die mierleeu in sy ekosisteem insluit, lyk so:

plant → mier → mierleeu → voël → jakkals → bakterieë

Die pyltjies dui die vloei van voedingstowwe van een organisme na die volgende aan.

’n Voedselketting bestaan uit produsente, verbruikers en ontbinders. Produsente is gewoonlik plante. Plante gebruik die energie van die son om hul eie voedsel te vervaardig. Hierdie proses word fotosintese genoem en vorm die eerste trofiese vlak van ’n voedselketting. Die mierleeu kan egter nie sy eie voedsel so vervaardig nie en is eerder een van die verbruikers in die voedselketting.

Verbruikers kry hulle voedsel direk of indirek vanaf die plante. Die mierleeu eet nie self die plante nie, maar kry wel die voedingstowwe in wanneer hy miere vang. Miere eet die plantsap en hierdie voedingstowwe word na die mierleeu oorgedra. Verbruikers sluit herbivore, karnivore, omnivore, insektivore (soos die mierleeu) en ook aasdiere in. Al hierdie verbruikers kan nie hulle eie voedsel vervaardig nie en kan slegs oorleef deur ander organismes (plante of diere) te eet. Primêre verbruikers, soos die mier, eet plante en vorm die tweede trofiese vlak in die voedselketting. Die mierleeu is ’n voorbeeld van ’n sekondêre verbruiker omdat hy die primêre verbruikers (miere) eet. Mierleeus vorm dan die derde trofiese vlak in die voedselketting.

Die laaste lid van die voedselketting is ontbinders. Hulle is dikwels insekte soos vlieglarwes, maar ook bakterieë. Ontbinders leef van dooie plante of diere. Hulle breek hierdie organismes af tot hulle weer deel vorm van die grond. Ontbinders vorm die laaste trofiese vlak in die voedselketting.

Hierdie voedselketting is egter net een van vele wat in die rivieroewer-ekosisteem voorkom.

Die mierleeu in hierdie foto het ’n kewer gevang. (Foto: verskaf)

Die mierleeu in hierdie foto het ’n kewer gevang en vir langer as ’n uur met hom gestoei voordat die kewer uiteindelik verlam was en doodgegaan het. Die mierleeu spuit gif in sy prooi wat die prooi verlam. Hy hou sy prooi dan onder in sy lokval vas tot dit nie meer beweeg nie. Dan spuit hy verterende ensieme in sy prooi in. Dit verteer die binnegoed van die prooi tot dit ’n vloeistof is wat die mierleeu net kan uitsuig. Wanneer slegs die buitenste dop van die insek oor is, gooi die mierleeu dit uit sy lokval en maak gereed vir sy volgende vangs.

Die gif van die mierleeu is so dodelik dat hy selfs klein spinnekoppe kan vang.

Jy kan dus sien dat die mierleeu nie net miere vang nie, maar ook spinnekoppe, kewers en enige ander insek wat klein genoeg is om in sy lokval te val. Verder kan die volwasse mierleeu boonop ook plantnektar en stuifmeel eet. Volwasse mierleeus lyk baie soos naaldekokers en is heelwat groter as wat die mierleeularwe is. Hulle kan egter nie so goed vlieg soos naaldekokers nie en is naglewend, terwyl naaldekokers deur die dag aktief is. Die volwassenes kan dus ook groter insekte as miere vang en eet. Hulle vang ook eerder naglewende insekte, terwyl die mierleeularwes insekte vang wat deur die dag aktief is.

Volwasse mierleeus lyk baie soos naaldekokers. (Foto: verskaf)

Verder is voëls ook nie die enigste vyande van mierleeus nie. Die volwasse mierleeu maak ’n lekker happie uit vir ’n honger padda, terwyl die larwes ook deur akkedisse, spinnekoppe en ander insekte gevang en geëet word.

Wanneer ’n mens so in ag neem dat die mierleeu eintlik in ’n paar verskillende voedselkettings voorkom, kan jy verstaan waar die term voedselweb vandaan kom. ’n Voedselweb is wanneer die verskillende voedselkettings in die ekosisteem saamgevoeg word. ’n Voedselweb bestaan steeds uit die basiese produseerders, verbruikers en ontbinders, maar hulle is op meer as een manier aan mekaar verbind. In die skets kan jy sien dat die mierleeu verskillende rolle in die voedselweb verteenwoordig.

Die mierleeu verteenwoordig verskillende rolle in die voedselweb. (Illustrasie: verskaf)

Wat sal gebeur as die mierleeu uit hierdie ekosisteem en voedselweb verwyder word?

Mierleeus kan tot 22 miere per dag eet. In die onmiddellike omgewing rondom ons kamp was daar minstens 30 mierleeulokvalle. Hierdie mierleeus kan dus van 660 miere per dag ontslae raak. As die mierleeus skielik verwyder word, sal die mierbevolking ontplof. Miere eet weer dikwels ander insekte se eiers. As daar te veel miere is, sal van hierdie ander insekte begin uitsterf omdat hulle eiers nooit die kans kry om uit te broei nie. Elke organisme in die ekosisteem is op sy manier belangrik vir die suksesvolle voortbestaan van sy omgewing.

Die mierleeu mag dalk miere angsbevange laat, maar hy is hopeloos te klein om iets aan mense te doen. Inteendeel, die mierleeu kan ’n oulike troeteldier uitmaak. Sit hom in ’n bak vol sand en voer hom miere. Dan kan jy mooi dophou hoe hy sy lokvalle grawe en die miere daarin vang. Dit is nie eens nodig om vir hom water te gee nie, aangesien hy genoeg vloeistof uit sy prooi kry. Jy hoef hom ook net elke tweede dag te voer, aangesien mierleeus aangepas is om vir tye sonder kos klaar te kom. As die mierleeu gereed is om ’n papie te word, sal hy ophou eet en ’n kokon spin. Onthou om dan sy bak binne-in ’n hok te sit, sodat die volwasse mierleeu nie kan wegvlieg wanneer sy uitkom nie. Sit ook ’n stokkie in die hok sodat sy daarop kan sit terwyl sy wag dat haar vlerke droog raak. Dan kan jy haar weer vrylaat om haar plek in die ekosisteem vol te staan en eiers te gaan lê sodat die volgende generasie van mierleeus kan voortbestaan.

Lees ook:

Indeks: notas, toetse en vraestelle

Lewenswetenskappe: Chlorofil, fotosintese en blaarmyners – hoe om groen te bly

Lewenswetenskappe: Gee paddas vratte?

Lewenswetenskappe: Blou pajamas en muskiete

Die menslike dieretuin: ’n onderhoud met François Durand

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top