Lesersindruk: Sushi en Shosholoza deur Erns Grundling

  • 0

Sushi en Shosholoza – Rugbyreise en pelgrimstogte in Japan
Erns Grundling
Uitgewer: Queillerie

ISBN: 9780795802133

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

 Ek is nogal lief vir reisboeke. As ek dink aan reisboeke dan dink ek aan Bill Bryson, van wie ek amper elke reisboek gelees het. Daar was ’n tyd wat ek omtrént gaande was oor sy boeke. Dit was veral Bryson se soort humor wat my geval het. Op ’n dag toe sê ’n baie goeie vriend van my egter hy hou niks van Bryson se boeke nie. Sjoe! Dit was swaar op my jong gemoed. Maar so het ek vroeg-vroeg al besef smaak verskil, dis goed so en dit kan nie anders nie.

Wie sal daardie kwaai koerantresensie van Sushi en Shosholoza vergeet? Daardie resensie wat die boek as “vervelig” en selfs “egoïsties” beskryf! Dit gebeur selde dat resensente so krities raak oor boeke. Noudat ek self die boek gelees het, nou kan ek ook ’n beter oordeel fel as toe. En my gevolgtrekking is ja, die boek is seker maar bietjie egoïsties. Maar dan het ek ook niks anders verwag nie. Inteendeel, ek sou ietwat teleurgestel gewees het as dit nie die geval was nie. My kop sê tog vir my dat, waar mense reis, die letterlike reis altyd ook ’n reis na binne veronderstel. Ten opsigte van al sy staptogte byvoorbeeld, haal Grundling op bladsy 239 byvoorbeeld vir ene John Muir as volg aan “… going out, I found, was really going in”. Dit was immers ook maar die patroon in Grundling se boek oor die Camino, wat ek onlangs uiteindelik ook darem kon luister; om verbande tussen die herinneringe en nuwe ervaringe te trek. 

Dis veral juis meer gepas in hierdie boek, waar rugby aan die orde van die dag is. Soos Grundling het ook ék so ’n rugbyspan uit my verlede waarvoor ek baie lief is, maar wat altyd maar gesukkel het om by die grotes kers vas te hou. Nes Grundling het ek ook baie van hulle wedstryde bygewoon. Ook saam met my pa, nes hy. Vir hom was dit die Oostelike Provinsie, waar hulle wedstryde op die legendariese Boet Erasmus-stadion bygewoon het. Vir my was dit die Griekwas van Kimberley. Vandag is daar maar min oor van die Boet Erasmus-stadion. Daar waar die Springbokke in 1995 teen Kanada gespeel het in ’n wedstryd wat vandag nog herroep word as “The battle of the Boet” en waar James Dalton en twee Kanadese spelers van die veld gejaag was met rooikaarte. 

Japan was ook deel van die 1995-wêreldbeker in Suid-Afrika. Grundling skryf ook daaroor. Trouens, Japan het lank die rekord gehou vir die grootste verloor in wêreldbekerrugby – die All Blacks het hulle in Bloemfontein met 128 punte afgeransel! Maar baie water het sedertdien onderdeur die brug gevloei. En in 2015, nou ja, toe troef Japan natuurlik die Springbokke. Dié wedstryd het ook ’n naam gekry – Die slag van Brighton – en het die pilare van rugby geskud. Daar is ’n groot ooreenkoms tussen Japan se rugby en die geskiedenis van die land. Hoe Japan opgestaan het na die tragiese gebeure by Hiroshima. Ook dié stad word besoek in die boek. 

Baie Suid-Afrikaners speel deesdae in Japan, asook ander spelers van regoor die wêreld. Grundling vertel so nou en dan van ’n onderhoud met ’n speler. Duane Vermeulen, Dan Carter, Wimpie van der Walt en ook die oud-Springbokafrigter, Jake White.

Sushi en Shosholoza is wel ’n reisboek, maar dit is eintlik meer ’n boek oor ’n televisiespan se verfilming van ’n TV-reeks. Mens kan seker gevolglik ook wel tereg opmerk dat rugby dalk bietjie afgeskeep word in die boek. Die oorgrote meerderheid van die boek vertel maar van die kameraspan se besoeke aan die onderskeie stede en ander toeristeaantreklikhede. Baie hiervan is swaar om te absorbeer, aangesien dit ’n totale ander kultuur is as ons eie Suid-Afrika, met vreemde woorde en gebruike. Om ’n plek soos Japan behoorlik vir die leser te kontekstualiseer, moet aan die onmoontlike grens. Die span beleef egter baie avonture en dit maak vir ’n lekker ontspanne boek om te lees. Hulle klim onder meer die berg Fuji, woon rugbywedstryde by en neem deel aan ’n sumo-geveg. Sumo is Japan se nasionale sport en die mense is nog nie so groot op rugby soos ons Suid-Afrikaners nie, maar rugby se gewildheid groei gewis. 

Mens kry nie sommer elke dag die kans om veel oor Japan te lees nie, en dit nogal in Afrikaans. Ek het dalk ook nie hoë verwagtinge gehad nie en is daarom nie juis teleurgestel nie. Die boek laat my egter ook nie buitengewoon opgewonde nie. Ek dink van die kritiek wat reeds oor hierdie boek uitgespreek is, is wel geldig. Maar ek sal ook nou nie iemand afraai om dit te lees nie. Soos die titel aandui, word daar baie op kos gefokus. Baie van hierdie kossoorte is vir my net vreemde woorde. Dit gaan so vinnig verby soos wat dit aankom.

Die lekkerste gedagte is die vraag wat Grundling op bladsy 245 stel: “Gaan 2019 weer ons jaar wees?” Ja! Dit was toe die geval. ’n Goue jaar vir ons geliefde rugby.  

Lees ook:

Skrywersonderhoud met Ernst Grundling oor Sushi en Shosholoza

Resensie: Sushi en Shosholoza – Rugbyreise en pelgrimstogte in Japan deur Erns Grundling

Video: Book Lounge-bekendstelling van Sushi en shosholoza deur Erns Grundling

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top