Skrywersonderhoud met Ernst Grundling oor Sushi en Shosholoza

  • 2

Sushi en Shosholoza
Erns Grundling
ISBN: 9780795802102
NB-Uitgewers

Erns Grundling praat met Naomi Meyer oor sy boek Sushi en Shosholoza.

Erns, baie geluk met die verskyning van Sushi en Shosholoza. Sushi staan tot “Shosholoza” soos rugbyreise teenoor pelgrimstogte, maar in omgekeerde volgorde. Vertel vir my wat is vir jou die verwantskappe en die verskille tussen hierdie onderwerpe - die land Japan, jou reise hier en dan iets so aards soos rugby.

Ek wou met die boek se titel – behalwe natuurlik vir lekker klankherhaling én iets wat 'n mens nie maklik ná drie drankies kan uitspreek nie – fokus op Japan en rugby. Ek dink vir die meeste Suid-Afrikaners is soesji dalk die maklikste assosiasie met Japan, en "Shosholoza" het reeds met ons eerste roemryke Wêreldrugbybeker in 1995 deel van ons land se kollektiewe onbewuste geword. Ek dink met die Wêreldrugbybekertoernooi wat tans in Japan plaasvind (die eerste keer dat hierdie toernooi in Asië aangebied word), en met die komende Olimpiese Spele in Tokio in 2020, gaan Japan dalk nou meer as ooit tevore op Suid-Afrikaners se radar wees. Ek het veral in Japan geleer hoe belangrik harmonie is – dit is 'n integrale deel van die Japannese kultuur. Harmonie tussen mense tot so 'n mate dat kollektiewe belange ver bó die individu s'n geskat word. Maar ook harmonie tussen die mens en die natuur. Dalk is dit te ambisieus om met die boek se titel 'n tipe harmonie tussen die estetika van soesji en die aardsheid van rugby te probeer bewerkstellig – maar ek hou baie van albei. Dit is veral lekker om in Japan soesji te eet terwyl jy rugby kyk!

Ek sien op die voorblad 'n ooreenkoms tussen rugby en Japan: die soesji-rugbybal. Vertel my wat jy dink van Japan se kos. Hou jy daarvan? Enige nuwe ontdekkings?

Kyk, ek hou van kos, enige kos, tot op die punt dat ek gereeld met gewigsprobleme sukkel. Baie mense het al vir my gesê ek lyk op my gelukkigste wanneer ek lekker eet. Maar ek geniet veral Japannese kos: ek is 'n soesji-slaaf, maar hou ook baie van udon, ramen en soba. In Japan is tempura – diepgebraaide groente of vleis en vis – ook baie gewild. En Japannese kerrie is 'n onderskatte bakkie vol bederf, hoewel die sous dikwels oorheers. Ek moet bieg, ek het al 'n paar "vreemde" maaltye in Japan gehad: fugu (blaasoppie), seekastaiings en selfs enkele stukkies perd-sasjimi. Maar in die algemeen is Japannese cuisine nie te vreemd nie. Rys is 'n stapelvoedsel, en hier is volop vis- en vleisgeregte. Die Wagyu-beesvleis het my aangenaam verras: peperduur, maar buitengewoon sag en sappig.

Jy het al so baie rondgereis. Wat is vir jou uniek aan Japan en jou reise daar? Vertel my ook van die eerste keer toe jy daarheen gegaan het. Was die land soos wat jy gedink het dit sou wees? En wat het jou dalk onkant gevang?

Japan was vir lánk, rofweg tydens die Edo-periode tussen 1603 en 1868, geïsoleer van die buitewêreld. Omtrent slegs die VOC het in daardie tyd met Japan handel gedryf (selfs Jan van Riebeeck het in die 1640’s 'n draai in Japan gemaak). Die Edo-periode was 'n bloeitydperk van Japannese kultuur, ekonomiese groei, en die vestiging van 'n sosiale orde. Ek dink hierdie isolasie van meer as 250 jaar het 'n blywende invloed op Japannese kultuur gehad. Dit is vandag steeds 'n baie eiesoortige kultuur, maar ook natuurlik hipermodern in die groot stede. Die eerste keer toe ek die land besoek het, was dit heeltemal oorweldigend, maar nie op 'n negatiewe manier nie. Ek skryf daaroor in die boek, waar ek vir die eerste keer in Tokio by die Shibuya Crossing – die besigste voetoorgang op aarde – staan en voel of ek op 'n ander planeet is. Ek het doelbewus nie te veel navorsing vooraf gedoen of groot verwagtinge gehad nie. Die frase "alles werk" is iets wat 'n mens baie in Japan hoor, en dit is 'n feit. Die samelewing is onderdanig en ordelik, die publieke vervoer is byna pynlik stiptelik, dit is skoon en veilig, die mense is hoflik en vriendelik, maar ek dink as Westerling gaan jy altyd 'n buitestander wees. Japan is 'n stil land – ek dink die byna doodse stilte op treine het my aanvanklik 'n bietjie onkant gevang. Niemand praat eers op hulle fone op 'n trein nie, maar almal is diep doenig op hulle slimfone: kyk video’s, speel speletjies, chat ens. Wat het hulle voor slimfone gedoen? Boeke gelees? Dalk meer met mekaar gesels?

Skielik is Japan 'n baie meer gedugte sportland, of dalk voel dit net so omdat die Springbokke hulle rieme teen Japan styfgeloop het. Hoe ervaar jy die Japannese manier van leef en hul ondersteuning van sport anders as die Suid-Afrikaanse manier van doen? Is rugby in Japan ook 'n soort geloof?

Sumo is Japan se nasionale sport, en wat gewildheid betref, staan rugby agter in die tou ná bofbal, sokker en basketbal. Japan se beroemde skokoorwinning oor die Springbokke tydens die vorige Wêreldrugbybeker het wel vir 'n tipe rugbyrevolusie in Japan gesorg. Skielik het miljoene Japannese vir die eerste keer van rugby kennis geneem. En met Japan se onlangse oorwinning oor Ierland in die huidige toernooi het rugbykoors behoorlik in Japan uitgebreek. Tog bly dit interessant hoe Japannese rugbyondersteuners optree: steeds ordelik en bedagsaam – hulle sal saam hande klap en "Nippon! Nippon!" ("Japan! Japan!”) uitroep, en natuurlik mekaar omhels en luidkeels skreeu as Japan wen. Maar hier is nie Japannese hooligans nie, en ek het nog nie een Japannees hoor "Boo!" skreeu by 'n rugbywedstryd nie.

Hoe het jou reise en ervarings in Japan jóú verander? En wat het jou geïnspireer om hierdie boek te skryf?

Ek is nie een vir grootskaalse veranderings of massiewe ingrypings of bekerings nie. Ek dink werklike verandering is iets wat, indien dit gebeur, stadig en subtiel plaasvind. Om in Japan te reis is wel 'n openbaring, en het die potensiaal om die manier waarop jy na ander mense – en na jouself – kyk, te verander. Ek is nou vir die tweede keer in Japan en ek vind die land ewe oorweldigend én inspirerend as tydens my eerste besoek. Wat die inspirasie vir die boek betref: Ek het met die skiet van die kykNET-reeks Elders: Japan in Oktober en November verlede jaar die geleentheid gekry om vyf weke lank in Japan te reis. Ek en die kameraspan het onsself oor 'n mik gewerk om 13 episodes te skiet, maar ek het reeds vooraf besluit om ook 'n boek oor die reis deur Japan te skryf. Ek wou met die boek meer van 'n persoonlike blik op my en die kameraspan se reis skryf, en ook baie van die inhoud en onderhoude waarvoor daar nie tyd in die TV-reeks was nie, in die boek insluit of uitbou. Soos in my vorige reisboek, Elders, het ek ook tussendeur die reisbeskrywings 'n paar terugflitse na jeugherinneringe ingesluit, veral dié wat met rugby te doen het of wat hulle onwillekeurig by my aangemeld het tydens die reis deur Japan. Die boek het 'n rugbyfokus, maar ek skryf ook breedvoerig oor staptogte soos die Kumano Kodo en die Nakasendo. Ek sou myself nie uitgee as 'n kenner van Japannese kultuur nie – ek is veel eerder maar net 'n nuuskierige, lomperige, amper veertigjarige vent wat hou van soesji en alliterasie.

Hier is nog besonderhede van Sushi en Shosholoza se boektoer:

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Philippus Janse van Rensburg.

    Hierdie(amper) jongerige man het my net elke keer verras met sy ongewone aanslag op reis! Van destydse joernalis by "Weg" tot op kykNET het hy my geboei met sy ongewoon/gewone manier om jou oë oop te maak!

  • Avatar
    Henri Craemer

    Dit klink na 'n fasinerende boek. Ek het groot respek vir die Japanese kultuur ontwikkel a.g.v. my blootstelling aan die vegkunste.
    Our die boektoer: waar in Jhb? Ek sal baie graag daar wil wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top