Resensie: Sushi en Shosholoza – Rugbyreise en pelgrimstogte in Japan deur Erns Grundling

  • 1

Sushi en Shosholoza – Rugbyreise en pelgrimstogte in Japan
Erns Grundling
Uitgewer: Queillerie

ISBN: 9780795802133

’n Enkele salm nigiri, só geplaas dat dit lyk soos ’n rugbybal wat geplant is vir ’n stelskop pale toe. Die son sak (of in hierdie geval kom dit waarskynlik op – ons praat immers van Japan) agter ’n versameling bome wat die netjies-gesnyde grasperk waarop die stukkie soesji staan, begrens. Bekyk mens die voorblad van die boek, tesame met die titel, is daar nie veel onduidelikheid oor wat die leser te wagte kan wees nie. Agterop is daar selfs nog méér leidrade:

Sushi en Shosholoza is Erns se verslag oor hierdie reis na Japan. Tussen pelgrimstogte soos Kumano Kodo, die Camino se sustersroete, die uitklim van Mount Fuji en onderhoude met SA rugbyspelers (en sendelinge) in Japan – ook met Dan Carter én Jake White – kry lesers nes in Elders terugflitse na Erns se jeug.

Voor jy nog begin lees, is dit dus heel duidelik dat hierdie boek oor ’n paar baie spesifieke dinge gaan handel: rugby, etlike kilometer se gestappery en baie geselsies met interessante mense. Met ’n lekker ou stukkie heimwee tussenin, net vir die wis en die onwis. Met die 2019-Wêreldrugbybeker toe nog om die draai, het Erns dit goedgedink om sy Elders-Camino-ervaring (sy topverkoperboek Elders, wat handel oor die Spaanse Camino, is vir kykNET verfilm) te herhaal, dié slag met ’n Oosterse geurtjie en ’n stewige skoot rugby daarby. Waar beter as in die land waar genoemde sportgebeurtenis plaasvind? Nêrens blyk dit egter dat hy ’n poging tot ’n Lonely Planet-tipe gids vir ’n voornemende reisiger na Japan gaan voorlê nie. Om die waarheid te sê, indien jy ver genoeg in die boek vorder, sien jy dat hy dit onomwonde stel: “Vroeër jare het ek gedink dit moet een van die lekkerste beroepe wees om te kan reis en gidse vir byvoorbeeld Lonely Planet te kan skryf. Vandag weet ek al daardie detail sou my teen die mure uit dryf” (bl 202).

Asof dit nie genoeg is nie, laat val hy op ’n paar plekke dat hy waarskynlik nie voldoende tyd aan sy navorsing vir hulle reis spandeer het nie: “Hoe kon ek dít nie geweet het nie? Ek wil myself skop dat ek nie vooraf meer deeglike navorsing oor Suid-Afrikaanse spelers in Japan gedoen het nie” (186). Met ander woorde, Erns en sy span was duidelik besig om ook maar baie van hulle aktiwiteite en onderhoude sommer net te wing. Daar is wild en wakker uit die heup geskiet en impulsiewe besluite is geneem wat soms, en soms nie, vrugte afgewerp het. En hoekom nie? Daar is tog nie net één stel reëls vir reisigers en storievertellers nie?

Groot was my verbasing toe ek Marian van Wyk se resensie, “Rys en rugby: Ego duik boek plat”, in Rapport van 22 September 2019 onder oë kry. In ’n neutedop beskou sy Erns se mymeringe, terugflitse, ag, alles wat hy sê en doen, as “irrelevant”, “vervelig”, “oppervlakkig”, “sonder insig”, “angstig” en “egoïsties”. Sjoe. Selfs die berugte Crito kon nie anders as om hierop kommentaar te lewer nie: “Mens snap dat Van Wyk au fait is met Japan en Japanse kultuur; die doel van die resensie is egter om aan te toon of Sushi en Shosholoza ’n goeie, leesbare boek is of nie, en nie om te bewys dat die resensent die boek beter sou geskryf het en ook beter toegerus is om ’n projek soos hierdie aan te pak as Grundling nie.”

Gelukkig het ek die boek gelees voor ek Van Wyk se resensie gelees het, want my beskouing van die boek is heelwat minder brutaal. Ja, Grundling kon waarskynlik met groter begrip (en dalk selfs meer respek) met die Japannese kodes en kultuur omgegaan het. Miskien wás die herhaaldelike verwysings na sy verskeie borge effe lastig. Natuurlik kon hy vir bladsye aanmekaar uitgewei het oor die Japannese se voorliefde vir die absurde, en as hy Anthony Bourdain was, kon hy beslis selfs méér aandag aan die land se vreemde spys en drank geskenk het. Maar, hy het nou nie. En hy is ook nie Anthony Bourdain nie. Erns het wel sy eie, unieke ervaring in Japan gehad en dié boek is die baie genotvolle en leesbare eindresultaat van sy vyf weke in “die land van die opkomende son”. Die doel van die oefening was ondubbelsinnig – Erns wou weer, soos met die Camino, ’n pelgrimstog of twee aandurf, en hy wou praat oor rugby, met rugbyspelers, as dit kon. Check en check. Die weer was hulle goedgesind en die wens om die berg Foedji uit te klim, is ook verwesenlik. Al hierdie genoemde wedervaringe is in ’n gemaklike verteltrant oorgedra, so asof hy sy dag se avonture sommer so oor ’n WhatsApp-stemboodskap met jou deel.

Vroeg-vroeg reeds word Grundling se effe droë en aweregse sin vir humor duidelik, en die toon van die boek slaan sterk deur in paragrawe soos dié:

Met puberteit om die draai en Noord-Transvaal op pad na nóg ‘n Curriebeker-eindstryd, het my ma dit goedgedink om een middag ná skool dr Jan van Elfen se Wat seuns wil weet en Edward Griffiths se Naas Botha-biografie (bloot getiteld Naas) heel diskreet op my bed neer te sit. Ek weet nie wat Freud hiervan sou sê nie, maar ek het albei boeke met groot ywer begin lees, sommer in tandem. Ek het nooit weer dieselfde na meisies óf na Naas Botha gekyk nie. (18)

Indien mens geen belang by rugby het nie, en nie ’n bloue duit omgee wie Dan Carter of Frans “Domkrag” Erasmus is nie, gaan die boek jou bes moontlik verveel. As jy egter saam met die res van Suid-Afrika gejuig het oor die grootse oorwinning van Siya Kolisi en sy manne, sal die verskeie rugbystaaltjies in aanloop tot genoemde oorwinning jou eindelose plesier verskaf. Mens lees verskeie sinne raak en kan nie anders as om breed te glimlag nie. Retrospeksie is mos nét soms ’n wonderlike ding:

“Jy moenie hoop nie,” sê hy [Jake White] met die insig en ervaring van iemand wat al die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het. ‘Jy moet gló hulle speel in die finaal. Daar’s ‘n helse verskil. (86)

Die groepwedstryde mag dalk net só uitwerk dat Japan in ‘n kwarteindwedstryd teen die Bokke speel. “Dit sal nogal ietsie spesiaal wees,” sê Wimpie [van der Walt]. “Ek dink die familie sal my dan nie ondersteun vir daai wedstryd nie.” (198) [Dit hét toe so uitgewerk. Sal iemand vir Wimpie vra of sy familie hulle groen-en-goud aangehad het daai dag?]

My oog soek en vind dié woorde op die Webb Ellis-trofee: “1995 SOUTH AFRICA … 2007 SOUTH AFRICA.” Gaan 2019 weer ons jaar wees? (245)

Op Saterdag 2 November 2019 gaan die nuwe wêreldkampioen in hierdie einste stadion die Webb Ellis-trofee lig. Hoe het Jake White gesê? Ek moenie hoop nie, ek moet glo. Bokke, bring die beker huis toe, asseblief. Ons land het dit nodig. (253)

Die Bokke het gehoor gegee en het die beker huis toe gebring. Baie mense is dit eens: Ons land het dié oorwinning bitter nodig gehad.

Sushi en Shosholoza bied ’n vermaaklike vooruitskouende perspektief op hierdie geskiedkundige sportgebeurtenis, deur ’n skrywer met ’n groot voorliefde vir die spel. Verskeie terugflitse na sorgvrye tye saam met sy pa by die Boet Erasmus-stadion en die magteloosheid van ’n OP-ondersteuner in die ’80’s is allermins vervelig of egoïsties. Dis nostalgies en lieflik en presies wat die leser van die boek sou verwag. Daarmee saam kry jy die bonus van soesji in stede van biltong, die Kumano in stede van die Camino, en uiteindelik ’n eiesoortige blik op ’n land wat vir die meeste van ons steeds maar volksvreemd en misterieus is. Die boek en die Wêreldrugbybeker ten spyt.

 

Kom luister by die Toyota US Woordfees na die gesprek "Erns Grundling: Sushi en shosholoza": Woensdag, 11 Maart om 11:30 by die boektent.

 

Lees ook:

Skrywersonderhoud met Ernst Grundling oor Sushi en Shosholoza

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Ek dink dit is 'n boek wat ek sal geniet, as 'n rugbyliefhebber, maar ek kan dink hoekom nie almal daarvan sal hou nie, en dis ook mos maar goed so.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top