Lesersindruk: Oopmond deur Jan Vermeulen

  • 1

Oopmond
Jan Vermeulen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799389319

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Oopmond is ’n jeugroman wat in 2017 die wenner was van die LAPA-Jeugromankompetisie. Maar hierdie boek het my verras – ek sou sê die storie bied iets redelik vars, iets wat waarskynlik nie slegs deur tieners waardeer sal word nie. Daar is mense wat die boek as wetenskapsfiksie beskryf, en dit is inderdaad wat dit is. Die storie handel primêr oor harte. Tienerharte, ja, goed en wel, dit ook. Maar ’n hart, ’n spesifieke letterlike hart. Die hart van Madelaine Taaibosch. Madelaine is ’n skolier in Kaapstad, maar sy sit met ’n ernstige hartkondisie. Die storie begin egter waar sy reeds ’n hartoorplanting ontvang het. Haar jonger broer is oorlede weens die hartkwaal wat in die familie loop. Maar Madelaine kry ’n nuwe hart.

Maar Madelaine se nuwe hart blyk probleme op die atletiekbaan te gee, en atletiek is ’n sport waarin sy uitblink. Dinge verander drasties vir haar die dag toe sy ’n nuwe katel kry. Wel, dis eintlik ’n ou katel. Eintlik stokoud. Maar dit beland in die Taaibosche se huis. En met hierdie katel begin Madelaine se tydreise na die verlede. Die bed ontsluit vir haar die verhaal van haar hart oor drie eeue, waar sy manifesteer as historiese karakters in haar voorgeslagte. Natuurlik kan sy dit nie vir haarself hou nie, en begin kort voor lank met haar ouers, onderwysers en portuur praat oor haar tydreise. Dit veroorsaak natuurlik reusekonsternasie onder haar geliefdes en hulle wil haar pal by ’n psigoloog kry om die “probleem” op te los. Dit word later so erg dat haar ouers begin beplan om van die katel ontslae te raak, maar Madelaine is teen dié tyd desperaat om met behulp van haar “hemelbed” die volle prentjie uit die verlede te gaan opdelf.

Natuurlik het Madelaine ’n flame, en sy naam is Stian. Maar dinge is van meet af aan nie lekker tussen die tweetjies nie. En dit is veral ook wanneer Brand in die prentjie kom wat dinge regtig deurmekaar raak. Brand help Madelaine om haar stamboom te ontrafel, maar daar is baie meer aan hom, wat die intrige van die verhaal sommer ’n hele klompie grade opstoot. Die losbandigheid van die karakter Wendy kan dalk sommige lesers ongemaklik laat. Wendy is Madelaine se beste vriendin (haar “bestie”), maar die twee het totaal verskillende maniere. Op ’n stadium raak Wendy siek, en sy begin vrees dat sy dalk swanger kan wees. Behalwe vir die spanning wat ’n swangerskap in haar ouerhuis sal veroorsaak, is haar grootste vrees dat sy nie sal kan sê wie presies die pa van die kind is nie. Daarteenoor is Madelaine meer kuis. Stian veroordeel vir Wendy oor haar losbandigheid, maar die les wat uiteindelik hieruit kom, is dat die mens te vinnig en te maklik klippe gooi.

Wetenskapsfiksie is iets waarvan ek baie meer in Afrikaans sou wou sien. Die bekendste wetenskapsfiksie in Afrikaans is moontlik Langenhoven se Loeloeraai. Baie moderne Afrikaanse wetenskapsfiksie is kinderboeke, soos byvoorbeeld die boeke van Jaco Jacobs. Dit verbaas my dus geensins dat Oopmond as ’n pryswenner beskou word nie. Ek dink die boek gaan baie gewild wees. Die verhaal se ontknoping het ek ook glad nie voorspel nie. Oopmond is nie die gewone happy endings-tipe boek nie. Die boek is deurgaans so ietwat meer genuanseerd as dit. Dit is presies wat die boek so ’n aangename verrassing maak.

Lees ook:

Skrywersonderhoud: Jan Vermeulen praat oor sy boek Oopmond

Lesersindruk: Oopmond deur Jan Vermeulen

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Coenraad Walters

    Ek kan maar net saamstem! Dit is ’n verhaal waarvan die opwinding veral in sy buitenissigheid, sy onverwagse andersheid lê. Hopelik sal voorskryfpanele dit gunstig oorweeg: dis een manier om te sorg dat dié besondere verhaal wyd gelees word - soos dit terdeë verdien.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top