Lesersindruk: Oopmond deur Jan Vermeulen

  • 0

Oopmond
Jan Vermeulen

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799389319

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Hierdie was een van die lekkerste beurtkragboeke wat ek nóg gelees het. Alhoewel dit as ʼn jeugboek geklassifiseer word, sal enige leser dit boeiend vind. Daar skuil egter iets dieper agter hierdie verhaal as die blote tienerromanse. Dit is ʼn plakboek van herinneringe, ervarings en ongelooflike tydreise.

Die boek handel grootliks oor die herstel van oorplantingspasiënte na die oorplanting. Die hoofkarakter is ʼn langafstandatleet wat ʼn hartoorplanting ondergaan het. Madeleine Taaibosch se verhaal begin agt maande na haar hartoorplanting, wanneer sy ’n hartstilstand ervaar tydens haar eerste atletiekbyeenkoms. Haar hart toon die simptome van 'n gebroke hart, ʼn mediese toestand waar die hartspier nie reg funksioneer nie, maar dokters kan geen fisieke rede vir haar simptome vind nie.

Dan is daar Camille, wat net aan Madeleine verskyn, wie se naam onder Madeleine se hemelbed ingekerf is. Die derde vrou wat ʼn sentrale rol speel, is Madeleine se ooroumagrootjie, Koba van Tonder. Sy het die Anglo-Boereoorlog deurleef en is die rede vir haar eerste liefde se dood. Sy het wonderbaarlik die konsentrasiekamp oorleef en toe met oom Lang Piet getrou. 

Madelein reis verskeie kere, met behulp van haar antieke wekker en hemelbed, tussen meer as 300 jaar se geskiedkundige gebeurtenisse – groot gebeurtenisse soos die Franse Hugenote se vlug na Suid-Afrika en die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902. Op een so 'n reis beleef sy 'n liefdesdriehoek aan boord van die Vosmaer wat vanaf Wielingen, Nederland na die Kaap gereis het met Hugenootvlugtelinge aan boord.

Jan Vermeulen het reeds op veertienjarige ouderdom sy eerste kortverhaal gepubliseer, in die jeugtydskrif Patrys. Sy debuutroman, Die laaste dans, verskyn in 1998 en sy eerste jeugboek, Geraamtes dra nie klere nie, verskyn in 2000. Dit is onder andere bekroon met die Sanlamprys (goud), die MER-prys, die Scheepersprys en ʼn ATKV-kinderboektoekenning. Dit is dus nie buitengewoon dat Oopmond (2019) die wenner van die 2017-LAPA-jeugromankompetisie was nie. Vermeulen is tans ook op die kortlys vir die 2019-LAPA-jeugromankompetisie, vir sy boek met die titel Baster.

Oopmond (2019) is ʼn verrassende boek met verskillende verhaallyne wat oor mekaar gevleg word en aan die einde tot 'n verenigde geheel saamvloei. Daar kan gesê word dat hierdie boek 'n mengsel van wetenskapfiksie, romanse en ʼn tipe generasieverhaal is.

Die titel laat reeds die leser wonder watter verbintenis daar is tussen ʼn hartoorplanting, die titel en die horlosie op die voorblad. In hierdie geval is daar verskeie simboliese afleidings te make, maar daar is meer agter die store as om net voluit te lewe.

Oopmond kan ʼn subtiele verwysing wees na die oopmaak van die deur na die onbewuste. Veral omdat die karakter gereeld die onderwerp ophaal om oopkop te wees. Die konsepte wat na vore tree, is dié van Carl Jung.

Jung het aanvanklik Freudiaanse teorie aangehang en onderskryf, maar het later sy eie perspektiewe en konsepte begin ontwikkel, soos dié van ʼn kollektiewe onbewuste en argetipes. Jung onderskei tussen die persoonlike en kollektiewe onbewuste. Die kollektiewe onbewuste bevat ʼn kollektiewe oorgeërfde inhoud wat bestaan uit instinkte en argetipes (Hyde, McGuinness en Pugh 2015:155). Argetipes kan beskryf word as primordiale vorme van persepsie en dit word vergestalt deur middel van simbole wat as universeel beskou word. Hierdie simbole is gelaai met emosie en kan selfstandig funksioneer (Hyde, McGuinness en Pugh 2015:151), byvoorbeeld ʼn kruis, wat die dood of geloof universeel simboliseer.

Die aspek wat Jung ʼn gepaste lens maak om hierdie verhaal te beskou, is die rol wat die see speel. Jung vereenselwig die onbewuste in geheel met die see, omdat dit vloeibaar is ten opsigte van emosie: van kalmte tot storms en diep geheime met monsters (Hyde, McGuinness en Pugh 2015:155). Die hemelbed, die voorwerp wat al die vroue se verhale verbind het, het saam met Madelaine Taillefert en Camille Bissau oor die see gereis. Dit is dan ook hier waar die eerste liefdesdriehoek tot ʼn tragiese einde kom.

Camille en haar hemelbed is die duidelikste voorbeeld van ʼn argetipe in hierdie jeugroman. Die verskillende vroue – Koba van Tonder, Madelaine Taillefert en Madelaine Taaibosch – kan gesien word as ʼn kollektiewe onbewuste wat oor generasies strek. Die hemelbed is die simbool wat die argetipe van ʼn minnares of liefdesdriehoek aktiveer. Alhoewel hierdie liefdedriehoeke nie die morele huwelik verbreek het nie, is dit steeds ʼn argetipe van ʼn minnares. Koba se geliefde Buks Malan was slegs verloof aan Antoinette Pascal, en Camille Bissau was nie eers verloof aan Hildebrand van Solms nie, tog is die argetipe van ʼn “ander vrou” steeds die gemene deler.

Daar word hier gespeel met ʼn herhalende ironie wat donker word met tye: Daar is ʼn swaardgeveg en bloedvlekke betrokke. Die ironie van die verhouding wat verbreek word deur die dood (as gevolg van ʼn ander vrou), word deur vier generasies herhaal. Die argetipiese liefdesdriehoek word elke keer verbreek met die dood van die man tussen die twee vroue, totdat Madelaine Taaibosch ingryp. Wat om te doen om hierdie 300 jaar lange herhalende liefdesdriehoek op te los, sal ek nie verklap nie, maar wees gewaarsku, dis ʼn leesreis binne ʼn tydreis wat enige leser se verbeelding sal aangryp.

Hierdie roman bring ʼn gevestigde konsep op ʼn vars manier na jonger lesers. Die geskiedenis word kreatief betrek deur tydreise, waar die bekende verloop van die geskiedenis van Suid-Afrika betrek word. Die Anglo-Boereoorlog, die konsentrasiekampe en die ervarings van Koba wat vertel word as drome. Of is dit terugflitse? Die gebeure op die Vosmaer, waar nog ʼn geliefde met sy lewe betaal, speel af teen die agtergrond van die aankoms van die Franse Hugenote aan die Kaap.  

Daar word baie kreatief met perspektief gespeel waardeur die geskiedenis in die agtergrond geplaas word teenoor die liefdesverhoudings op die voorgrond en die integrasie van orgaanoorplantings en familiestambome en oorerflike toestande.

As jy iemand is wat aan tweede, of selfs derde lewens glo, óf dalk wonder oor tydreise, donkermaterie en die wonders van die heelal, is hierdie boek die boek vir jou.  

Bronnelys

Hyde, M, M McGuinness en O Pugh. 2015. Introducing Jung: A graphic guide. Icon Books Limited.

Meyer, N. 2019. Skrywersonderhoud: Jan Vermeulen praat oor sy boek Oopmond. LitNet. https://www.litnet.co.za/skrywersonderhoud-jan-vermeulen-praat-oor-sy-boek-oopmond (29 Januarie 2020 besoek).

Lees ook:

Skrywersonderhoud: Jan Vermeulen praat oor sy boek Oopmond

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top