Lesersindruk: Kyk na my deur Nataniël

  • 0

Kyk na my
Nataniël

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179935

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Die naam Nataniël maak vele herinneringe in my wakker. Van Nataniël self, het ek onlangs tot my skaamte besef, weet ek eintlik baie min. Dit was nooit vir my belangrik om meer van hom te weet nie, want dit gaan meer oor wat hy verteenwoordig. Maar so met tyd ontdek ek meer van die man. Ek ontdek Nataniël se loopbaan het hier iewers in die middel-1980’s begin. Dit was die tyd toe ek gebore is. En hier en daar duik brokkies en stukkies oor homself uit sy vertellinge en skrywes op. Maar ’n volle biografie, selfs geskryf in opsommende ensiklopedievorm, het ek waarlik nog nooit onder oë gehad tot onlangs nie. Maar dit maak ook nie eintlik saak nie. Want wat belangrik is, is wat Nataniël verteenwoordig. Toe ek my breins gekry het, was Nataniël al bekend as sanger, kunstenaar, glanspersoonlikheid, skrywer en TV-aanbieder. Gedurende die beginjare van sy loopbaan was Suid-Afrika gewikkel in ’n bloedige oorgang van minderheidsregering na demokrasie. Suid-Afrika se blanke bevolking is in dié jare vir baie mense versinnebeeld deur mense soos Eugène Terre’Blache en die Afrikaner Weerstandseweging (AWB). Ja, ons het grootgeword in wat die geleerdes deesdae ’n heteronormatiewe samelewing noem. Ons leef tot vandag toe nog in so ’n wêreld. Hoewel heelwat afgewater darem. Patriargaal. Genderstereotiperend. Waar ons almal onder stereotipes gebuk gaan.  Nataniël was en is alles wat ons nie was nie. En tog is hy een van “ons”. Hy is Afrikaans.

Daar lê ’n lang lys publikasies op Nataniël se kerfstok. Van al hierdie boeke het ek ongelukkig nie eens die helfte gelees nie. Mens se leeslysie bly mos maar eenvoudig altyd te lank vir alles wat jy wil. Maar dit wat ek wel gelees het, het my nog nooit teleurgestel nie. Ek is deel van daardie koor wat, vra jy my oor Nataniël, dan sal ek antwoord: Ek hou van sy skryfwerk, maar sukkel om aan sy musiek vat te kry. Mens woon sy vertonings by veel eerder om te gaan hoor wat hy alles kwytraak as om na sy musiek te luister. Maar dit wat hy oor die jare geskryf het in tydskrifte, dit het jou belangstelling in hom geprikkel. In sy nuwe boek, Kyk na my, val die fokus op sy kinderjare. Die boek neem die leser op reis deur die 1970’s, die platteland, die modes, die mense. Uit die aard van die saak het Nataniël natuurlik heelwat om te sê oor die modes uit daardie tyd. Die boek is nie ’n outobiografie nie, maar ’n memoir van die skrywer se kinderjare. Die familie het op ’n aantal dorpe gewoon, waar die vertellinge in die boek afspeel.

In sy skryfwerk en sketse speel Nataniël se ouma dikwels ’n belangrike rol. Lesers word in Kyk na my getrakteer op baie meer vertellinge oor sy ouma. Hy skryf oor die huise waarin hulle gewoon het. Die dinge wat hulle gedoen het. Sy onderwysers. Veral sy kunsonderwyser, wat ’n groot invloed op hom gehad het. En ook belangrik, die musiek. Die klavier en die klavierlesse. Sy pa sou later ’n teoloog word en die familie het na Kuilsrivier getrek, waar ’n hele wêreld vir hom oopgegaan het. Die boek vertel natuurlik ook baie oor kos. Kos en kosmaak vorm ’n belangrike verlengstuk van die Nataniël-handelsmerk. Die belangstelling in die fynere dinge van die lewe. Skoonheid en kunste. Dit loop soos ’n goue draad regdeur die hele boek. Aan sport had hy egter weinig sin – tog jammer, want wat is sport dan anders as kuns? Maar nou ja, almal kan nie in alles belangstel nie.

Kyk na my is nie swaar leesstof nie. Dit is die ideale boek om te lees as mens sommer net wil ontspan. In sy tipiese styl is Nataniël se jeugmemoir geskryf in keurige Afrikaans. Opsommend sou ek sê dat Nataniël se gewone aanhangers hierdie boek baie sal geniet.

Die boek sal nie sy tipiese aanhangers teleurstel nie. Inteendeel. En diegene wat dalk skepties staan en nog nooit iets enigiets gelees het wat Nataniël geskryf het nie (op watter planeet woon u?), moet hulself tog die guns doen en een keer in hulle lewens in een van Nataniël se boeke belê. Kyk na my is ’n boek met wonderlike besonderhede. Baie lesers gaan dalk hulle eie lewenstorie in die vertelling kan inlees. Die lewe op die platteland. Die karakters uit Nataniël se jeug. Sy skooljare en die onderwysers. Dit als dokumenteer ’n tyd wat vir goed verby is en waarvan slegs die herinneringe nog voortleef.

Lees ook:

Skrywersonderhoud: Nataniël oor kunstenaarskap en Kyk na my

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top