Skrywersonderhoud: Nataniël oor kunstenaarskap en Kyk na my

  • 3

Remona Voges het met Nataniël oor  sy boek Kyk na my en oor wat dit beteken om ’n kunstenaar te wees, gesels.

Kyk na my – Herinneringe aan ’n kindertyd
Nataniël
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179935

Nataniël, jy het al talle verhoogwerke, resepteboeke, rubrieke en ander boeke agter jou naam. Wanneer het jy aan die idee gekom om ’n memoir oor jou kinderlewe te skryf? En hoekom wou jy spesifiek op jou kinderjare fokus, eerder as jou lewe as volwassene?

My uitgewer het my herhaaldelik gevra om ’n boek oor my kindertyd te skryf – ek sou nooit self daaraan gedink het nie. Ek het deur die jare soveel stories op die verhoog vertel dat ek nie gedink het daar was nog iets om oor te skryf nie. Ek dink nie daar sal ooit ’n boek wees oor my volwassene-lewe nie – ek het eers twee jaar terug begin om te lewe. Die afgelope paar dekades het ek net gewerk, niks anders nie. Ek het ’n handjievol vriende en woon op my eie in absolute stilte. Daar kan niks méér vervelig wees om oor te skryf nie.

Nataniël in die laerskool (foto: verskaf)

Jy is een van Suid-Afrika se bekendste en mees geliefde storievertellers. Tog kan dit nie maklik wees om terug te klim in die vel van ’n kind of om ’n storie eerstehands deur die oë van ’n jongeling te vertel nie. Wat het jy gedoen om jouself weer terug in jou kinderskoene te sit?

Ek is altyd in my kinderskoene. Dit was die tyd toe ek die wêreld ontdek het, besluit het wat ek wil doen en tyd met my ouma – die mees opwindende mens wat ek nog ooit geken het – kon deurbring. Sodra jy ouer word, word verantwoordelikheid, finansies, verpligtinge en die smagting na prestasie ’n realiteit. Dis geen mense se keuse nie; dis wat die omgewing en oeroue reëls op jou afdwing.

Nataniël as kind by sy sandpunt (foto: verskaf)

Dit is baie duidelik uit die boek en ook in jou ander werk dat jou verbeeldingswêreld reeds as kind aangewakker en gevoed is. Dink jy dat vandag se kinders besig is om die vermoë te verloor om hul verbeelding te gebruik? Indien wel, wat kan ouers doen om dit te voorkom?

Bitter min ouers het ’n benul hoe groot die verbeelding en die waarnemingsvermoë van ’n kind is. In ’n klein koppie gaan meer aan as in ’n hele woonbuurt. As ouers hulle kinders toelaat om te ontdek, hulle foute te maak, hulle fantasieë te probeer uitleef en ook nie skaam te wees oor ’n eiesoortige kind nie, sal daar soveel meer emosioneel gesonde mense op die aarde rondloop.

Jy skryf in die boek daaroor, maar kan jy ons ’n bietjie vertel oor die foto van jou op die voorblad?

Dié foto van Nataniël verskyn op die voorblad van Kyk na my (foto: verskaf)

Ek het die foto ontdek eers nadat ek daaroor geskryf het en besluit om dit op die voorblad te gebruik. Ek was deel van twee operettes op laerskool en dit het my hele lewe verander. Die tweede een was met meer moeite aangebied, maar vir die eerste een moes ons self met ons ouers die kostuums maak. Ek was in my kamerjas met ’n papierkroon en ’n plastiekswaard – dit was die lelikste kostuum op aarde, maar ek was in vervoering en het dit vir dae gedra en my pa forseer om ’n foto te neem.

Dié vraag sluit aan by die vorige een. Jou liefde vir out there-kostuums het reeds op ’n baie jong ouderdom na vore gekom. Wat is van jou mees gewaagde, geliefde of onvergeetlike kostuums? Kan jy ’n bietjie daaroor vertel?

Nataniël op die verhoog (foto: verskaf)

My kostuums is soos lewende wesens – ek het nog almal en elkeen was op sy tyd my favourite. Jou nuutste kostuum moet altyd jou beste wees, anders is daar fout met jou werk. Ons probeer om altyd die voriges te oortref, al moet sommiges eenvoudig wees om by die vertoning te pas. Ek het al in alles verskyn, van g-strings tot 15 meter-jasse. In my beginjare was ek baie dapperder as nou – ek was soms verstom dat gehore bly sit het nadat ek met my verskriklik skraps goed verskyn het. Ek kon hulle nie eens in die argief hou nie, dit was net ’n rek of ’n strik of ’n blaar. Ek het ’n versameling kostuums wat op die oomblik ’n hele gebou beslaan en het geen idee wat eendag daarmee gaan gebeur nie!

Nataniël in een van sy kostuums (foto: verskaf)

Ek dink hierdie is ’n vraag waaroor baie van jou aanhangers wonder: Hoe onthou jy alles in soveel besonderhede? Herbesoek jy die plekke waaroor jy skryf? Of hou jy ’n joernaal aan? Het jy ’n fotografiese geheue? Of is jou hoofbestanddeel ’n gesonde skoot verbeelding?

Ek skryf altyd met verbeelding. Genoeg mense skryf die blote realiteit, maar my geheue is visueel, ek vergeet nooit die detail van iets wat my geroer het nie. Ek kan egter glad nie name onthou nie, nie mense, boeke, liedjies, geregte of plekke nie. Daarvoor moet ek elke keer familie of kennisse bel.

Ek weet dat daar baie is, maar as jy moet kies: Wat is een van jou kosbaarste herinneringe uit jou kinderjare?

Ek dink die ritte saam met Ouma en Oupa van Wellington na die Paarl. Die begraafplaas was net vyf minute ver, maar ons het altyd daar stilgehou en dan het Ouma padkos uitgepak. Vyf minute nadat ons vertrek het. Plaasbrood, frikkadelle, aartappelslaai en koffie met beskuit. Ons het op opvoustoele langs die grys Volksie gesit terwyl die heelal verbyjaag.

Nataniël as skoolseun (foto: verskaf)

Jy is ’n ongelooflik produktiewe kunstenaar. Het jy ’n baie streng roetine as dit by jou werk kom? Hoe lyk ’n werksdag in die lewe van Nataniël?

Ek staan bitter vroeg op en begin skryf. Sodra die eerste personeellid opdaag, is die stilte verby. Soggens bestaan uit vergaderings, repetisies en kooksessies vir nuwe projekte. Namiddae is ek op pad iewers heen vir ’n vertoning; snags kom ek gedaan by die huis, lees vir ’n uur uit een of ander boek en slaap dan vir ’n paar uur. Sondae is ek stoksielalleen om te herstel. Werk is my ding; dis wat ek die meeste geniet.

Vir iemand wat so mooi skryf, is dit kwalik ’n verrassing dat jy self ook baie lees. Watter boeke het jy onlangs gelees en watter sou jy aanbeveel?

Ek lees veral klassieke romans, báie geskiedenis- en debuutromans. Ek lees net Engels, sodat ek my skryfwerk kan verbeter. Op die oomblik lees ek Barbara Kingsolver se Unsheltered en Michael King se Lorien lost.

Dit het my by die lees van jou boek opgeval dat jy baie min oor maatjies of jou sibbe geskryf het. Het jy dit doelbewus so gedoen omdat jy met tye ’n soort randfiguur was? Of het ouer mense jou nog net van altyd af meer interesseer?

Kinders en jongmense het my van kleins af verveel; hulle het te min al beleef. Ouer mense – en hoe ouer hoe beter – was nog altyd fassinerend; hulle het wysheid (nie almal nie, maar dié wat ek opsoek), is vreesloos, eksentriek, reguit en vertel stories; hul huise is vol stokou boeke, voorwerpe uit die hele wêreld en klere wat niks met modes te doen het nie.

Hoe het jy die proses ervaar om op so ’n intieme wyse oor jou kinderjare te skryf? Was dit vir jou moeilik? Voel dit vir jou asof jy deur hierdie skryfproses ’n soort genesing gevind het of sekere dinge aanvaar het wat jy as kind miskien nie kon kleinkry nie?

Ek het gereeld gehuil omdat ek mense of oomblikke mis, nie omdat daar steeds ellende is nie. My storms is jare gelede al in terapie deurleef. My kindertyd was innerlik nie maklik nie. Die wêreld was en is steeds vreemd, maar daar was tye van absolute veiligheid en warmte en fantasie wat in ’n hedendaagse omgewing feitlik onmoontlik is om te herskep.

As kind was daar ’n hele klomp goed wat jou bang gemaak het. Wat maak jou vandag as grootmens bang?

Regerings en politiek. Die aarde word nie regeer deur slim mense nie – slimmes is besig met beter dinge as politiek. Politiek is georganiseerde boosheid, dis nie ’n “rigting” of ’n “talent” nie. Daar moet wragtig groot fout wees met iemand wat dink dis ’n waardige loopbaan. Die onnoselheid, gulsigheid, skelmheid, selfbeheptheid, verwoesting, wreedheid, selfsug, grootheidswaan en ooglopende aakligheid vervul my met vrees. Vieslike spul wêreldwyd.

Jy doen vanjaar ’n show by die Woordfees. Kan jy ons meer daaroor vertel?

Ek is volkome ongemaklik by feeste, almal weet dit. Die onnatuurlike teater-bubble en die samedromming gee my erge engtevrees, maar so af en toe val my suiker en dan oortuig iemand my om ja te sê. Ek het besluit om iets met net plesier en so min diepte as moontlik op die verhoog te sit, dus musiek uit die swing-era, fantastiese musikante, baldadige stories en soveel aanskoulike kostuums as moontlik.

 

Kom luister by die Toyota US Woordfees na
"Nataniël: Hoekom hulle swing": 10–12 Maart by die HMS Bloemhof Sentrum.

 

 

Met watter ander projekte hou jy jou op die oomblik besig? Kan lesers uitsien na nog ’n boek – miskien hierdie keer oor jou meer riskante adolessentejare of die nie-so-gemiddelde middeljare?

Daar verskyn ’n boek aan die einde van die jaar, maar beslis nie outobiografies nie. Ek en die pianis Charl du Plessis is vanjaar 20 jaar saam op die verhoog, en daar is verskeie konserte deur die jaar om dit te vier. Daar is ook ’n nuwe televisiereeks waaraan ek binnekort begin werk.

Die kunste is nie altyd ’n maklike bedryf om in te wees nie. Watter raad het jy vir jong kunstenaars?

Emigreer. Gaan oorwin die planeet en maak groot geld.

  • 3

Kommentaar

  • Nataniël is vir my die mees interessante mens ooit. Hy klim in jou binneste en woel daar. Hy laat mens selfondersoek doen vir wat jy is wat jy doen en waar jy wil wees.

    Sal graag sy boek vir my koop. O ja - oulike seuntjie!

  • Gustaf Claassens

    'n Eg en ware Suid Afrikaanse ikoon. Iemand wat gelukkigheid aan mense as geskenk gee. Enig in sy soort; lank leef Nataniël.

  • Lynne Eksteen

    Nataniël is one of the most talented people I have ever encountered. I have never had the privilege to attend any of his live shows. However, I read everything that he publishes and I am always left thinking about what he has said for days and then looking at the world from a different perspective. In my opinion not many people have the ability to do this.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top