Lesersindruk: Die seun met die swaeltjie deur Fanie Viljoen

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Die seun met die swaeltjie
Skrywer: Fanie Viljoen
ISBN: 9780637012614
Uitgewer: LAPA

...
Motho ke motho ka batho (’n Mens is ’n mens deur ander mense)
...

Hoe skryf ’n mens ’n indruk oor ’n boek as hy jou met ’n vuishou gevang het waar dit saak maak? Jou hart!

Is daar nog hoop in ’n land wat oral oorloop van die stukkend? Ons vra onsself sekerlik elke dag die vraag?

Die seun met die swaeltjie is ’n verhaal van te vroeg grootword omdat die lewe nie tyd het vir jou om te wag tot jy agtien is nie. Dis die verhaal van ’n seun, Tumelo, en sy sussie, Dikelele.

Sotho-name het altyd ’n dieper betekenis, iets wat my nog altyd fassineer. Dikelele beteken “trane”. So is hierdie ’n boek van seerkry, val, afstof en opstaan, weer val, en weer … Dit is ook ’n boek vol hoop en liefde wat onderstreep word deur ubuntu. Soos daar op bl 103 staan: “[F]amilie kom eerste, het sy vir my gesê.”

Wat sal jy als doen vir familie? Jou sussie agterlaat en gaan soek na jou pa? Hy is ’n pa wat gebreek is, as man van die huis, nadat hy sy werk verloor het en toe na ’n drankbottel gegryp het – soos so baie mense in Suid-Afrika doen, bloot net omdat hulle geen ander uitweg meer sien nie en dan die pyn probeer verdof. Party doen dit met drank ander met dwelms, of seks, ens.

Met net sy swaeltjie, wat hy versorg in ’n boks, pak Tumelo die reis aan om sy pa te gaan soek. Sy sussie sluit by hom aan en saam vat hulle die taxi na Johannesburg. Hier beland hulle in Hillbrow. Orals is plakkate. Verval is orals te sien. Straatverkopers. Dwelmsmouse. Fanie Viljoen verweef die beelde so meesterlik dat ’n mens voel of jy in die boks saam met Fumane (die swaeltjie) reis. Net soos wat Fumane swak en siek was en deurlopend sterker word om hopelik weer eendag te kan vlieg, so leer Tumelo en Dikeledi dat hulle ook eendag weer sal kan vlieg. “Ook is hy soos die swaeltjie. Kyk hoeveel het hy deurgemaak. En steeds staan hy” (114).

Woorde, beelde en karakters is meesterlik verweef in hierdie boek wat waarlik die titel Jeugromankompetisiewenner verdien. Ek kry ook sommer, soos Tumelo op bl 126, ’n “warm gevoel, soos ’n dik kombers, om die hart” terwyl ek hierdie boek, die reis en oomblikke van “groot word, glo in jouself en wees dapper” ervaar het.

Die seun met die swaeltjie is ’n boek wat ’n mens net weer laat besef dat ons saam menslikheid aan ander moet bewys, soos Tumelo ook gedoen het toe hy sy laaste magwenya vir ’n vreemde vrou gee, of toe Dikeledi aanbied om die taxi te was in ruil vir ’n rit.

Want ek is omdat ons is. Of soos Fanie (Bokang) dit stel: “Motho ke motho ka batho” – ’n mens is ’n mens deur ander mense.

Hierdie boek is geskik vir lesers van 12 jaar en ouer, alhoewel dit ’n móét-lees is vir enige ouderdom! Dalk – net dalk – gee Tumelo en sy swaeltjie vir jou weer hoop om te vlieg; om in jou drome te glo en daarvoor te werk.

Lees ook:

Hulp met die derde kwartaal se literêrenavorsingstaak: ’n onderhoud met Fanie Viljoen

Fanie Viljoen (1970–)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top