
Leeumens deur Rudie van Rensburg (Queillerie, 2025)
Titel: Leeumens
Skrywer: Rudie van Rensburg
Uitgewer: Queillerie, 2025
ISBN: 9780795802928
Epub ISBN: 9780795802935
Leeumens, wanneer booswigte speurders begin jag.
Die agterblad verklaar: “Skatryk tweelingbroers wat vyf jaar gelede verdwyn het, se geraamtes word in ’n veld opgediep.
“Op aandrang van die Wes-Kaapse polisiehoof moet Kassie en Rooi die saak ondersoek, maar dit moet in die grootste geheimhouding plaasvind. Anders kan Kassie-hulle ook die gevaar loop om vermoor te word soos die drie speurders wat by die destydse verdwyningsaak betrokke was.
“Maar om ’n saak onder die radar te probeer hou, blyk gou onprakties te wees. Wanneer Kassie-hulle tot ’n openlike ondersoek oorgaan, maak hulle slapende honde wakker. Hulle beland in ’n maalstroom van ongekende gevaar.
“’n Stikdonker onderwêreld, waar antieke voorwerpe miljoene rande op swartmarkveilings behaal, duld nie inmenging nie.”
Ek geniet die hele verduideliking van die leeumens – iets waarvan ek nog nie voorheen gehoor het nie – wat Clarissa aan Dolf gee. Die Löwenmensch-beeldjie, ook genoem die Leeuman of die Leeumens van Hohlenstein-Stadel, is ’n prehistoriese ivoor beeldhouwerk wat in 1939 in Hohlenstein-Stadel, ’n Duitse grot, ontdek is. Die Duitse naam, Löwenmensch, wat beteken “leeupersoon” of “leeumens”, word die meeste gebruik omdat dit in Duitsland ontdek is en uitgestal word.
Die beeldjie is tussen 35 000 en 40 000 jaar oud, soos bepaal deur radiokoolstofdatering van die laag waarin dit gevind is. Dit is een van die oudste bekende onbetwiste voorbeelde van ’n artistieke voorstelling, een van die oudste standbeelde wat ooit ontdek is en die oudste bekende diervorm- (verdierliking-) beeldhouwerk in die wêreld. Dit is uit mammoet-ivoor gekerf met ’n vuursteenmes. Sewe parallelle dwarsgekerfde holtes is op die linkerarm.
Na verskeie rekonstruksies wat nuutgevonde fragmente ingesluit het, is die beeldjie 31,1 cm hoog, 5,6 cm breed en 5,9 cm dik. Dit word tans in die Museum Ulm vertoon.
Asof dit nie genoeg rede is om alles te laat staan en te begin lees nie, begin die lekkerte van hierdie boek vir my reeds by die voorblad. Dit herinner aan die kreatiewe inleidings van die krimi-reekse wat ons nou so binge watch op stroomdienste. Jy weet daar is dalk leidrade versteek in die prentjies, so jy sit sommer regop en kyk met aandag!
........
Kassie en Rooi is al volksbesit en dit voel asof mens hulle ken, by hulle kan gaan braai op ’n Vrydagaand en hoor hoe dit met hul nuutste saak gaan. Maar daar is iets anders aan hoe hy Leeumens aangepak het.
........
Rudie het homself nou al oor en oor bewys as een van ons land se beste misdaadskrywers en spog nou met 15 misdaadromans op sy kerfstok. Kassie en Rooi is al volksbesit en dit voel asof mens hulle ken, by hulle kan gaan braai op ’n Vrydagaand en hoor hoe dit met hul nuutste saak gaan.
Maar daar is iets anders aan hoe hy Leeumens aangepak het. Jy sit vir 38 bladsye vasgenael – dis nou na net een enkele spanningsvolle bladsy as proloog – aan die ongenaakbaarheid van Arend en Monica wat misdadigers afmaai – maar met effe genoegdoening dat die meeste van hulle darem laer is as slangbollie en niemand hulle sal mis nie – en lees hoe Clarissa en Dolf al Barnabas se vuilwerk doen. Die vervlegtheid van die onderwêreld is mooi uiteengesit voor jy uiteindelik by ons vrinne Kassie en Rooi uitkom. Dat hulle in ’n situasie beland het waaruit min mense lewendig uitkom, is gewis.
.......
Dis net goeie speurwerk, die een leidraad na die ander, sodat die leser ook bybly.
.......
Hulle soek nie net na die Altmans se moordenaars nie, maar ook na die speurders se beweerde moordenaars, die Altmans se huishouer en korrupte polisielede. Maar soos die storie vorder, is daar nog mense wat die tydelike met die ewige verwissel – selfs dié wie jy gedink het sleutelspelers in die boek is. Dit laat die spanning deurentyd al hoër opbou.
En wanneer misdadigers by mekaar begin steel en mekaar begin jag, besef jy dat hier baie vlakke van gruwel is en dat die onderwêreldbewoners koud en genadeloos is as jy teen hulle draai.
Maar die spannende paragrawe van die proloog wil jou deurentyd nie los nie: Kassie is in gevaar en dalk is dit sy laaste avontuur hierdie ...
Die een ding van Rudie se boeke wat my altyd beïndruk, is dat sy sake met logika ontrafel word; al die drade op die ou einde bymekaarkom; en jy nie ’n knaende gevoel het dat hy groot spronge maak en dinge nie beredeneer is nie. Daar is geen wonderwerke wat ons in reekse sien nie, waar hordes spesialiste op moordtonele toesak en oplossings binne ure gevind word. Dis net goeie speurwerk, die een leidraad na die ander, sodat die leser ook bybly.
Dit voel ook asof hier baie minder fokus op Kassie en Rooi se persoonlike lewens is as in vorige boeke, en asof die gebeure – wat alles onderdele van die groter saak is waaraan hulle werk – baie goed inmekaarvleg om jou nie vir een oomblik te laat los nie.
Ek wil my verstout om te sê dat hierdie boek die lekkerste van al die Kassie en Rooi krimi’s tot op datum is.
Lees ook:
Hans kry troukoors deur Rudie van Rensburg – ’n soort nabetragting

