https://www.nb.co.za/af/view-book?id=9780795802553
Titel: Doolhof – ’n Kassie Kasselman-dossier
Skrywer: Rudie van Rensburg
Uitgewer: Queillerie, 2022
ISBN: 9780795802553
Epub ISBN: 9780795802560
Rudie van Rensburg beantwoord Naomi Meyer se vrae oor Rudie se jongste boek, Doolhof.
Rudie, baie geluk met jou jongste spanningsroman, Doolhof. ’n Raai-ervaring van die eerste bladsy af. Het jy voordat jy begin skryf het, ook baie spanningsromans gelees?
Baie dankie, Naomi! Spanningsromans was sedert my jeugjare altyd een van my gunstelinggenres om te lees.
Was die naam “Doolhof” dadelik jou werkstitel?
Ja. Ek moes natuurlik eers seker maak daar was nog nie so ’n boektitel in Afrikaans nie.
Jou navorsing oor die speurder Kassie Kasselman – dis asof jy in die skoene van die speurders saamloop. ’n Mens vertrou jou vir al die inligting. Is daar iemand wat jy nog nodig het om te bel as jy vashaak met speurwerk?
Deur die jare het ek geweldig baie leeswerk gedoen oor speurtegnieke en veral die werkswyse van speurders in die SAPD. Maar ek raadpleeg gereeld ook vir luitenant-kolonel Fienie Nimb van die Bellville-polisiekantoor en lt.kol. Anton Rabe van die SAPD se Forensiese Laboratorium as ek onseker is oor iets.
Ek sê jy ken die goeie ouens, maar natuurlik ken jy die skelms ook. Watter soort karakters geniet jy die meeste om te skryf?
Omdat Doolhof ’n ware “whodunnit” was, moes ek noodgedwonge my verhaal net uit die perspektief van die “goeie mense” skryf – Kassie, Waldo en Vivian. Gewoonlik hou ek daarvan om ook sekere dele uit die booswig se oogpunt te skryf. Dit gee lesers insig wat in die bad guys se koppe aangaan. Ek geniet laasgenoemde meer omdat hulle meer gekompliseerde wesens is, en boonop met ’n klomp geraamtes in die kas.
..........
Gewoonlik hou ek daarvan om ook sekere dele uit die booswig se oogpunt te skryf. Dit gee lesers insig wat in die bad guys se koppe aangaan. Ek geniet laasgenoemde meer omdat hulle meer gekompliseerde wesens is, en boonop met ’n klomp geraamtes in die kas.
............
Daar is ’n proloog en dan ’n misdaad. Nog ’n raaisel, gevolg deur nog ’n raaisel. Afgewissel met mekaar. Hoe beplan jy dit? Wie is vir jou die primêre raaisel of misdaad as jy dit skryf? Beplan jy elke karakter haarfyn, of skryf jy hulle organies?
Ek moet bieg dat ek normaalweg nie veel beplanning vooraf doen nie. Met my debuutboek, Slagyster, het ek geweldig baie beplanning gedoen, maar toe ek begin skryf, gou besef dit werk nie vir my nie. Sedertdien werk ek nooit volgens ’n raamwerk nie, maar het net ’n vae idee van die belangrikste karakters en hoe die verhaal gaan ontvou. Die proses geskied hoofsaaklik organies. Met Doolhof moes ek ’n bietjie meer dinkwerk vooraf insit en was Waldo en Vivian se karakters redelik goed in my kop vasgelê voor ek begin skryf het.
Dan: jy sleep jou leser saam met jou in jou doolhof in. Voor ’n mens weet, is jy betrokke by al die hoofkarakters. Jy dink jy maak ’n konneksie – aha, dit is die ou wat dood is! Dis hoekom die boek se naam Doolhof is! – maar eintlik weet ’n mens nog glad nie waar ’n mens gaan beland nie. Weet jy aan die begin hoe die karakters met mekaar gaan verband hou, weet jy al presies wat gebeur het as jy begin skryf?
In die meerderheid van my boeke weet ek gewoonlik nie hoe al die karakters met mekaar gaan verband hou nie en veral ook nie hoe die verhaal gaan eindig nie. Maar in Doolhof se geval het ek ’n goeie idee gehad. Tog het dit nie heeltemal so uitgewerk nie en het ’n ander idee teen die einde van die verhaal by my opgekom. Dit was ’n ander karakter wat die moordwapen se sneller uiteindelik getrek het as die een wat ek aanvanklik gedink dit gaan doen. Ek het gevoel dit was nodig om ’n bykomende kinkel in te bou.
Jy voer die leser behendig lepeltjie vol lepeltjie inligting. ’n Mens dink die heeltyd: aha, nou weet ek waarop dit afstuur. Dit of dat gaan gebeur. En dan, op ’n slinkse wyse, verander jy die storielyn en iets anders gebeur. Hoe hou jy self kop? Maak jy vir jouself aantekeninge op ’n aparte bladsy, of gebruik jy Post It-plakpapiertjies, of hoe?
Die verandering in ’n storielyn gebeur meestal ook organies, gewoonlik wanneer ’n nuwe idee my te binne skiet. Dit is vir my redelik maklik om kop te hou omdat ek die heeltyd die groter prentjie in gedagte het. Soms sal ek aan die einde van ’n skryfskof ’n paar punte aanteken (sommer op my rekenaar onderaan die laaste gedeelte wat ek geskryf het) om my te herinner aan die koers wat die volgende hoofstuk of gedeelte moet inslaan.
’n Mens kan nie help om self oorbetrokke te raak by jou karakters nie. ’n Mens ontwikkel deernis vir die arme Waldo, byvoorbeeld. Raak jy gaandeweg meer betrokke by jou karakters, soos jy hulle self leer ken? En wat maak jy dan, as jy die boek klaar geskryf het, is hulle nog deel van jou?
Wanneer die verhaal begin lyf kry, raak ek beslis meer betrokke by my karakters en selfs soms geheg aan hulle. Ek probeer my die heeltyd in hulle situasie inleef. Maar wanneer ek die laaste sin van ’n manuskrip klaar geskryf het, groet ek ook die karakters. Teen daardie tyd dink ek klaar aan ’n volgende boek.
Ek het vroeg reeds in jou boeke besef hoe baie jy van verskillende dinge weet. Kuns, of juweliersware, of sekere dinge waaroor jy beslis navorsing moes gedoen het of vanself ’n kundigheid moes opgebou het om daaroor te kan skryf op die vernuftige wyse wat jy doen. Hoe doen jy jou navorsing as jy byvoorbeeld oor juwele skryf, soos in hierdie boek – een van die storielyne? Hoe spoor jy jou bronne op?
Ek geniet dit om navorsing te doen oor ’n onderwerp waarvan ek aanvanklik nie veel weet nie. Ek raadpleeg gewoonlik verskeie bronne in koerante, tydskrifte en op die internet. In sommige gevalle sal ek ook by kenners kers opsteek. My grootste vrees is gewoonlik dat ek feitefoute kan begaan, want daar sal altyd lesers wees wat meer van iets weet as ek. Een les wat ek geleer het, is dat jy nooit jou lesers mag onderskat nie. Daarom probeer ek my navorsing so deeglik moontlik doen.
...........
Een les wat ek geleer het, is dat jy nooit jou lesers mag onderskat nie. Daarom probeer ek my navorsing so deeglik moontlik doen.
.............
In Monster se geval, my boek wat vroeër vanjaar verskyn het, het ek genoeg navorsing gedoen om ’n verhandeling oor Saoedi-Arabië en hul koningshuis te skryf. Dit is dan belangrik om nie oorboord met soveel navorsing te gaan nie, maar net die belangrikste gegewens in jou verhaal weer te gee.
Jou boek bestaan uit ’n paar sleutelkarakters wat elkeen een van die intriges lei. Weet jy, wanneer jy hul skep, hoe die drade sal knoop? Hoe beplan jy dit? Of is die soort beroepe wat hul beoefen, of die dinge wat hulle doen, iets wat jou inspireer?
Ek het mooi gedink oor Waldo en Vivian, die sleutelkarakters buiten Kassie, se rolle in die boek voor ek begin skryf het. Ek het geweet hoe hulle drade uiteindelik gaan knoop. Veel meer uitdagend was om die ses moordverdagtes te skep, wat drasties van mekaar moes verskil, maar elkeen met ’n geldige motief om te moor.
Voel jy nie uitermate sinies om spanningsverhale in ’n land so deurdrenk van misdaad soos hierdie een te skryf nie? Gee dit jou ’n mate van bevrediging as jy darem iets van die misdaad in jou stories kan oplos?
Nee, my boeke weerspieël maar net die werklikheid van ons misdaadgeteisterde samelewing. Daagliks word Suid-Afrikaners in die nuus gekonfronteer met ware stories oor moord en misdaad. Ek put wel bevrediging daaruit dat die misdadigers, soms in teenstelling met die werklikheid, uiteindelik agter tralies beland. En ek glo my lesers doen ook.
’n Tragiese aspek van jou stories is dat elke karakter so baie op die spel het wat hulle kan verloor, en tog so maklik verkeerde besluite neem. Is dit vir jou lekker om die karakters te skep en hulle soms iets positiefs in hul lewens te gun, en dan weer op ’n ander oomblik die storie so om te keer dat hulle so baie verloor? Hoe kry jy dit reg om op ’n afstand te bly, en tog ook naby genoeg dat jy presies weet wat met elkeen moet gebeur – want dis wat die leser laat aanhou lees?
Soos ek voorheen gesê het, dink ek my in die wêreld van my karakters in en raak ek soms geheg aan hulle. Maar dit is nodig om hul lewe maar ’n bietjie wipplank te laat ry, anders gaan die leser belangstelling verloor. Ek probeer om ’n karakter (soos Waldo) so te skep dat die leser simpatie met hom het en ook soos hy ontsteld raak as die samelewing hom nóg ’n dwarsklap gee.
Kassie Kasselman sukkel dalk te veel met sy geldsake om elke dag die koerant te kan bekostig. Maar jy? Lees jy nog elke dag die papierkoerant? En hoeveel storie-inspirasie kry jy in die koerant, versus die inspirasie in die regte lewe en jou alledaagse werklikheid?
Ek sal altyd ’n verslaafde van die papierkoerant bly. Sewe dae van die week word ’n koerant by my huis afgelewer. Daar is niks lekkerder as om ’n vars gedrukte koerant saam met jou eerste oggendkoffie oop te slaan nie. Ek kan myself nie voorstel om dan na my foon of rekenaar se skerm vir nuus te staar nie. Hoewel baie van die papierkoerantnuus soms oud is vanweë sosiale media se onmiddellikheid, geniet ek die diepte-artikels, rubrieke en lesersbriewe geweldig. Koerantberigte het al heelwat kere storie-idees opgelewer. Maar my alledaagse werklikheid is moontlik te saai om daaruit opwindende misdaadverhale op te tower.
Hoe lyk jou skryfroetine elke dag? Is dit elke dag? Word jy moeg daarvoor, of raak dit nog lekkerder? Hoe verskil die geboorte- en skeppingsprosesse van jou boeke?
Ek probeer om elke oggend van ongeveer 08:00 tot 13:00 in die middag te werk. En ek pak my daaglikse taak met oorgawe en geesdrif aan asof ek ’n spertyd moet nakom. Daar is nie tyd om vir inspirasie te wag nie. Ek geniet die skryfproses geweldig en dit voel nie vir my soos werk nie. Daar is nie regtig ’n verskil in die geboorte- en skeppingsprosesse van my boeke nie.
............
Daar is nie tyd om vir inspirasie te wag nie. Ek geniet die skryfproses geweldig en dit voel nie vir my soos werk nie. Daar is nie regtig ’n verskil in die geboorte- en skeppingsprosesse van my boeke nie.
..............
Die proses bly dieselfde: Ek doen eers deeglike navorsing, dink oor my karakters en die verhaallyne en begin dan te skryf. Die gemiddelde misdaadroman neem my tussen nege en 11 maande om te voltooi. Ek neem gewoonlik ’n breek oor Desember, en begin nooit later as 15 Januarie met ’n nuwe boek nie.
Is jy reeds weer besig met jou volgende boek en wat is jou stokperdjies en tydverdryf in jou eie vrye tyd?
My volgende boek vir 2023 is klaar by die uitgewer en ek het reeds ’n paar idees vir die 2024-boek, waaraan ek in die nuwe jaar sal begin skryf. Ek is ’n groot leser, maar kry deesdae nie baie tyd vir fiksie nie en lees hoofsaaklik nie-fiksie wat gewoonlik verband hou met navorsing vir ’n volgende verhaal. Maar in Desember gun ek myself ’n paar fiksie-boeke. Ek is ook ’n geesdriftige sportliefhebber en kyk gereeld rugby, krieket en gholf op die TV. Dit is vir my belangrik om aandag aan my gesin te gee, en hoewel ons kinders nie meer in die huis bly nie, maak ons altyd tyd om saam te kuier. My voltydse skrywery (en die feit dat ek nog Hans-boeke tussen die misdaadfiksie deur skryf) het my skilderwerk in die wiele gery, maar elke jaar is dit ’n nuwejaarsvoorneme om weer ’n bietjie te verf.
Lees ook:
Doolhof deur Rudie van Rensburg: ’n doolhof van gebeure en juwele


Kommentaar
Rudie, baie geluk met Doolhof. Ek sien baie uit na die nuwe boek. Sukses met die volgende boeke.