Lees- en leerpret met Bollie: ’n resensie

  • 0

Bollie-reeks: Getalle en babadiere; Alfabet- en dieretekenboek; en Somervakansie, vertaal deur Wendy Maartens (uitgegee deur LAPA)

.......
Die Bollie-werkboeke bied bo en behalwe kosbare aktiwiteite om letter- en syfervaardighede aan te leer, baie geleenthede om skryfvaardighede te oefen en vas te lê. En Bollie-aanhangers van weleer kan ontspan. Met Wendy Maartens as vertaler, is Bollie in veilige hande.
.......

Daar was eendag ’n bont konynfamilie. Dié wat in die sewentigs en tagtigs grootgeword het, sou dalk kon raai na wie verwys word. As ekstra leidraad sou ’n mens kon noem dat die hoofkarakter se oom nogal lywig was. Verklap egter dat jong lesers hierdie konyne destyds in ’n kindertydskrif ontmoet het, en almal is op dieselfde bladsy, of in dieselfde tydskrif. Ja, Bollie. Die Bollie-tydskrif, met strokiesverhale en pretraaisels en briewe en so meer, was daardie jare vir baie kinders die hoogtepunt van hulle week.

Een van daardie kinders was Wendy Maartens. Sy onthou hoe sy elke Vrydag haar Bollie by Nick se kafee in Worcester gaan koop het met die 10c wat haar ma haar elke week daarvoor gegee het. Sy vertel in ’n onderhoud dat sy nog altyd ’n “versugting gehad het om eendag, iewers op ’n manier, by Bollie betrokke te wees”. Ná gesprekke met LAPA Uitgewers en hulle daaropvolgende onderhandelinge met Blink, die Nederlandse uitgewer van Bobo (Bollie), om die Suid-Afrikaanse lisensie te verkry, kon Maartens aan die werk spring met die vertaling van die Bobo-aktiwiteitsboeke. Die resultaat is vyf kleurvolle werkboeke in drie boeke uitgegee:

Hierdie prettige en kleurvolle boeke kan as hulpbronne aangewend word om skryfvaardighede, lettervaardighede en syfervaardighede te oefen of vas te lê, of bloot tuis gebruik word om kinders speel-speel in die rigting van skoolgereedheid te lei. Daar word subtiel op mylpale gefokus.

Bollie: Getalle en babadiere, vertaal deur Wendy Maartens

Titel: Bollie: Getalle en babadiere
Uitgewer:
LAPA
ISBN: 9780637007375

In Bollie: Getalle en babadiere fokus “Getalle” op syfervaardighede. Vir elke syfer is, soos ook met die letters van die alfabet in Alfabetboek, ’n paar oefeninge. Hierdie oefeninge wissel tussen getalherkenning, tel, inkleur, natrek en teken. Dis belangrik dat kinders leer dat tel nie ’n rympie is nie, en hierdie speeltake behoort te help in die vaslegging hiervan. Om dinge telkens af te tel, lê die konsep van syfers by kinders vas. Kinders sal byvoorbeeld prentjies tel en moet dan daarteenoor dieselfde aantal blokkies of kolletjies inkleur. In ander oefeninge moet hulle die getalsimbool (die syfer) herken en dan die korrekte aantal prentjies ter sake inkleur. Hierdie tel- en inkleuraktiwiteite is ’n prettige en effektiewe manier om kinders getalherkenning en tel te laat oefen.

........
Ander pretoefeninge sluit in doolhowe waar paadjies nagetrek moet word deur ’n spesifieke syfer te volg. Getalherkenning en -begrip word dus verder vasgelê sonder om te verveel.
........

Ander pretoefeninge sluit in doolhowe waar paadjies nagetrek moet word deur ’n spesifieke syfer te volg. Getalherkenning en -begrip word dus verder vasgelê sonder om te verveel. Ander Wiskunde-aktiwiteite waaraan aandag gegee word in speletjies, is soek en tel en eenvoudige optelsomme, waar die som met ’n spesifieke syfer gekorreleer moet word. Vier boontjiesakkies word byvoorbeeld by ses boontjiesakkies getel en vir die antwoord moet die syfer gegee word.

In “Babadiere”, die tweede gedeelte van Getalle en babadiere, word kinders aan ’n verskeidenheid bekende en minder bekende diere en hulle babas bekendgestel. Kort, teikenmark-verteerbare brokkies inligting word oor elke dier gegee. Hulle leer onder meer dat ’n tapirtjie, wanneer hy groter word, ’n slurpie kry waarmee hy blare van bome kan afpluk; dat ’n seeperdjie uit sy pa se maag kom; oor die metamorfose van rusper na skoenlapper sonder dat die woord metamorfose ooit gebruik word; en dat meerkattannies die babas oppas terwyl meerkatma’s jag.

In ’n aantal kopkrappers moet volwasse diere en kleintjies met mekaar verbind word; verskille gesoek word; woorde wat rym verbind word; ’n reeks wat van groot tot klein gerangskik is, geïdentifiseer word; pyltjies na links of regs onder ’n dierefiguurtjie getrek word na aanleiding van die rigting waarin die dier kyk, ensovoorts. Daar word dus ook geraak aan wiskundige begrippe soos rigting en grootte.

’n Kort storie oor Bollie en Krabbel en húlle verrassing in die “Storietyd”-afdeling bied ’n lekker blaaskans, maar my gunsteling is die twee leesstukke, wat as “pret met prente” geëtiketteer is. In albei leesstukke word sewe woorde, wat baie in die stuk gebruik word, met prente vervang, wat die leesproses makliker en meer pret maak. Hierdie sewe woorde word bo-aan elke stuk onder die prentjie wat in die teks gebruik word, gegee.

Bollie: Alfabet- en dieretekenboek, vertaal deur Wendy Maartens

Titel: Bollie: Alfabet- en dieretekenboek
Uitgewer:
LAPA
ISBN: 9780637007597

In die Alfabet- en dieretekenboek fokus die “Alfabetboek” op die letters van die alfabet. Daar word vir elke letter ’n oefening gegee waar die spesifieke letter op stippellyne nagetrek moet word. Daar word ook ’n paar prente wat met die letter begin, gegee wat soms ingekleur en soms omkring moet word. Die woord wat die prent beskryf of benoem, word onder die prent gegee, sodat die kind die beginletter kan identifiseer en met die prent assosieer. Daar word elke keer ook ’n paar prente en woorde gegee wat met ’n ander letter begin. Bo-aan hierdie letterbladsye is ’n oulike rympie waarin die letter bekendgestel word en instruksies gegee word. Voorbeeldwoorde is slim en oorspronklik gekies.

By die letter C is een van die voorbeeldwoorde byvoorbeeld Curriebeker. By ’n prentjie van ’n termostaat is die woord Celsius en twee uitvangwoorde is krokodil, wat soos Curriebeker sou klink, en rekenaar wat as computer vertaal kan word as die woord rekenaar onderaan ignoreer sou word.

Aktiwiteite of oefeninge word afgewissel. By die letter D is een van die oefeninge byvoorbeeld dat twee prentjies geteken moet word. Die woord dapper word gegee en ’n prentjie “van iets waarvoor jy dapper genoeg is” en “iets waarvoor jy nog nie dapper genoeg is nie” moet geteken word.

Met hierdie letteroefeninge leer die kind baie meer as die alfabet of die klank van die letter. Omdat die oefeninge afgewissel word, raak dit nooit, soos in ’n skoolwerkboek, eentonig nie. ’n Ekstra oefening by die letter R gee byvoorbeeld die woord reken en die rympie daar onder:

Die r staan ook vir reken.
Kan jy al reken?
Tel die ruspes bymekaar.
Kleur dan die regte aantal in.

Hier onder word dan vier prentesomme gegee, waar telkens 10 wurms as antwoord geteken is en die korrekte aantal wurms vir elke som dan ingekleur moet word.

Van wurms gepraat: Terwyl “w staan vir wortel of wurm of water” ’n meer algemene keuse sou wees, word die letter W kreatief hanteer:

Die w staan vir wêreld.
En vir wedstryd en wen.
Watter ander woorde begin ook met ’n w?
Kleur die prentjies in.

Die ander woorde wat dan ingekleur moet word, is: wors, waslap, wekker, water, wortel, walvis en wasmasjien. En dan in ’n spraakborrel bo ’n windverwaaide Bollie: “Die w staan ook vir die wind wat woes waai!”

Tussen die verskillende letters van die alfabet is daar heelwat ander pretoefeninge. In party oefeninge moet daar getel word. ’n Gespesifiseerde getal van ’n letter tussen ’n spul ander letters moet byvoorbeeld herken, getel en omkring word. Heelwat van hierdie oefeninge fokus wel, soos ook in Bollie: Getalle en babadiere, op fyn motoriese vaardighede, soos potloodgreep, inkleur, natrek en indirek dus ook skrif.

........
Daar word daarna gestreef dat kinders, wat betref potloodgreep, van ongeveer vyf jaar oud ’n dinamiese driepuntgreep handhaaf. Die potlood word sodoende beheer deur individuele vingerbewegings, om die kind in staat te stel om noukeurige bewegings beheersd uit te voer om sodoende makliker te kan inkleur en skryf.
........

Daar word daarna gestreef dat kinders, wat betref potloodgreep, van ongeveer vyf jaar oud ’n dinamiese driepuntgreep handhaaf. Die potlood word sodoende beheer deur individuele vingerbewegings, om die kind in staat te stel om noukeurige bewegings beheersd uit te voer om sodoende makliker te kan inkleur en skryf. Indien fynmotoriese vaardighede ouderdomstoepaslik ontwikkel is, sal dit vir die kind makliker wees om met inkleurtake tussen die lyne te bly. Dis verder belangrik dat kinders op hierdie ouderdom ook van links na regs inkleur, aangesien dieselfde posisie in skryfvaardighede gebruik word. Hierdie inkleurvaardighede vorm inderdaad die fondasie vir skryfvaardighede om uiteindelik voldoende potloodbeheer te kan uitoefen vir die vorming van letters én om op die lyn te kan skryf.

Die “Dieretekenboek” fokus op 12 diere en hoe om hulle te teken. Diere onder die see waaroor kort brokkies inligting gegee word voordat dit eenvoudig geïllustreer word hoe om eenvoudige sketse te maak, is onder andere ’n jellievis en seeskilpad. Oerwoudbewoners sluit die gorilla en gifpadda in en plaasdiere ’n skaap en koei.

Party kopkrappers sluit effens meer gekompliseerde raaisels in waar daar nie slegs getel word of woorde gesoek en nagetrek word nie. Identiese prente in ’n groep moet gevind word; ’n paar basiese vorms moet geïdentifiseer word; en legkaartstukke moet ingepas word deur lyne van die legkaartstukke na die korrekte gapings in die prent te trek.

Bollie: Somervakansie, deur Wendy Maartens

Titel: Bollie: Somervakansie
Uitgewer:
LAPA
ISBN: 9780637007382

In die derde boek, Somervakansie, is dit Bollie en Krabbel se somervakansie en soos dit hoort, is dit ses keer storietyd. In dié stories gaan Bollie-hulle pretpark en strand toe en kamp, maak tuin, bou ’n boomhuis en speel in die tuin. Daar is ook weer “pret met prente” waar vier stories gelees word met sewe woorde per storie wat met ’n prent vervang word. Hierdie keer word daar selfs ’n paar keer twee van dieselfde prentjies langs mekaar gebruik as ’n meervoud van die woord wat gelees moet word, ter sake is. Baie slim!

Asof daar hersiening gedoen word, is daar tussendeur aktiwiteite, waaronder woord- en nommerraaisels; syfers en letters om na te trek; baie om te tel; prente om in te kleur; doolhowe om te navigeer; en verskille om te vind tussen twee byna-byna identiese, kleurvolle tonele.

Bollie-hulle, en die jong gebruikers van hierdie boeke, mag ook nie net omdat dit vakansie is van diere vergeet nie. In Somervakansie leer hulle onder meer dat die tier die grootste en swaarste kat ter wêreld is; ’n koala amper nooit water drink nie; en ’n pou se stert een en ’n halwe meter lank kan word!

Wat Wiskunde-aktiwiteite betref, is ’n oefening oor vorms ’n nuwe toevoeging en voltooi jong handjies vir die eerste keer ’n verbind-die-nommers-prent. Daar word ook baie letters geïdentifiseer om spesifieke woorde te vorm, en in een oefening moet daar vyf lang woorde gevorm word deur twee woorde, soos appel en tert, en broek en sak, met mekaar te verbind om appeltert en broeksak te maak.

Dis duidelik dat daar tydens hierdie Vakansie-boek voortgebou word op materiaal in Alfabet- en dieretekenboek en Getalle en babadiere, maar dat daar ook lusmakers van wat moontlik in die volgende werkboeke gaan opduik, ingesluit word.

Die Bollie-werkboeke bied bo en behalwe kosbare aktiwiteite om letter- en syfervaardighede aan te leer, baie geleenthede om skryfvaardighede te oefen en vas te lê. En Bollie-aanhangers van weleer kan ontspan. Met Wendy Maartens as vertaler, is Bollie in veilige hande. Ek vermoed daar gaan ’n hele paar oumas en oupas wees wat graag sal help of saamwerk as dié drie baie mooi en plesierige boeke uitgehaal word.

Lees ook:

Die Meerkat-reeks deur Mart Meij en Beatrix de Villiers: ’n resensie

Kinderboeke: Terug skool toe met lekkerleesboeke

Goue lint, my storie begint: Die effek van lees op kinders se breine

Goue lint, my storie begint: Watter boeke koop ek vir my gretige of sukkelende kinderlesers?

Leesstof vir die skoolvakansie! Speurhond Willem in Japan: ’n onderhoud met Elizabeth Wasserman

Kinderboeke: Van dansdrome na dansers – na rolmodelle

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top