Lees en kyk met begrip vir Afrikaans Huistaal-leerders in graad 7: ’n onderhoud met Aletha de Klerk

  • 0

Prent (links): Canva; boekomslag: https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9781776073757

Lees en kyk met begrip: Graad 7, Afrikaans Huistaal
Aletha de Klerk
Best Books
ISBN: 9781776073757

........
En wanneer die eksamendruk begin opbou – of jy nou ’n onderwyser is wat iets reg-vir-vandag soek, of ’n leerder wat wonder waar om te begin – sê hierdie boek: “Ontspan, ons het jou.”
........

Aletha de Klerk is die samesteller van Lees en kyk met begrip, ’n boek toegespits op Afrikaans Huistaal-leerders in graad 7. Sy praat kort voor die eksamen met Naomi Meyer oor haar boek.

Aletha, jy is die samesteller van hierdie boek, wat onlangs by Best Books verskyn het. Dis amper tyd vir die Junie-eksamen. Hoekom is dit ’n goeie tyd vir leerders en onderwysers om van hierdie boek kennis te neem?

Teen eksamentyd voel dit mos of alles gelyk moet gebeur – en eintlik gister al. Die kind se konsentrasie wankel, die rekenaar gee in, en selfs die hond kruip weg. In daardie oomblik is Lees en kyk met begrip Graad 7 Huistaal presies in die kol – soos daardie ekstra stel hande wat jy nie eers geweet het jy nodig het nie.

Die boek dek ál die tekssoorte wat keer op keer in vraestelle voorkom: begripstoetse, opsommings en visuele tekste soos spotprente, advertensies, grafieke en meer. Dis duidelik, taakgerig en toepasbaar – of jy nou in die klas is, of iets vinnig by die kombuistafel wil inoefen.

Wat dit verder gerieflik maak, is dat leerders direk in die boek kan werk. Geen los blaaie of onnodige soekery nie – alles op een plek. En die aanlyn memorandum help jou om vinnig na te sien. Dit bespaar tyd vir onderwysers én ouers … en dalk selfs vir ’n ekstra koppie koffie saam met ouma se beskuit.

Wat is jou agtergrond? Is dit vir jou ’n passie dat Afrikaans op ’n toeganklike wyse, maar ook op ’n praktiese manier, in die klaskamer aangebied moet word? Wat sal vir jou die beste uitkoms wees wat hierdie boek sou kon bewerkstellig?

As kind het ek ure lank skool-skool met my poppe gespeel – swartbord teen die muur, rottang in die hand, nes die juffrouens van daardie tyd. En glo my, daardie poppe het geluister! Die rottang is darem lankal weg, maar die entoesiasme het gebly – al wens ek soms my leerders wás poppe. Ná tien jaar as maatskaplike werker het ek onderwys gaan studeer. Vier-en-twintig jaar later woel ek steeds met Afrikaans – as onderwyser, samesteller en redigeerder. Ek’s afgetree en ’n trotse ouma, maar moenie dink ek’s klaar nie (my rakleeftyd is nog nie verby nie) – ek staan steeds voor die klas.

Ja, ek is mal oor Afrikaans, maar nóg meer oor kinders – selfs al verkies hulle TikTok bo boeke. Kinders is onverwags en eerlik – soos die een wat my vra waar ek my “lekker groot baadjie” gekoop het, want haar ma kry ook niks wat lekker pas nie! Dis daardie reguit opmerkings wat elke dag besonders maak. Afrikaans is nie net ’n klomp reëls om te herhaal nie, maar skep ruimte vir daardie een stil leerder wat uiteindelik ’n antwoord waag en besef: “Ek kán ook.” Dis wanneer ek weet: Afrikaans lééf in hierdie kind.

........
Afrikaans is nie net ’n klomp reëls om te herhaal nie, maar skep ruimte vir daardie een stil leerder wat uiteindelik ’n antwoord waag en besef: “Ek kán ook.” Dis wanneer ek weet: Afrikaans lééf in hierdie kind.
........

As ’n onderwyser sê: “My leerders verstaan uiteindelik wat ek probeer doen”, besef ek die boek doen sy werk. Maar as ’n kind sê: “Afrikaans is actually my beste vak!” – dán het iets gekliek. Dis die oomblik wanneer daar ’n brug ontstaan tussen leer en leef, tussen klaskamer en kopskuif. (En ja, taalpuriste mag frons oor daardie “actually”, maar komaan – as ons alles net reg wil hê, hoe op aarde gaan kinders ooit lus wees vir Afrikaans?)

Het jy gekyk na die soort vrae wat in eksamens gevra word? Was dit iets wat jy in gedagte gehou het toe jy die boek saamgestel het?

Ja, beslis – ek het spesifiek gekyk na die soort vrae waarmee graad 7’s sukkel, veral by begrip- en visuele tekste. Die boek volg dieselfde tipe vraagstyle as wat ’n mens in seniorfase-eksamens kry, maar die moeilikheidsgraad is aangepas sodat dit steeds uitdagend bly om kognitiewe ontwikkeling en insig te bevorder. Barrett se taksonomie is as rigtingwyser gebruik – van eenvoudige, direkte vrae tot hoërorde-denke-werk. ’n Vraag soos: “Watter raad sou jy vir ’n maat gee oor die keuse van ’n hoërskool?” toets nie net begrip nie, maar ook insig en redenasie. Dis toepassing in die regte lewe – om jouself in iemand anders se skoene te plaas en met logika te dink.

My wens is dat leerders nie net met slaperige oë voor ’n werkboek sit nie, maar ervaar: “Hierdie boek weet presies hoe ek dink – en verstaan my.” As ’n teks soos “Kan bordspeletjies beurtkrag verminder?” jou laat lus kry om Monopoly af te stof, die gesin uit te daag en jou ouboet bankrot te laat speel, dan het jy nie net gelees nie! Jy’t gelees, planne beraam, dalk ’n reëltjie of twee teruggelees – en werklik met begrip gekyk.

........
My wens is dat leerders nie net met slaperige oë voor ’n werkboek sit nie, maar ervaar: “Hierdie boek weet presies hoe ek dink – en verstaan my.” As ’n teks soos “Kan bordspeletjies beurtkrag verminder?” jou laat lus kry om Monopoly af te stof, die gesin uit te daag en jou ouboet bankrot te laat speel, dan het jy nie net gelees nie! Jy’t gelees, planne beraam, dalk ’n reëltjie of twee teruggelees – en werklik met begrip gekyk.
........

Mens hoor partykeer mense sê mens kan nie vir Afrikaans as vak voorberei nie. Is dit waar? Indien nie, hoe kan kinders voorberei en hoe sal hierdie boek hulle in staat kan stel om dit beter te doen?

Ek hoor dit ook – daardie idee dat jy nie vir Afrikaans kan voorberei nie. Natuurlik kán en móét jy voorberei – dit is nie papegaaiwerk nie! Dis speurwerk: Jy lees om leidrade raak te sien, om slim te kyk – met begrip én met antwoorde wat al halfpad in jou agterkop lê en wink. Die tekste in die boek is pittig, relevant en soms só skerp dat dit selfs die mees dromerige leerder laat fokus.

........
Ek hoor dit ook – daardie idee dat jy nie vir Afrikaans kan voorberei nie. Natuurlik kán en móét jy voorberei – dit is nie papegaaiwerk nie! Dis speurwerk: Jy lees om leidrade raak te sien, om slim te kyk – met begrip én met antwoorde wat al halfpad in jou agterkop lê en wink. Die tekste in die boek is pittig, relevant en soms só skerp dat dit selfs die mees dromerige leerder laat fokus.
........

Maar Afrikaans is meer as net ’n kopding – dis ritme, houding en met ’n bietjie bravade. Onthou jy daardie keer op Afrikaans is groot toe Laurika vra: “Maar hoe bedoel jy nou, Kurt – is dít die nuwe manier van Afrikaans?” En Kurt Darren, met daai selfversekerde knik, sê: “Met oemf, Laurika. Mét oemf.” Dís hoe hierdie boek werk – met oemf én met ’n duidelike boodskap aan elke leerder: “Jy kán dit sê – en jy mág dit op jóú manier sê.”

Watter soort oefenvoorbeelde kan mens in die boek verwag en hoe het jy te werk gegaan om dit saam te stel?

Verwag oefeninge wat jou laat regop sit en dink: “Wat kom nou?” Dis nie van daardie oefeninge wat jy halfpad deur wil los nie – dis ’n uitnodiging om met nuuskierigheid en energie te lees, kyk en reageer. Die boek voel soos ’n maat wat langs jou op die bank neerval en sê: “Kom ons tackle Afrikaans op óns manier.” Dis prakties, pret en niks van ’n streng onnie met rooi-pen-vibes nie.

Die temas is doelbewus gekies met graad 7’s in gedagte: dinge wat regtig saak maak – soos drome oor hoërskool, hul taal, troeteldiere, sport, en natuurlik die pure plesier om weer kind te wees – te speel, te ontdek, en soms net te wéés. Jy sal spotprente kry wat jou laat giggel én dink, ’n sirkeldiagram oor hawelose troeteldiere in Suid-Afrika wat jou oë laat rek, ’n infografika wat wys hoe Afrikaans al 100 jaar saam met ons groei, en ’n plakkaat wat jou dalk aanpor om self ’n fun-dag te reël.

Elke oefening is ontwerp om jou aan te moedig om self te dink en inligting op ’n aktiewe manier te verwerk. Dis nie nog ’n klomp vrae wat jou moedeloos maak nie – dit wil jou uitdaag en betrek. En wanneer die eksamendruk begin opbou – of jy nou ’n onderwyser is wat iets reg-vir-vandag soek, of ’n leerder wat wonder waar om te begin – sê hierdie boek: “Ontspan, ons het jou.”

Lees ook:

Uittreksels en oefenvoorbeelde: Lees en kyk met begrip vir Afrikaans Huistaal-leerders in graad 7 deur Aletha de Klerk

Graad 12 Eerste Addisionele Taal – Taaloefening en memo met Best Books

Pasverskyn: Lees en kyk met begrip: Graad 7 AFR HT deur Aletha de Klerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top