
Kort woord oor die gevoelvolheid van diere by ontvangs van die Hertzogprys vir Prosa toegeken deur die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
*
In 1972 het vyf muise 75 maal om die maan in die Apollo 17-ruimtetuig gewentel. Die name van hierdie muise was Fe, Fi, Fo, Fum en Phooey. Die muise in die ruimtetuig is afgesonder van mekaar, elkeen in ’n buis wat op sy beurt binne-in ’n houer geplaas is. In hierdie houer was kos, water en ’n reserwekaliumsuperoksied om die CO2 van hulle asemhaling te absorbeer.
Een van die seunsmuise het reeds gedurende die ruimtereis gesterf.
Oor hom sou my ma tereg gesê het: “Ag, daai ou muis was net ’n nommer.”
En hy wás ook – die wetenskaplikes het hom A-3352 genoem.
Maar wat sou my ma, erbarmlik teenoor diere soos ek haar geken het, nou eintlik bedoel het met daardie uitlating oor Fo?
Die jaar 1972 was miskien ’n raps te vroeg vir meelewing teenoor ’n blote witmuis. Te vroeg vir daardie konneksie tussen mens en dier gegrond op die bewussyn, en die intuïsie, dat ons, wanneer ons in die teenwoordigheid van ’n dier is, ons in die teenwoordigheid van ’n gevoelvolle wese, ’n sentient being, is.
Al het Theophrastus, die Griekse filosoof en naturalis van Lesbos, reeds 300 jaar voor Christus die volgende gesê: Diere beskik ook oor rede. Die aard van die rede is dieselfde, daar is slegs ’n graadverskil.
En al hét die jong Jane Goodall reeds in die sestigerjare in die woude van Gomba in die Kongo gewaar hoe ’n sjimpansee ’n grasstingel gebruik om miere uit hulle tonnels te lok.
Dít was ’n deurbraak.
Die etoloë1 van daardie tyd het nie net die gebruik van instrumente deur ’n dier ontken nie, of bloot net nie daarvan geweet nie, maar het ook die antropomorfiese neiging om ’n dier ’n naam te gee, afgekeur.
Goodall se befondsing vir die bestudering van die sjimpansee was byna op, maar daai pragtig-skurwe hand van die sjimpansee met die gepunte, steenkoolswart naels wat die grasstingel afdruk in die miertonnel, het die verskil gemaak.
Hier is ’n dier wat hom wend tot die gebruik van ’n instrument om kos te haal.
Van daardie dag af noem Goodall dan ook die sjimpansee David Greybeard.
Daar is baie ander etoloë wat ek kan noem, wetenskaplikes wat die gedrag van diere in hulle natuurlike omgewing bestudeer het, onder andere, en veral, die Nederlander Frans de Waal, mense wat ’n verskil, ’n verskuiwing, gemaak het in ons benadering tot diere, maar ek sonder vir Jane Goodall uit.
Toenadering tussen Goodall en David Greybeard sou later kom, maar wat daar gebeur het, was dat Goodall ’n verskerpte bewussyn by die sjimpansee waargeneem het.
Die sjimpansee sou haar studieonderwerp vir byna 50 jaar word – ons weet nou dat ons 96% van ons menslike gene met hulle deel – en tot so ’n mate sou Goodall hulle as bewussynsvolle wesens leer ken dat sy uiteindelik die volgende oor die geaardhede van sjimpansees kon sê: “Wel, ek hou nie van hulle almal nie. Daar is party wat baie gaaf en innemend is, en ander gewoonweg bot en gemeen.”
Op die plaas in die Oos-Kaap waar ek grootgeword het, was ’n blinkswart hings wat my ma Ridja gedoop het, ’n naam wat die lang, reguit neus van ’n Persiese soldaat oproep, en onder jou hand, soos wanneer jy oor ’n Persiese tapyt streel, die syagtige vel van die dier.
Ek het eers later, toe ek ’n grootmens was, besef hoe lief my ma vir Ridja was, tot só ’n mate dat sy Ridja se geaardheid en aksies op ’n besondere manier verstaan het.
Een van haar kleinkinders was naderhand so ’n knap ruiter dat my ma haar op die hings toegelaat het, en daar trek sy op ’n draf en met pragtige saalboomaksie die veld in. Wragtig, Ridja trap in ’n erdvarkgat – dit het nog nooit voorheen gebeur nie – en struikel en val.
Die ruiter vlie deur die lug en kom onder die perd te lande, Ridja nou reg bo-op haar.
En daar lê die swart perd soos hy geval het, roerloos met die wit van die oë wat wys – doodstil, met die kind onder daardie swaar perdelyf. Wat nou?
Uiteindelik het my ma onraad gemerk, en sy en haar regterhand, Mayoyo, het op soek gegaan. Hulle vind die perd met die kind daaronder, die oë van die perd steeds geduldig, byna smekend, én begrypend.
My ma het baie agterna oor Ridja gepraat, dikwels oor daardie ongeluk, en hoe die kind ’n permanente besering sou opgedoen het, selfs ’n doodsbesering, indien die perd enigsins beweeg het.
O, hy het geweet, het my ma dan bygevoeg.
Toe die skilder Francis Bacon vir die eerste keer sy susters in Noord-Rhodesië, nou Zambië en later in Suid-Afrika besoek het, was hy onder die indruk van die diere wat hy sonder ophou gesien en wou gesien het.
Die vlietende luiperd in ’n digtheid van lang gras, die olifant wat waad deur ’n rivier, donker en dik soos olie – hierdie beelde het neerslag gevind in sy werk.
En die taal, die manier waarop ons oor diere praat, en ons houding teenoor hulle, dis waaroor hy agterna gedink het, dit is wat hy wou herbedink.
Terug by die huis, in Londen, as Bacon by ’n slaghuis instap en die dierkarkasse op ’n ry aan staalhake sien hang, merk hy op: “Ek dink altyd dis verrassend dat dit nie ek is wat daar in plaas van die dier hang nie.”2
Mense het ’n bepaalde idee van wat goed en wat sleg is, sê hy; ’n dier soos die jakkals is byvoorbeeld sleg (ons sal sê skelm).
Maar, sê Bacon, almal weet dat wild oor miljoene jare stadigaan, natuurlik, ontwikkel het, en tog is ons geneig om puriteinse byvoeglike naamwoorde op hulle van toepassing te maak; ons beoordeel hulle in terme van ons wêreld, nooit in terme van ons in hulle wêreld nie.
Die olifant loop reeds op sy spoor van uitwissing, gelade met die antroposentriese frase “grootwild”.
Op dieselfde manier praat ons ook van “lewende hawe”, en daarmee impliseer ons dat dit binnekort “dooie hawe” gaan wees.
Hierdie diere is gestol in hulle eie noodlot: om doodgemaak te word, vervang te word, en dan weer doodgemaak te word.
Ons houding teenoor die dier as ’n gevoelvolle wese moet begin in ons woorde oor hulle; die nuutgeworde gesindheid teenoor die dier moet in gewysigde taal weerspieël word.
As ek hier net nog een maal mag terugkeer na die etoloog Jane Goodall: Dit gaan hier om die verandering van ons gesindheid teenoor diere.
Daar was ’n sjimpansee met die naam Wounda. Sy is as kleinding weggesteel van haar ma om as sirkusdier op te tree, of ’n troeteldier met ’n tutu, of sommer as wildsvleis; en op die nippertjie, uitgeteer en byna dood, is sy gered.
Wounda is toe na die Jane Goodall Instituut se rehabilitasiesentrum in Tchimpounga, Republiek van die Kongo, geneem, waar sy vir jare met kundigheid en liefde gerehabiliteer is.
Toe kom die dag van haar vrylating, en wel op die 100 hektaar-grootte eiland van Tchindzoulou. Wounda kom in ’n groot hok daar aan, vergesel van al die mense wat haar oor die jare versorg het, en Jane Goodall is ook vir die geleentheid teenwoordig.
Die hek van die hok word oopgemaak en Wounda stap viervoets uit, so ’n ent, en dan talm sy, en stap kneukelvoets terug en gaan omhels die vrou wat as primêre versorger opgetree het, en dan spring sy vlugvoetig tot bo-op die hok en omhels ook vir Jane Goodall.
Een, twee, drie keer, ’n ware omhelsing, wat ons ’n stywe drukkie sou noem.
Dit is ontroerend.
En dié een slag, as antwoord op Francis Bacon se weeklag oor ons onkunde oor die verhouding tussen ons en die dier, gaan dit by uitstek oor Wounda die sjimpansee; dié slag kom mense tweede.
Agterna het Jane Goodall gesê dit was een van die merkwaardigste oomblikke in haar hele lewe.
Hierdie toneel van die sjimpansee wat terugkeer om haar versorgers, haar mense, vir ’n laaste keer te omhels, verras ons. Dat ’n sjimpansee so iets kon doen, tot sulke wederkerende liefde, en erkentlikheid, in staat kan wees – dit verstom mense.
Maar die verrassing lê elders. Nie soseer oor die liefde waartoe die sjimpansee in staat is nie, maar die feit dat ons, mense, oor so iets verras kan wees. Op die trant van: Wie sou ooit kon dink?
Dís waar die verrassing lê.
As ek nou terugdink aan daardie hings wat so doodstil op die kind bly lê het totdat hy versigtig met halter en leisels van die kinderlyfie opgelig is, was my ma nie oor die gedrag van Ridja verras nie. Ander mense miskien, maar oor die bewussyn van die dier, nie my ma nie.
“Ek het altyd geweet,” het sy gesê.
En daardie ruimtemuise wás nooit net nommers nie. In ongenade is hulle in buise gestop en al om en om die maan gestuur, en toe, ná daardie reis wat eindeloos en verwarrend moes gewees het, is hulle, by terugkeer op aarde geen vrylating op ’n kol grasveld gegun nie; nee, die vier oorlewendes, Fe, Fi, Fum en Phooey, is doodgemaak en gedissekteer vir biologiese inligting.
Onlangs het twee bioloë, oorstelp, gesien hoe ’n muis ’n ander, byna dooie muis, sy maatjie, red deur ’n soort mond-tot-mond-asemhaling oftewel CPR toe te pas.
As julle my nie wil glo nie, en ek weet dis moeilik, want ons ressorteer onder Homo sapiens, gaan kyk na die beeldmateriaal op YouTube.
Maar eintlik, en dis waaroor ek dit weer het, moet ons verras wees oor die feit dat ons verras is.
En nou besef ek terdeë dat my ma met daardie “Ek het altyd geweet” iets verstaan het van die gevoelvolheid van die dier, in dié geval, Ridja. En dat sy miskien tog meer bedoel het toe sy daardie ruimtemuis as net maar nog ’n nommer beskryf het.
Hierdie gevolgtrekking, in stilswye en stildenke neergeskryf in my notaboeke, was seker, by terugskoue, een van die eerste ingewings om uiteindelik ’n roman, in dié geval ’n versnit van fiksie en niefiksie, te skryf waar ’n dier die storie binnestap as een van die hoofkarakters.
Om dit te kon doen, moes ek egter eers die juiste taal ontwikkel om reg te laat geskied aan die dier, die renostermoeder, wat ek Decima gedoop het.
Ek moes my taal begin stroop van al die ou terme en gesegdes wat die dier hopeloos wanskat, kommodifiseer en beperk, die taal wat die dier as ’t ware op hok slaan.
Die uitdrukking hokslaan is reeds kenmerkend van ons heersende en beheersende taalgebruik: ’n Kalf word met ’n (hok)stok op die neus geslaan om hom van sy ma se uier weg te keer; en dan op hok gesit, oftewel hokgeslaan.
Ek moes my taal so wysig dat woorde, woordorde en segswyses iets probeer weergee van die gevoelvolle diere in hulle eie habitat, of dan binne die gedeelde habitat van dier en mens.
Ek moes as ‘t ware onder die vel van die dier inkom, die dier die kans gun om haar perspektief van die mens te probeer gee.
Daar is ’n passasie in Decima waar ek die swartrenoster laat terugreis in die tyd en in gesprek laat tree met president Theodore Roosevelt, oftewel Teddy, soos hy genoem is.
Teddy en sy seun Kermit was op ’n sending na Sentraal-Afrika, nou bekend as Kenia, en by terugkeer skryf hy sy verslag van hulle grootwildjagekspedisie, getitel African game trails. Roosevelt het altesaam 296 diere doodgeskiet, waaronder tientalle renosters en olifante – sy seun Kermit se totaal staan op 216.
Vir Roosevelt was die renoster bowenal sy teiken.
Die domste dier op aarde, skryf hy in sulke staccato-sinne, die brutaliteit aangegee deur berekend geplaaste leestekens en woordeskat soos: onnosel, swaksiende, stompsinnig, wangeskape en varkagtig – sy afsku teenoor die renoster was ingebed in sy taal.
Decima konfronteer Roosevelt oor dié houding van hom, veral deur net te bestaan in daardie Oos-Kaapse spekboomveld van haar.
Lang paragrawe, dikwels met ononderbroke sinne en klein besonderhede van die bos en die veld, die insekte en die rooisnawelbosluisetertjies, bring haar stille, áldenkende lewe na vore.
Met dié soort taal verwag, hoop, ek dat die leser ongeloof sal opskort, net om dié een slag aan te hoor hoe die dier oor dinge voel.
As dit moontlik is, het die verandering in ons instelling, en taal, reeds begin.
En dit is doodsnodig, want die ietermagô en die swartrenoster en die bloukraanvoël hier in Suid-Afrika, en op die kontinent waar ek woon, by die 2 000 dieresoorte, is hoogs bedreig.
Ek keer vir oulaas terug na die Oos-Kaapse plaas waar my taal, en my erbarming teenoor diere, ofskoon in beperkte mate, begin het. Ek sê “beperkte mate”, want dit was immers ’n skaapplaas waar skape geloop, vetgemaak en geslag is, en dan is die hele siklus herhaal.
My pa het alles geweet op daardie plaas, daardie Oos-Kaapse plaas van ons, en ek huiwer om die besitlike voornaamwoord ons te gebruik, want tereg het my einste pa gesê: “Ons is slegs rentmeesters van hierdie grond.” Alles het hy geweet, en ook niks.
Sy oortuiging dat ons, die wit mense, geheers en beheers het, het, in navolging van Genesis 1:28, nooit gewankel nie.
Maar ek sluit af met die alles wat hy geweet het; al die karoobossies se name wat hy vir my geleer het op ’n Sondagagtermiddag-langstap deur die veld:
kapokbossie en die diepspesery van die kerriebos,
voëltjie-kan-nie-sit-nie
en die ou galgroen bitterbos wat g’n skaap se bek aan sal raak nie,
en die kriebos met die skitterende rooi bessies,
en teen die rante die donker kolle besembos, en die wind, o die aandwind wat so in die naaldblare van daardie besembos kom huil het.
En sy honde, withond Nero en ou Kaptein, Wollies en die parmantige spanjool Kleinrooi, van hulle het my pa álles geweet, en dan het hy so teruggestaan en afgekyk na Kleinrooi en gesê, met die volle bewussyn van die gevoelvolheid van hierdie wese: “Sien jy hierdie hond van my, hy kán skrywe, hy kan net nie praat nie.”
Ek wil graag die Letterkundekommissie van die SA Akademie, sowel as die Akademieraad vir hierdie hoogs gewaardeerde toekenning bedank.
Ek wil ook graag drie mense uitsonder wat my op ’n besondere manier gehelp en ondersteun het op my skrywerstrajek:
- Frederik de Jager, redakteur van my eerste roman
- Riana Barnard wat soveel van my boeke in Engels en Afrikaans die lig laat sien het
- Fourie Botha, die fynsnoei-redakteur van Decima.
Stellenbosch
12 September 2025
Notas
1. etoloog < ethos en logia – die tak van biologie wat gemoeid is met die bestudering van dieregedrag
2. Interviews with Francis Bacon, 1962–1979 deur David Sylvester (1980:46).


Kommentaar
Diepe indruk op my gemaak.
Ons is almal dom en skuldig.
I am of Afrikaans origin but English speaking from my childhood. I find Afrikaans to be a beautiful language and have only discovered it's true richness in my advanced years. I find it sad that it is being bastardised by the intrusion of many English words being used as slang to popularise not the language but the speakers who are mostly from the 'pop art' culture. I do realise that often that is how language evolves but hearing pure unadulterated Afrikaans makes me wish I'd learned more about it when I was younger.
Hoogs interessant, ek self vind alle diere baie meer interessant as mense, ek sien elkeen as 'n indiwidu, wat hy of sy eie indentititeit, en geaardheid het.
Die mens is nie beter as die dier nie, diere verdien dieselfde regte as mense, die reg om lewe, om nie geteel en dood gemaak te word vir ons om te eet nie.
Dit is barbaars en hoort in die grotmanera, nie in die moderne era nie.