
Daar kan aangevoer word dat Eben Venter se roman Decima ’n ekosensitiewe dokument oor die bewaring van renosters is en gevolglik inpas by die heersende kritiek teen die vernietiging van die aarde. Maar die roman is soveel meer. Of soos Ntabeni (2025) dit in ’n bespreking stel: “What elevates Decima beyond the trappings of an eco-grief gospel is its visceral intimacy with the topic.”
Decima vertel nie net die verhaal van die niemensdier Decima nie, maar bied ’n deernisvolle blik op die afsterwe van die moederfiguur as mensdier. Tussendeur word daar aan die hand van wetenskaplike artikels besin oor die geskiedenis van die renoster, asook oor hoekom renosterhoring veral in Chinese medisyne so gewild is. Ook word die bloedlustige jagters uit die geskiedenis aan die kaak gestel. Andries Visagie (2023) maak in sy resensie ’n interessante opmerking oor die roman wanneer hy sê dit is onvermydelik dat Venter oor diere sou skryf, want telkens verken Venter in sy romans die mens se “oormatige aptyt vir vleis”.
Die kompleksiteit om oortuigend vanuit die perspektief van die niemensdier te skryf, is ’n problematiese kwessie, en skrywers kan maklik van antropomorfisme beskuldig word. In Decima laat die verteller hom soos volg hieroor uit:
Ek het natuurlik die praktyk van antropomorfisme onder skoot, die praktyk waar jy menslike eienskappe aan die dier toeskryf. Baie mense vrees antropomorfisme as ’n praktyk wat homo sapiens hul oppervlak bo die dier gaan ontneem … die dier is ’n ondergeskikte wese sonder taal, dít behoort aan óns. (27)
Hy haal Frans de Waal, ’n dierkundige, aan wat meen die “verwerping van ooreenkomste tussen die mens en dier is ’n veel groter probleem” as om menslike eienskappe aan die dier toe te skryf.
Venter slaag daarin om die renoster se fokalisering oortuigend weer te gee, asook haar waarneming van onder meer haar dogter Thandeka se dragtigheid. Die einde van Decima word beskryf deur Skalpie, ’n aasvoël, wat verslag lewer oor die geleidelike vernietiging wat hy waarneem. Vergelyk die slottoneel waar hy beskryf hoe sy makkers aan Decima se karkas vreet en hy weier om daarvan deel te wees. Die roman sluit af met hom wat “sy kop in die bleek vou onder sy vlerk” verberg.
Soos reeds gesuggereer, gaan hierdie roman oor meer as net die lewe en wedervaringe van Decima, die renoster. Haar lewensloop is ten nouste verweef met dié van die ander karakters in die roman, soos die wildbewaarders, die jagters en verteller se sterwende moeder. Die sterwende ma se laaste oomblikke word deur bemiddeling van haar vriend met hom gedeel, net soos die geval is met Decima.
Deurlopende temas in Venter se oeuvre kom ook in hierdie roman voor: die kwessie van eienaarskap en besitreg, die landelike versus die metropolitaanse, die verhouding tussen ouer en kind, asook die gevoelvolle beskrywing van ’n sterfgeval. Laasgenoemde kom voor in sy vroeë en meesterlike Ek stamel ek sterwe. Ook in Wolf, wolf word die agteruitgaan van die pa se liggaam en sy dood beskou en die rol van die seun as versorger.
Soos in die meeste van sy romans tref ons hier ook ’n buitestanderfiguur aan wat, soos Venter, in ’n gesprek met Yves T’Sjoen (2023) noem, eie is aan hom: “Ek self was, belaai met al die voordele van ’n wit, bevoorregte man, nog altyd ’n buitestander. Op skool is ek ’n sissie genoem omdat ek nie die fris, rugbyspelende tipe was nie. (So ’n benaming sal my deesdae vlei.)”
In hierdie selfde onderhoud haal Venter vir Ingrid Winterbach aan wat haar soos volg oor Decima uitlaat – en wat lesers van die romans kan beaam: “En al hierdie uiteenlopende sake (in Decima) is saamgesnoer deur jou lieflike, verleidelike, sensuele stem. So ’n uniéke stem.”
Miskien is dit juis omdat Venter vanuit die soel Australië teruggryp na sy Oos-Kaapse jeugjare dat hy so sensueel kan beskryf. Dit is veral wanneer hy oor reuke en die skerp reuksintuie van die renosters praat dat hy as’t ware die leser saam laat ruik aan die bol. Al moet hy erken dat die boodskap wat in die misdorpe opgesluit is, nie deur mense geïnterpreteer kan word nie (88). In aansluiting hierby word Decima se waarneming van die twee stropers soos volg weergegee: “Dis dit, die stank aan hulle, die twee daar reg voor haar. Daardie walgreuk wat haar teruggooi, ver, ver terug, na die goor van lies en onderarm” (177).
Ten slotte moet ons egter Michael Titlestad (2023) se opmerking oor die roman in gedagte hou: “Die roman verbreed ons empatiese verbeelding en ons deernis met diere. Maar ons probeer diere vermenslik, maar ons kan nie. Hulle is buite ons diskoers en ons kan hulle bloot waarneem vanuit ons raamwerk.”
Voorsitter, ek versoek u om die Hertzogprys vir Prosa aan Eben Venter te oorhandig vir sy roman Decima.
Stellenbosch
September 2025

