kykNET Silwerskermfees 2018: aantekeninge oor die meeste van die kortfilms

  • 0

Wat hier volg, is kort notas oor die meeste van die kortfilms by hierdie jaar se kykNET Silwerskermfees, asook ’n puntetelling uit tien (by die meeste van die films). Vir diegene wat die fees bywoon: berei julle voor vir besonderse films wat omtrent elke genre dek.

Haatklop 4/10

Mariette skrik wakker en peul uit die plastieksak waarin sy bebloed toegedraai was. Sy is duidelik onseker oor wat gebeur het en begin haar pad huis toe struikel. Stadig maar seker kom haar geheue terug en gaan soek sy vergifnis, maar betrap Karel met ’n ander vrou. Is Mariette in staat om te vergewe en aan te beweeg?

Die spannende musiek tref ’n mens eerste. Jy sit dadelik op die rand van jou stoel, maar dan raak dit egter steurend halfpad deur. Dit is baie mooi verfilm en laat werklik jou vel kruip sonder dat jy weet waarom. Die toneelspel is egter te dramaties. Die maskara wat smeer en Mariette wat die kurk met haar tande uittrek is stereotipies. Ek het nie ’n idee wat die einde beteken nie. Ek weet nie waarom Mariette in die eerste plek in ’n plastiese sak amper begrawe is nie. Ek gee ook nie om nie.

Uitstappie 9/10

Daar is niks soos vars lug om die kop ’n bietjie skoon te kry nie. Maar Magda is moeilik wanneer dit by uitstappies kom. Sy dink nie veel van die gesprekke wat ’n mens langs die pad moet aanknoop nie en vertrou haarself ook nie noodwendig om die pad terug te vind nie. Dit is ’n stryd om haar gereed te kry, maar sy het nie gereken op M nie – ’n jong, doelgerigte vrou wat haar nie gaan laat ore aansit nie. Die plan vir vandag se uitstappie bly dus staan.

’n Ongelooflike film, en ongelooflike natuurlike vertolkings deur Annelisa Weiland en Greta Pietersen. Al verwag jy hulle gewone hoë standaard van toneelspel, word jy steeds oorrompel. Die gebruik van natuurlike lig, die stilering van die woonkamer, perfekte musiek en die kraakvars dialoog dra als by tot ’n vreeslik-ontroerende film. Ek het nie die einde sien kom nie.

Kombi, kameelperd en camcorder 8/10

Wanneer vier vriende vir ouma Dorothy optel vir haar kleindogter Celia se troue, kom die wiele af tussen Happy Endings Ouetehuis en die troue in Potchefstroom. Toe Celia op haar jarelange studentevriend, Armand, se knoppie druk om haar ouma na haar troue toe te bring, kon sy haar nooit indink hoe hierdie road trip sou ontvou nie. Vasgevang op ’n ander vriend, Simon, se camcorder, kan die komiese avontuur meegemaak word op pad troue toe.

Hierdie kortfilm is werklik snaaks. Inderwaarheid voel ek dit moet in ’n vollengte film omskep word. Die skreeusnaakse dialoog vloei gemaklik, terwyl die menslikheid nie in die komedie verlore gaan nie, deels oor die gebalanseerde vertolkings wat nie oorboord gaan en karikature van die karakters maak nie.

Leeftyd van ’n orgidee 9/10

Ben is in rou gedompel nadat sy geliefde vrou, Emma, sterf. Emma se kweekhuis, gevul met ’n indrukwekkende orgideë-versameling, is al wat vir Ben troos verskaf. Hy probeer gevolglik obsessief die plante lewendig hou, maar hy is onkundig en onbeholpe en die orgideë sterf een vir een. Ben begin die dooie orgideë oral wegsteek; ’n geheime versameling van sy verlies. Ons volg vir Ben en sy hond deur die dae en maande wat verby flits. Ben noteer sorgvuldig elke dag wat hy alleen moet bestaan. Sy wêreld word al hoe kleiner, totdat hy een nag tydens ’n droom ’n gewaarwording beleef wat as sleutel dien tot sy uitkoms.

Omtrent elke skoot in hierdie poëtiese, dog eenvoudige film is ’n kunswerk. Die omdraai in die leë bed, twee koppies uithaal in plaas van een, Ben wat ruik aan Emma se klere, die klavier as bêreplek, die stof op die kap van die klavier, dit als dra by tot die poëtiese verlatenheid.

Wilson Dunster se vertolking is perfeksie, hy gee nie te veel van Ben weg nie, maar ook nie te min nie. Jana Cilliers bring altyd ’n elegansie na haar vertolkings. Die toneel tussen hulle twee met die lasagne in die middel, is ’n persent om stadig oop te maak.

Nag van die ondier 3/10

In ’n onheilspellende woud, vergader vriende om ’n kampvuur om stokbrood voor te berei, potjiekos te maak, pyp te stook en stories te vertel van ’n ondier wat winters gelede dié woud bewoon het. Wanneer die nag begin brul en die bome begin beef, besef die vriende dat die stories van die ondier dalk nie net stories was nie. ’n Onaardse spel ontvou in die woud as hulle besef dat sonder lig, die skadu jou nie kan vang nie.

Die beste deel van hierdie kortfilm is die klassieke monsterfilmplakkaat. Die film werk glad nie. Daar is ’n wending aan die einde wat veronderstel is om die oordramatiese toneelspel, die sagte fokus, die amateur-kamerawerk en die verspotte dialoog te verduidelik. Die klem lê op veronderstel. Die wending, alhoewel ek dit nie voorspel het nie, is nie goed uitgevoer nie. Ek het lankal nie meer belanggestel in die film nie.

Sterrejag

Daniel, ’n avontuurlustige seun, word daagliks betower deur ’n storie van ’n towenaar, ’n held en ’n draak op die maan. Dié storie speel af teen die muur van sy buurman, Jacob, se huis in die vorm van ’n skadupoppespel. Wanneer dinge op ’n dag skeef loop en dit lyk of sy skadu-avontuur bedreig word, moet Daniel al sy moed bymekaar skraap en alles in sy vermoë doen om sy storie te red.

Die klaviermusiek is steurend. Die skadupoppe is nie indrukwekkend genoeg nie. Die kamerawerk is gemiddeld. As jy die ou man se artritis hande wil gebruik as ’n fokuspunt, kan die akteur se hande nie normaal wees nie. Dan glo ek dit nie vir ’n minuut nie. Die jong Daniel is ook nie oortuigend nie.

Tuiskoms

Honger, koud en alleen in die strate is vir Eleah ’n daaglikse oorlewingstryd. Dit is hier waar sy ’n geheimsinnige vreemdeling ontmoet wat haar meedeel dat hy weet waar haar ma is. Hy belowe Eleah om haar na haar ma te neem, na ’n plek waar sy nie meer alleen en kwesbaar sal wees nie, ’n plek van warmte. Sy is desperaat om saam met die vreemdeling te gaan, maar hy het sy prys. En dis dalk meer as wat sy het om te gee. Sy sit alles op die spel om vir die vreemdeling te gee wat hy van haar eis.

Die stil, lang skote het nie bygedra tot die film nie. Die terugflitse se stadige aksie en sagte fokus het dit sentimenteel gemaak. Alhoewel Charis Williams uitblink, maak dit film as ’n geheel nie sin nie. Ja, dit is creepy (veral die man wat opstaan by die tafel in net sy onderbroek), en mens verstaan sy is in gevaar. Maar waarheen is sy op pad? Wie is die vreemdeling? Dalk is daar ’n dieper betekenis wat ek gemis het.

Grys

Ná die dood van sy ma leef tiener Xander en sy pa, Dirk, verby mekaar. Albei rou op hul eie manier. Xander probeer vasklou, Dirk probeer weggee. Tuis is Xander alleen en die stilte is oorweldigend. Daar is ’n klop aan die deur en sy vriend Phillip bied ’n skouer. Hy is op soek na wie Xander eens was. Op minder bekende plekke vind Xander ontvlugting in iets wat hul verhouding met mekaar vir altyd sal verander. ’n Intieme uitbeelding van ’n familie se unieke manier van kommunikeer.

Die kamerawerk is uitgeblaas en die (wond-)grimering belaglik. Die op en af loop in die gang is ietwat steurend. Ek is onduidelik oor die punt van die rok? Wat dit presies beteken. Die pa se hartseer is egter uiters tasbaar en die besonderse einde maak hierdie film die moeite werd.

Baai baai Joseph K 2/10

Josef K, ’n angstige man in sy vroeë dertigs, besluit om vroegoggend te gaan draf. Ná ’n toevallige ontmoeting met ’n mede-drawwer, kom hy af op ’n fiksheidshorlosie wat beheer word deur ’n bose digitale hasie, genaamd Bunny. Bunny neem sy foon oor en Josef sit die horlosie aan. Bunny forseer Josef om te hardloop deur hom fisiek te skok elke keer as hy weier. Verder het Bunny toegang tot Josef se sosiale media rekeninge, sy internetgebruik en kan hy hom selfs afpers. Dit ontaard in ’n vreemde resies tussen hom en die horlosie.

Als omtrent hierdie film is ongeloofwaardig. Josef gaan heel eerstens nie sommer iemand se fiksheidshorlosie aansit nie. So die film se fondasie stort dadelik ineen. Die "robot", Bunny, se stem is so irriterend jy wil die klank heeltyd afsit.

Kromkieriefontein 9/10

Op die dorpie Kromkieriefontein is alles krom. Niemand durf oor die rede praat nie en niemand mag die burgemeester, meneer Asvaal, se bevel in 1982 bespreek nie. Almal loop gehoorsaam en gedweë met hangskouers en ’n gefokusde blik op hul voete en die volgende tree. Almal behalwe Juffrou Kiertsregop, die flambojante graad 2-onderwyseres van Laerskool Kromkierie. Vier nuuskierige agtjariges – Dahlia, Bella en die tweeling Tienie en Tamara – pak ’n avontuur aan om uit te vind hoekom hulle juffrou so penorent loop. Die sleutel tot dié raaisel sal nie een van hulle onveranderd laat nie.

Wat ’n lieflike strokiesprent. Die animasie is vars, die dialoog toonomkrullekker. Die tema van dagdroom en eerder opkyk, word nie oordoen nie. Die kind as verteller werk baie goed en die musiek is gepas (alhoewel dit op tye die dialoog oordonder). Ek beveel dit sterk aan.

Benjamin 6/10

Chantelle September, ’n werknemer van Kinderwelsyn Suid-Afrika, word gestuur na die vervalle plattelandse dele van die Noord-Kaap, om sensuswerk te doen. Haar laaste opdrag is by ’n desperate plaasgemeenskap onder die leierskap van ’n charismatiese grondeienaar, Tobias du Toit. Haar ondersoek in die area laat haar met meer vrae as antwoorde, die belangrikste een seker: wie is Benjamin?

Benjamin is seker een van die visueel-sterkste kortfilms van die fees. Dit het ongelukkig min om die lyf.

Die klankontwerp is uitstekend. Ek hoor nou nog Chantellle se stewels op die grondpad, of die mense wat sing. Die film ontvou ook teen ’n gemaklike pas. Crystal Donna Roberts is uiters oortuigend. (Ek geniet haar vreeslik in Fynskrif.) Die einde is ’n lekker verrassing.

Die Afrikaans is egter bietjie formeel en die musiek soetsappig, veral tydens die terugflitse. Ek het die futuristiese telefoon/opnemer bietjie amateuragtig gevind. En hoekom word die woord "meerderes" oor en oor gebruik. Chantelle se agtergrondsverhaal dra ook nie by tot die film nie.

Axis Mundi 9/10

Paraplegiese TV-aanbieder Nora de Vos was eens die “Koningin van Televisie”. Maar met haar kykergetalle wat daal, wil die netwerk haar program kanselleer. Nora het egter ander planne. Sy nooi Johan Moolman, ’n bekende geneser, na ’n regstreekse uitsending van haar program: ’n man wat beweer hy kan haar weer laat loop. Dit beloof om die TV-gebeurtenis van ’n generasie te wees, een wat Nora se loopbaan sal red. Soos die kameras rol, is die vraag op almal se lippe: sal Johan Moolman vir Nora de Vos weer laat loop?

Jô, wat ’n besonderse film – van die retro credits/musiek/klere, tot die potplante op stel, die gebruik van verskillende kameras, die 1980s TV-program-gevoel en die gekleurde bottels in die badkamer. Natuurlik gom Deon Lotz en Antoinette Louw se verbysterende vertonings als saam. Hulle is magneties.

Ek het die wending aan die einde sien kom, maar was so beïndruk met die storie en die toneelspel dat ek nie omgegee het nie.

Nama swaan

Drie jaar na Willie se oupa in ’n mynramp dood is, het hulle ’n nuwe lewe in ’n plaasdorp naby Kaapstad begin, ver weg van die verlede. Nou in matriek, wil hy wiskunde studeer, maar sy ouma weier om sy beursaansoek te teken. Sy plan: bereken ’n som om die volstruis, wat sy ouma in ’n hok aanhou, te laat vlieg, vóór hy op die plaas as doodgewone arbeider opeindig. Soos hy worstel, besoek ’n magiese Nama-Oerstem hom en word dit die wind onder sy vlerke soos hy sy vryheid verken. Geïnspireer deur Tsjaikowski se “Swanemeer”, word Nama Swaan ’n simbool om nooit op te hou droom nie.

Ek moes die sinopsis lees om uit te werk waaroor die film gaan. Die kamerawerk was net ’n paar meter uit. Ek wou hardop sê: "Beweeg ’n meter regs", of "’n halwe meter ondertoe".

Die toneelspel is oordrewe en stokkerig. Wat het Willie op die papiere uitgewerk? Wat is die punt van die volstruis uitlaat? Die volstruis wat terugkom? Die sussie wat wakker word?

Non(kompos)mentis

Karla is ’n normale huisvrou, ’n liefdevolle ma en getroue eggenoot. Haar liefde vir tuinmaak hou haar compos mentis. Dit is waar sy, al is dit net vir ’n rukkie, kan ontsnap van realiteit. Haar goedhartigheid word bewys wanneer sy ’n werklose man met kos help, maar haar konserwatiewe man, Robert, is gekant daarteen – bedelaars is nie hulle verantwoordelikheid nie. Dan word Karla se hele optimistiese bestaan op een dag omvergegooi wanneer iets ondenkbaar met haar gebeur. En net haar speurder-tweelingbroer kan haar help. Non(Kompos)Mentis is ’n verhaal oor die onvoorspelbare wêreld waarin almal hulself bevind.

Die film is teleurstellend. Van twee van my gunsteling-akteurs het ek nie oordramatiese vertolkings verwag nie. Die storielyn is ook ongeloofwaardig. Het die ma nie gedink dit is vreemd dat haar dogter die huis binnestorm met ’n groot wond op haar voorkop nie? Die boemelaar wat bedel vir geld dra nuwe, skoon klere. Later het hy genoeg geld vir ’n ysterpot, olie en vetkoekbestanddele? Die spaargat in die tuin is ook te ooglopend, en die musiek wat verander van klassieke musiek, na ’n kasset wat trek, is oordadig. Ek het ook gevind die film preek te hard.

Die ongenooides

Die wêreld het verander, nie vir die beter nie. Bertha van Wyk lewe in isolasie en is verwyder van enige menslike kontak. Niks van dit was haar keuse nie, maar dis die situasie waarin sy nou moet oorleef. Op die herdenking van ’n tragiese herinnering, word Bertha se chaotiese lewe verder in verwoesting gegooi wanneer twee geheimsinnige vreemdelinge haar lewe betree.

Die ongenooides is ’n werklik spannende inskrywing. Die stilering is met groot sorg gedoen – die ou TV, die legkaart, die skaakstel van koeëldoppies en blikbekers. Nicola Hanekom se oortuigende vertolking laat jou amper, amper vergeet van die gate in die storie. Die gate dan. Geen huis wat op ’n kragopwekker hardloop, gaan daardie ou stoof gebruik om water te kook nie. Dit maak ook nie sin dat sy die pa en kind inlaat nie en die CGI "verskyning" aan die einde ruïneer die film. Die "aanvaller" moes in ons verbeeldings gelewe het.

Fluit fluit 6/10

Ons ontmoet ’n vrou van inbors en karakter wat ’n goeie lewe lei en ’n buitengewone aanvoeling vir fluit het. Fluit, soos in die volmaakte vorming van honderde melodieë en klanke van tuinvoëls en ander geluide met behulp van asemgebruik en die perfekte plasing van haar tong. Dis immers wat sy van vroegoggend tot laataand doen. Om hierdie wonder wyer as haar eie, bekende wêreld te laat strek, huur sy ’n jong kameraspan om haar te volg in die dae wat oploop tot ’n groot konsert. Sy is tog, soos sy self sê, Suid-Afrika se fluitfenomeen.

Cindy Swanepoel lewer ’n verbysterende vertolking. Tien uit tien vir haar. Sy beweeg sonder moeite heen en weer tussen patos en humor. Dit is haar spel wat die wending geloofwaardig maak, wat jou maak omgee vir Ryne. Sy word ongelukkig in die steek gelaat deur tegniese tekortkominge. Alhoewel die stilering uiters goed is (Ryne se rokke is iets om oor huis toe te skryf), is die kamerawerk ondergemiddeld en die beligting uitgeblaas. Dit is ’n jammerte.

Buiteperd 2/10

Armand, ’n gebore verloorder wat by sy pa bly, het altyd gedroom om ’n akteur te word, maar soos alles in sy lewe het hy ook hier handdoek ingegooi. Deesdae sit hy en pa Theuns by die huis en dobbel geld uit op perdewedrenne. Theuns sterf skielik sonder ’n sent. Armand se selfvertroue is teen die grond en hy moet sonder geld ’n heldebegrafnis reël of tevrede wees met ’n staatsbegrafnis. Dit ontaard in ’n dobbelwedren teen tyd en Armand is die buiteperd.

Die film is uitgebaas, die spel dramaties, die kamerawerk swak en die klaviermusiek steurend. Die einde is uiters verwarrend. Watse skote is afgevuur? Wie is geskiet? 

Cowboy Dan

Kroeks steel ’n cowboy wat in ’n droomwêreld leef se beeste terwyl ’n beeldskone vrou sy aandag aflei. Maar die kroeks is kardiewe, die cowboy ’n karwag, die beeste karre en sy muse ’n kroegkelnerin. Die diefstal sit die stedelike cowboy op ’n tog om die kar terug te kry en reg en geregtigheid te laat geskied. Hierie tog lei vir Cowboy Dan deur die kriminele onderwêreld van Kaapstad, met Zancas – ’n bang boemelaar – as sy hulp.

Wat ’n briljante film in die geheel. Die kamerawerk is ’n plesier, want als is perfek geraam en die kleure pop uit. (Die ekstra element van gekrapte film is lekker.) Die dialoog vloei en skel en sleep vlerk. Die klankbaan staan uit wanneer dit moet, en val weg wanneer dit moet. Dit is vrek snaaks, oor die algemeen maar ook in die fynere details. (Die tolbos wat waai.) Die verbeeldingsreise is fenomenaal. (Kyk uit vir die toneel op die motorfiets.) Brendan Daniels skop gat in hierdie film. Trix Vivier is kort op sy hakke.

Die invloed

Hilda Sewes se man word deur die see geneem. Sy sweer dat Milla, haar dogter, die see nooit sal ken nie. Klein Kalbas, Milla se beste maat dra gereeld vis aan. Hilda se vermanings val vir jare op dooie ore –tot Milla se oë die ware rede vir sy daaglikse besoeke verklap. Hilda is vasberade om haar dogter so ver weg te neem as wat nodig is om hierdie liefde tot ’n einde te bring, maar Kalbas beloof dat hy hulle sal volg tot aan die uithoeke van die aarde. Niks sal hom keer nie. Wat hierna gebeur, bewys: liefde ken geen perke nie.

Die twee aktrises probeer hul bes, maar die ander onderdele van die film is gemiddeld. Die karakters is dun geskryf. Hoekom tree haar ma so op? Die stilering laat veel te wense en ’n sigbare mikrofoon op een aktrise se rug is ’n probleem. Die film wil bewys dat liefde geen perke ken nie? Wie se liefde? ’n Ma s’n? Twee verliefde tieners s’n? Ek weet nou nog nie.

Kloof 9/10

Dit is ontgroeningsweek op kampus en Dawid, saam met sy mede-koshuisseniors, gee vir Siyanda en die ander eerstejaars hel. Die doop raak al meer intens en bou op tot een laaste uitdaging: om as broers ingesweer te word moet hulle by ’n kloof op stap en vanaf ’n hoë krans in ’n rotspoel spring. Maar Siyanda is te bang en dit is Dawid se verantwoordelikheid om hom te oortuig. Weke later, wanneer Dawid en Siyanda saam na hul tuisdorp terugkeer, word dit duidelik dat die twee ou vriende se verhouding na die gebeure van die ontgroening nooit weer dieselfde sal wees nie.

Kloof is ontroerend. Al die onderdele werk perfek saam om jou eers benoud te maak (die hartklop), maar tog gerus te stel (die terugflitse), en dan jou hart te breek. Ek beveel dit sterk aan.

Vir ontbyt 7/10

Wat my dadelik opgeval het, is die lekker gebruik van dromme. Dan die gebruik van die bestaande omgewing as milieu – die graffiti op die mure, die winkeltekens, plakkate en afgesaagde boomstomp.

Die kamerawerk is goed. Die karakters word van agter en voor geskiet. Vir my het dit bygedra tot die twee kante van ’n persoon, ’n lewe. Dalk was dit toevallig.

Daar is ’n lekker krapperige energie tussen die twee akteurs, Beer Adriaanse en Dirk Vermeulen. Beer is enigmaties as die hardegat boemelaar en ? versinnebeeld ’n tweedehandse motorverkoopsman.

Skrywers Anoniem 7.5/10

’n Vars en vreksnaakse kyk na die lewe van ’n skrywer. Die dialoog vloei vinnig en maklik. Al die akteurs beïndruk, maar Sandra Vaughn staan uit. Daar is aandag gegee aan lekker details – elkeen se naamplakker wat sy probleem verteenwoordig, die stowwerige kerksaal, die kerkklok wat op die perfekte tyd afgaan. Die moeite werd.

  • Lees ook:

’n Fliekpleb se eendagervaring by die 2018 kykNET Silwerskermfees

kykNET Silwerskermfees 2018: Wenners aangekondig

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top