kykNET Silwerskermfees 2018: 20 kortfilms in kompetisie

  • 0

Die agtste Silwerskermfees in Kampsbaai het pas afgeloop. Die 20 kortfilms in kompetisie, 10 elk van 11 en 22 minute lank, is uit ’n groot aantal inskrywings gekies en vervaardig met befondsing deur kykNET. Hoewel die standaard nie deurgaans so hoog was as die voorafgaande drie jaar nie, was daar tog veel om oor opgewonde te raak.

In feitlik ’n derde van verlede jaar se kortfilms was verlies ’n tema, en vanjaar is dit weer so, maar veel sterker: die dood figureer direk of indirek in 12 uit die 20 films: Die leeftyd van ’n orgidee, Grys, Haatklop, Tuiskoms, Uitstappie, Kloof, Non (kompos) mentis, Buiteperd, Fluit fluit, Die invloed, Die ongenooides en Benjamin. En vyf films eindig met geweerskote – sekerlik ’n teken van die tye waarin ons leef. Maar hoewel die sentrale tema dieselfde is, word die films op uiteenlopende wyse aangepak, wat sorg vir ’n wye verskeidenheid – ’n besliste pluspunt van vanjaar se aanbod.

Die leeftyd van ’n orgidee, wenner in die 11 minuut-kategorie, is ’n skrynende uitbeelding van ’n ou man wat die dood van sy vrou te bowe probeer kom. Dis fyn gestileer en pragtig verfilm, met ’n subtiele slot wat lof verdien vir Marí Borstlap, wat ook bekroon is as beste regisseur.

Grys, oor ’n tienerseun en sy pa wat eweneens worstel met verlies, is ’n klein, stil film wat ook beïndruk met sy paslike slot. Dieselfde geld Kloof, wat amper ’n soort ouboet vorm vir Grys en wat handel oor twee mansstudente en ’n universiteitskoshuis se ontgroening wat lelik skeefloop. In ’n tyd wat die Magnus Malan-bewerings toksiese manlikheid opnuut belig, verdien die filmmakers volpunte vir die manier waarop hulle moeilike onderwerpe kaalvuis aanpak. En dis nogmaals ’n film met ’n goeie slot. Aansluitend by hierdie mannefilms is daar Buiteperd, met die mooi uitbeelding van ’n liefdevolle pa-seun-verhouding. Ongelukkig word die film se goeie punte en humoristiese oomblikke bederf deur ’n oorhaastige slot wat nie behoorlik uitgewerk is nie.

’n Besonderse film wat temagewys op sy eie staan, is Nama Swaan. Dis nie enige filmmaker wat magiese realisme oortuigend kan uitbeeld nie, maar Jason Jacobs (draaiboek en regie) kry dit reg. Die invloed, ’n moderne Romeo en Juliet-verhaal, is nie in alle opsigte ewe sterk nie, maar ook hier is die magies-realistiese slot suksesvol. En ’n welverdiende nominasie as beste akteur vir Gershwin Mias.

Nog so ’n eiesoortige verhaal is Fluit fluit, losweg gebaseer op die fluitende predikantsvrou wat in die 1980’s die volk bekoor het met “Aandlied van die voëls”. Die periode-uitbeelding is trefseker en resoneer onder meer met die uitbeelding van Afrikanervroue in Sitting Pretty. Cindy Swanepoel verdien haar bekroning as beste aktrise deur en deur.

Non (kompos) mentis is gebaseer op die 2018 Woordfeesbundel se wenkortverhaal deur Clari Niemand, met kykNET wat ook die kortfilmprys daaraan toegeken het. Ten spyte van ’n paar haakpunte is dit ’n teksgetroue aanpassing van die verhaal met sy ontredderende sosiale kommentaar op die vrese en skuldgevoelens van wit bevoorregting.

Die swaargewig-dramas in die 22 minuut-kategorie is Die ongenooides, Benjamin (wenner: beste kinematografie deur Johannes Pieter Nel) en Axis Mundi. Die ongenooides speel af in ’n post-apokaliptiese Suid-Afrika waar mense genadeloos uitgemoor word, en Benjamin in 2030 tydens ’n 10 jaar lange droogte, en elkeen gee op sy eie manier ’n skrikwekkende toekomsbeeld. Die sielkundige riller Axis Mundi is in ’n klas van sy eie en troon uit wat betref die perfek afgewerkte draaiboek, foutlose regie en skitterspel deur Deon Lotz en Antoinette Louw, met eggo’s van Philip Seymour Hoffman en Joaquin Phoenix in The Master. Dis bekroon as beste film in die 22 minuut-kategorie, sowel as beste draaiboek en beste regie deur Matthew Jankes en Sean Steinberg.

En dan is daar, te midde van al die vrees en verlies, moord en doodslag, die reddende genade van komedie. Verlede jaar het sewe komedies opgelewer, vanjaar was daar net twee: ’n Kombi, kameelperd en ’n camcorder, ’n heerlike comedy of errors, en die klugtige treffer waarmee die kortfilms afgesluit is: Cowboy Dan. Laasgenoemde het dieselfde opgewondenheid gaande gehad as Vuil Wasgoed in 2014 – met sy wonderlik oorspronklike vermenging van Don Quixote en die western (Kaapse styl!) is dit een van daardie films wat jy móét sien. Brendon Daniels, bekend om sy ernstige werk, doen komedie soos ’n ou pro en is welverdiend bekroon as beste akteur, terwyl Reginald Hufkie as sy grootoog-Sancho Panza glad nie te versmaai is nie. Alexander la Cock het die prys ontvang vir beste redigering.

Kry dié films vanaf November op Showmax of geniet dit op kykNET. Soos elke jaar verdien die blou kanaal alle fliekliefhebbers se dank vir hierdie onmisbare inspuiting in die Suid-Afrikaanse filmbedryf.

Lees ook:

kykNET Silwerskermfees 2018: aantekeninge oor die meeste van die kortfilms

kykNET Silwerskermfees 2018: Wenners aangekondig

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top