
Die kortlyste is bekend gemaak vir vanjaar se kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar-pryse waarmee erkenning gegee word aan uitnemende Afrikaanse resensies wat in 2021 verskyn het. Die kortlyste is saamgestel uit inskrywings wat op ’n verskeidenheid platforms verskyn het.
Drie pryse word toegeken: vir Afrikaanse resensies oor Afrikaanse fiksie en niefiksie onderskeidelik, sowel as langer, tipies meer akademiese resensies. Die drie wenners ontvang elk R30 000.
Die sameroeper van die keurpaneel, die boekjoernalis en digter Bibi Slippers, sê die resensies het groot leesplesier verskaf, veral aan fiksie- en niefiksiekant. “Ons was veral opgewonde om vanjaar meer gebalanseerde resensies te lees wat sinvolle kritiek uitspreek, en nie net sonder meer ’n boek se lof besing nie. Die resensente wat kritiseer het in die algemeen geen moeite ontsien om die kritiek so te verpak dat dit nie ontmoedigend is nie (veral by debuutskrywers) maar eerder hoopvolle rigting aanwys vir die toekoms, of vergelykend te werk gaan binne ’n skrywer se oeuvre. Daar was heelwat waterdigte resensies wat meegeding het vir die toekennings, en uiteindelik was dit dikwels styl en ’n ekstra tikkie flair wat die verskil gemaak het tussen ’n wenner en ’n resensie wat net-net nie die kortlys haal nie.”
Die kortlyste is in alfabetiese volgorde soos volg:
FIKSIE:
- Jean Meiring: “Leitmotiewe kelder ’Lemmingmense’” oor Die Lemmingmense deur Fransi Phillips in Rapport Weekliks, 5 Desember 2021
- Charl-Pierre Naudé: “Dekonstruksie as gebundelde terrorisme” oor Die wrede relaas van Vuilgat en Stilte deur Aryan Kaganof in Beeld/Die Burger/Volksblad, 27 September 2021
- Nathan Trantraal: “Jephtas nie bang om yt te staanie” oor Soe rond ommie bos deur Veronique Jephtas in Rapport Weekliks, 28 Maart 2021
- Louise Viljoen: “Gebore innie Swatland” oor Swatland deur Ashwin Arendse in Rapport Weekliks, 21 Februarie 2021
Die aantal en gehalte van fiksie-inskrywings het, soos verlede jaar, aan vier resensente ’n plek op die fiksie-kortlys besorg.

Foto’s van Charl-Pierre Naudé, Nathan Trantraal, Louise Viljoen en Jean Meiring: verskaf
NIEFIKSIE:
- Lindie Koorts: “Neerhalende geskiedskrywing vir ’Jan Publiek’” oor Louis Botha: Krygsman, Generaal, Staatsman deur Richard Steyn in Rapport Weekliks, 21 Maart 2021
- Jean Meiring: “Goldblatt ’n vreemde, fiere eik van ’n vrou” oor Op soek na Saartjie deur Dominique Malherbe in Beeld/Die Burger/Volksblad, 17 Mei 2021
- Ingrid Winterbach: “Woordeboek soos ’n vuurtoring teen rotse” oor Woordeboek van die Afrikaanse Taal: Deel XVI in Beeld/Die Burger/Volksblad, 23 Augustus 2021

Foto’s van Jean Meiring, Lindie Koorts en Ingrid Winterbach: verskaf
LANGER RESENSIES:
- Jonathan Amid: “Kantaantekeninge oor Lien Botha se Vin”, ’n LitNet-resensie van Vin deur Lien Botha, LitNet, 18 Augustus 2021
- Willie Burger: LitNet-resensie van ’n Hart is so groot soos ’n vuis deur PP Fourie, LitNet, 27 Mei 2021
- Izak de Vries: LitNet-resensie van Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith, LitNet, 6 April 2021

Foto’s van Willie Burger, Jonathan Amid en Izak de Vries: verskaf
Bibi Slippers se medekeurders was die regisseur, skrywer en meningsvormer Mercy Kannemeyer, en Ryan Pedro, digter en draaiboekskrywer.
Die wenners word op Saterdagaand 24 September 2022 in Kaapstad aangekondig saam met die wenners van die kykNET-Rapport Boekpryse.
Lees ook:
Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith: ’n ondersoek deur Izak de Vries
’n Hart is so groot soos 'n vuis deur PP Fourie: ’n resensie
Persverklaring: kykNET-Rapport-boekpryse 2022: Kortlyste bekend

