kykNET Fiëstas 2018: Indrukke

  • 0

kykNET se jaarlikse Fiësta-toekennings is op 8 Februarie by die Teatro in Montecasino aangebied – en genadiglik het niks van die venue se kitsch op die toekenningsaand afgesmeer nie. (Dit was inderwaarheid een van die minste kitsch toekenningsaande van sy soort waar ek al was, ten spyte van ’n tema wat maklik kon sorg vir lekker kaas, naamlik “Tapisserie”).

Die gevaar met ’n oorsig van ’n toekenningsaand is dat mens geneig voel om die aand as ’n barometer te lees van die bedryf wat gevier word. Die Fiëstas is egter ’n volwaardige produksie in eie reg, wat hoogtepunte van die jaar se aanbod by Suid-Afrikaanse kunstefeeste verweef (ahem) met elemente van musiekteater of ’n kommersiële verskeidenheidsprogram, maar uiteindelik ’n groter doel dien, naamlik die vermaak van duisende kykers wat die regstreekse uitsending daarvan op TV kyk.

Francois van Coke
Foto: kykNET

Vir ’n analise van hoe sake by die kunstefeeste staan sou mens werklik elders moet kyk, en ’n verskeidenheid belanghebbendes raadpleeg, maar een statistiek wat tydens die Fiëstas geopper is, is wel volgens my ’n indikator van gesondheid en vitaliteit: volgens Karen Meiring, direkteur van die drie kanale in die kykNET-stal, het die Fiësta-paneel in 2017 nie minder nie as 197 debuutproduksies by ses feeste gesien en beoordeel. Daardie indrukwekkende getal is moontlik ’n goeie wegspringplek vir diegene wat wil uitvind hoe dit met die Afrikaanse kunstefeeste en die kunste gaan. Ek kan egter net sê hoe dit met die Fiëstas gegaan het: As oorsig van die aanbod by feeste en proeseltjies van die kwaliteit van nuwe musiek- en teaterproduksies, was vanjaar se Fiëstas meer as geslaagd – en as een van die gehoorlede wat die hele spektakel vanuit die voorste gestoeltes kon inneem, was ek vir die grootste gedeelte van die aand behoorlik vermaak. (Ek skryf “grootste gedeelte”, want so ’n storie raak mos maar lank, en ek dink nie daar is veel wat mens daaraan kan doen as jy graag mense in soveel as moontlik kategorieë wil vereer nie.)

Lynelle Kenned
Foto: kykNET

Amy Jephta was vanjaar die uitvoerende verhoogregisseur, en sy het haar uitstekend van haar taak gekwyt. Jephta is een van ’n hand vol jong regisseurs wat verlede jaar die geleentheid gekry het om een gedeelte van die Fiëstas se regie te behartig, onder leiding van Ian von Memerty, wat vir jare die Fiëstas se uitvoerende regisseur was. Vanjaar het Jephta die leisels by Von Memerty oorgeneem en haar vernuwende benadering was ’n aanwins vir die geleentheid. Wolf Britz, ook deel van die groep wat verlede jaar onder Von Memerty gewerk het, was assistent-verhoogregisseur en tegniese adviseur. Die vervaardigers van die Fiëstas verdien lof vir die manier waarop hulle hier ’n geleentheid geskep het vir jong uitblinkers om by ervare skeppers te leer en daarna te vorder in die bedryf en nuwe idees, energie en invalshoeke na ’n geykte formaat te bring.  Uittreksels uit vyf produksies, naamlik Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof trilogie, Buite Land, Die riel van hip-hop, Liewer en Die reuk van appels was verteenwoordigend van die hoogtepunte by vanjaar se feeste, terwyl verdere vermaak die aand verskaf is deur die musikante Lynelle Kenned, Hakkiesdraad Hartman en Francois van Coke, asook die Afrikariz-koor, Johannesburg Jeugorkes en dansers van Vuyani Dance Theatre.

Schalk Bezuidenhout
Foto: kykNET

Schalk Bezuidenhout was ’n stuitige en sjarmante gasheer, wat grense uitgedaag het met stoute humor, wat tog van die werklike kwessies wat kunstenaars in die gesig staar aangespreek het. (Die teks, geskryf deur Erns Grundling in samewerking met Bezuidenhout, verdien spesiale vermelding vir die slim maniere waarop dit met die bedryf gespot het, soetsappigheid omseil het en moeilike oorgange tussen ernstige en humoristiese oomblikke op die aand soomloos oorbrug het.) Die gas-aanbieders, Anna-Mart van der Merwe, Cintaine Schutte, Dean John Smith, Vashti Prins en Bennie Fourie het bygedra tot heerlike verskeidenheid en die wyse waarop Anna-Mart van der Merwe en Bennie Fourie vir Schalk Bezuidenhout liggies op sy plek gesit het, was van die humoristiese hoogtepunte van die aand. (Bezuidenhout kon self nie sy lag hou toe Fourie sy pers-en-swart uitrusting beskryf het as ’n “seksueel gefrustreerde swartsak” nie - dit was net té akkuraat!)

Anna-Mart van der Merwe
Foto: kykNET

Baie van die grappies het gegaan oor die feit dat kunstenaars sukkel om ’n lewe te maak uit hul loopbane op die verhoog, maar dié kwessie is ook op ’n meer ernstige noot aangespreek deur die klassieke musikant José Dias, wat uitgewys het dat, alhoewel hulle produksie op die aand bekroon is as beste klassieke aanbieding, hulle dit teen ’n verlies op die planke gebring het.

Die 2018 Fiëstas was ’n wonderlike vertoonvenster vir die diversiteit van die kunste in Afrikaans – van die kostelike klein seuntjie wat ’n hond-uit-’n-bos gedans het in Die riel van hip-hop tot ikone soos Simon Bruinders, Trix Pienaar, Carel Trichard en Petru Wessels wat vereer is vir jarelange diens en prestasie. Op hierdie aand het dit nie gevoel of iemand op ’n hardhandige en geforseerde wyse iets opkook wat op die oog af divers lyk nie – dit was Afrikaans soos hy werklik is, in al sy uiteenlopende vorms en geure, wat afgestof, blink gepoets en opgetof is, en vir sy praters en liefhebbers en feesgangers ’n show opgesit het wat niemand vinnig sal vergeet nie.

Gideon Lombard, wat verskeie toekennings ontvang het vir die toneelstuk Die reuk van appels, saam met die regisseur van die Fiëstas, Amy Jeptha, en haar broer, Benjamin Jeptha
Foto: kykNET

 

Kyk hier na 'n kort video van die Fiëstas.

Lees ook:

kykNET Fiëstas 2018: Wenners

LitNet
kykNET Portaal

Vanjaar se kykNET Fiëstas het op Donderdag 8 Februarie by Montecasino Teatro in Johannesburg plaasgevind en is oudergewoonte regstreeks op kykNET, DStv-kanaal 144 uitgesaai. Hier is vanjaar se wenners.

 
kykNET Fiësta vir lewensbydrae aan Simon Bruinders: Commendatio-video

LitNet
kykNET Portaal

Die akteur en skrywer Simon Bruinders is vanjaar vereer met 'n kykNET Fiësta vir sy lewenslange bydrae tot die bedryf.

 
kykNET Fiësta vir lewensbydrae aan Trix Pienaar: Commendatio-video

LitNet
kykNET Portaal

Die aktrise Trix Pienaar is vanjaar met 'n kykNET Fiësta vir haar lewensbydrae tot die bedryf vereer.

 
kykNET Fiësta vir lewensbydrae aan Carel en Petru: Commendatio-video

LitNet
kykNET Portaal

Die egpaar Carel Trichardt en Petru Wessels is vanjaar met 'n kykNET Fiësta vir hul lewensbydrae tot die bedryf vereer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top