Kwarantynketting: "Eers die ritme, later die woorde" deur Cas Wepener

  • 0

Met die land wat tans in kwarantyn is, voer skrywers ’n korona-kettinggesprek oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. 

LitNet het vir skrywer Cas Wepener genooi om oor sy ervaring in die grendeltyd (Fase 5: Vrydag 27 Maart > Donderdag 30 April 2020) te skryf.

Luister ook na Cas se kort voorlesing uit Die Slaghuis (Protea Boekhuis, 2019).

“Eers die ritme, later die woorde” deur Cas Wepener

Eers die ervaring, dan die ritme en daarna, later, die beelde en woorde.

Gedurende die eerste dae van die inperking skryf Nicol Stassen op Facebook: “Ek wens Karel Schoeman het nog geleef. Hy sou so tuis gevoel het die volgende drie weke.” Toegegee, ek voel ook tuis. Ek voel tuis in die eerste drie weke en terselfdertyd ontuis in die wete dat soveel mense, vanaf ekstroverte tot diegene sonder vaste kontrakte, asook soveel ander, kreun.

My inperking is saam met my gesin in ons huis, waarvan ’n groot deel vir my in die klein ruimte van my studeerkamer is. Die ritme van opstaan en werk toe gaan is nou anders. My lyf leef nou ’n nuwe ritme en probeer nog sin maak uit alles. Teen week vier kry ek een vroegoggend van Menán by LitNet ’n versoek om aan die kwarantynketting deel te neem, my gevoelens en ervarings te deel. Terwyl ek nog in kwarantyn is, kan ek nie daaroor skryf nie – ek het afstand nodig – maar ek besef dat, sou ek instem, die datum waarop my bydrae sal verskyn, waarskynlik op of naby 29 April gaan wees. Die datum help my. Die meeste e-posse delete ek, enkeles hou ek.

From: Karel Schoeman <[email protected]>
Date: 29 April 2017 at 14:26:37 SAST
To: Cas Wepener <[email protected]>
Subject: Re:  Boek

Op 29 April 2020 was dit reeds drie jaar sedert die ontvangs van die e-pos en Schoeman se sterwe.

Eers die ervaring, dan die ritme en daarna, later, die beelde en woorde.

Dis nog stil in die huis. In ander tye sou ek nou die eerste motors iewers in die dorp gehoor het, maar niks. Ek kyk op. Regs van my teen die muur hang ’n skildery van Willem Pretorius wat die uitgewers vir my gegee het.

Ek dink nie hy sou, had hy ’n keuse, die hele dag daar wou gehang het nie. Vroegoggend en laataand miskien ja, maar hy sou bes moontlik al dikwels gedurende kwarantyn in die loop van die dag ’n paar virtuele deure hier wou toegeklap het.

Die sluisplanke voor vroegoggend se opgedamde stilte word vanaf aguur elke oggend een vir een uitgetrek en die sluiswagter se klein glimlag verdwyn op daardie skildery saam met die klanke van my studeerkamer. Alle modules moet onmiddellik op die aanlyn e-leer-platforms doseer word. Riglyne word benodig van die hantering van liturgie in ’n tyd soos hierdie. Nagraadse studente kruip uit hulle gate met lang hoofstukke, en nuwes wat tyd gehad het om te dink, meld hulle aan. Daar is ritse skryfprojekte waarvan die tema van die minderheid my keuse was. “Luister gou na die speech, dis vir my graad 11-Engels. Werk dit?” ’n Uitnodiging vir ’n lesing in Canberra, virtueel natuurlik, terwyl ’n vioolles oor Skype iewers in die huis gepleeg word.

Vroegaand, wanneer ek die studeerkamer se lig afskakel om dit vir die kombuis te verruil en ’n ui geskil en ’n glasie wit geskink word, vermoed ek keer die klein trekkies by sy mondhoeke terug.

Eers die ervaring, dan die ritme en daarna, later, die beelde en woorde.

Hierdie kwarantyntyd het ’n ander ritme, ’n nuwe ritme, maar dis reeds vir vier weke lank die ritme en dit bring ’n totaal nuwe ervaring. Teen die einde van die vierde en begin van die vyfde week begin die ritme in my lyf insypel. Dis goed, want dit kan uitkom slegs indien dit eers ingegaan het. Ander sintuie begin domineer. Soos almal lees ek Die plaag. Soos min vereenselwig ek my met Paneloux, die priester. Aan die begin van die uitbraak in Oran preek hy. Teen die einde, kort voor hy self ook sterf, preek hy weer. Twee tekste dus, en tussen die twee het hy baie ervaar, want ’n pes bring ’n ander ritme, en as dit lank aanhou, verander dit jou ritme. Voor sy tweede preek verneem die leser: “So it was in a cold, silent church, in the midst of a congregation exclusively made up of men, that Rieux sat down and watched the priest step up into the pulpit. He spoke in a voice that was softer and more thoughtful than on the previous occasion; and several times the listeners noticed a sort of hesitation in his delivery. Another peculiar thing: he no longer said ‘you’, but ‘we’.”

Eers die ervaring, dan die ritme en daarna, later, die beelde en woorde.

“Dit sal sterker word en reëlmatiger uitslaan met ’n eie ritme – eers kom die ritme en daarna eers die woorde; maar nou kan hy net roerloos hier bly lê en wag om weer aan die slaap te raak, sonder beheer oor die proses wat opnuut in hom aangevang het. Hy sal weer skryf, dink hy; eers die ritme en dan die woorde, eers die ervaring, dan die ritme, dan die woorde en uiteindelik sal hy hulle kan neerskryf en sal daar ’n soort uitbanning kan plaasvind wat soms ook as bevryding ervaar kan word. Al wat hy doen, is om te wag, roerloos in die donker met sy oë toe, getroos deur die flou en fladderende gepols wat weer waarneembaar geword het.” Dit is die gedagtes van Adriaan, ’n digter in Afskeid en vertrek. Die ervaring, dan die ritme, dit is die oorsprong, dit is ook die bestemming.

Schoeman vertel in sy outobiografie hoe landskappe dikwels ’n rol gespeel het in sy skryfwerk. Vanuit sy belewenis van ’n landskap, veral die Vrystaatse landskap, is sy verbeelding aangegryp deur die gebeure wat in daardie landskap kon afspeel, en eers later is die woorde gevind. So byvoorbeeld het hy een aand in ’n motor op pad terug van Johannesburg die woorde gekry: “Die stilte en eensaamheid het in die klank van hul woorde ingevleg geraak en sy stempel op hul gees afgedruk; hul musiek het gepraat van hul afsondering en groot swye, en van die oneindige ruimte rondom elke woord en elke kersvlam in die donker.” Hy het dit egter eers later, in ’n Lug vol helder wolke, gebruik. Dalk is dit omdat die ritme die woorde voorafgaan dat sy tekste lesers op só ’n wyse betrek dat die ritme van die teks en polsslag van die leser langsamerhand begin om saam te klop.

Eers die ervaring, dan die ritme en daarna, later, die beelde en woorde.

Vir my is dit nog heeltemal te vroeg om woorde te hê vir die kwarantyntyd. COVID-19 laat almal tans deur ’n landskap reis waar nuwe ervarings opgedoen en onbekende ritmes beleef word. Wat die woorde ook al gaan wees om hierdie landskap mee te karteer, dit kan ons nog nie weet nie; wat wel seker is, is dat die ervarings en die ritmes nou van belang is om dit sinvol te kan doen. Dalk help dit my om, soos Paneloux, ietwat langer te soek na die beste woord, sagter die woorde voort te bring en dalk, dalk meer gereeld te aarsel en, belangrik, om ná die kwarantyntyd meer gereeld “ons” te sê.

Eers die ervaring, dan die ritme en daarna, later, die beelde en woorde.

Luister hier na Cas se kort voorlesing uit Die Slaghuis (Protea Boekhuis, 2019):

Lees ook

Huldeblyk aan Karel Schoeman – ’n Lewe en oeuvre wat getuig van ’n inwaartse reis in die teken van gasvryheid teenoor die laaste gas

Video: Daniel Hugo in gesprek met Cas Wepener oor Die Slaghuis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top