
Titel: Kortpadliefde
Skrywer: Madelie Human
ISBN: 9781779876546
Uitgewer: Romanza
Madelie is ’n gesoute en gewilde romanseskrywer. Sy en haar man woon in die Bosveld en die stilte en natuurskoon bied haar, ’n oudonderwyseres en voormalige kollegelektor in sakekommunikasie, al die geleenthede, motivering en inspirasie wat sy nodig het om die een lekkerleesverhaal na die ander uit te dink.
Sy het 50 boeke oor twee dekades geskryf. Ek wonder nooit twee maal of ek een van haar boeke moet lees of nie. Haar naam op die voorblad is vir my meer as genoeg motivering om die boek aan te skaf, want sy stel nooit teleur nie. Haar stories het hart, is goed beplan en prikkel haar lesers se verbeelding. Skryf verskaf haar eindelose vreugde, maar ek is seker dat haar lesers selfs méér genot uit die lees van haar stories put.
Amanda Claassens het in 2022 in ’n onderhoud vir Madelie gevra waaraan skryf sy die lekkerste – losstaande titels of reekse. Madelie het geantwoord: “Die romanse is gewoonlik kort en verskaf min ruimte en tyd vir karakterontwikkeling. Die reeks bied die skrywer die geleentheid om dieper te delf in die mense en hul probleme. Ek verkies reekse, want die karakters word later vir my so bekend dat ek presies weet hoe hulle sal optree en wat hulle in sekere situasies sal sê.”
Ek het pas Madelie se jongste Romanza, getiteld Kortpadliefde, gelees en dit sommer baie geniet. Dit vorm deel twee van ’n heerlike reeks wat aangenome sibbe, elk vanuit ’n baie uitdagende agtergrond, se liefdesverhale vertel. Langpadliefde het vroeër vanjaar by LAPA verskyn. Lees my resensie hier.
In Kortpadliefde maak die leser kennis met Elliot de Koker. Hy behartig die admin en finansies van die drie broers en suster se vervoermaatskappy. Daar is nie tyd vir vroumense in sy lewe nie. Maar op pad terug van ’n besigheidsreis na Durban, sien hy ’n meisie met ’n kitaar langs die pad. Hy hou stil om haar op te laai met die volgende woorde: “Dis malligheid vir ’n vrou om hier te wil ryloop. Kom, klim in sodat ek jou na veiligheid kan neem” (8).
Die leser ontmoet vir Lani Tredoux, ’n langbeenskoonheid met bont hare, wat daarvan droom om kommersieel liedjies vir kunstenaars te skryf. Toe Elliot haar vra om hom meer van haar musiekloopbaan te vertel, antwoord sy: “Ek komponeer en skryf lirieke vir popmusiek [...]. Ek is op pad Pretoria toe vir die Afrikaans is Groot-musiekfees” (9). Sy hoop om daar iemand in die musiekbedryf te ontmoet wat haar loopbaan ’n hupstoot kan gee.
Toe Elliot hom kom kry, het hy Lani saamgeneem tot by sy huis en stel hy haar aan sy sibbe voor. Lani is absoluut die teenoorgestelde van hom. Hy is ’n nerd wat van syfers hou en sy is ’n regte loskopdolla, al het sy ’n graad in musiek agter haar naam. Tog is hy teen sy beterwete aangetrokke tot haar en maak sy die beskermsdrang in hom wakker. Haar lewe is egter heeltemal te ongeorganiseerd vir sy sielevrede, en boonop is sy ’n rebel soos min wat glad nie daarvan hou om voorgesê te word nie. Dan gebeur daar iets wat hom dadelik laat vermoed dat Lani by onwettige bedrywighede betrokke is. Hoe dan nou anders? Hy kom uit ’n agtergrond waar sy biologiese pa hom aan dieselfde misdaad skuldig gemaak het.
Madelie dek hiermee die spreekwoordelike tafel vir vele misverstande en situasies wat haar lesers se oë sal laat rek en hulle gaan laat asem ophou. Die twee hoofkarakters het in absoluut die teenoorgestelde huislike omstandighede grootgeword. En selfs as volwassenes verskil hulle lewens soos dag en nag. Lani sê reeds op bladsy 164: “Elliot, jy het nou ’n volledige prentjie van al my bagasie, al my issues. As jy nie nou finaal afgeskrik is nie, is jy gek.” Die liefde laat hom egter nie voorskryf nie. Maar is dit enigsins moontlik dat Elliot en Lani ’n toekoms saam sal kan hê? Net wanneer dit lyk of dit dalk tóg moontlik kan wees, gebeur daar iets wat enige verhouding sal kelder. Sal Lani Elliot op sy woord neem of nie? Sy is juis vrekbang vir ’n halsoorkop affêre wat haar van haar vryheid sal ontneem.
Die storie is goed geskryf en daar is heelwat verrassingselemente in wat dit allesbehalwe voorspelbaar maak. Soos reeds genoem, verskil beide hoofkarakters se agtergrond in die oortreffende trap, maar dit maak die leser net meer hoopvol dat die tweetjies wel plan sal sien om bymekaar uit te kom. Dit vra introspeksie en selfondersoek van albei, ook aanpasbaarheid.
Dit het my opgeval dat die taalgebruik in dialoog nie oral konsekwent toegepas word nie. Lani sal byvoorbeeld iets kwytraak soos: “Weird en crazy is twee verskillende dinge” (163); “Wow, dit was close” (134); en “Jy moet keer vir jou wickets ...” (156). Sy meng dus haar tale heel loslittig. Maar dan skemer meer formele, selfs outydse maniere om haarself uit te druk deur, byvoorbeeld “des te meer” en “op dees aarde”. Dit was vir my teenstrydig en ek het telkens gedink dit klink nie soos iets wat ek dink Lani sou sê nie.
Dit is vir my interessant dat Felicia Snyman se jongste Romanza, getiteld Harte in harmonie, ook ’n hoofkarakter het wat kitaar speel en sing en liedjies vir kunstenaars skryf.

