
Titel: Harte in harmonie
Skrywer: Felicia Snyman
ISBN: 9781779871527
Uitgewer: Romanza
Felicia Snyman, ’n prokureur en mediator, het al vele Romanzas – waaronder Hartklop in kakie (2024) en Liefde met ’n doelskop (2025) – op haar kerfstok. Sy is ook ’n suksesvolle kinderboekskrywer en haar gewilde Die ware avonture van Adelie en Riley-reeks verkoop soos soetkoek. Sy en haar gesin woon in Vanderbijlpark.
Ek het pas Felicia se jongste Romanza, getiteld Harte in harmonie, klaar gelees. Dit is ’n lieflike, teer storie wat lesers behóórlik sal laat sug van innerlike genoegdoening, omdat die held en heldin ná ’n onverwagse kinkel in die kabel wel in mekaar se arms beland.
Hierdie verhaal is een wat jy stadig wil lees om saam met die hoofkarakters die wonder van ontluikende liefde te smaak. Dit is mooi geskryf en dalk selfs skaamteloos soetsappig op plekke. Maar ai, soms is dit mos lekker om ’n boek te lees wat jou nie te veel laat konsentreer en jou stresvlakke opjaag nie, maar jou eerder op ’n pienk wolkie van saligheid wegvoer terwyl goedvoelhormone jou hart vol en gelukkig laat klop. Moet egter vir geen oomblik dink net omdat die storie heerlik romanties is, dit nie slim en onderhoudend geskryf is nie. Felicia kán skryf.
Harte in harmonie vertel Elara Hartwell en Marko Roos se liefdesverhaal. Elara is ’n hardwerkende ouditeurbestuurder by ’n groot firma, asook ’n suksesvolle liedjieskrywer vir van die beste kunstenaars in die musiekbedryf. Sy rou nog oor haar pa wat twee jaar gelede oorlede is en het ook ’n liefdesteleurstelling beleef wat haar in haar pasoppens vir mans maak. Marko is ’n verbruikersgedragontleder en gebruik sy “kennis van sielkunde en gedrag om te verstaan hoe emosies, persepsies en sosiale invloede aankope kan beïnvloed”. Hy “bestudeer hoe en hoekom mense besluite neem oor wat hulle koop, gebruik of verwerp” (30). Sy werk neem hom oraloor die wêreld. Hy is ’n spreekwoordelike swerwer en keer net met kort rukkies terug na Suid-Afrika om sy kleinsus Talia, oftewel die bekende sangeres Lia-Rose, te ondersteun.
Dit is juis by die ateljee waar Elara haar jongste liriek aan Talia voorlê dat Marko haar die eerste keer opmerk. Sy reaksie? “Haar hare lyk soos ’n baie ligte koper. Sy vingers brand om daaroor te streel” (10). En hare? “Sy plaas haar hand in syne. ’n Fout, besef sy dadelik. ’n Elektriese stroom skiet deur haar lyf. Haar hartklop versnel merkbaar” (12). En ná ’n eerste koffie-afspraak toe hulle mekaar groet? “Sy loer vinnig oor haar skouer. Haar asem stil in haar keel. Marko het reeds in sy spore vasgesteek en kyk haar agterna. Hulle oë ontmoet oor die afstand tussen hulle” (33). Daar is dus onmiddellike bewustheid van mekaar, maar Marko moet deur Elara se skanse dring om by haar hart uit te kom. Hy doen dit deur oop en eerlik met haar te wees. Hy sê per geleentheid aan haar: “Ek het ’n vreemde sensasie ervaar, asof my siel jou reeds gesien of aangevoel het” (63). Elara besef mettertyd sy wil weer begin lewe en veral liefhê.
Ek het die gewaarwordinge van emosionele en lyflike aantrekkingskrag wat al sterker tussen die twee groei, baie geniet. En dankie tog, Felicia val nie in die strik om die lyflike die verhaal te laat voorskryf nie. Dit is onmiskenbaar dáár soos ’n witwarm vlam, maar die held en heldin se emosionele aangetrokkenheid verskaf die tempo waarteen die storie vorentoe beweeg. Dit gee aanleiding tot vele romantiese oomblikke waarin die leser hom of haar kan verlustig.
Terloops, ek wens meer skrywers wil weer opnuut die krag agter uitgestelde begeerte ontdek en daarmee speel. Dit is glad nie nodig om die ons-gryp-mekaar-dadelik-en-spring-saam-in-die-bed-nog-voordat-ons-mekaar-se-name-ken-tendens in flieks na te aap nie. Nee, laat romantiek en misterie weer as kunsvorm ontwaak en skryf stories met hárt wat aan jou lesers ’n emosioneel bevredigende ervaring bied.
Die karakters, gebeure en agtergrond in Harte in harmonie is geloofwaardig, met meer as genoeg agtergrond om dryfkrag vir die hede se ontwikkelinge te bied. Elara kom uit ’n baie gelukkige ouerhuis en het ’n noue verhouding met haar ma. Marko en Talia se kinderjare was nie maklik nie en hulle ouers is geheel en al onbetrokke in hulle lewens. Dit is een van die redes waarom hy sorg dat hy sy suster bystaan en daar is vir haar wanneer sy hom nodig het. Elara voel geborge, spesiaal en veilig by Marko. Dit lyk aanvanklik of hulle liefdesbootjie in gladde waters vaar en ’n toekoms saam dus vanselfsprekend is, maar dan gebeur daar iets wat hulle oombliklik uitmekaar dryf. Dit is dan wanneer die leser se emosies ook wipplank ry, want jy wens jy kan die karakters skakel en in die regte rigting du om weer bymekaar uit te kom.
Op bladsy 64 sê Elara: “Ek voel jou binne-in my. Dis asof ek kan voorspel wat jy voel. Jy is oral oor my denke.” Maar op bladsy 71 is dit Marko wat sê: “Ek het jou mos gesê ek ervaar jou gevoelens hier binne.” Marko se opmerking het my laat terugblaai, want hy het Elara se woorde gebruik en nie sy eie nie. Dit het my nogal gepla, want dit het my laat wonder of ek iewers iets misgelees het. Dit is egter ’n kleinigheidjie in ’n lekkerleesverhaal wat die hartsnare roer.
Die storie word perfek saamgebind met verwysings na twee bekende liedjies waarna die lesers kan gaan luister en só hul emosionele belewenis selfs nog ’n rukkie langer kan uitrek.
Dit is vir my interessant dat Madelie Human se jongste Romanza, getiteld Kortpadliefde, ook ’n hoofkarakter het wat kitaar speel en sing en liedjies vir kunstenaars skryf.

