Langpadliefde deur Madelie Human: ’n resensie

  • 1

Titel: Langpadliefde
Skrywer: Madelie Human

ISBN: 9781779871381
Uitgewer: Romanza

Madelie, ’n oudonderwyseres en kollegelektor in sakekommunikasie, nou afgetree, het onlangs op Facebook aangekondig dat sy 50 boeke oor 20 jaar geskryf het.

Ene Thea Potgieter Wessels lewer die volgende kommentaar onder Madelie se plasing: “Van die 50 boeke staan daar 48 in my boekrak. [...] dankie baie vir ure se leesgenot.” Thea se opmerking is bewys van Madelie se gewildheid as skrywer en hoe sy haar lesers se verbeelding (en harte) aangryp.

Madelie se werk word ook deur medeskrywers raakgesien en waardeer. Die bekende skrywer Elsa Winckler wens haar só geluk: “Wonderlik, Madelie – wat ’n mylpaal! Baie geluk – jy bly so ’n inspirasie.”

Hierdie geliefde, deurwinterde en veelsydige skrywer is beslis een van die koninginne van liefdesromans, waaronder Romanzas en SuperRomanzas. Sy is veral lief daarvoor om reekse te skryf. Vroeër vanjaar het haar inspirasieverhaal, Ter wille van, by LUCA verskyn. Sy woon saam met haar man in die Bosveld en geniet dit om omring deur die natuur liefdesverhale uit te dink.

Ek het pas Madelie se jongste Romanza, getiteld Langpadliefde, gelees en baie geniet. Sy weet net hoe om ’n moderne liefdesverhaal te skryf wat haar lesers se emosionele behoefte na gelukkige eindes bevredig.

Madelie is bekend daarvoor dat haar helde en heldinne mooi mense is. Die helde is sterk en beskermend. Hierdie gegewe word perfek opgesom in die volgende sin uit Langpadliefde: “Daar is ’n weerloosheid in die buiging van haar slanke nek wat maak dat hy enigiets of enigiemand wat haar skade wil berokken, wil bydam en vermorsel” (73). Die heldinne is vroulik en sag, maar met murg in hulle pype: “Gewoonlik is sy nie die huilerige of selfbejammerende soort nie. Opgekropte gevoelens van jare stroom egter nou uit haar uit” (127). Dit is hieruit duidelik dat emosie ’n groot rol in Madelie se boeke speel.

Renise Breedt se tjorrie laat haar een aand ná werk op ’n gevaarlike pad, waar daar nie selfoonopvangs is nie, in die steek. Gelukkig vir haar hou ’n vragmotor stil en ’n man klim uit om hulp aan te bied. Dit is niemand anders nie as Charl de Koker, haar groot liefde in matriek – die twee-en-twintigjarige man waarop sy verlief geraak het ten spyte daarvan dat hul verhouding nie haar pa se goedkeuring weggedra het nie. Charl het destyds haar hart gebreek toe hy eensklaps kontak met haar verbreek het nadat sy aangenome ouers verongeluk het en hy verantwoordelik was om die familiebesigheid te red en na sy sibbe moes omsien. Dit is nou ses jaar later en steeds koester Renise ’n geheim wat haar, haar ouers en Charl se lewens in ’n oogwink sal verander, indien dit op die lappe kom.

Ek het dit geniet om Charl en Renise se verhaal te lees. Beide het ’n sterk ontwikkelde sin vir verantwoordelikheid en offer baie vir hulle geliefdes op. Dit is van die begin af duidelik dat hulle seer verledes hulle met baie onbeantwoorde vrae gelaat het. Hulle het elkeen ’n ander indruk oor waarom hulle verhouding skipbreuk gely het. Albei is dit egter eens dat hulle na al die jare steeds aangetrokke tot mekaar voel, maar sal hulle die misverstande uit die weg kan ruim en openlik met mekaar kan kommunikeer? Sal hulle eerlik met mekaar kan wees oor hulle gevoelens en verwagtinge? Hoe vergewe hulle mekaar vir gebeure wat stééds ’n geweldige invloed op hulle lewens uitoefen? En hoe gaan hulle by Renise se pa verbykom wat volstrek weier om die seun van sy oorlede aartsvyand ’n kans te gee?

Hierdie diggeweefde verhaal is deurspek met seer, verwerping en onvergewensgesindheid. Dit is hoe Renise oor die ontluikende verhouding voel:

Sy sien uit om Charl van voor af te leer ken, maar daar is ’n gevoel van onheil wat soos ’n swaard oor haar kop hang. Hoe gaan hy reageer wanneer sy hom die waarheid vertel? Sedert sy die besluit geneem het om dit te doen, groei daardie dreigende gevaar in haar verbeelding met rasse skrede. Miskien moet sy eers hulle verhouding ’n kans gee om te groei. Wanneer sy doodseker van hom is, sal sy hom vertel. Dalk is die kans dat hy haar sal vergewe dan beter. (90–1)

Die verhaal omarm ook hoop, herstel, aanvaarding en vergifnis. En dit is in hierdie pad van die een uiterste na die ander waarin die sukses van die storie lê en maak dat die leser nie die boek wil neersit nie. Jy wil weet wat met hierdie twee aangename mense gaan gebeur. Die uitdagings wat hulle in die gesig staar, maak dat jy saam hoop dat hulle ’n manier sal kry om wel by mekaar uit te kom en lank en gelukkig saam te wees.

Moet nie dink die storie is net swaar en weemoedig nie. Geensins. Beide die held en heldin het sterk persoonlikhede en daar is vele lewendige, ligte oomblikke waarin lesers hulle kan verlustig. Ek het geen negatiewe kommentaar oor Langpadliefde nie. Dis ’n lieflike, gevoelvolle verhaal geskryf deur ’n skrywer wat lankal die kuns van liefdesverhale bemeester het.

  • 1

Kommentaar

  • Madelie Human

    Dankie vir jou mooi woorde, liewe Louise. Dankie ook dat jy my altyd blootstelling op jou blad gee! Dit word ten seerste waardeer!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top