
Skrywer: Yunus Carrim
Titel: Attacking the heart of apartheid: The ANC’s MK Special Operation Unit
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 978-1-77639-222-3
Skrywer: Peter Auf der Heyde
Titel: Death in Pretoria: Untold stories of political activists executed during apartheid
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 978-1-77639-187-5
In sy uitspraak het regter Braam Lategan genoem dat hy my die doodstraf sou oplê, as hy kon. Ek dink selde daaraan.
Om die waarheid te sê, deesdae dink ek minder aan die tronk. Dit is iets wat ek volkome agter my gesit het. En willens poog om te vergeet. Ek het nie eens verlede maand – 13 Julie – toe Facebook my herinner dat ek ’n dekade op parool is, dit gedeel nie. Ek sê meer gereeld nee vir onderhoude wat op my verlede wil hamer.
Ek moet wel bieg, nadat ek Karin Mitchell se boek The high treason club: The Boeremag on trial voltooi het, het ek bly terugdink aan die mantra wat ek skaars uit die tronk gereeld gedeel het: As ons hierdie land lief genoeg gehad het om mekaar dood te maak, hoekom het ons dit nie lief genoeg om dit saam op te bou nie? “Ons vir jou” het die “sterwe”-gedeelte gedoen – nou is dit tyd om die “ons sal lewe”-gedeelte na te jaag.
Dit voel egter of ons nou meer as ooit verdeel is.
Is ons nie veronderstel om uit die geskiedenis te leer nie?
Dit bring my by twee boeke.
Die wenners skryf die geskiedenis
Vergelyk mens die amper jaarlikse toevoegings tot Boetie wil border toe gaan-literatuur, voel dit amper of die ANC agter raak. Vryheidsvegters raak oud, sterf, en daar is nog soveel stories om te deel. Daarom was die geskiedkundige dokument Umkhonto we Sizwe: The ANC’s armed struggle (Thula Simpson, 2016) ’n mylpaal vir demokrasie.
Yunus Carrim se Attacking the heart of apartheid: The ANC’s MK Special Operation Unit sluit by hierdie merkwaardige publikasie aan. So ook Peter Auf der Heyde se Death in Pretoria: Untold stories of political activists executed during apartheid. As jy dit agtereenvolgend lees – al volg dit glad nie op mekaar nie – soveel beter.
Jare terug het Peter Stiff ’n trigologie uitgegee, naamlik Silent War, Covert War en Warfare by other means. Die drie genoemde ANC-boeke moet in dieselfde lig gesien word. Geskiedenis.
Carrim erken: “Much of this book is in the form of an oral history” (bl xxxvvii).
Carrim gee aan minder bekende figure lugtyd. Nie almal dokumenteer soos die 61-jarige Marion Sparg (Guilty and proud: An MK soldier’s memoir of exile, prison and freedom, 2024) hulle lewensverhale nie, en die ANC se gewapende stryd was groter as Andrew Zondo, Robert McBride, Heinrich Grosskopf en Klaas de Jonge. Die ikone soos Walter Sisulu, Joe Slovo en Ronnie Kasrils is vanselfsprekend.
Geskiedenis moet egter dieselfde hekkie as digkuns oorbrug: Te min mense lees dit. Ongeluk. Ai.
Toe ek destyds saam met Anemari Jansen aan generaal Suiker Britz se boek geskryf het, het ek die Kerkstraat-bom se hoofstuk neergepen. As ’n voormalige bomplanter, wat aan die verkeerde kant geveg het, was dit vir my belangrik om nie net die feite te deel nie, maar dit so te verwoord dat mense dit sal geniet en vir meer vra. Want Britz het baie belangrike dossiere gehad wat verwoord moes word.
En dit is wat Carrim nou nodig het. Skrywers wat op sy navorsing sal voortborduur. Dokumentasie is een ding. En nodig. Maar dit moet ook so vertel word dat ’n groter gehoor dit wil lees.
Ek onthou toe ek ’n paar jaar gelede die film Silverton Siege gekyk het, hoe ek gevoel het dat die staat iemand soos Peter Harris (In a different time) moet taak om die stryd leesbaar te dokumenteer. Na die lees van Carrim se skrywe voel ek dit nog meer.
Hoe meer ons lees oor ander mense se stryd om vryheid, hoe minder sal ons terugverlang na die sogenaamde goeie ou dae. Ons sal byvoorbeeld nie Die Stem sing nie, want ons weet hoe “ek vir jou, Suid-Afrika” die grootste gedeelte van ons land se bevolking ontmens het.
Eer die bloed
Die galg het soveel nuwe krygers gewerf. Dit was ’n magneet vir nuwe opnames: "This book focuses on individuals largely forgotten by history ..." (Auf der Heyde, bl xii)
In Death in Pretoria deel die skrywer nie net dapper krygers se verhale nie, maar ook klein dingetjie waaraan ons nooit sou dink nie. Goed wat lank na bladsy 304 by lesers spook.
"I used to wash those bags. You know, those bags that they put over the faces [of those about to be hanged]. They were full of blood and vomit." (Auf der Heyde, bl 35)
Imagine jy was die sakke en weet dat iemand dit eendag oor jóú kop gaan trek!
Halfpad weet ek nie eens hoekom ek hierdie boek as resensie-kopie aangevra het nie.
Sê nou ek het gehang?
Ek lees al swaarder aan die boek. Later net ’n paar bladsye per week. Nog later niks.
Nadat ek Death in Pretoria uiteindelik voltooi, kry ek duskant Hoërskool Wesvalia ’n paniekaanval. Ek ry die laaste paar meter huis toe met my noodligte aan.
Soveel gemorste tyd. Soveel gemorste geleenthede. Daar is ten minste 130 dapper mense wat Suid-Afrika sou help bou het, as hulle die geleentheid gehad het.
Ek is moerig vir die regering. Hoeveel anders sou ons land vandag gewees het as die regering húlle helde se bloed geëer het? Sou daar soveel korrupsie gewees het? Beurtkrag, slaggate – is dit waarvoor hulle gesterf het? Alles moet beter wees!
Ek is moerig vir die regses wat vanaf die kantlyn klippe gooi, maar self fokkol doen om ons land ’n beter plek vir almal te maak.
En ek is verby moerig vir myself. Gaan uit en maak ’n verskil. Dit is wat ek in my dagboek ’n dekade terug onderneem het – en wat doen ek nou? Wanneer laas het ek saam met die EFF gebraai of vir vrede geloop? Hoeveel keer hoor ek: Jou storie is die bewys dat rassiste kan verander. En wat doen ek? Ek bou ’n toekoms.
Later die aand loop ek met David in my arms. In die gang, op en af. Ek het menigte male dieselfde in ’n enkelsel gedoen. Maar toe het die lig 24/7 gebrand.
En dit is wat kort, ’n lig. Vir jou en my. Iets werkbaars om na te streef. Uit persoonlike ondervinding weet ek: Die tronk verenig ons, wit en swart, arm en ryk, Christen, Jood en Moslem – ongeag wat mense na vrylating wil voorgee.
Storm claimed that even the notorious Barend Strydom, who had killed seven black South Africans in 1988 in central Pretoria a week after having murdered a woman in a squatter camp to find out if he could kill people, accepted blacks on death row. (Auf der Heyde, bl 40)
As die dodeselle selfs geharde rassiste kan verenig – wat stop ons?
Lees ook:
Hoe lyk ’n man? Anschen Conradie gesels met Stefaans Coetzee oor Sel ses
Breyten schrijven #4: Het laatste interview. "Opleidingskursusse in ondergrondse tegnieke."

