Aan die begin van die nuwe jaar kyk ek terug na die boeke wat ek gedurende 2024 gelees het. Ek doen dit om te beplan wat ek in 2025 hoog op my leeslys wil sit en ek merk ’n paar boeke op wat beslis ’n shout-out moes kry. Die meeste is ouer boeke; ek is jammer dat hulle nou soos tweede keuses lyk – dit is nie die geval nie. Inteendeel, met Januarie waarin nuwe boeke skaars en geldjies min is, is ek en tweedehandse boekwinkels goeie vriende.
Daar is ongelukkig ’n paar boeke in Afrikaans en Engels wat ek van my wil-lees-lys gaan afhaal. Leestyd raak elke jaar al hoe minder. Ek gaan ook doelbewus hierdie jaar meer “betrokke literatuur” lees en dus nie ’n ander leesuitdaging volg nie.
*
Skrywer: Alex Berenson
Titel: The faithful spy
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 978-0-515-14434-5
Ek hou van boeke wat van die bestaande formules afwyk en doelbewus nuwe weë baan. Sedert 11 September is die meeste fiksiehelde wit Amerikaanse spesialemagte-operateurs en die booswigte meestal Moslem-ekstremiste. Maar wat as ...
Destyds is Kyle Mills se boek, Fade, uit alle oorde met lofsange toegedig nadat hy met ’n “as” geëksperimenteer het en Salam al fayed, ’n Amerikaanse SEAL-operateur met Arabiese voorsate, geskep het. Uiteraard speel Uncle Sam se skaakspelers vuil. Ek was redelik moerig toe Mills besluit het om nie Fade in ’n reeks te omskep nie; deksels, nie eens ’n trilogie nie, niks nie. Maar later ploeg die klein bliksem met Vince Flynn (Mitch Rapp) en Robert Ludlum (Covert-One) se kalwers. Nietemin.
Onlangs vind ek die New York Times-joernalis, Alex Berenson, se Edgar-debuutpryswenner, The faithful spy, in ’n tweedehandse boekwinkel. In die eerste boek van die reeks – daar is ’n dosyn – is die hoofkarakter, John Wells, ’n Moslem én ’n deep-cover CIA-operateur. Hoe langer hy undercover is, hoe meer glo hy. Wells is nie die tipiese tronk-Moslem wat ek agter tralies ontmoet het nie, maar die real deal. As sy hanteerder hom moet wantrou – soos gereeld in hierdie boeke gebeur – gaan die k#k behoorlik spat. Die Moslem-invalshoek maak soveel deure oop. Dit breek ook die stereotipe af van “alle Moslems” ...
Hierdie boek is so geloofwaardig geskryf, dit het my aan Tamer Elnoury se niefiksie-blitsverkoper, Terrorist hunter, laat dink. Elnoury het ná 11 September by ’n elite teenterrorisme-eenheid aangesluit.
Alhoewel hierdie ’n shout-out vir The faithful spy is, sal jy nie ’n fout maak om al drie boeke te lees nie.
NOTA: Mills het in 2023 te kenne gegee dat hy klaar is met Rapp; in 2024 het Don Bentley, wat verskeie Tom Clancy-boeke geskryf het, Mills in die Rapp-reeks met Capture or kill opgevolg. En raai wat? Vanjaar verskyn die volgende langverwagte Fade-boek!
*
Skrywer: David Baldacci
Titel: The hit
Uitgewer: Macmillan
ISBN: 978-1-4472-2990-2
Skrywer: Nelson DeMille
Titel: The panther
Uitgewer: Sphere
ISBN: 978-1-84744-147-8
Skrywer: James Phelan
Titel: The agency
Uitgewer: Constable
ISBN: 978-1-47212-724-2
Ek verkies my spioenasie-terreur-sluipmoord-spesmagte-boeke aan die ernstige kant. Baie navorsing, geloofwaardig. Hoe nader dit aan môre se voorblad klink, hoe beter. Maar daar is niks fout met ’n gesonde dosis humor nie, veral nie as dit effektief aangewend word nie. Min skrywers vind egter ’n goeie balans tussen feite, aksie en humor. David Baldacci en Nelson DeMille het die resep vir my met The hit en The panther onder die knieg gekry.
Baldacci se vyf boeke met die staatssluipmoordenaar, Will Robie, as hoofkarakter bly tone-krul-lekkerkry-ontvlugting. In die tweede boek in die reeks, The hit, kom hy te staan voor sy mede- staatssluipmoordenaar, Jessica Reel. Will Robie is vermaak – dink Mr & Mrs Smith eerder as The day of the Jackal.
Jessica het kamstig gedraai. Hoe anders? Dit beteken dat húlle intelligensiediens nie te vertrou is nie. Dit word ’n kat-en-muis-spel met genoeg aksie en humor.
My vriend glo Baldacci skep die perfekte orgasme – lees The innocent, The hit, Bullseye (short story), The target, The guilty en End game, en vind uit hoekom.
DeMille, skrywer van The charm school (lees dit asseblief!) en Cathedral, is die skepper van die FBI-agente John Corey en Kate Mayfield. Kate is die ernstige een en John die grapgat. In Wild fire was John vir my te laf; ek het daarna verskeie boeke in die Corey-Mayfield-reeks oorgeslaan. Met The lion’s game, The lion en The panther vind DeMille egter vir my die gesonde balans tussen aksie en humor wat my aan die lees hou.
Lee Child verkondig op The agency se voorblad dat Jed Walker in Reacher se truspieëltjie staan. Is so iets ooit moontlik? Nietemin.
Hoekom het ek die Australiese skrywer, James Phelan, so laat in my lewe ontdek? The agency is die vyfde boek in die reeks.
Na ’n dekade in die lugmag se spesialemagte sluit Walker by die CIA aan. Hy gly dus deur die opleiding soos ’n warm mes deur botter. Ek persoonlik dink dat die opleidingbladsye ’n mors van leestyd was – Phelan kon onmiddellik met Jed se eerste missie vir die CIA afgeskop het. Wanneer opleiding ter sprake kom, wil hierdie leser saam met die rekruut sweet en bloei. Ek het een keer ’n dokumentêre reeks gekyk van Marine Snipers, oor die hel wat hulle vir weet-nie-hoe-lank-nie moet deurgaan. Die een ou het so hard probeer, soveel weke uitgehou, maar D-dag was nie aan sy kant nie. As hy sy laaste skoot mis, val hy uit. Ek wou so graag hê dat hy ’n bullseye moes skiet, maar nee, hy gaan staan en skiet mis. Dêmmit, hy was so naby. Hy is wel op die einde aanvaar as skerpskutter – ek dink ek was blyer as hy. Ek voel nêrens hoe Jed sweet nie. Ek moedig hom ook nooit aan nie. Dit was dieselfde in die geval van Vince Flynn se American assassin. Hoekom is die hoofstukke dan nodig?
Maar Phelan het ’n baie lekker skryfstyl – hoe anders, hy bied letterkunde aan – en sodra die aksie begin, kraai hy op elke gebied van spioenasiefiksie koning. Die humor, net soos in The hit en The panther, is vlymskerp en gepas. As ek net een boek gedurende die feesseisoen kon lees, moes dit asseblief tog The agency wees.
Lesers wat mal is oor Gregg Hurwitz se Orphan X-reeks en John Brownlow se Assassin seventeen, sal al drie skrywers se genoemde reekse verslind.
*
Skrywer: Robert Dugoni
Titel: The eighth sister
Uitgewer: Constable Thomas & Mercer
ISBN: 9781503903319
Met die afskop van Robert Dugoni se The eighth sister, die eerste boek in die Charles Jenkins-reeks, het ek DeMille se The charm school in gedagte gehad. Die boek se begin, selfs om ’n fondament te lê vir wat volg, beweeg vir my net te stadig met al die ontmoetings wat in geen spanning uitloop nie. Hoekom? Met die hoofkarakter, ’n voormalige CIA-agent in sy vroeë sestigs wat weens finansiële redes teruggelok word, is al die boustene vir ’n John le Carré-belewenis gelê. Na soveel jare van onaktiewe diens en paraatheid wat verslap, verwag mens dat Jenkins se senuwees hom sal opvreet, dat sy outydse tegnieke opgeweeg sal word teen die moderne spioenasiemetodes van kat-en-muis-speletjies.
Thomas Perry keer na amper 40 jaar na sy meesterstuk, The butcher’s boy, wat onder andere met die Edgar-toekenning vir Best First Mystery Novel bekroon is, terug met Eddie’s boy, die vierde boek in die reeks. In hierdie boek wys hy dat dit wel vir ’n karakter moontlik is om geloofwaardig “oud maar nie koud nie” te wees. Maar in my lesersindruk oor Eddie’s boy sê ek dat ek juis weens die hit man Michael Schaeffer se ouderdom, nie nog ’n boek van hom wil/gaan lees nie. Dit is ook presies hoekom ek einde verlede jaar besluit het om Daniel Silva se naam van my wil-lees-lys te skraap, al is hy die enigste spioenasieskrywer wie se boeke met ’n glas wyn gelees kan word.
Wie geniet regtig nog vir John Wick? Hoekom sal ek dan so iets in boeke toelaat?
Tog. Ek moet erken dat ek ’n Jason Bourne fan for life is. Hy (en Forsyth) is immers die skrywers wat my tot die genre bekeer het. Dit is hoe ek my skryfheld aan die lewe hou, al kan ek hom nie opweeg teenoor ander skrywers soos Daniel Silva en nou Dugoni nie.
Lees ook:
Oud, maar nie koud! Eddie’s boy deur Thomas Perry, ’n lesersindruk
Kommentaar
Dit is mos nou "book reviews" wat die moeite werd is om te lees! Baie dankbaar ek het dit ontdek.