Oud, maar nie koud! Eddie’s boy deur Thomas Perry, ’n lesersindruk

  • 1

Titel: Eddie’s boy
Skrywer: Thomas Perry
Uitgewer: Grove/Atlantic, Inc.
ISBN: 978-0802157775

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

In 1983 wen Thomas Perry die Edgar Award for Best First Mystery Novel vir sy meesterstuk The butcher’s boy.

Díe boek pryk in my versameling van top 10 sluipmoordboeke. Amper 40 jaar later keer hy met Eddie’s boy terug. Tonele van Keanu Reeves wat sukkel om te hardloop speel in my geestesoog af en alhoewel ek daarna uitsien om weer iets van die “hit man” Michael Schaeffer te lees, is ek bevrees hy is te oud.

Ter agtergrond. Michael, ’n weeskind, word deur die Pittsburgh-slagter en gesogte hit man Eddie Mastrewski grootgemaak. Eddie onderrig hom in albei ambagte: hoe om vleis te sny en spesiale aflewerings te doen, en hoe om die perfekte moordwapen vir La Cosa Nostra te word.

Meer mense sterf in The butcher’s boy as in ’n John Wick-film. Die boek eindig waar Michael die mafioso Carlo Balacontano vir ’n moord frame wat hy nie gepleeg het nie. Carlo word lewenslank tronk toe gestuur en Michael vlug na Engeland. In Eddie’s boy kom Carlo in aanmerking vir parool.

Eddie’s boy open met die paragraaf: “Michael Schaeffer had not killed anyone in years, and he was enraged at the fact that he’d had to do it again tonight.” En net soos in Sleeping dogs en The informant, wat op The butcher’s boy volg, dwing figure uit sy gewelddadige verlede hom om weer te moor.

Terwyl hy op 60-jarige ouderdom die jagters wat hom wil elimineer moet identifiseer, opspoor en doodmaak, leer ons meer oor sy verlede. Alhoewel ek van skop, skiet en donner hou, is dit juis die dieper kyk in die mens Michael wat my aan die lees hou.

Perry slaag daarin om nuwe lesers sowel as Butcher’s boy-volgelinge op hoogte te bring, nogtans beveel ek aan dat die vier boeke in volgorde gelees word. Selfs 40 jaar later skop Butcher’s boy gat.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top