Titel: The Bourne Sacrifice
Skrywer: Brian Freeman
Uitgewer: Head of Zeus Limited
ISBN: 9781803285863
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Ek moet van die staanspoor bieg: ek’s ’n Jason Bourne fan for life. Al word die Treadstone-sluipmoordenaar met sy gebrekkige geheue 100 jaar oud, sal ek sy boeke verslind.
Die 59-jarige Brian Freeman, wat die ikoniese Eric van Lustbader ná ’n dosyn Bourne-boeke opgevolg het, het die laaste drie boeke neergepen en maestro Robert Ludlum die eerste drie.
The Bourne Sacrifice het nou weliswaar minder aksie in as die oorspronklike 1980-internasionale blitsverkoper, The Bourne Identity, maar ek kon nogtans nie die agtiende boek in dié reeks neersit nie.
Ludlum se teaterstem skort ook duidelik met sy obsessie met skuinsdrukskrif en fluisterende stemtone, maar die meester van komplotteorieë se formule skemer genadiglik sterk deur.
Kortliks: Louisa is werksaam by die Varak Foundation. Hulle verander mense se lewens onherroeplik deur vals inligting te skep, soos die joernalis en voormalige Bourne-liefde, die karakter Abbey Laurent, se rassistiese tweet. Hulle laat ook inligting vanaf YouTube, Facebook en Twitter verdwyn, soos in die geval met die vermoorde karakter Deborah Mueller.
Wie is dié Duitse toeris? Wie het haar vermoor? Hoekom? Wat beteken die omgekeerde piramide met die oog? Wat is hul verbintenis met die karakter The Pyramid? En waar is Jason Bourne as sy hom nodig het?
Die sluipmoordenaarkarakter Lennon ontsnap (weereens) voordat Bourne hom kan ondervra en vermoor, maar hierdie keer los hy ’n kardinale leidraad agter: hy was deel van Treadstone.
Die karakter Nash Rollins verskaf inligting wat Bourne op die jong vrou Kenna Martin se spoor sit, maar die vrae borduur voort: wat is haar konneksie met Lennon? Waar pas die reisagentskap Wolf Man Travel in die skakel? En die karakter Darrell Forster en sy Forster Group?
En hoe spoor Jason Bourne vir Lennon op as al die los drade vermoor word?
Vir Bourne en Abbey is dit veg-en-vlug, terwyl hulle vir Lennon jag en self ook gejag word.
Hierdie kat-en-muis-spel is nie net ’n móét-lees vir enige Bourne-aanhanger nie, maar ook vir diegene wat van spioenasie, sluipmoorde en komplotteorieë hou. The Bourne Sacrifice is Bourne op sy beste!