Korona-kortverhaalfees: Frederik de Jager oor "Maer vir net een dag"

  • 0

Frederik, dis nie aldag dat mens die geleentheid kry om jou fiksie te lees nie – jy is mos bekender as iemand wat ander skrywers se boeke help maak. Van die grootste Afrikaanse boeke wat al gepubliseer is, is deur jou hande. Val jou redakteurskap en geskiedenis as uitgewer nie soos ’n remmende skaduwee oor jou skouer as jy hand aan pen slaan nie?

Vir my is die ingeboude redakteur ’n groot demper van kreatiwiteit – hy breek my sinne af soos wat ek hulle skryf. Maar dit strek my tot oneer, want daar is genoeg voorbeelde van boekredakteurs wat ook suksesvolle skrywers was. In die buiteland is die twee bekendstes seker Italo Calvino en TS Eliot. Diana Athill is ’n ander een, en William Maxwell, wat een van my geliefdste skrywers is. By ons is daar Petra Müller en Berta Smit. Juffrou Berta se output was wel veel minder, glo ek, as wat dit sou gewees het as haar skeppende energie nie met soveel passie in haar skrywers by Tafelberg ingegaan het nie. En eweneens Charles Fryer, wat nooit sy aansienlike potensiaal as digter kon verwesenlik nie. In weerwil hiervan verkondig ek wanneer ek skryfslypskole aanbied, en sonder om vals te wees, dat mense hul kritiese fakulteit moet pypkan om die skeppende vaart te vind wat nodig is. Aan die ander kant twyfel ek of JM Coetzee enigiets anders as berekend skryf.

Vertel asseblief vir LitNet se lesers waar jy aan “Maer vir net een dag” gekom het.

Die verhaal is oorspronklik geskryf vir ’n vrouetydskrif wat intussen toegemaak het, maar die ingewing wat die verhaal se titel geword het, het my in soveel woorde op ’n dag te binne geskiet. Wat die inkleding betref, is daar genoeg van wat vir my nie moeilik is om te verbeel nie, al is die karakter ’n vrou, onder meer omdat dit vir ’n vrouetydskrif bedoel was.

Eet is darem maar die heel lekkerste ding in die lewe, nie waar nie? Jy behartig natuurlik ook ’n kosrubriek vir Vrye Weekblad. Hoe sien jy die verhouding tussen kos en kreatief met die woord omgaan?

Ek weet dat die kosskrywery vir my weinig plesier sou inhou as ek bloot tegniese instruksies moes gee. Ek probeer altyd die storie saam met die resep aangee, al is dit ’n stuk geskiedenis. Daar is ’n beginsel van die antieke filosoof Epikurus wat ook my en my maat se gasvryheidsbesigheid onderlê: Die geselskap om die tafel is net so belangrik as die kos wat op die tafel is. Waar mense is, is daar altyd stories. Waar hulle saam eet, is daar nog meer stories. Kos en storie is keerkante van dieselfde munt.

 

Lees Frederik de Jager se kortverhaal, “Maer vir net een dag” hier:

Maer vir net een dag

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top