Maer vir net een dag

  • 0

Waarvoor sy haar ouers die meeste verkwalik, die een ding (onder baie ander), is iets waarvan sy die moeilikste ontslae kan raak.

Ja, daar was die stiltes in die huis, en die manier van Ma en Pa om deur haar met mekaar te praat. Daar is die feit dat hulle nie nog ’n kind wou maak nie, en sy wéét hulle kon as hulle wou, maar hulle wóú nie, omdat hulle mekaar nie kon verdra nie. En sy, alleen en weerloos te midde van hulle onuitgesproke aanklagte teen mekaar, moes grootword, sonder bondgenoot of aanspraak. Hangende was sy in ’n heelal waarvan die aangesig van haar afgewend was.

Maar ook dit kon sy te bowe kom toe sy na skool uiteindelik uit die huis kon ontsnap om haar eie lewe te lei en die wêreld stukkie vir stukkie te leer ken en verstaan. Sy het selfs vriende gemaak. Sy het gewerk en gestudeer en ’n beter werk gekry en haar onafhanklikheid geniet.

Sy het haar woonstel mooi gemaak, sy het ’n kat gekry vir geselskap. Sy het gespaar en oorsee gereis. Sy was ’n jong vrou aan die ontluikende ent van ’n volle hedendaagse bestaan: slimfoon, sosiale media, aande uit saam met vriendinne, politieke besorgdheid, die louere van besoeke aan ander kontinente.

Vir mans sien sy egter nie kans nie. Of eerder, as sy doodeerlik moet wees – wreed eerlik, grusaam eerlik – sien húlle nie vir háár kans nie. En sy weet hoekom: Sy is vet. Nou, oplaas, is sy by die punt waar sy ’n leeftyd se eufemismes van haar wil afskud, soos ’n grillerige vel wat nie háár vel is nie, een wat dood voel.

Vir haar dus geen verdere praatjies van oorgewig of groot of robuus nie. Niks meer sprake van weelderige kurwes of plesierige voue nie, of van ’n voller figuur of ’n plus-grootte of ’n spesiale mens met ’n goeie hart en pragtige hare nie. Ek wed, het sy ’n man eenkeer op ’n partytjie gehoor sê, as jy tussen daardie voue kan inkom, is dit die hemel self.

Nee. Basta nou. Ikabod. Dit is wat sy van haar grootwordjare geëerf het. Haar ma en pa, beide, se vergoelikings: Ag, is sy nie pragtig nog so met die babavetjies aan nie? Moenie haastig wees om dit af te skud nie. Kyk net hoe mooi gesond lyk sy, kyk die blos op haar wange. Shame, die maer ou rietjies wat jy deesdae in die skool sien. Óns was nog nooit ’n familie van maer mense nie. Buitendien, mans hou van ’n bietjie vatplek.

Maar klaar nou. Haar ouers is albei onder die grond, die beste plek vir hulle om te wees, en sy gaan haar losmaak van die kettings wat hulle om haar geslaan het. Want kettings was dit wel. In hul wedywering om hul tekortkomings as ouers te vergoed, het hulle haar vet gevoer. Hier’s ’n lekker roomys vir my meisiekind. Eet die lekker koekies wat Mamma vir jou gebak het. En al dié aartappel nog op jou bord? Wat ek met soveel liefde vir jou gemaak het? Eet maar op, dis goed vir jou.

Eet, eet, eet.

As iets pla: eet. Ter wille van vrede: eet. Om Mamma se gevoelens te spaar: eet. Om Pappa se guns te behou: eet. Sy is gemaak van spanning en van eet. En vir die soetste nagereg: ontkenning. Ons is nou eenmaal nie ’n familie van maer mense nie. Skoonheid van binne hang nie van gewig af nie.

Maar weg met dit alles. Sy is vet, en klaar. Sy sweet. Haar hare maak slierte. Sy kry nie mooi klere wat haar pas nie. Sy moet steun wanneer sy in karre klim en wanneer sy uit hulle klim. ’n Stoel het eenkeer onder haar gebreek. Haar rompe kruip tussen die voue agter haar in. Sy kan by partytjies nie op die vloer saam met haar vriendinne sit nie. Wanneer sy dit wel doen, kos dit twee van hulle om haar op te trek. Word mense aan haar voorgestel, gaan hul blik af oor haar lyf soos ’n kamera oor ’n landskap, en sy weet, sy wéét wat daardie skaars merkbare trek om hul mondhoeke beteken.

Dié onomstootlike feit kyk sy voortaan vas in die oë. En miskien is daar selfs iets aan te doen. Dalk, dalk, kan haar ouers vergewe word.

Maar die één ding waarvoor sy hulle nooit sal vergeef nie, is haar naam. Isabelle. Bella. ’n Donnerse koei se naam.

Hoeveel keer moes sy dit nie aanhoor nie. Hoeveel maniere het die kinders nie gehad om haar daarmee te spot nie. Die bose vindingrykheid van ’n adolessent omring van bewonderaars. Haai Tinkerbell! roep die netbalkaptein, en die tefies om haar wil hulle natpiepie. Dieng-dong, hoor sy wanneer die seunsrye verbystap, die geproes wat in golwe deur die ry terugstoot en sy wat nie weet hoe om te loop dat haar prematuur ontwikkelde borste kleiner vertoon nie.

Ja, sy kan haar naam laat verander, sy kan die koste aangaan en die administratiewe las verduur. Maar die bespotting sal haar altyd aankleef, die klank van “Bella” sal haar altyd omgeef soos wat ’n sweetreuk altyd om haar hang. Sy kan dit nie self meer ruik nie, maar sy kan dit aan ander se reaksie sien. Dus sal sy moet aanvaar dat sy ’n Bella is. Dieng-dong.

Maar sy gaan, besluit sy, sy gáán haar gewig afskud. Maak nie saak wat nie, maak nie saak hoeveel behoefte en verdriet dit haar kos nie, hoe erg die honger, hoe groot die verlange na ’n vol maag, na die kou aan iets, die saligheid van smaak en geur en tekstuur wanneer jy keurig voorbereide voedsel kou en afsluk en deel van jou maak.

Die verleentheid skroei haar wanneer sy onthou hoe kuiermense aan tafel in haar ouerhuis sou opmerk: Kyk net hoe smaaklik eet die kind. Sy sou daarvan so selfbewus word dat haar ore gloei, maar sy kon haarself nie keer om aan te hou eet nie.

Maar nóú gáán sy.

En steeds is Bella realisties. Sy weet goed dat al die modediëte met goeie rede kom en gaan: Dis omdat hulle nie werk nie. Vleis, sap, bloedgroep, oermensdieet … elkeen kom maar weer in ’n ander gedaante terug, dan skarrel almal weer in ’n nuwe ou rigting.

Maar sy kom ’n nuwe manier agter, en dit is vas. Almal doen dit. Programme vir onderbroke vasperiodes slaan op die sosiale media uit soos masels. Só vir vroue, só vir mans. Só vir elke liggaamsvorm, waaronder elke moontlike eufemisme vir wat niks anders is nie as vet.

O, maar dis nie ’n dieetplan nie, dring die proponente aan. Dis ’n lewenswyse. En dis nie ’n verhongering nie, dit is net ’n dagritme. Jy rek die daaglikse periode waartydens jy niks eet nie, so lank jy kan of wil. En jy sal sien, mens word nie honger nie. Jy word net energiek en helder. Jou selle juig. Jou metabolisme rys bakkop soos ’n kapel, oorgehaal om op die geringste stringetjie koolhidraat, die onnaspeurbaarste dryfseltjie vet toe te slaan.

Bella dink: Ja, dit sal sy kan doen. Sy sal streng wees met haarself, eers in klein bietjies en later in groter spronge. Sy sal vasbyt vir solank dit vat tot die dag dat sy maer is. Sy sal alles op die spel plaas, enigiets verduur, net om één dag maer te wees. Vir één dag soos ’n maer vrou lewe, die geringste van die vreugdes daarvan te melk. Sy sal beweeglik wees, sexy, sy sal gaan klere koop, flankeer, sy sal met die eerste man wat flirt in die bed spring.

Dan sal sy laat skiet en terugkeer na hoe sy was. Want vir ’n leeftyd van ontbering sien sy nie kans nie, en dié een maer dag sal haar ’n leeftyd hou.

Dus begin Bella. Sy sny eers haar geliefde midnight snack uit om die hele nag sonder kos deur te bring. Die volgende onggend sewe-uur druk sy bewend twee snye brood in die rooster. Sy bewe so dat sy die twee teelepels suiker in die koffie nodig het, demmit.

Sy het by iemand gehoor wat dit by iemand anders verneem het wat op Facebook daarvan gelees het (met ander woorde ’n gemors van ’n bron, maar omdat die boodskap troos inhou, gryp sy dit aan) dat dit nie saak maak wat jy in jou etende periode eet nie. Só kom sy deur die eerste dag, al etende, tot agtuur die aand.

Dáárdie uur: soos die laaste oase voor die woestyn, die wanhopige tog deur die nag tot verlossing die volgende oggend daag, ’n varksworsie in botter gebraai by haar twee gebakte eiers. Maar sy dissiplineer haar: Sy wag tot halfagt. En vanaand dep sy die laaste smeerseltjie sous van haar lippe om presies halfagt, nie agtuur nie.

En so dwing sy haar eeture al korter en haar vasperiodes al langer. En sy vind sowaar algaande dat sy nie meer so honger word nie, en dus nie die hele eettyd peusel nie. Mettertyd eet sy vir ses uur per dag en vas sy vir agtien. En dan nóg minder van eersgenoemde en meer van laasgenoemde.

Sy vóél aan haar alles wat die proseliteerders verkondig het: Dis of haar lyf tintel, sy is vol energie, en haar gemoed is helder. Boweal voel sy maerder. Buk om haar toonnaels te verf is nie meer soos om ’n opgeblaaste ballon te probeer opvou nie. Sy vind dat sy minder moet stop om eers stukke materiaal uit voue vlees te trek. Om ’n spencer van ’n sweterige lyf af te trek, lyk nie meer soos buikdans nie.

Weldra moet sy haar skirts en bloese invat en, toe dit nie meer werk nie, nuwes gaan uitsoek. Sy ervaar uitgelate die argeloosheid van ander vir wie daar altyd iets in hul grootte in voorraad is. Mense begin haar agternakyk, sy wéét, met hul oë dralend op die lyne wat om haar eens vormlose gestalte begin vorm.

Die dag toe Bella maer is, amptelik en onmiskenbaar skraal, breek aan en gaan verby sonder dat sy eers daaraan dink. Sy is lank reeds gewoond aan die ligste linnerokkies wat om haar figuur wapper, die ingedagte afgly van haar syjapon onder die sagte blik van Tomasso waar hy in afwagting op die bed lê. “Bella,” sê hy. “Mia bellissima.”

So is nou haar lewe. Daar is geen terugkeer nie.

En tog: Daar is nagte wanneer sy oopoë langs hom lê. Twee jaar sedert hy die eerste keer sy hande om haar middel gesluit het, lê sy nog soms met háár hand oor haar harde, ontoegeeflike maag en verlang na die verlange. Na die vertroosting van ’n skeppie roomys of oorskietpastei, net sy in die flou geel lig wat uit die oop yskas op haar val, ’n vlietende eilandjie volkomenheid in die groot donker rondom haar.

 

Lees ’n kort onderhoud met Frederik de Jager oor “Maer vir net een dag” hier:

Korona-kortverhaalfees: Frederik de Jager oor "Maer vir net een dag"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top