"Kom ons begin ’n band": ’n onderhoud met Janke Mostert

  • 0

Janke Mostert (foto: Full Spectrum Media)

Janke Mostert praat met Naomi Meyer oor hoe Dierbaar na die Maan verlede jaar die ATKV-Taalgenoot se Ruk en rym-kompetisie gewen het.

Janke, jy is een van die lede van Dierbaar. Vertel my van julle groep en hoe dit alles begin het. Wie is die lede van julle groep, en hoe het julle by mekaar uitgekom?

........
Dierbaar is ’n alternatiewe Afrikaanse band wat hier is om die dinge te sê wat ander Afrikaanse mense te skaam is om te erken.
.........

Dierbaar is ’n alternatiewe Afrikaanse band wat hier is om die dinge te sê wat ander Afrikaanse mense te skaam is om te erken. Ek sing en speel kitaar, Ninke Theron sing en speel baskitaar en Kristen Bence is ons tromspeler. Ek en Ninke is al vir ’n hele paar jaar pelle, en toe ons eendag in Februarie ’24 op haar bed in Stellenbosch lê, het sy gesê: "Kom ons begin ’n band." Ek het nie eers twee keer gedink nie; die antwoord was ja.

Kris het eers later by ons aangesluit, toe ons en Francis Na Die Maan (DNDM) (Kobus Erasmus, Wielan du Plessis) besluit het om saam te werk vir Aandklas Stellenbosch se Battle of the Bands en Taalgenoot se Ruk en rym. Kobus het vir Kris gevra of hy vir DNDM drums sal speel, en ek en Ninke het toe later vir hom gevra of hy permanent by Dierbaar wil aansluit. (Beste besluit ooit – ons is bitter lief vir Kris!)

Julle was verlede jaar die wenners van ATKV-Taalgenoot se Ruk en rym-kompetisie – veels geluk daarmee! Hoe het die kompetisie en die nadraai daarvan enigiets van julle lewens beïnvloed?

Ons het verlede jaar met Francis Na Die Maan as deel van die supergroep (dis twee bands wat saamsmelt om een groter band te vorm) Dierbaar Na Die Maan deelgeneem aan Ruk en Rym en dit was ’n hengse voorreg en ’n wen wat ons werklik verbaas het.

Die vernaamste voordeel was onbetwisbaar dat ons so baie nuwe mense deur die proses ontmoet het – legends van die scene, soos Paul Riekert van Battery 9, Jaco van Bittereinder en Wêreld SA, en dan ook al ons medekunstenaars, onder meer L!SA en Fabel, saam met wie ons baie deesdae optree!

Dit is altyd lekker om te voel dat al die ure wat ’n mens insit, die moeite werd is – die resultate van ’n kompetisie is natuurlik nie ál wat vir ’n mens daardie tevredenheid gee nie; inteendeel: Die kruks sal altyd die genot wees wat mens in die proses van saam jam beleef en die hegte band wat vorm wanneer mense so baie tyd saam spandeer.

Ninke Theron (baskitaar en sang), Kristen Bence (tromme), Janke Mostert (kitaar en sang)

Vertel my van verlede jaar se kompetisie, siende dat die Woordfees weer om die draai is en vanjaar se wenners by die Daisy Jones Bar aangekondig word. Het dit verlede jaar ook so gewerk? Hoe het julle van die kompetisie gehoor, wat het veroorsaak dat julle inskryf, en wat onthou jy alles van die proses en die optredes?

Dit was soortgelyk, ja! Daar was drie fases: Eers het ons aanlyn ingeskryf met ’n paar demo’s van ons musiek waarna die keurpaneel kon luister. Daarna is daar 20 semifinaliste aangekondig (10 vir die Kaap-semi’s by Daisy Jones, 10 vir die semi’s in Gauteng by Railways), en uit daardie 20 is 10 finaliste aan die einde van die aand aangekondig, wat by Sognage aan die finaal deelgeneem het. Beide die semi’s en die finaal het insanely talentvolle gaskunstenaars en -beoordelaars betrek, soos Karen Zoid, Zaan Sonnekus, SOSSI, Henco Harmse, Jolyn Phillips en nog meer.

Ek en Ninke het deur Kobus Erasmus van Francis Na Die Maan gehoor van die kompetisie toe hy voorstel dat ons supergroep, Dierbaar Na Die Maan, daarvoor inskryf. Ons was onmiddellik gek oor die idee!

Ek onthou die gevoel van gemeenskap by elkeen van die geleenthede. ’n Mens kon so lekker met ander kunstenaars, joernaliste, en enigiemand wat daar was, gesels, en mens het die indruk gekry dat dit regtig ’n ruimte was waarin almal welkom kon voel. Die nie-amptelike afterparty by die lodge waar ons gebly het ná die tyd, was ook ’n heerlike jam- en kuiersessie met ’n vreugdevuur.

Mens kan na een of twee van julle liedjies op YouTube gaan luister, soos “Sensitief/sensiteef”, en “Klou”. Wie skryf julle liedjies en waar kom die inspirasie vandaan?

Ek skryf Dierbaar se liedjies en vra soms vir (baie nuttige!) insette en voorstelle deur Ninke en Kris soos wat ek ’n idee skep of afrond. As die liedjie klaar is, neem ek dit na die band toe en ons speel daarmee tot ons tevrede is met hoe dit klink. Ek is ’n groot aanhanger van ’n klankbord in die skryfproses, veral wanneer ’n mens wil seker maak jou boodskap word oorgedra op ’n vereenselwigbare manier vir wie ook al dit mag hoor – "Kill your darlings" en so meer.

.......
My oorhoofse fokus is altyd op die lirieke en kern-emosie. Ek skryf al vir so 12 jaar liedjies en het nog altyd gevoel dat dit ’n manier van ouditiewe joernalisme is, soort van soos ’n mengsel van musiek, poësie, ’n persoonlike blog wat niemand eintlik moes lees nie en ’n tydskrif of koerant.
.........

My oorhoofse fokus is altyd op die lirieke en kern-emosie. Ek skryf al vir so 12 jaar liedjies en het nog altyd gevoel dat dit ’n manier van ouditiewe joernalisme is, soort van soos ’n mengsel van musiek, poësie, ’n persoonlike blog wat niemand eintlik moes lees nie en ’n tydskrif of koerant.

Ek is behep met popkultuur, so my liedjies is seker maar op ’n manier ’n reeks kiekies van die moderne Afrikaanse samelewing, en die vloer is oop vir die luisteraar om daarby aanklank te vind op enige manier wat vir hulle ‘n bietjie meer sin laat maak van hul binne- en buitewêreld.

Julle tree van tyd tot tyd op, en ek hoor daar kom honderde mense na julle luister. Wat is julle toekomsplanne? 

Jis, dit voel nie vir ons soos ’n werklikheid dat daar so baie mense kom kyk en luister nie. Ons zone maar gewoonlik op die verhoog uit, want ons is so gefokus op die optrede! Alles wat in daardie uur gebeur, voel soos ’n blur.

Ons toekomsplanne is om twee nuwe enkelsnitte wat ons onlangs opgeneem het, vry te stel, en ons skiet kliphard aan musiekvideo’s! Wat ons wel die meeste van alles geniet, is die optredes.

Ons het in Februarie 2024 besluit om ’n band te begin, en eers in Oktober 2024 ons eerste optrede as die driestuk Dierbaar gehad, so ons is tans tegnies nog net 10 maande aan die gang. Ons is baie dankbaar vir al die geleenthede wat in hierdie kort tyd al oor ons pad gekom het, en opgewonde om hierdie reis met mekaar (en almal wat luister en uitsteek vir die gigs) voort te sit.

Lees ook:

Persverklaring: ATKV-Taalgenoot se Ruk en rym-semifinaliste 2025 bekend

Persverklaring: Taalgenoot-RUK EN RYM stook alternatiewemusiekvlam

Bittereinder se laaste maal: ’n onderhoud met Jaco van der Merwe, woordkunstenaar en kultuurbewaarder

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Jaco van der Merwe

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top