Kliniese regsopleiding, akademiese regsopleiding – en toegang tot die reg

  • 0

Foto-erkenning: Jessica45 op Pixabay. ©2017 Jessica45, gepubliseer op 10 Junie 2017. Gepubliseer onder die gratis lisensievoorwaardes van Pixabay.

Riette du Plessis praat met Naomi Meyer oor Riette se artikel wat onlangs in LitNet Akademies (Regte) verskyn het: ’n Wêreldoorsig van kliniese regsopleiding: die Verenigde Koninkryk en Ierland.

Riette, jy het onlangs artikels oor kliniese regsopleiding in verskillende wêrelddele geskryf en dit is in LitNet Akademies (Regte) gepubliseer. Wat is kliniese regsopleiding presies?

Kliniese regsopleiding is ’n opleidingsmetode wat op eksperimentele leer geskoei is. Dit bevorder die groei van kennis, persoonlike vaardighede en waardes, terwyl dit ook terselfdertyd sosiale geregtigheid bevorder. Kliniese regsopleiding maak gebruik van praktykgerigte, studentgesentreerde, probleemgebaseerde, interaktiewe onderrigmetodes, wat onder andere studente se praktiese werk op ware kliënte se sake, onder toesig van klinici, insluit.

........
Kliniese regsopleiding maak gebruik van praktykgerigte, studentgesentreerde, probleemgebaseerde, interaktiewe onderrigmetodes, wat onder andere studente se praktiese werk op ware kliënte se sake, onder toesig van klinici, insluit.
.........

Hierdie opvoedkundige aktiwiteite is daarop gemik om professionele houdings te ontwikkel en die groei van die praktiese vaardighede van studente te bevorder met betrekking tot die moderne begrip van die rol van die sosiaal-georiënteerde professionele persoon in die bevordering van die oppergesag van die reg, die verskaffing van toegang tot geregtigheid en vreedsame konflikoplossings, insluitend die oplossing van sosiale probleme.

Hoe verskil kliniese regsopleiding daarvan om ’n klerkskap by ’n prokureursfirma te voltooi? Word jong regspraktisyns nie juis daar opgelei om praktiese sake te hanteer – soos wat kliniese regopleiding werk – nie? Wat is die verskil?

Kliniese regsopleiding bestaan hoofsaaklik uit drie komponente, naamlik lesings waar studente akademiese onderrig rakende die reg en regsprosedures ontvang; kliniekdiens waar studente met kliënte konsulteer; en tutoriale, waar die studente hul kliënte se sake en lêers met die betrokke klinikus bespreek, waarna studente die nodige korrespondensie en pleitstukke voorberei vir finale goedkeuring en ondertekening deur die klinikus. Aangesien die kliniese kursus by die meeste van die Suid-Afrikaanse universiteite ’n geakkrediteerde kursus in die LLB-program is, word die verskeie komponente van studente se kliniese bedrywighede geassesseer.

........
Die kliniese kursus lê inderdaad ’n basis wat studente voorberei vir hul toekomstige leerklerkskap, maar aangesien universiteitsregsklinieke beperk word ten opsigte van die tipe sake wat hanteer mag word, sal hul blootstelling tot ’n sekere mate beperk wees.
........

Die kliniese kursus lê inderdaad ’n basis wat studente voorberei vir hul toekomstige leerklerkskap, maar aangesien universiteitsregsklinieke beperk word ten opsigte van die tipe sake wat hanteer mag word, sal hul blootstelling tot ’n sekere mate beperk wees. Die kliniese kursus het nie ten doel om studente op te lei tot die mate dat hulle hul toelatingseksamens kan slaag nie, of nie hul leerklerkskap hoef te doen nie. Kandidaatregsgeleerdes het wel, anders as studente, verskyningsbevoegdheid in sekere howe.

Jy skryf in die mees onlangse artikel in LitNet Akademies (Regte) oor kliniese regsopleiding in Brittanje en Ierland (https://www.litnet.co.za/n-wereldoorsig-van-kliniese-regsopleiding-die-verenigde-koninkryk-en-ierland). Soos ek dit verstaan, help diegene wat kliniese regsopleiding aanbied, met opleiding van mense wat in die reg wil praktiseer – en hulle bied ook gratis dienste. Waarom sou mense hierdie rol wou vervul en leiding neem? Leer hulle ook iets in die proses? En mens het tog nodig om rekeninge te betaal ook, en kruideniersware te koop. Ontvang hulle geld vir hulle dienste? Kom ons fokus spesifiek op die Britse regsopleiding waaroor jy in hierdie artikel skryf.

Klinici is oor die algemeen in gesalarieerde diens van die betrokke universiteit. Die gratis regsdienste word deur studente, onder toesig van die klinikus, aan minderbevoorregte mense verskaf. ’n Prominente oogmerk van kliniese regsopleiding is sosiale geregtigheid, wat bevredigend vir beide klinici en studente is. Klinici leer definitief heelwat in die proses. Gespesialiseerde regsklinieke, byvoorbeeld in omgewingsreg en vlugtelingreg, asook in beleidsklinieke, behels soms intensiewe navorsing wat ook voordelig is vir die klinikus, wat inderdaad ook ’n akademikus is, ten opsigte van hul akademiese publikasievereistes. Kliniese werk lei soms tot regsaktivisme wat die pad baan vir sosiale geregtigheid. King’s College, Londen, het byvoorbeeld ’n spesifieke regsaktivismekliniek.

Die International Journal for Clinical Legal Education het sy ontstaan in 2003 by die Universiteit van Northumbria gehad en bied sedertdien jaarlikse internasionale kliniese konferensies aan, tesame met die geleentheid om regskliniese artikels in die joernaal te publiseer. Hierdie inisiatief is van groot navorsingswaarde vir die akademiese klinikus ten einde op hoogte van ontwikkeling in kliniese regsopleiding te bly.

Jy het nou ook oor kliniese regsopleiding in baie ander lande geskryf. Wat is die grootste verskille wat jy opmerk as dit kom by kliniese regsopleiding internasionaal?

Ek is inderdaad besig met ’n reeks artikels wat ’n wêreldoorsig van kliniese regsopleiding behels.

Die eerste twee artikels wat gepubliseer is, het ’n oorsig van kliniese regsopleiding in Sentraal-, Oos- en Wes-Europa, asook Sentraal-Asië, die Midde-Ooste, Oos- en Suidoos-Asië en Suid-Asië behels. Hierdie artikel, rakende kliniese regsopleiding in die Verenigde Koninkryk en Ierland, is die derde in die reeks. Die vierde artikel, wat handel oor kliniese regsopleiding in Latyns-Amerika en Noord-Amerika, verskyn binnekort. Ek is van plan om teen volgende jaar die voorfinale artikel, oor kliniese regsopleiding in Afrika en Oseanië, voor te lê. Die finale artikel in die reeks behoort jou vraag te beantwoord wanneer ek die wêreldoorsig saamvat.

Jy merk op dat byna 60% van Britse regsklinieke akademiese krediete verleen, terwyl ander buitekurrikulêr bly. Verander kredietdraende status die kwaliteit van die ervaring vir studente, of is die onderskeid meer administratief? Hoe prakties is opleiding uit ’n akademiese oogpunt in elk geval? Die akademie voel vir my soms asof dit in een sfeer handel, en die praktiese, voetsoolwerk, is iets anders. Of hoe?

Akademiese krediete word toegeken wanneer ’n kursus deel van die LLB-kurrikulum vorm, hetsy as ’n verpligte vak of as ’n keusevak. Die kursus kan oor ’n akademiese jaar of slegs as ’n semestervak aangebied word, afhangend van hoe dit in die betrokke universiteit of regskool se LLB-kurrikulum geregistreer is. Buitekurrikulêre kursusse is normaalweg nie verpligtend nie. Ek is van mening dat wanneer ’n kursus geakkrediteer is, dit aan sekere minimumvereistes moet voldoen, aangesien die universiteit, wanneer die student gradueer, tog sertifiseer dat die betrokke student aan sodanige vereistes voldoen het wanneer hy/sy na die praktyk uitgestuur word. Dit is des te meer die geval wanneer die studente in die geakkrediteerde kursus intensief geassesseer word. Daar is, soos vroeër aangedui, ’n sterk akademiese komponent aan kliniese regsopleiding. Die sogenaamde voetsoolwerk is die toepassing daarvan, wat spesifiek belangrik is deurdat die studente met ware, soms kwesbare, kliënte se sake werk.

Die artikel beklemtoon die spanning tussen die navorsingsuitnemendheidsraamwerk se strewe na navorsingsuitsette en die praktiese, diensgerigte eise van die bestuur van ’n regskliniek (om nou weer eens te verwys na die spanning tussen die akademie en die praktyk). Tog kan die een nie sonder die ander nie. Jy het ook jare lank in die praktyk gewerk en nou is jy in die akademie. Wil jy iets uit jou eie ervaringswêrelde deel – in albei omgewings?

Privaatpraktyk is uiteraard ook ’n besigheid wat winsgedrewe is. Praktisyns moet, ten einde hul klinte ten beste te verteenwoordig, steeds navorsing doen en op hoogte bly van byvoorbeeld hofuitsprake en wetgewing. Akademiese opleiding bly dus belangrik en word deur ervaring aangevul. ’n Praktisyn wat as akademikus/klinikus by ’n regskliniek werk, het die addisionele verantwoordelikheid om kennis en ervaring aan studente oor te dra. Daar word van ’n akademikus verwag om sy/haar navorsing te publiseer. Hierdie gepubliseerde navorsing, tesame met die aanbieding en aanhoor van andere se aanbiedings by konferensies, verseker dat ’n klinikus aan die voorpunt van ontwikkelings in die veld bly. Gepubliseerde navorsing lig gereeld die breër regsgemeenskap, sowel as die howe toe.

Jy beskryf LawWorks se rol deels as ’n reaksie op verminderende regshulp in Engeland en Wallis. Verduidelik asseblief hoe LawWorks werk – is dit soos LegalWise in Suid-Afrika? Is hierdie kliniekvennootskapsmodel ’n volhoubare langtermynoplossing vir toegang-tot-die-reg-gapings, of is dit eintlik net tussentyds en tydelik? Hoe behoort dinge in Suid-Afrika gedoen te word?

LawWorks is ’n welsynsorganisasie in Engeland en Wallis wat individue en klein organisasies sonder winsbejag wat nie regshulp kan bekostig nie, na vrywillige pro bono-regspraktisyns verwys vir gratis regsadvies. LawWorks bestaan reeds sedert 1997 en is steeds aktief, wat op volhoubaarheid dui.

Nee, LawWorks verskil van LegalWise Suid-Afrika. Laasgenoemde is ’n versekeraar en lede moet ’n maandelikse premie betaal ten einde toegang tot regsadvies te kry.

Daar is ook, benewens universiteitsregsklinieke, ander gratis regsorganisasies in Suid-Afrika. ProBono.org is ’n nieregeringsorganisasie sonder winsbejag wat behoeftiges en gemarginaliseerde persone wat nie regshulp kan bekostig nie, na vrywillige prokureurs en advokate verwys. Hierdie organisasie is die mees vergelykbare met LawWorks. Regshulp SA voorsien gratis regshulp indien die individu kwalifiseer, hoofsaaklik in kriminele sake. Lawyers for Human Rights staan kwesbare individue by, met ’n fokus op aangeleenthede rakende menseregte, behuising, uitsetting, vlugtelinge en migrante.

Skotland, Wallis, die Republiek van Ierland en Noord-Ierland is almal verskillend in wat hulle elkeen bied (bv Skotland se PEAT-program, Wallis se "advieswoestyne", Ierland se byna universele CLE-aanvaarding). Watter jurisdiksie se model dink jy bied die belowendste sjabloon of templaat vir die aanspreek van onderbediende gebiede, en hoekom? Wat kan Suid-Afrika by hulle leer – en wat kan hulle by Suid-Afrika leer?

Ek verduidelik eers kortliks die benaderings in die onderskeie jurisdiksies.

Die Wetsgenootskap van Skotland het in 2012 die Professional Education and Training- (PEAT-) program van stapel gestuur en op regsklinieke gefokus vir implementering daarvan. Kliniese regsopleiding is as ’n volwaardige kursus in die regskurrikulum beskou. Die PEAT-program is verpligtend as jy as ’n prokureur in Skotland wil kwalifiseer. Die PEAT-program behels twee fases. Die eerste fase word in die universiteitsregskliniek voltooi en die tweede fase behels ’n tweejaar-leerklerkskap by ’n prokureursfirma, onderhewig aan kwartaallikse vorderingsverslae deur die toesighoudende prokureur.

Wallis se sogenaamde regshulpwoestyne is hoofsaaklik aan ’n aansienlike toename in studentegetalle te wyte, wat meegebring het dat baie universiteitsregsklinieke nou eerder meer fokus op minder arbeidsintensiewe klinieke soos beleids- en regshervormingsprojekte. Die Covid-grendeltyd het die meer algemene klinieke verder gekortwiek. Daar is egter tans ’n groep jong prokureurs wat voorheen die kliniese kursus deurloop het, wat haalbare oplossings ondersoek.

Bykans elke Ierse regskool, in beide Noord-Ierland en die Republiek van Ierland, bied kliniese regsopleidingsprogramme aan wat voor- en nagraadse studente betrek. Daar word drie kategorieë onderskei: geakkrediteerde eksternskappe vir voorgraadse studente; Street Law-programme aan beide voor- en nagraadse studente; en regskliniekopleiding primêr aan alle studente op LLM-vlak.

Wat kan Suid-Afrika leer?

Sommige van Ierland se kliniese regsopleidingsprogramme sal nie toepassing in Suid-Afrika vind nie. Die voorgraadse kurrikulum is reeds so oorlaai met kursusse ten einde die LLB in vier jaar te voltooi dat daar geen ruimte vir eksternskappe is nie. Street Law voldoen nie aan die rigiede vereistes van kliniese regsopleiding nie. Daar is verder geen doel daaraan om ’n volwaardige kliniese regsopleidingsprogram slegs aan nagraadse studente te bied nie. Die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaanse studente benodig dié program tydens hul LLB-studies ten einde hulle vir leerklerkskap voor te berei.

Die Skotse benadering kan die beste met Suid-Afrika vergelyk word. In Suid-Afrika moet kandidaatprokureurs egter ook nog ’n toelatingseksamen skryf ten einde as prokureurs te kwalifiseer. Ek sou dit verwelkom as die Suid-Afrikaanse Regspraktykraad, soos die Wetsgenootskap van Skotland, van universiteite verwag om kliniese regsopleiding as ’n verpligte kursus aan te bied.

Jy noem dat post-Covid se hibriede werkreëlings pro bono-praktisynmentors se tyd met klinieke verminder het, tyd wat hulle as vennootskappe beoefen het.

Hierdie probleem het spesifiek in Wallis kop uitgesteek. Aangesien daar ’n beduidende toename in studentegetalle is, het klinieke gesteun op pro bono-praktisynmentors. Die VK se Wet op Werksregte van 2025 het buigsame werkregte hervorm, wat ’n impak het op hoe Walliese firmas hul hibriede beleide opstel. Baie praktisyns het teruggekeer na hibriede werk en hul besigheidsmodelle herstruktureer, wat gelei het tot minder tyd wat toegewys is aan mentorskap in kliniese regsopleiding en soortgelyke pro bono-vennootskappe. Die regsektor het verder ook ’n beduidende toename in mededinging ervaar, gedryf deur opkomende tegnologieë soos Generatiewe KI en nuwe marktoetreders. Gevolglik plaas regsfirmas ’n groter klem op faktureerbare ure, wat die beskikbaarheid van pro bono-mentorskaptyd beïnvloed. Suid-Afrikaanse universiteitsregsklinieke maak in die reël nie van hierdie stelsel gebruik nie en ondervind dus nie probleem nie.

Waaroor handel jou volgende artikel? En waarom interesseer hierdie vergelykende-studies-vakgebied jou? Wat is die aspekte wat jou die meeste interesseer as jy kyk na hoe dinge in ander wêrelddele gedoen word?

Die volgende artikel bespreek kliniese regsopleiding in Latyns-Amerika en Noord-Amerika. Ek het vir baie jare as klinikus by Wits gepraktiseer en my PhD in die veld van kliniese regsopleiding verwerf. Dit bly steeds ’n fokus van my navorsing en publikasie-uitsette. Alhoewel regstelsels regoor die wêreld mag verskil, vind kliniese regsopleiding internasionaal toepassing. Dit is belangrik dat Suid-Afrikaanse universiteitsregsklinieke op die voorpunt van ontwikkeling op dié gebied bly, vandaar hierdie studie. Ten einde die wêreldoorsig te voltooi, moet kliniese regsopleiding in Afrika en Oseanië nog nagegaan word. Die finale artikel in die reeks behoort die onderskeie aspekte aan te dui, waarna ek sal poog om aanbevelings vir Suid-Afrikaanse universiteitsregsklinieke te doen, waar nodig.

Lees ook:

’n Wêreldoorsig van kliniese regsopleiding: Latyns-Amerika en Noord-Amerika

’n Wêreldoorsig van kliniese regsopleiding: die Verenigde Koninkryk en Ierland

’n Wêreldoorsig van kliniese regsopleiding: Sentraal-, Oos- en Wes-Europa

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top